Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

All the world’s a stage

Februarie 21, 2011 in Sonder kategorie

Ek het Saterdag in ‘n salige gemymer tussen twee wegdommelinge tydens ‘n fliek besef op hoeveel vlakke hierdie gevleuelde woorde waar kan wees.

Oukei, net eers die skande uit die pad uit kry – ek slaap nie gewoonlik in flieks nie (shut up, Sprocket…), maar Saterdag het ek heeloggend klas gegee en die fliek se stoele is heerlik sag.

Nietemin, dit was ‘n Disneyprent, en heel oulik gemaak.

Oukei, nou die tweede skande uit die pad uit kry – ek hou van animasiefilms en ek het my kant gebring deur die ‘King’s speech’ Vrydag te gaan kyk. So, ten spyte van wat my skoonfamilie sê, ek het ‘n diep kant. Êrens.

En nou’t ek vergeet wat ek wou sê.

O ja – die toneelspel.

In die fliek het dit my besonder opgeval hoe veel hulle van geykte aanwensels gebruik maak. Mens kan dit seker uitdrukkingsclichés noem – die trek van die ogies, die skeefdraai van die kop, die plooi van die mondjie, die segswyses wat ‘n mens al in soveel der soveel ander flieks gesien het.

Dit is vir seker nie aangebore hebbelikhede nie. Dit beteken dit moet aangeleer wees, en waar anders as op TV of in flieks? Iemand doen dit die eerste keer, dit is effens snaaks, en voor jy weet het jy ‘n ganse volk wat hulle gesiggie só trek; wat “cool!” sê of wat glo dat bepaalde woorde met juis só ‘n uitdrukking gepaard moet gaan.

Gaan kyk die Rapunzel-Disneyfliek en kyk of dit jou ook pla. Dit het my gekos om slaperig te wees voordat dit my regtig teen die kop geslaan het.

Die Amerikaanse nasie het ‘n parodie van hulleself geword!

Dit het my laat wonder hoe die Amerikaanse filmindustrie ‘n hele wêreld se uitdrukkingswyses deur die jare gevorm het. Mense in ‘n land waar baie Amerikaanse films wys, deel in die wêreldtaal van ooreengekome betekenisse. Ek onthou hoe duister ek self gefrons het as ek by ‘n Clint Eastwood cowboyfilm uitgeloop het. En dis hoekom ander volke so ondeurgrondbaar lyk – hulle is nie deel van hierdie taal nie. Ek onthou hoedat ‘n Sjinese seun in die karateklas my van wes na noord gemoer het omdat ek nie sy uitdrukkings kon lees nie.

Dis hoekom ek ook heeltemal ongemaklik voel by die stil, sterk soort mense. Gee my die Italianers – as jy sy hande vasmaak, beduie hy met sy skouers. Dáár’s nou vir jou ekspressie, met ‘n hoofletter e.

Ek wonder of iemand al ‘n studie van die invloed van Hollywood op ‘n wêreld se gesigsuitdrukkings gemaak het?

Ou spoilsport

Februarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Eugene Marais het dit vandag begin met ‘n “traan op elk’ vrolik’ snaar”. Die glimlaggende gesiggie wat ‘n traan wegpink. ‘n Soet suikerlagie om ‘n bitter koekie.

Soms het ek dit self, soos vandag. Dit gaan só goed, ek is eintlik baie geseënd, totdat ek op ‘n oggend soos vanoggend iets opmerk soos hoe donker dit is toe ek gaan stort.

Gewoonlik is ek half beswaard omdat winter dan op pad is, maar êrens vanoggend het ek begin wonder hoeveel sulke seisoenoorgange ek nog sal sien. Op ‘n punt moet ‘n mens seker agteruit begin tel – nie bly wees omdat ek uiteindelik ‘n tiener, mondig, volwasse of wat is nie, maar andersom.

Hoeveel skaapafvalle bly daar vir my oor, hoeveel Kersfeeste, nuwejare, kinderverjaarsdae en Huisgenoot-skouspele. Tien? Vyftien? Dalk twintig?

Heeltemal te min. Laat ek die paar wat dan oor is, tog nou behoorlik geniet!

En dankie dat ek julle dag ook kon spoil.

My liewe wêreld!

Februarie 14, 2011 in Sonder kategorie

Die ou Bybelvertaling het gesê “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval”.

Dit klink soveel poëtieser as om te sê “ek werk/woon op ‘n mooi plek”.

Ennieway, ek reken nogal my werkplek is mooi. Hier uit my kantoorvenster hoor ek die mishoring en seemeeue en ruik die warm, mistige seelug.

Dis ‘n lieflike ou gebou in PE se middestad, tussen reusagtige wildevye.

Hier is ‘n foto van dieselfde plek, so middelregs agter, geneem so 1840. Die meer is intussen min of meer tot niet gemaak.

Grasievolle ou tye. Deesdae is hier heelwat meer dealers, prokureurs en snolle.

Ek deur jou

Februarie 13, 2011 in Sonder kategorie

Ek bou en brou

met tyd en twis

die broos konstruk

wat ekke is.

Ek staan oplaas

versigtig terug –

aanskou die rype

lewensvrug.

Ek sien ‘n dapper

stotteraar

wat heel tot hier

gekom het, maar

hoe lig word alles

uitgewis

as jy verstoot

dit wat ek is…

Basta grootword

Februarie 8, 2011 in Sonder kategorie

Wanneer ‘n kind

sy grootword vind

verbrand tot as

dit wat hy was

en trots en sterk

word dan die gees

die nuwe jy

wat jy gaan wees.

Ek soek naarstig’lik

in die sand

die opbrengs van

dié bitter brand.

Ek wil so graag

die assies vind;

ek mis haar so –

my Sonskynkind.