Jy blaai in die argief vir 2012 Oktober.

Poedelpastei

Oktober 30, 2012 in Uncategorized

Waar jy staan, hang af van waar jy sit.

Hierdie is ‘n erg onderskatte waarheid. As ‘n mens die volle konsekwensies daarvan deurdink, dan klink al die hewige debatte oor die ligging van kernkragsentrales, die Belhar-getuienis, geloof, “fracking” en rykdomsbelasting maar bra ydel.

Die stelling beweer dat dit as’t ware vir jou vooruitbepaal is wat jou standpunt gaan wees in ‘n bepaalde situasie. As jy ‘n ingesetene is in ‘n bepaalde toestand of ligging, sal dit waarskynlik ook die toestand wees wat jy hand en tand sal verdedig. As ek ‘n mooi duur aftreeplekkie langs die kus gekoop het, sal ek tot die dood toe veg om dit nie ontsier te kry deur ‘n luglyn vol windlaaiers nie. Om die waarheid te sê, ek sal allerande ware-, en selfs drogargumente gaan versamel wat dalk my saak kan versterk, ter uitsluiting van die argumente vir die teendeel. Ek sou die Belhargetuienis makliker steun as ek van ‘n bepaalde volksgroep was, of as ek grootgeword het in ‘n gebied waar daar meer vryelike wisselwerking tussen bepaalde volksgroepe was.

Afhanklik van waar ek gebore is en grootgeword het, sou ek waarskynlik Islam, Buddhisme of Christenskap aangehang het. Ek sal “fracking” moeilik ondersteun as ek ‘n plaas of ‘n aftreeplekkie in die Karoo het, en vir seker sal ek nie rykdomsbelasting ondersteun as ek, uhm, ryk was nie.

Dalk sal die protesteerders teen die tolhekstelsel ook agterkom dat die steun vir die protes vanuit die res van die land stadigaan besig is om te taan namate die besef tot daardie mense deurdring dat dit eintlik net die arme Gautengers is wat vir daardie trippies gaan betaal. Ha, totdat SANRAL sy visier op ‘n pad in hulle eie omgewing sit, dan sal hulle gou op hulle se perdjies wees.

As ek dus ‘n protesbrief in die koerant sien, is dit vir my heel prettig om te sien waarom die persoon juis beswaard is, en meeste van die tyd is dit maar ‘n gevolg van “waar jy sit”.

Hierdie hele gedagtegang is eintlik gesneller deur ‘n berig in die koerant, dat ‘n man in die Kaap wat ‘n hond afgeslag en geëet het, aangekla was en toe skotvry daarvan afgekom het. Soos te verwagte was daar ‘n koor en ‘n storm van protes en afgryse oor sodanige wandaad. Sekerlik verdien so ‘n wreedaard om die hoogste tol te betaal?

Dan ry hierdie selfde verontregtes by Spar aan, en koop ‘n hoendertjie of ‘n tjoppie om tuis te gaan geniet. ‘n Mens wonder of hulle al die kyk op ‘n skapie se gesig gesien het as hy besef hy gaan in faktore ontbind word om op beskaafde mense se borde bedien te word as ‘n lekkerny. Die gesig wys vrees, ‘n wil om te lewe!

In sommige kulture is ‘n hond nogal ‘n lekkerny. So ‘n poedelribbetjie gaan goed af met aspersies en mosterd. Soms is mense bloot erg honger.

Gewoonlik beskou ons kulture wat katte of honde eet as barbaars en wreed, en besef nie dat ons eie eetvoorkeure dalk vir ander walglik kan wees nie. As ‘n mens die saak probeer deurdink om regverdiging vir jou eie afgryse te kry, beland ‘n mens baie gou in ‘n morele mynveld. Vegetariërs eet byvoorbeeld ook vorme van lewe, en dit is ‘n dun lyn om te wil argumenteer dat daardie soort lewe nie ‘n wil het nie – party bome skei eteengas af as ‘n bok daaraan eet, om hulleself te verdedig, en so is daar baie ander voorbeelde van ge”wil”de optrede in die planteryk..

Dalk sou argumentering meer logies, makliker gewees het as ons ons eie vooroordele en voorkeure opsy kon plaas en bloot nugter oor die feite redeneer.

Dream on, Jan Klaas.

 

Sondagaand se houding

Oktober 28, 2012 in Uncategorized

Dis stil. Te stil.

Buite blaf ‘n groot hond beterweterig. Paddas tjilp agterdogtig in die groen swembad. Die enigste groen swembad in die Baai op ghoeghel earth. Die pomp is stukkend, oukei.

Dit is volmaan. Die son en aarde se prettige sirkeldans laat die maan nou soos ‘n ronde spieëltjie van agter blits, asof dit ons wil laat kyk of ons tevrede is met die uitkoms van die harekap aan die agterkant. Wat is dit dit in elk geval met haarkappers? Sonder my bril is alles ennieway ‘n blur, en teen daai tyd is die skade klaar gedoen – dis nie asof hulle die hare kan terugsit nie.

Van ons gesigpunt skuins bo agter Jan Klaas sien ons eerstens die lamplig blits van sy bles, en dan sy krom vinger waarmee hy sy kop ingedagte krap, hard dinkend aan welke kreatiewe, groot wyshede hy die volk mee kan oorbluf en bekoor. Sy ander hand tik-tik ongeduldig op sy knie, tot die groot ontsteltenis van die slap worshond op sy skoot. As daar getik-tik moet word, laat dit dan op haar rug of pensvelle wees, nie so ‘n futiele verspilling van troetelenergie nie.

Selfs die oorblywende skeel vis in die algerige visbak het ‘n houding vanaand. ‘n Mens kan sien aan die smalende manier waarop sy haar draai in die gesigsveld maak dat alles nie pluis is nie.

Sondagaande is nie vir sissies nie.

Tadaa!

Oktober 26, 2012 in Uncategorized

(Enter left)

Jan Klaas kom swierig ingeslinger, ghitaar in die hand. Sy oë blink oor hierdie nuwe verhoog.

Ek laaik dit hier. Mog dit die begin wees van duisende nuwe gesprekke en vriendskappe.

Ek gaan by een en almal van julle kom inloer. Uhm – na die einde van die maand, as ek weer tyd op my Vodacomstokkie het…

‘n Feit en ‘n vraag

Oktober 14, 2012 in Sonder kategorie

Feit

 

Waterklop s.nw. Herhalende klopgeluid in ou waterpype in ‘n gebou, as die watervloei vinnig afgestop word. (Eng: water hammer)

 

…soos wanneer ‘n worshond vinnig tussen jou bene deurhardloop as jy in die donker op die grasperk piepie…

 

 

Vraag

Ek skat ek sit met ‘n eksistensiële krisis! Hoekom is ek nog hier? Is ek soos Leonardo di Caprio wat op die Titanic agtergelaat was nadat al die reddingsbote vertrek het?

Ek het gedag teen hierdie tyd is ek al netjies oorgetiep op die Nuwe Hemel van WordPress…!?

Ek en die see

Oktober 12, 2012 in Sonder kategorie

My hele lewe lank wou ek by die see woon. Vakansies by die Suidkus, so tussen die hoëveldse winters, was vir my die toppunt van vryheid, romanse en jonkwees.

Ek onthou daardie eerste wakkerword by die see, as die oggendsonnetjie al warm skyn, die koel seebriesie wulps by die venster inbeur en die branders se dreun meng met die gekrys van seemeeue. Dan, later, die reuk van gebakte ontbyteiers en die kokosneutgeur van sonsalf. Die inpak van die emmertjies, grafies, vlieërs en reusagtige handdoeke. Die opwinding van die nat, warm, prettige dag wat voorlê.

In die storm-en-drangjare van tienerwees was die see vir my die vergestalting van die begeertes, onsekerhede en woedes wat deur my brose gemoedjie gespoel het. Ek kon my sit en verkyk aan die krag van ‘n brander wat skuimend op die rotse bars en dan ontplof in ‘n wit pluim wat hoog stoot en stadig grond toe val. Die mooiste was die spel tussen brander en wind, as die sproei hoog terugwaai en die golf frustreer om so woedend te breek soos wat dit hulle betaam.

Maansopkoms op die see was vir my omtrent die hoogtepunt van geestelike uitdrukking en ek het ook weer menige foto’s van rooi horisonne wat in die breë vlaktepluim van uitspoelbranders weerkaats as ek vroeg opgestaan het vir die sonsopkoms.

Later het ek ander juwele ontdek – die woelige lewe tussen rotse, die kleurige visse en groeisels onder die water.

Soos wat ek meer en meer van die fisika van golwe en ander natuurverskynsels verstaan het, het heelwat van die mistiek van die werking van golwe en getye vir my verlore gegaan. Ek kon nog kyk, maar kon nie meer die effense rilling van mooi teen my rug af beleef nie.

Ek moes ‘n nuwe soort vrede maak met die see. Hier waar ek tog nou by die see woon, geniet ek nou weer, maar op ‘n rustiger manier, die geweld van springgety, ek adem die sout geur van seewees op die klam aandlug en ek kies die kuspaadjie werk toe om die weerkaatsing van die lae oggendsonnetjie op die mistige plat brandertjies te beleef.

Dis ‘n voorreg waarvoor ek baie ander dinge moes prysgee. Maar, dalk was dit die moeite werd.

Saam na die Suide

Oktober 8, 2012 in Sonder kategorie

Toe ek so vyftien jaar terug die heuwels en kruitdampe van Gauteng verlaat het en in die skone Kaapwêreld kom woon het, was daar natuurlik ‘n klompie goed waaraan ek gewoond moes raak.

Hier het ons winde, vogtigheid, winterreën en ‘n eienaardige skugterheid vir kliëntediens. Aan die ander kant het ons asemrowende natuurtonele, fynbos, groen alom en die see.

En natuurlik ‘n horde ander goed.

As inkomeling het ‘n paar subtiele annerlikhede my ook begin opval. Een was, die manier waarop mense praat. Hier om my leefwêreld rond in die Oos-Kaap is ontronding byvoorbeeld nogal ‘n spraakverskynsel. Waar hulle in Menlopark praat van “strôt” as hulle “straat” bedoel, klink dit hier eerder na “striit”.

‘n Ander nuwigheid was die soort Afrikaans wat hier gebruik word. Deur die Transvaler, Vaderland en Beeld waarmee ek grootgeword het, het ‘n mens ‘n bepaalde woordkeuse gewoond geraak, en dan is die plaaslike artikels in die eerste Burgers wat jy lees nogal ‘n aangename verrassing.

“Tewens” is ‘n woord wat ek in my dag des lewens nog nooit gebruik het nie. Tewens, ek weet nie eers mooi wat dit beteken nie. Dit roep by my die beeld van ‘n klomp snuiwende wyfiehonde op en swenk my gedagtegang heeltemal anderpad.

Iets wat mens ook opval, is die manier om te sê “gewees het”, in plaas van net “was”. Waar ek normaalweg sou vra of iemand daar was, praat baie mense hier of hulle daar gewees het. Ek sou ook nog vrek om die mooi Afrikaans van die Noord-Kaap daagliks te kon hoor.

Soms is ek spyt dat ek die sekerhede en dierbare mense van my grootwordtyd verlaat het, maar soms is ek dankbaar oor die nuwe dinge, verhoudinge en leefwyses wat ek hier kon ervaar, ook die klein dingetjies.