Wie neem vir Oupa hierdie naweek?

November 8, 2012 in Uncategorized

Christoffel se impak op sy sosiale omgewing is groot. As skoolhoof dra sy stem gesag, deure word vir hom oopgemaak, hy word alom as voorsitter op verskeie forums verkies en is ‘n eregas by funksies. In die kerk is hy ‘n voorprater en leier van verskillende kommissies. As hy by die winkel inloop groet kennisse en leerlinge hom gedienstig en menigeen probeer ‘n gesprekkie aanknoop. Sy vrou en kinders aanvaar sy gesag en oordeel, en skik hulle volgens sy planne.

Dis tien jaar later. By die skool is daar nuwe, jonger stemme wat, as draers van nuwe insigte en idees, aanspraak maak op ou leiersposisies en nuwe denkrigtings. Christoffel vind dat hy kundiges moet raadpleeg voordat hy besluite kan neem. By die kerk word hy wel nog weens sy ervaring op kommissies verkies maar hy vind dat hy nie meer met al die inisiatiewe aanklank kan vind nie. Dinge en aksies wat voorheen ondenkbaar was, is nou alledaagse praktyk en selfs fundamentele ou standpunte word bevraagteken en soms verwerp. As hy wel ‘n mening sou uitspreek, word dit hoflikheidshalwe aangehoor, en soms word hy selfs geterg oor dinge wat hy as heilig beleef het. Nuwe mense het die winkels oorgeneem, almal is haastig en niemand groet hom meer nie. Sy kinders het ontdek dat ander bronne meer gesag dra en dat sy menings in elk geval verouderd is.

Dis nog tien jaar later. Christoffel het al ‘n rukkie afgetree. Die skool nooi hom nog nou en dan vir ‘n funksie, solank hy net nie iets wil sê nie. Die jong dominee by die kerk noem hom op sy naam en behandel hom soos ‘n kostelike ou imbesiel. Sy kinders het hulle eie belange, hulle eie kinders en ‘n eie lewe. Hulle kom knoop soms ‘n gesprekkie aan as dit hulle pas. By die winkel is hy stadig en in die pad. Hy verstaan nie al die nuwe elektroniese hulpmiddels nie en gesprekke handel oor sake waaraan hy geen deel gehad het nie.

Saans sit hy en sy vrou en kyk heelaand televisie. Hy volg op die skerm die lewens van andere, van fiktiewe karakters en wildvreemde bekendes. Elke program is ‘n parodie, ‘n konstante herinnering aan ‘n lewe buite en sy eie, omvattende irrelevansie.

19 antwoorde op Wie neem vir Oupa hierdie naweek?

  1. *****

    ‘Die jong dominee by die kerk noem hom op sy naam en behandel hom soos ‘n kostelike ou imbesiel. Sy kinders het hulle eie belange, hulle eie kinders en ‘n eie lewe. Hulle kom knoop soms ‘n gesprekkie aan as dit hulle pas. By die winkel is hy stadig en in die pad. Hy verstaan nie al die nuwe elektroniese hulpmiddels nie en gesprekke handel oor sake waaraan hy geen deel gehad het nie.’

    Dit is hartseer dat ouer mense wat nie meer kan of wil tred hou soos kostelike imbesiele behandel word nie. So asof hulle automaties weer ‘kinder’ status bereik na ‘n sekere ouderdom volgens die nuwer jonger generasies 🙁

  2. Janee. Is dit nie ook hartseer hoe sommige dierbare dames van die “oumensies” praat nie?

    • Dit maak my naar as hulle dit doen, so ‘n tipe van bo-oor die mense praat wat lewensgroot daar sit. ‘En hoe gaan dit vandag met die oom of tannie, hoe voel ons vandag, wil ‘ons’ ‘n teetjie hê?’.

      Herder ek hoop ek word dit eendag gespaar, geen wonder sommige ouer mense is permanent mislik nie, ek sal ook wees as ‘n nurse of ‘n caregiver my soos ‘n kwylende breindood sot behandel.

  3. lora2me het gesê op November 8, 2012

    Ek weet daar sit soveel ouer mense in aftree-oorde wat met kosbare kennis (en ek praat nie van staaltjies en anekdotes nie) in hul koppe sit en net wag om dit met iemand te deel. Ek stem vir “rent-a-gran” sodat alle kinders van iets meer as net hul skoolwerk kan leer en die liefde van ‘n bejaarde kan geniet. As iemand my oooooit eendag ‘n oumensie of oumatjie noem, sal ek hul tande uitslaan as ek nou ooit in my lewe iemand gaan aanrand! Dis disrespekvol en net ‘n verskoning om nie aan ‘n persoon ‘n identiteit te gee nie.

  4. Ek hou sommer dadelik van jou! Ek gaan dan ook ‘n bedonnderde ouballie wees.

  5. vega het gesê op November 8, 2012

    Baie hartseer, die jongeres kan so baie by ouer mense leer. Maar hulle besit nie die wysheid om dit te besef nie. Maar dis ook mens se eie verantwoordelikheid om jouself relevant te hou en goeters te kry om jou op jou ‘oudag’ konstruktief besig te hou. My pa is 90 en hy sê ook (alhoewel hy wyd belese is) dat mense hom soos ‘n kind behandel wat gesien, maar nie gehoor moet word nie.

    • Daar stem ek volkome met jou saam. Ek ken ‘n paar oumense wat hulleself kreatief besig en relevant hou. Dis seker mits jou gesondheid, fisies of geestelik, jou toelaat.

  6. die regtig baie waar en soos dit gebeur , maar dan is daar darem ‘ou mensies’ wat darem erg moedswillig is – ek ek is self een! Mens het net een lewe om te leef en dit moet mens op jou eie doen en deur die lewe van ander nie.

    • Ek kan dink jy is reg. In so ‘n ouetehuis is daar verskeie leeftye se gedistilleerde geite – dank vader ek hoef hulle nie te hanteer nie.

  7. Dogma’s is ‘n lelike ding, dit vang jou as jy oud is.

  8. Dis hartseer dat ouderdom ‘n soort brandmerk geword het.Daarom veg ek daarteen om onnosel te wees met vandag se tegnologie,lees my koerante,hou my op hoogte van wat aangaan en neem ‘n houding in van ek het net soveel reg op ‘n opinie as enige jonger persoon.Oumatjie en Oupatjie sal die laaste woorde wees voor ek hulle stil slaat met my kierie!

  9. Die opskrif sê reeds alles…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.