Gorrelinge oor uitsteeksels

Mei 31, 2013 in Uncategorized

Ek word gisteroggend wakker met ‘n eienaardige gevoel in my gesig.

Toe ek by die spieël verbyloop, sien ek dat my bolip, om een of ander rede, skielik in die nag besluit het om op te swel. Sommer so vanselwers, sonder enige elmbooghou van vroulief of geheimsinnige allergieë van visprodukte of iets. Sommer net.

En dit lyk aardig. Nie ‘n fraaie tuitlip soos Angelina Jolie nie, maar ‘n bona fide hanglip soos ‘n tapir.

Gelukkig het ek nie klasse gehad gister nie, en kon ek nog ‘n ruk by die huis rondhang met die hoop dat die swelling sou sak. Watwou, niks. Ek het later agtergekom dat, as my onderlip ook uitstoot, dit minstens lyk asof ek korrel vir ‘n soen. Min of meer soos oom Connie Mulder kon doen.

In elk geval, ek is toe maar so vort die dag in. Natuurlik het die mooiste meisie in die klas besluit om juis gister haar navorsingstopic met my te kom bespreek. Ek vermoed sy is my kantoor uit met meer vrae as wat sy mee ingekom het.

Teen gisteraan het die swelling gesak en kon ek weer myself in die gesig staar.

Sommer so terloops het dit my laat dink aan ‘n Bybelstudie-eksamen op laerskool, toe ons onsmaaklik baie van jafels met die name Rehabeam, Agab en Rehobeam geleer het. Daar het ek ‘n paar prettige frases teëgekom: “Is dit jy, jou beroerder van Israel?” het een op ‘n slag hoogs ontsteld gesê. Nice, né? Soms wil ek my kinders so aanspreek.

Ook, toe een van die konings nog so wys met sy een arm, bly sy arm net so staan. Sy woorde was vir my so koddig, iets soos: “Bid tog tot jou God dat my arm na my kan terugkeer…”

Ek weet nie of dit nog so geskryf is in die nuwe vertaling nie, maar ek het half simpatie met die jafel gehad toe ek my eie lip gister na my wou laat terugkeer.

 

12 antwoorde op Gorrelinge oor uitsteeksels

  1. tina10 het gesê op Mei 31, 2013

    O tyd… die stomme studente. Hoop jy is gou beter.

  2. Kon jy uitwerk wat dit was? Spinnekop of insek of iets?

  3. perdebytjie het gesê op Mei 31, 2013

    Jy’t nie dalk in jou slaap geloop tandarts toe nie?

  4. Berwick het gesê op Mei 31, 2013

    Snaaks. Goed gaan.

  5. monicahaddad het gesê op Mei 31, 2013

    jy kan nie dalk jou droom onthou nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

Jy mag hierdie HTML-merkers en eienskappe gebruik: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>