Jy blaai in die argief vir 2011 September.

As jy my kon volg

September 18, 2011 in Sonder kategorie

In die afgelope week het ek weer ‘n stille kis sit en aankyk wat voor in die kerk staan, terwyl bedroefde geliefdes met liedere en woorde hulle afskeid neem.

Ek betree nou ‘n ouderdomsgroep waar hierdie soort kerkgeleentheid meer en meer dikwels gebeur, na ‘n leeftyd van dope, aannemings en troues.

Ek het nogal gesit en mymer hoedat die lewe deur verskillende generasies van vleeswordings spoel, soos ‘n golf in die see dit regkry om verskillende seebamboese op sy pad strand toe op te rig, en as’t ware met lewe te inspireer. So kry ons elkeen ons kansie op ‘n deurspoel van die lewe – vir voel, vir droom, vir hoop en vir seerkry, voordat die golf na ons in ons kinders en hulle kinders voortgesit word.

Iets omtrent hierdie besondere begrafnis was egter anders.

In Die Burger was daar ‘n paar weke terug ‘n brief van ‘n vrou wat haarself as “eensaam en hartseer” beskryf. Sy sê daarin dat haar man sy geloof verloor het en dat sy nou verplig is om kerkdienste alleen by te woon, en dat sy die samesyn en saambidding mis.

My hart het uitgegaan na hierdie vrou. Ek onthou die koesterende warmte, as student, as jy onder die gebed in die kerk die hand van jou liefie kon vasdruk. Ek onthou die intense saambid as dit sleg gaan en die saam bly-wees as dit goed gaan. Ek kan dus die leemte verstaan as sy nie meer die warmte van haar man langs haar voel as sy haar diepste vrese en dankbaarhede teenoor haar geliefde God wil uitspreek nie.

Die saamwees spruit uit die bekende wêreld waarin ons grootgeword het, en dit is die soort van kameraadskap wat ons as vanselfsprekend leer aanvaar het.

In ‘n toenemend moderne omgewing, waar ou aannames bevraagteken word, waar nuwe werklikhede meeding met oue tekste, geskrifte en leringe, waar mense meer en meer ontnugter word deur die optrede van prinse en traumatiese belewenisse, gebeur dit soveel meer dat mense wegdraai van die sekerhede waarmee hulle grootgeword het. Mense verlaat die kerk, word kerkloos en word selfs aktiewe teenstanders van alles waarvoor die kerk staan.

Waar dit voorheen met “ander mense” gebeur het, gebeur dit nou met ons eie mense, met ons eie geliefdes en familie. Die vrou in Die Burger se hartseer is meer en meer ons eie hartseer.

Die hartseer is seker egter ook haar man se hartseer. Sy ou sekerhede is hom ontneem en die basis waarop ‘n groot deel van sy verhoudingslewe gebou is, is nou weg. Hy kan nie in iets bly glo bloot ter wille van sy liefde vir sy eie mense nie. Dit wat sy vrou in die kerk vind, moet hy nou op sy eie eensame wyse deurleef en sy eie vrede soek in die groot, meedoënlose siklus van lewe en dood.

Hierdie ellendige gedagtes het by my kom spook toe ek toevallig laasweek ‘n spesifieke liedjie van Koos du Plessis moes sing. Ek moet bely, ek het die woorde voorheen bloot meganies gesing omdat die melodie so mooi was, maar skielik het die blerrie woorde in my keel vasgesteek. Koos wil hê sy geliefde moet saamkom na sy eie soort hemel:

As jy my kon volg op die vleuels van die wind, na wêrelde bokant die maan

Sou jy my spoor in die melkweg vind, my tent tussen sterre sien staan

En vervolg dan:

As jy my kon liefhê tot alles vergaan en nooit oor die skeiding sou vrees

Sou ons die lewe kon leer verstaan, ‘n oomblik gelukkig kon wees

Maar ons is nog jonk en die wêreld is oud

En voor ons het almal gefaal

Neem nou my hand, want die nag word koud –

Dis dalk die heel laaste maal

Soos ek dit verstaan, bespiegel hy oor die moontlikheid dat ons mekaar na die dood nie weer sal sien nie. Hy sien die koue nag van verwydering en stilte. Ha, praat NOU van eensaam en hartseer!

En so sit ek toe ‘n begrafnisdiens en deurtob oor die ou-ou aantyging dat ‘n versugting na lewe na die dood bloot ons wyse is om af te reken met ‘n fisiese onafwendbaarheid.

En vrede dan vir hulle wat vrede daarin vind en sterkte vir die wat dit nie kan doen nie.

Weer aan’t moan!

September 7, 2011 in Sonder kategorie

Ek word nou wragtig ‘n beneukte oubaas.

Vanmiddag vererg ek my oor die onskuldigste ding, ‘n prentjie op Nuus24.

Die tydskrif Vogue het dit naamlik goed gedink om die skitterende sangeres, Adele, op hulle voorblad te sit.

En wag, dis nog nie hulle sonde nie. Die sonde is dat hulle haar soos ‘n Barbiepop opgemaak het en haar met ‘n smeulende uitdrukking vir die kamera laat pruil het.

Die wat Adele ken, sal weet dat sy uitstaan onder sterre met haar eie, natuurlike onopgesmuktheid. Plat op die aarde, ewe natuurlik en in vrede met haarself. Maar Vogue reken die natuurlike produk is juis onnatuurlik – sy moet mos ‘bedoen’ word om dan nou spesiaal te lyk. Maak haar sit op ‘n stoel en plak haar vol polyfilla, olie, blinkers en plakkaatverf. Nou is sy mos iets wat hulle vername blaaie werd is – ‘n vrou volgens hulle resep en hulle model. Hulle predik hierdie smukkasie mos al dekades lank, hoekom sal hulle dit nou buig en iemand wys as die ware persoon wat sy is?

Ek is nie teen grimering nie. Dit bedek alles, verdra alles en sou selfs my delikate gelaat meer aanneemlik kon maak. Waarteen ek dit het, en ek weet die balans is bra fynerig, is dat hulle perdedrops (skuus Adele) as hulle eiesoortige vye wil kom verkoop. Dit terwyl die perdedrops dalk veel, veel kosbaarder as vye kon wees.

Dis amper soos om ‘n pragtige leeumannetjie eers met olie te smeer, hoëhakskoene aan te trek en met kolle te spuit voordat ek hom afneem, omdat dit is hoe ons natuurtydskrif se lesers hulle leeus verkies.

Of miskien is ek maar net kommen.

Xenofobie?

September 5, 2011 in Sonder kategorie

“Vorm my en maak my net soos U wil”, het ek vroom gesing.

En so lank was ek die slagoffer daarvan. Dis eers hier aan die grense van my oudag dat ek my nou begin vervies vir die mate waarin ek gekonformeer het om na ander se pype te dans. Juis omdat hulle my “kon vormeer”.

Wat is dit met ons dat ons so graag almal wil inpas in hokkies wat vir onsself gerusstellend is? Hier sit ek my weer en vervies vir almal wat ‘n eiertjie te legge gehad het oor Frans Steyn, omdat sy hare dan kwansuis te lank sou wees vir ‘n Springbok. “Lyk soos ‘n hippie”, knor ‘n vies tannie in die Burger, en dit word ge-eggo deur ‘n horde sms’e van goeie mense wat instemmend kuberkopknik oor haar Groot Insig. Volksvreemd, seker.

Ek veronderstel haar perfekte Springbokspan sal almal mooi eenvormig short back ‘n sides dra, met ‘n effense olietjie op die kort stukkie kuif.

Dieselfde soort debat is ook gevoer omdat daar spelers is wat dit hoegenaamd waag om met ‘n ander kleur skoene te speel. Dit pas mos nie in by ons patroon nie – hoe durf hulle daarvan afwyk?

Hoewel daar baie andere is wat oneindig meer rede as ek het om hieroor opgewerk te raak, is ek buite verhouding gevoelig oor die onderwerp. So graag sou ek ook lang hare wou gedra het (toe ek nog kon!), so graag ek ekself wou wees as ek eerder soet, met voetjies bymekaar moes sit. Soveel klein, wanhopige pogings net om by ander mense se strakke patroon in te pas van hoe ‘n goeie Afrikaner-‘kristinmens’ moet lyk en optree.

En ai, dan is daar dié mense wat ewig geroepe is om daardie reëls toe te pas. Luister as jy saam met ‘n groep mense televisie kyk: “Kyk daai man se hare”, “Watse broek het sy aan?”, “Sy oë sit darem te naby aan mekaar”…

Self was ek nie altyd die wafferse grootste ligdraer van vernuwing en waagmoed nie. Deur die jare het ek maar my Woolliesbroeke en broederbondhemde gedra, selfs ‘n safaripak, was ek ouderling, het ek Die Transvaler getrou gelees en die vuil Witsies beskinder as hulle dan weer sou betoog – dit het my bitter lank geneem om myself te ontdek, en te begin om op te hou om andere se handpop te wees.

Ek is so moeg daarvoor, ook in myself. Dit is dieselfde onverdraagsaamheid wat veroorsaak dat ons andere verstoot wat anders dink, wat anders klink. Ons wil so graag hê die ganse mensdom moet soos ons lyk, hulle hare dra soos ons, hulle woorde uitspreek soos ons, nie lelik praat nie, ons musiek luister, heteroseksueel wees, ons geloof aanhang, nie te vet wees nie, dieselfde skoene dra…

Watse vervelige wêreld sal dit nie wees nie? Hoe ellendig sal dit nie wees as almal dieselfde lyk, soos vlaktes en vlaktes mielielande nie?

Ek het die voorreg gehad om ‘n paar jaar in Knysna te woon. Wat ‘n wonderlike fees van kleure en geure was dit nie. Daar is ryk boemelaars en arm glitterati. Daar is kunstenaars, malles, vrolikes, beswaardes, mooies en lelikes, digters, bouers, luies en skelms. ‘n Malse verskeidenheid, soos fynbos in die Kaap. Daar is ruimte vir almal en tongklik vir min.

Dis asof die stadslewe, veral, geneig is om al die interessante andersheid uit mense uit te bleik. In die stad kry jy nie sommer daardie groot karakters van die platteland nie – Oom Swartjan, Oom Langmaans, Tannie Bes…

Voorstelle het ek nie. Self moes ek omtrent ‘n lewe lank aan my eie geite afslyt om dinge beter te verstaan. En, dan is dit asof ek deesdae ‘n heeltemal nuwe klomp geite wil aanleer – ek is dan juis onverdraagsaam teenoor onverdraagsames!