Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

Die naloop van die sage

Julie 22, 2011 in Sonder kategorie

In die vorige blog het ek geweeklaag en simpatie gesoek oor my lot. Vir die wat nou eers inskakel, dit gaan oor ‘n foon wat in April tydens ‘n inbraak gesteel is en waarop daar toe R34 000 se lugtyd gebruik was, wat ek maar moes betaal.

Intussen het die saak ‘n interessante nadraai gehad. Nee, MTN het nog nie bra gereageer nie en ja, ek is nog R34 000 kwyt, maar daar is darem ‘n klein stukkie geregtigheid.

As enigste reaksie het MTN vir ons ‘n excel-file gestuur met al die webwerwe wat die jafel in daardie geil week-en-‘n half besoek het.

In my blinde wraaklus het ek hierdie inligting gepak en probeer kyk watter van die skakels my tot spore sou lei. Heel voorspelbaar is daar baie musiek, porno en videos afgelaai, maar interessant: daar was ‘n klomp Facebook skakels tussenin. As ‘n mens dit intik, kom daar sowaar profiele en gesprekke op.

Op hierdie wyse het ek ‘n patroon begin sien en later ingezoem op drie spesifieke skakels, van Zimbabweërs wat in die Baai woon.

Ek het toe hierdie inligting vir die polisie gaan gee. Hulle het bra nie geweet wat om daarmee te maak nie, of wat Facebook is nie. Daar was ook geen vaste adresse of plekke in die skakels waar ‘n mens die persone kon opspoor nie.

Jan Klaas is toe terug na die tekenbord en kom toe uiteindelik af op ‘n Facebookprofiel waar ‘n kêrel sê hy werk by ‘n plaaslike sports bar. Die polisieman aan diens was baie meer lus om die saak op te volg en hy skraap sommer onmiddelik ‘n kollega om die sports bar te gaan besoek.

Sowat ‘n halfuur later, gistermiddag, bel hy my: hy het die twee van die Zimbabweërs wat op die profiele figureer, gevang. Hulle het hom toe die ware storie vertel.

Turns out my simkaart is deur ‘n Nigeriër gebruik om ‘n internetkafee oop te maak, teen betaling, en Exhibit A en B was maar net onskuldige gebruikers van die fasiliteit. Die vrolike groepie, polisie en internetgebruikers, sou toe na die jafel se woonplek gaan om te ‘verneem’ wat sy rol in die hele sage is.

Daar loop die spoor toe gister ‘n bietjie dood, maar ‘n kort rukkie terug bel ek toe my kontak. Hy sê hulle het wel ‘n man gearresteer en is nou nog besig om inligting uit hom te probeer kry. Hy sal my glo laat weet.

Hoe verlang ek terug na die ou dae, toe ons meer menswaardige metodes gehad het om inligting uit mense te kry…

Ennieway, so kry ek steeds nie my geld terug nie, maar minstens weet ek iemand anders slaap ook vanaand bekommerd.

Que sera, sera?

Julie 12, 2011 in Sonder kategorie

Verbeel jou jy spaar om jou seun se studiefooie te betaal.

Verbeel jou selfoon wys die balans het oornag skielik met R30 000 gekrimp, die bedrag wat nog uitstaande is.

Verbeel jou jy doen angstig navraag, en ontdek dat dit MTN was wat die bedrag van jou rekening afgetrek het.

Jy vind dan by MTN uit dat dit geld is wat bestee is op internasionale oproepe en rinkink op internet, binne die bestek van sowat een week.

Dan onthou jy vaagweg dat daar êrens in ‘n kas ‘n ou selfoon was wat met die laaste inbraak moes weggeraak het.

Jy bel MTN, pleit om genade of hulp, maar loop vas in in luitone of beloftes om terug te bel.

En stadig maar seker begin jy besef dat daardie geld waarskynlik onherroeplik weg is, dat jy êrens anders sulke geld sal moet vind.

En vinnig.

Dan sal jy ook verstaan hoekom ek so ‘n knop op my maag voel.

‘n Pyn in die g…

Julie 11, 2011 in Sonder kategorie

Ha ha. Groot grap.

F*kken dokter…

Rooibek-koninkiemannetjies is ‘n plaag en ‘n verpesting. As hulle jou erf betrek het kan jy maar heeltyd ‘n getwiep en ‘n geskarrel om die voëlbak verwag, soos die klein donner sy harem se belange op al die ander voëls afdwing. HY kom eerste, en HY sal besluit wie kan en wie kan nie.

Regte kleinmannetjie-sindroom.

Vanoggend toe ek uit die stort kom, hoor ek sy irriterende gesjiep-sjiep vanaf die voëlbak. Met my handdoek om my onderlyf gedraai bekruip ek toe die glasdeur en skuif dit saggies oop. Terwyl ek die beskuldigde in die oë hou, reik ek na die windbuks wat gereed en gelaai agter my staan.

Ongelukkig haak die windbuks toe vas aan die koffietafeltjie en die skoot gaan af. Die koeëltjie tref my in my linkerboud.

Erg verwond gaan soek ek na ‘n spieël en ‘n twiezer, sodat ek die koeëltjie kan probeer uithaal.

Dit is toe, terwyl ek so wydsbeen oor die spieël gehurk staan en aan my agterpunt knyp-knyp, dat my vrou by die deur inkom.

Ek kan nog haar gesmoorde snorke verstaan terwyl sy slingerend dokter toe bestuur het. Ek verwag dit egter nie van die dokter om vals te staan en giggel terwyl hy hier aan my agterent staan en vroetel nie.

Hy is immers veronderstel om professioneel te wees.

Gebaseer (ha ha, geddit? Bas…) op ‘n ware gebeurtenis vertel deur Mark van Mthatha