Ai, mans is almal dieselfde

Januarie 31, 2011 in Sonder kategorie

En so voorspelbaar.

Seker omdat ek van kleins af gestraf is met ‘n allesverterende nuuskierigheid, is daar vir my min dinge so lekker as om iemand anders iets te sien begryp. Dis wat die onderrig van Skeinat en Biologie so lekker gemaak het – jy het die voorreg om te deel in daardie aha-oomblik, daardie moment waarop die person skielik die werking van nog ‘n klein deeltjie van die wonderbaarlike heelal sy eie kon maak. Hoekom is die lug blou, hoekom breek ‘n brander, wat hou ‘n vliegtuig in die lug, hoe werk fotosintese…

As ‘n gevolg van my passie oor sterrekyk kry ek elke nou en dan die byvoorreg om ‘n jongeling (hoekom nooit ‘n meisie nie?) te help om sy nuwe teleskoop op te stel en te leer sterrekyk. Vrydagaand was hoeka weer so ‘n geleentheid.

Ons het die ding aanmekaargesit onder die kloekende aandag van moeder en vader, en uiteindelik het die groot oomblik aangebreek. Ek het die teleskoop op Jupiter ingestel en jongeling nadergenooi.

Hy het versigtig nadergestaan, ingeloer en toe een van die mooiste woorde in enige taal gesê: “Wow!”

Ek kon purr van geluk.

Moeder en vader het my amper onderstebogehardloop om te sien wat daar te siene was, en wat hulle duur belegging kon oplewer. Hulle kon die mane sien, die streep oor die planeet en hoe vinnig die aarde draai.

Net daar kry seun bokkoors. Hy wil sy teleskoop summier na elke ster in die lug draai. Honou, keer ek en gee eers vir hom die nodige nederigheidsprekie.

Intussen het dit lekker donker geword. Dit was tyd vir ‘n nuwe hoogtepunt, my piéce de resistance. Stilletjies het ek my groen pointer-laser uit sy kissie gehaal en op die Drie Susters gekorrel. Seun maak ‘n geluid iewers tussen ‘n snork en ‘n tjank. Hy staar die straal aan met oë so groot soos ‘n koshuisbrommer. In die dik groen straal wat lyk of dit tot aan die hemel reik, vonkel daar duisende smaraggroen stofkolletjies wat weerkaats in seun se blink oghe.

Nadat hy die prys en die gevare van die ding moes aanhoor, het vader sy tjoepie bietjie afgeblaas. Nietemin, ek het geweet hy sal daardie aand rondrol in sy bed met schemes van hoe hy so gou moontlik een van daai kan kry. Vergete is die teleskoop en die heelal.

Wat is dit tog met mans en “gadgets”?

Naskrif.

Vir ouers wat weet, wil ek wil nog ‘n naam byvoeg tot laas se pleknaamwoordeboek:

Kommetjie: die rillinkie wat deur ‘n jong seun se lyf skud wanneer hy piepie.

27 antwoorde op Ai, mans is almal dieselfde

  1. Neander het gesê op Januarie 31, 2011

    Mans en katoeters (gadgets) is sinoniem.

  2. Is dit met jou toys wat jy als die naweek tot stilstand geruk het?!?

  3. Ja, ek het myne uit die kot gegooi!

  4. Baie waar!

  5. hier word die lasertjie ook steeds so stil-stil begeer

  6. TS het gesê op Januarie 31, 2011

    hehehehe… daai aha oomblik is waarlik die lekkerste deel van ‘n onderwyser se werk.

    Van die kommetjie (behalwe koffie) weet ek net mooi niks

  7. Pappies kan tog so onskuldig hulle seuns misbruik 😉

    Ek was ‘n Montessori jufrou en hulle leer deur selfontdekking, en ek het daagliks daai liggies sien aangaan, dit is ‘n wonderlike gevoel…elke keer.

  8. UNPOCO het gesê op Januarie 31, 2011

    Darem ‘n baie spesiale gevoel as mens vir iemand anders iets beteken, is dit nie?

  9. Veral as ‘n mens nog die proses kan geniet ook!

  10. Dis waar seuns van gadgets leer hou!

  11. Hoe antwoord mens nou so ‘n opmerking? 🙂

  12. Kommetjie = miniatuurkom

  13. 🙂 Eendag as ons groot en ryk is…

  14. TS het gesê op Januarie 31, 2011

    *bloos*…

  15. ‘skuus!

    Ou willewragtag, ekke. Werk hard daaraan.

  16. *Hulle kon die mane sien* Amper raak ek opgewonde en lees manne…gheeeeeeeeee wizzz! Nee jong ek sal daarvan hou om so sterre te kyk.
    He,he vidie laaste sin…

  17. Wou ook al ‘n teleskoop hê, maar sal ook maar wag tot ek groot en ryk is. Moet heerlik wees om so in die ruimte te swerf met die oog. Wow

  18. Is so, veral op so ‘n donker karoonag as die sterre sommer so laag hang…

  19. Ek glo so. Dit is betowering.

  20. Sies man. Ek wil nie na manne kyk met die teleskoop nie!

  21. Soos net mnr Jan Klaas kan!
    lol vir die pleknaamwoordeboek.

  22. Ek dink dit is een van die redes hoekom ek soveel respek het vir onderwysers.. hulle wat dit kan regkry om daardie a-ha! oomblik te skep..
    Ek onthou nogal in Biologie was ek redelik uitgestres toe ons aan die begin van die jaar vertel is van die molekule-gedeelte wat jy of verstaan of nie-verstaan… Ek was genadiglik een wat dit gesnap het, maar daar was vele in my klas wat nie het nie en het vir ‘n paar tot vervelens toe verduidelik.. en as die lig af was, dan het dit afgebly!
    x

  23. Dankie Lou!

  24. Tja, soms flikker daai liggie maar swakkies!

  25. Kry mans rillentjies as hulle piepie? Ek het dit nie geweet nie. Dis dalk hoekom hulle dit so graag in ‘n ry langs die pad doen. Wind-af. (of is dit op). Hulle kommetjie langs die pad.

  26. Ja, en as hulle saam ril, lyk dit soos river dancing!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.