Jy blaai in die argief vir 2013 September.

Erfenisdag

September 24, 2013 in Uncategorized

Tom Müller leef nie meer nie. Maar, Tom Müller bestaan nog.

Tom bestaan in die opname van Freddy wat nou speel, ‘n solus sewe plaatjie wat hy my in standerd drie present gegee het. Die Wolken, der Wind und das weite Meer.

Tom bestaan ook in van my mooiste herinneringe. Tom was aangestel as onderwyser in my pa se klein skooltjie, Laerskool De Deur in die hoëveldse platteland. Hy sou die klasonderwyser wees vir die standerd dries, toevallig die standerd waarin ek myself sou bevind.

Tom was lank en byna pynlik aantreklik. Hy het ‘n lang, blonde kuif gehad en kuiltjies in sy wange as hy glimlag. En hy het geglimlag, gereeld en geredelik.

Klas by hom was heerlik. Hy was toeganklik, aangenaam en ingelig. Hy het kuns as vak gehad op kollege en vir ‘n tyd in ons lewe was ons almal jong kunstenaars, het ons ons beste uitgehaal om Meneer Müller te beïndruk. Hy was ons held.

Ek was bevoorreg, want Tom het by my ousus begin kuier en ek kon dus meer van hom te siene kry. Vandaar ook die Freddy-plaatjie wat ek op my verjaarsdag present gekry het.

Een aand het my ousus gehuil. My ma-hulle het verneem wat gebeur het – Tom was in ‘n motorongeluk. Hy het met sy swart Prefect-karretjie in die reën ‘n voetganger raakgery wat in die donker op die rand van die pad gestap het.

Ons het Tom vir ‘n ruk nie gesien nie. Hy het nie skool toe gekom nie. Hy het ook nie kom kuier nie.

Toe hy weer by die skool kom, was hy ‘n ander mens. Hy was knorrig en asosiaal. Ons klomp jong kannetjies sou nie kon verstaan wat in sy gemoed gebeur het nie. Vir ons was hy net skielik ‘n vreemdeling en daar was geen manier waarop mens toenadering tot hom kon soek nie. Tom het ook nie meer by ousus kom kuier nie.

Die jaar was eindelik verby, en Desember het ons die nuus gehoor dat Tom selfmoord gepleeg het. Nou is al wat ek van hom oorhet die plaatjie en ‘n skewerige foto wat van ver af met ‘n goedkoop kameratjie geneem is.

Koot ou fotos 040

Ek het baie gewonder oor Tom, noudat ek mense en hulle seer beter verstaan. Ek het gewonder oor sy gesin in Bethlehem, of hulle ook seer het, of hy broers of susters gehad het wat hom ook mis. Ek het gewonder of my sus ook nog ‘n bietjie seer het oor Tom.

Ek het probeer soek of daar nog Müllers op Bethlehem woon, maar tyd het alle spore uitgevee.

Nou is hy maar net my eie, kosbare herinnering.