Jy blaai in die argief vir 2016 Desember.

‘n Naam soos Ludwig

Desember 16, 2016 in Uncategorized

Vandag is Beethoven se verjaarsdag.

Ek het al baie gewonder hoe dit moes wees om ‘n gewigtige naam soos Ludwig van Beethoven te dra. Stel jou voor hoe jy as laerskoolkind vorentoe sou geloop het om jou boek te gaan haal as Juffrou “Ludwig van Beethoven!” uitlees. Man, ek sou geloop het soos ‘n baas. Van heel agter die klas uit tot heel voor en weer terug.

Mens kry natuurlik sy moderne gelyke onder die Afrikaanses: die Barnhoorns, die Philipusse (of is dit Philippi?), die Veldermans, die Servase, die Zoltans, die Severiusse… daar is net nie ‘n manier hoe ‘n mens só ‘n naam smalend kan probeer sê om die jafel te verkleineer nie.

Hierdie soort van swierige name kom, lyk dit vir my, meer dikwels hier in die Kaapwêrelde voor. Dis half of die droë grasvelde en swaarkry van die ou Noorde al hierdie geite uit ons mense uitgedroog het. Daar is jy Tom, Dick of Pietie, soos die gees die vaad’re maar lei.

Maaind joe, daar was ‘n onlangse tyd toe name met ‘n “é” bitter gewild was in ons volk. Dit was die tyd van die Ziané’s, die Angené’s, die Marené’s, asof die volk alles op die “é’s” wou plaas. In ‘n onlangse studie deur die Sarie-tydskrif of só iets, was die wenner hoeka iets soos Ansjané.

Volgens Shakespeare so ‘n roos met enige ander naam net so soet geruik het, maar ek verskil wanneer jy dit met ‘n “k”, ‘n “d” of selfs ‘n “v” spel. Name máák saak. Ek kan nie onthou hoevele kere mense al vir my gevra het waar die naam “Koot” vandaan kom nie. Hoe moet ek weet?

In die 1500’s was daar byvoorbeeld in Oostenryk ‘n vername wetenskaplike met die name (onder andere!) van Aureolus Theoprastus Bombastus von Hohenheim. Vir ‘n gewone man sou dit waarskynlik genoeg wees, maar toe hernoem hy homself na Paracelsus, wat blykbaar nog ‘n trappie hoër is.

Wys jou net.

Dit laat my dink aan die storie van die nooi wat haarself by die tennisklub voorstel: “My naam is Annetjie, maar my vriendinne noem my sommer Chauvenet.”

Nostalgie

Desember 16, 2016 in Uncategorized

As ‘n mens aan die weggooikant van sestig raak, word nostalgie jou grootste vriend. En, jou grootste vyand.

Wyser manne sal jou vertel om nostalgie te vermy – dit rem jou as jy moet aanpas en bybly by ‘n moderne, veranderde werklikheid. Dit maak jou hartseer, want jy onthou vergange dinge kwansuis asof dit die werklikheid is. Dis soos om soet te droom en dan in ‘n tronk wakker te word.

Andere sal jou weer wysmaak dat nostalgie die paraffien is wat die lampie aan die gang hou in die ouetehuis. Daar kan jy daelank na hartelus sit en nostalgeer en glimlag oor die bekende, outydse werklikheid waarin jy ronddool. Jy is nie meer alleen nie.

Dis met so ‘n sak, boepensvol nostalgie dat ‘n mens op ‘n laat Saterdagaand sit en ou, verlore tye so stadig, met ‘n brose gemoed, tussen jou vingers wegvryf. Dan dink jy aan óú naweekaande se saambraai, ‘n  geskoffel op ‘n lekker boerepartytjie of sommer net die sit en wees saam met jou geliefdes. Jy dink aan soete ou liefdes, soentjies agter die verhoog, aan maanligpoeier op die water en mooi woordjies in jou gloeiende ore. Dis wanneer jy saam met Fonnie op RSG ‘n skelm Rapsie voor Middernag geniet het en jou verlekker in Tom Jones se Funny, Familiar Forgotten Feelings.

Met ‘n bietjie oefening kan jy vir jouself hele sepies so oproep – ‘n lou vakansie in Natal, ‘n klam aandpiekniek in Magnoliadal, ‘n sagte aandsoen in ‘n jasmyngegeurde tuin, ‘n wittebrood-sonsondergang  by Bloubergstrand…  Jou verbeelding is stuurman, die bootjie gly sag deur ‘n geliefde ou Kammaland.

Sulke tye moet jy jouself net fyn dophou, dat jy nou nie in die verdrietigheid ingly nie. As jy dít toelaat, begin jou hele week sommer onder ‘n miswolk. Jy gaan huilerig slaap en gaan knoetserig opstaan. Maar, dis net hier waar jou vaardige nostalgikus homself onderskei.

Dit verg fyn, fyn oordeel om te weet wanneer daardie motgevrete, glimlaggende ou poedel, wie se harige stertkant jy só lank só liefderik sit en krap het, hom gaan vervies, omswaai en jou gaan byt. As jy verder nog die fout begaan het om jou mymeringe met ‘n knertsie te marineer, gaan daardie punt net so vinnig by jou verbygaan as ‘n kollektebordjie in ‘n Skotse kroeg.

Dan is jy in jou spreekwoordelike kanon. Dis dan dat groot mans verdrietig ou gedigte op facebook sit en verstom wonder hoekom die wêreld nie instroom om simpatieke kommentare te lewer nie. Dán kom jy gewoonlik agter dat nostalgie ‘n eensame stokperdjie is en dat jy die enigste jafel is wat sy verlate skaduweetjie op Gert Moedverloor se uitgestrekte sonondervlakte loop gooi. Deur daardie dal van doodskaduwee loop jy alleen.

En ekke? Jy sal my nostalgie nie met ‘n tang van my afvat nie. Dis my herkoutyd, my hoendervel-lekkerkry, my private klein pretpark. Dit pleister die brak kolle, die sounds of silence, toe met versuikerde weergawes van ou, tere stukke lewe, en dis nét myne.

Geplaas in Aan alle kante, Die Burger, 11 November 2016