Oktoberfest in mineur

November 1, 2012 in Uncategorized

Oktoberfest.

Waaraan laat die woord jou dink? Fraai, buustige, gespierde dametjies wat armsvol bierbekers aandra; groot Brezels met bepeperde Emmentalerkaas; ‘n verveelde oempa-orkes wat somehow jolige musiek uitkarring; grootoogtoeriste wat op tafels probeer dans terwyl rustige Duitsers hulle kopskuddend toekyk; leepoog tafelgenote wat hulle eie weergawe van die lirieke probeer deursing…?

Dis seker omtrent hoe dit behoort te wees.

Wel, nee. Nie hier nie.

Ek kan niemand kwalik neem nie – ek moes per slot van rekening die waarskuliggies gesien het.

Ek was genooi na die plaaslike rolbalklub se Oktoberfest-ete Vrydagaand. Laat my die toneel beskrywe en let asseblief op die subtiele kontraste met die beskrywing bo.

‘n Lang, lang gedekte tafel, weliswaar met Beierse vlaggies op. ‘n Eensame cd-spelertjie eenkant wat ewe dapper, outydse Duitse popmusiek uitkrys. Gawe, dierbare bejaardes wat hulleself probeer hoorbaar maak bo die geroesemoes. ‘n Vriendelike tannie met ‘n kort rok wat urelank een-een persoon stelselmatig bedien met ‘n bord gekookte Duitse kos. Wyn en Diet Coke.

Welkom dan aan wat waarskynlik my toekoms is. Soos Koning Arthur se Guinevere vra: “Where are the simple joys of maidenhood?” sal ek seker moet vrede maak dat daardie benewelde Vrydagaande in die Braukeller of Zillertal my net kopseer, sooibrand en spierpyn sal besôre. Miskien selfs ‘n gebreekte arm. En, dat ek voortaan waarskynlik die Oktoberfest vanuit my Lazyboy sal aanskou, soos wat dit êrens, ver oor die waters afspeel.

Ergste is, ek verkies dit dalk eerder nou so!

 

14 antwoorde op Oktoberfest in mineur

  1. Fraai, buustige, gespierde dametjies….ok nou het jy my aandag
    Daar is ook bier…great nou sit al regop

    Ag nee man Jan nou skiet jy my visioen in sy moer…

    zeppie sit terug en neem ‘n sluk van sy koffie

  2. Ek kan sommer hoor hoe die seepbel bars.

    Outentiek versus ..wel..chees(y)fest? 😉

  3. Latino het gesê op November 1, 2012

    Ons het ook Saterdagaand Okoberfest hier, wat die eerste naweek van November gebeur. Almal wonder wat gaan die weer maak?

  4. Moet net hier noem dat ek in vervloë dae fondsinsameling-funksies gereël het. Dit het so uitgewerk dat ‘n besoekende Duitse orkes ‘n plek gesoek het om te gebeur. en dit het gebeur, net soos dit moes, Die plan het bymekaar gekom en dit is een van my soet herinneringe 😉

  5. generasie gaping!
    Baie beslis baie oempa, harde oempa

    hoop jy’t sommer so vinnige ogie oor onse huis ook gegooi.

  6. Jan Klaas dit moes ‘n teleurstelling en ‘n half gewees het.

  7. Braukeller, Zillertal…daardie name maak my heimweemoedig…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.