Waarom is my hoenertjie se hartjie dan so seer?
Julie 27, 2012 in Sonder kategorie
Depressie is iets wat ek van binne sowel as van buite leer ken het. Nié jou maat nie.
Die siekte van die moderne tyd. Die siekte wat sommiges sover dryf om eerder ‘n einde aan alles te probeer maak.
Dis nie depressie wat ek wil bespreek nie. Dis iets wat ander mense met wit jasse en dik brille in elk geval meer vloeiend as ek sal kan doen. Wat my eerder toenemend begin dronkslaan is die aard van sommige mense wat daaraan ly. Nie noodwendig jou bedrukte pessimiste wat almal se lewens loop en vergal nie, maar die sprankelmense, daardie tipes wat ons ander se lewens verryk, lig uitstraal en iets spesiaals bydra tot die ordinêre menswees.
Ek lees gister dat Bruce Springsteen ‘n lyer is. Ek het gehoor van Leonard Cohen, van Mariah Carey en Johannes Kerkorrel. Kosbare Lindie Stander. In my eie vriende- en familiekring is daar dierbare, begaafde mense wat swaarkry, wat dag na dag moet veg teen daardie swaar wolk wat alle vooruitsigte versomber.
Dis ook nie noodwendig selfbeeldkwessies nie. Dis eerder ‘n onvermoë om te cope met die daaglikse sleur en uitsigloosheid. Mens vra wat is die sin (en cos, en tan) van hierwees. Mense wat dalk oorbedeel is met die vermoë om te soek na iets blywends en ewigs in ons troostelose bestaan, in die onbillikhede van menseverhoudinge en omstandighede. In die liedjie Vincent sing hulle “this world was never meant for one as beautiful as you”. Soos pragtige, delikate en kleurvolle paradysvoëls in ‘n star ysterhok. Breyten in die tronk.
Hoe het dit gebeur?
Hoe het evolusie ons verby die punt geneem wat nodig is om effektief te oorleef? Het die oormaat van nuwe breinselle mekaar toevallig begin raaksien en onbedoelde skakelings bewerkstellig? Dieselfde skakelings wat kritiese denke moontlik maak, maar ook ‘n waardering vir die estetiese, kameraadskap, soeke na ‘n transendente goddelikheid – daardie selfde oorgroeide skakelings is dalk ons ingeboude padkaart na die belewenis van seer, berou en skuld. En depressie.
Soos ‘n beswaarde skrywer (oeps – ekself (bloos)) dit eenkeer, dekades terug gestel het:
Met ‘n hamergeklop
teen die sewende steen
is daar wesens gepleeg
van klip en molibdeen.
Hulle doen nog veel meer
as aanvanklik gemeen-
hulle vra “Waarvandaan?”
en soms selfs ook “Waarheen?”
Hulle’s gans onversoen
met die tyd hul verleen:
dis ‘n helse lawaai
tot hul terugkeer tot steen.
Ek bied hier nie veel van ‘n troos nie, ek weet. Ek los dit vir daardie slim mense wat brose strukture van binne af kan help herbou. Solank ons weet ons is nie alleen nie, ons is nie simpel nie – ons is reg, dis die wêreld wat verkeerd-om draai.
Onlangse kommentare