Jy blaai in die argief vir 2012 Augustus.

‘n Rusplek langs die pad

Augustus 26, 2012 in Sonder kategorie

Die paaie in die Noord-Kaap is lank en reguit.

Gert het hom op een van hierdie paaie bevind toe hy die eerste keer sy skone verloofde en haar ouers van die plaas af na ‘n kuier by die spa in die dorp moes neem.

Die pad was lank en swaar, en onderweg het Gert so ‘n swarigheid in sy onderlyf begin voel. Daardie soort knyp wat ‘n mens kry as jou maag soggens ‘n bietjie later as jy wakker word en dan later verontwaardig kom aanklop sodat jy jou voorgeskrewe ablusiepligte kan verrig, soos dit ‘n ordintlike maageienaar betaam.

Gert kon min of meer uithou, maar die maag nie. Die kloppinge het al hoe meer dringend geraak. Nou, vir die wat die Noord-Kaap ken – daar is maar bitter min geriewe, Superstops en padkafees langs die pad. Om die waarheid te sê, daar is ook bitter min bome of struike van die aard wat jou skaamte voldoende kan verberg.

Dit was tyd vir onderhandelinge.

Versigtig, skaam en taktvol het Gert die saak begin ophaal. Die familie was oorweldigend in hulle reaksie met oorvloedige betuigings van simpatie. Daar moet onmiddelik gestop word – hy kan sy ding agter die motor doen en hulle sal pligsgetrou vorentoe bly kyk.

So gesê, so gedaan. Dit was ‘n baie verligte Gert wat weer agter die stuurwiel kon inklim en die pad kon hervat. Die lewe is ‘n lied, voëltjies sing en die lug is blou.

Die kuier by die spa was toepaslik aangenaam, en later die volgende oggend het hulle die terugtog aangepak. Met die son van agter was dit ‘n heerlike rit en Gert moes hom keer om nie aan’t singe te raak nie.

Namate hulle die toneel van die vorige dag se petalje begin nader het, het ‘n vae onrustigheid Gert begin beetpak. Dis een ding om jou ding agter die kar te doen, maar dinge soos daardie los ‘n residu, ‘n oorblyfsel, as’t ware ‘n nasmaak.

En so was dit toe ook. Op die gladde horison was daar ‘n soort ongelykheid, ‘n bultigheid wat die suiwer lyne van die landskap versteur. En, hoe nader hulle kom, hoe duideliker het die bron van die bult voor hulle begin opdoem. En al harder doem.

Daar lê dit in die pad, ongesteur, soos ‘n berg ongebuk, breed en bonkig van stuk. Soos Sion teen die noorde hom wentel uit die dieptes op.

Miskien was dit net vir Gert so erg, want die familie het doodluiters voor hulle sit en uitkyk, asof hierdie soort verskynsel normaal is daar in hulle geweste. Tog was daar ‘n nuwe soort spanning in die kar.

Gert het geweet die charade is verby toe liefie Tienie skielik langs hom begin proes van die lag.

En so is ‘n legende gebore wat vandag, amper vyftig jaar later, nog steeds ‘n familievertelling is en steeds elke keer ‘n rooi gloed uit Gert se nek laat opslaan.