Besetenes braak en brul…

Januarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Jan Klaas is diep beïndruk met ‘n berig in vandag se Rapport, waarin daar berig word oor ‘n dominee wat duiwels uitdryf.

Een van die goed waaroor Jan Klaas byvoorbeeld persoonlik kan getuig, is die laat van winde tydens uitdrywing. Ou Trevor, wat saam met Jan Klaas in die kaserne in die weermag was, se bed was naamlik voortdurend met sulke duiwelse gasse omring. Hy het die vermoë gehad om kos direk in metaan om te skakel – ek verstaan SASOL gebruik min of meer dieselfde tegnologie. Hy het die rekord gehou van twee-en-vyftig opeenvolgende winde (hoewel ek vermoed hy asem in tussenin) en hy sou die Voortrekkermonument se Vlam van Vryheid man-alleen aan die gang kon hou. Nietemin, daar was nooit by ons ander enige twyfel oor die onderaardse oorsprong van hierdie abominasie nie.

Enigiemand wat al die swaelagtige aanloopwinde van die diarree-windekultivar geruik het, sal begrip hê vir die lyding van Trevor se bure. Dit was nie vreemd vir hulle om in die oggend oortrek van ‘n groen muflaag wakker te word soos wat hierdie diaboliese oergasse in die nag rondom die beddens tot volle wasdom verryp het nie.

Maar, ek dwaal af.

Braak en brul is blykbaar nog ander simptome. Klink maar bra lawaaierig en morsig, soos ‘n AC/DC-konsert. Maar, as Jan Klaas die fotos om die berig so bekyk, lyk dit of van die mense, soos Jan Klaas, bra sou kon baat by ‘n paar uitdrywings. En ‘n donkerbrul.

Jan Klaas het dadelik Google bygedam en kon, tot sy spyt, geen meer inligting oor die ding kry dat olyfolie die “vyand sal weghou” nie. Jan Klaas wou naamlik weet of sonneblomolie ook sou werk, want dis heelwat goedkoper. Of dan, sonroom, dan is ‘n mens sommer bedags sonbeskerm ook. Of Tabard! Dan kan jy muskietvry en vyandvry buite sit. Of dan, ratkasolie of Dubbin, met elk sy eie voordele – die lys is lank, man.

En stel jou voor, jy smeer die seun voor ‘n skoolpaartie in met olyfolie, dat hy so sjloep-sjloep daar inloop. Dit sal die vyand weghou, ja, maar ook vriende, vermoed ek. Soort van ‘n natuurlike geboortebeperkingsmiddel. So ‘n glibberige affêre wat verseker jy word in die glippe uitgevang.

Jan Klaas het ook probeer Google om meer uit te vind oor die gevare van Afrikamaskers en eksotiese matte, want sy Bybel sê niks daarvan nie. In sy huis het Jan Klaas ‘n Hawaiise kitaar, Engelse sout, Spaanse vlieg, Noorweegse rotte en Chinese checkers. Gaan al hierdie goed dalk dien as antennas wat die diaboliese invloede sy voorhuis inlok? Of, word Afrikamaskers en tapyte dalk met ‘n besondere bloeddorstige verbetenheid aanmekaargesit?

Sien, baie vrae. En arme Jan Klaas weet nie.

28 antwoorde op Besetenes braak en brul…

  1. Syana het gesê op Januarie 23, 2011

    Syana kan baie beter doen as daardie man

  2. Dit behoort nie te moeilik te wees nie…

  3. TS het gesê op Januarie 23, 2011

    eeeeuuuuuwwww… ek is sonder woorde

  4. Hallo Tiens! Is dit my diep woorde wat jou so stil maak? 🙂

  5. Dis ‘n moeilike onderwerp – ek is natuurlik van mening dat daar min goed is wat so effektief is as ou gebruikte hoe-e diens ratkasolie gemeng met ‘n bietjie waterpomp ghries om die viskositiet ‘n bietjie op te kikker – dit verdyf amper alles vir so ongeveer ‘n week na aanwending.

    Dit help mens ook om tastende dienders se grepe te ontglip.

  6. nou verstaan ek hoekom die toerismekantoor so stil is vandag, hulle wil nie by die chinese winkel verby ry aan die begin van die dorp nie!

  7. pasella het gesê op Januarie 23, 2011

    Soos jy sê Jan Klaas, Hoe gekker hoe lekker!

  8. Inderdaad ‘n baie komplekse saak…

  9. En waarskynlik ‘n Amerikaanse rekenaar!

  10. Die olyfolie verkoop seker soos soetkoek!

  11. Hallo Lewies! Lekker om van jou te hoor.

  12. pas tog maar op vir die Scjees van Hitler wat deur die duitse doggie in jou huis mag invaar

  13. Berwick het gesê op Januarie 23, 2011

    :-)) Hallo, Jan Klaas.

  14. O Griet ja! Die dashond-demoon!

  15. Daais baie waar. Dans was lank sonde.

  16. Hallo Berwick!

  17. Ek’s hartseer oor al die cd’s wat ek sal moet weggooi.

  18. Haha. Hiehie. Jaaaaa swaer.

    Maar ek maak verseker ‘n nota van jou olyfolie-strategie. Net INGEVAL ek dit nodig kry…

  19. UNPOCO het gesê op Januarie 25, 2011

    Hallo Jan, kom vertel bietjie oor die naam van jou blog en jou avatar. Ons sal dit graag wil hoor. Sien daar by Murphy.

  20. Hello sterreman! Lekker gelees by jou, soos altyd. Lekker speel in die sterre!

  21. jannel1 het gesê op Januarie 26, 2011

    My suster is toergids in Afrika en oppad terug na ‘n toer het die trokdrywer ‘n moerse Afrika tokolos uit hout gekoop, wat tussen hulle op die voorsitplek moes ry.

    Iewers moes die man toe skielik stop en die tokolos val dwarsdeur die voorruit. Klaarblyklik min omstanders by die ongelukstoneel gewees.

  22. Ek skat Castrol sal ook werk.

  23. Ek het al ‘n slag of wat, maar ek kan dalk weer.

  24. Hallo Nika!

    Bra te bewolk deeskedae…

  25. Dis uitstekend! 🙂

    So, dit hou demone en diewe weg!

  26. Hi Jan,

    Ek kan dalk iets aanbeveel uit ondervinding.

    Ek kom van die weskus af, en daar is bokkems mos nou soos kaviaar in hogere kringe. Na ‘n vakansie is ek dan nou ook gewoonlik terug universiteit toe met ‘n bossie bokkems as lekkerny.

    Die enigste haak was agter my Helshoogte kamerdeur, en dis dan waar ek die bokkems gehang het tot dit op was.

    Dit was baie gerieflik, want as jy die deur van binne toemaak kon jy sommer so in die toeswaai ‘n bokkem van die bossie afpluk, met die kop wat steeds aan die toutjie hang en die deel wat jy wil eet in jou hand.

    Maar ek verval in onnodige detail.

    Wat ek wou noem, is dat baie min mense dit in my kamer gewaag het solank die bossie agter die deur gehang het, al was die venster oop.

    Dit kan dalk net werk vir demone ook?

    NS: Is Russiese poppe OK?

  27. Sjoe, ek kan dink daai goed sal demone en diewe weghou!

    Ek is bra versigtig vir ‘n russiese demoon. Ek dink hulle eet baie kool.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.