Jare se hare

November 19, 2017 in Uncategorized

Gisteraand staan ek vir ‘n wyle met ‘n beteuterde klossie hare tussen my vingers, en my gedagtes gaan sommer ver, ver terug. Ek dag toe so by myselwers: het ons nou waaragtig só ver gekom?

Waar is die dae toe tydelike haarkapper,  Pa Nic, sy dik skilpaddopraambril opgesit het, my stêrre op die plat rooi William Penn olieblik staangemaak het sodat my kop darem binne slaghoogte kon wees? Die omhang van die geurige wit laken was die laaste aspek van teikenvoorbereiding, behalwe miskien ‘n suur vermaning om stil te sit.

Sy snygoed was sy trots. Die handknippers is sorgvuldig, met groot konsentrasie uitgeborsel en die laaste stoffies afgeblaas. Die skêrlemme is lig met ‘n vinger bestryk om die skerpheid te toets. Dan sou hy die teiken besigtig, miskien ‘n slag omloop voordat die aanslag met knetterende skêrgeknip in die lug begin. Hoekom hy so danig moes voorberei weet ek nie, want die uitkoms was tog slag vir slag dieselfde. Hy behoort dit met toe oë te kon doen: ‘n dun pelsie bo-op die kop, onderbou met blinkgesnyde knoppe en duike langs die kante.

Ek het so gelyk, soos ook Ouboet, die Oususse en selfs Ma. Die Broederbond-A-snit, beginnende onder: ‘n lang gladde nek, gekroon met twee blink nekknoppe weerskante, dan twee bakore en uiteindelik die pelskroontjie bo.

Ma se pelsie was weliswaar die dikste.

Ek wonder hoe sou dit geklink het as ons ‘n afslaankap-motor gery het. Die wind sou alte aardig, in verskillende toonaarde deur die familiale knoppe en ore kon fluit wat soos volstruisnekke bo die venster uitsteek.

Die gevolg van die snyproses was in ieder geval bale en bale gesnyde krulle swartbruin wol. Dit het die kamer gevul en soos lawa in die gang begin afstroom, sodat die hond ons druipstert, met groot oë vanuit sy hok gaan lê en beloer het.

Ek het al gewonder of my lewe anders sou verloop het as ek toegelaat was om my hare in lang lokke te hou, soos ‘n broeiende Isaac Newton of selfs Jan van Riebeeck. Stel jou voor die sielvolle selfies wat ek sou kon neem as ek donker in my koeldrankglas staar, met my lang, poëtiese neus wat tussen vloeiende lokke uitsteek. Mense sou sommer aanvaar het ek is ‘n digter en die wêreld al my tiener-prulversies gespaar het.

En nou, dít. ‘n Skamele grys klossie veseltjies wat ek sommer so tussen my vingers kan vashou, verloren van themaat. Hierdie maats is oor die lengtes en breedtes van die wêreld versprei, in hotelstorte, in motors, oor landsvlaktes of sommer dwarrelend in die groot lugstrome wat om die aarde waai – klein stukkies ek, ’n tydsgeskaalde getuienis van die lewe van iemand wat ook eens vol drome was.

Dan gooi ek maar die klossie in die asblik en begin wonder oor die volgende stel ewige vrae.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.