Jy blaai in die argief vir 2012 September.

Swanesang?

September 11, 2012 in Sonder kategorie

In een van die woonbuurte in die Baai het ‘n groot boom die woonplek geword van al wat gevoëlte is. Dis ‘n aardigheid en ‘n geskater as hierdie klomp in die aand na hulle blyplek toe trek en hulle laaste ablusies maak voordat hulle brom-brom hulle lê kry.

Bedags is dit ook nie stil nie – elke nou en dan kom een van die kantoor af om miskien die kinders te kom groet of ‘n slap wurm na die spens toe te sleep. Dan is dit ‘n hele geroesemoes soos die aankoms en die gaan sit onder die gemeenskap bespreek en gekritiseer word.

Vir die mense in die omgewing het hierdie boom algaande sy aardigheidsglans begin verloor, tot waar dit later ‘n rêrige las begin word het. Buiten die aandgeraas is motors wat onder parkeer spierwit besprinkel, die boom het al kaler geword en die spulletjie het begin stink. Die saak het nou so ver gevorder dat die boom einde ten laaste uitgekap is en die hele gebroedsel moet nou noodwendig ‘n ander heenkome soek.

Oor die blou ruimtes van die hele Baai is daar nou klossies-klossies swewende voëls, slagoffers van hierdie gedwonge verskuiwing, wat sekerlik filosofeer of alles uiteindelik die moeite werd is.

Litnetblogs was my boom. Hier het ek myself skugter staangemaak, half gevlei oor die aura van digterlikheid waarmee die assosiasie met Litnet my toebedeel het.

Deur die jare het ek my nessie knus uitgevoer, ‘n gesonde hoop ghwano onder my eie tak opgebou, vriende gemaak met ‘n paar tintinkies, swane en dodo’s, ‘n paar kraaie afgeweer en in die algemeen heel tevrede gevoel met die daaglikse gekwetter en gekwaak.

Nou word my boom ook afgekap.

Ek is te slapgat en bang vir verandering om die alternatief behoorlik te ondersoek, nou sit ek maar benoud en piep en tjilp, seker tot die laaste tak afgesaag gaan word. Ek gaan my nessie mis.

Sunday morning coming down

September 9, 2012 in Sonder kategorie

Hulle sê ‘n hond kan vrees ruik. Ek kan nie juis hiervoor instaan nie – dit hang seker af hoe groot jy geskrik het. Mind you, in so ‘n uiterste geval sal enigiemand my seker kan ruik.

Iets waaraan ek wel begin glo, is dat vroue vrede kan ruik. En sommer van ver af.

Neem nou vanoggend. Pragtige Sondagoggend – die son skyn deur die liggroen lenteblare, ‘n lui warm seeluggie streel deur my hare, ‘n geur van soet jasmyn hang in die lug, die worshond lek my lui-lui voordat sy weer insluimer.

Dus, vrede. Met ‘n SABS stempel.

Ek moes dit sien kom het en toepaslik besorg buite rondgedraal het, asof die tuin eintlik ‘n diepe bron van kommer is. My tong geklik het en my kop ontsteld geskud het terwyl ek ‘n los vloerlysie met my toon stamp-stamp…

My waaksaamheid was dus maar slapperig, en toe vroulief soetjies oorkant my kom sit het ek haar liefderik toegeglimlag, ‘n toonbeeld van vrede en toegeneëntheid.

Sy het ook deur die jare geleer, het sy. Sy begin met ‘n inleiding oor hoe pragtig die oggend is, en, en…

Toe begin sy so stadigaan by haar eie agenda uitkom. Saggies en teer, maar meedoënloos verskuif die onderwerp na sake wat effens minder sprankel, totdat ons by haar gewilde Sondag-tema, ons geldsake uitkom.

Namate sy vir my die volle implikasies van ons nabye en verre toekoms begin ontplooi, voel ek hoedat die koue vingers van angs by my warm ribbetjies verby tot by my hart begin strek. Ek voel hoedat die bloed my kop verlaat en hoedat my hart in my spreekwoordelike keel begin klop. My oë raak al groter en die paar orige hare op my bles probeer regop staan.

Ek probeer flou protesteer, maar die vrou is op ‘n missie. Sy het duidelik die hele nag oor hierdie sake getob en toe sy my warmgebakte lyf so argeloos in die sonkamersonnetjie sien lê, was dit vir haar ‘n persoonlike affront en ‘n saak wat terstond reggestel moes word.

Einde ten laaste gee sy ‘n halwe glimlaggie, rek haar rug so effentjies en staan op. “Nou ja, jy wil seker ‘n bietjie rus,” of so iets, sê sy.

Asof. Hier sit ek toe met ‘n troostelose toekoms en ‘n dag wat skielik grys geword het, soos ‘n ou oorlogfliek.

Nooit gedink ek sal uitsien na Maandag nie.