Pa en kind

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Gister beland ek in ‘n ou lêer waarin daar ‘n reeks ou foto’s is: geskandeerde kleurskuifies uit my universiteitsjare.

Ek kyk daai foto’s van myself so en ‘n groot deernis oorval my skielik. In daardie oë sien ek ‘n kyk wat ek destyds so seer van binne gevoel het, maar wat ek nou van buite kan herken.

Ek dink toe so by myselwers: wat sou ek, hier van hierdie blinde hoogtes van die grysheid af, graag vir jong Klasie sou wou gaan vertel? Wat sou ek vir Klasie wou sê daar waar hy vol bravade op ‘n bankie voor ‘n klomp Ienks in Kollegehuis staan en beduie; daar waar hy ongemaklik maar cool met ‘n drankie en ‘n sigaret tussen ‘n groep landboustudente teen ‘n bakkie aanleun by Sodwanabaai; daar waar hy hand-om-die-lyf met ‘n skewe smaail tussen die besoekende joolprinsesse staan?

Want in Klasie se oë sien ek die twyfel. Ek sien die geveg om net in te pas, aanvaar te word, cool te wees. ‘n Buitestaander in ‘n wêreld van ingeligtes, ‘n eensame in ‘n menigte.

Wat is die groot wysheid wat ek vir Klasie sou kon sê? Want is dit nie dalk die groot woorde wat my kinders ook sou wou hoor nie, wat hulle eie paaie vir hulle makliker sou maak, sodat hulle nie dieselfde wankelrige brûe hoef oor te steek nie? In my kleindae het jy nie met jou pa gepraat oor jou eie twyfel en seer nie. Dit was ‘n skande om te erken dat jy min, uit en klein voel. ‘n Mens sou seker hoogstens ‘n veeg oor die kop kry – “Ruk jou reg, jafel…”

Deesdae is dit mos anders. ‘n Mens kan met hulle praat, deel, want daardie verlede is glad nie meer so ver weg nie. Aarde, partykeer het ons en die kinders nog dieselfde onderwysers gehad!

Ek sou graag vir Klasie iets wou vertel in die trant van die ou destydse Desiderata (Google dit!): Jy is oukei, poepol. Jy mag maar daar wees. Jy is net so ‘n kind van die heelal soos enige ander mens. Jy is gemaak van dieselfde oerou sterremateriaal, niemand mag jou verkleineer nie. Jy is die beste en enigste jy wat jy in hierdie lewe kan wees. Die wêreld lê voor jou oop, en jy kan wees net wat jy wil. Niemand mag in jou pad staan nie.

Ek dink ek sou nogal moed gekry het as ek weet dis wat my ou ekke uit die toekoms vir my wou kom sê. Wie weet, dalk sou dit selfs my lewe verander het! Dit sou dinge beslis makliker gemaak het…

Maar, vanoggend in die stort dink ek weer die teendeel – is ek nie juis veronderstel om hierdie lesse vir myself te leer nie? Was dit nie juis nodig vir my karakter om eers deur verwerping, deur nyd, deur afguns, deur kompetisie my weg te baan nie? Wat sou ek vandag gewees het as ek daardie lesse te gemaklik bekom het? Of, sou dit my juis ‘n hoër duikplank gee om van weg te spring?

Dalk moet ek ou Klasie maar net so in sy ellende los. Maar, vir my kinders gaan ek die Desiderata vertel.

Sonder die poepol.

27 antwoorde op Pa en kind

  1. Sorrie Monika – ek het ‘n duplikaatplasing uitgevee, toe verdwyn jou antwoord ook. Jy’s reg, voorbeelde trek…

  2. TS het gesê op Januarie 11, 2011

    Soms moet mens nadink oor die goed wat vir ons en ons kinders belangrik is

  3. Berwick het gesê op Januarie 11, 2011

    Hallo, Jan Klaas.

  4. Jy laat my nou dink aan die storie van die tweeling seuns wat in haglike, arm omstandighede grootgeword het – pa dronk ens. Die een word ‘n welgestelde, gelukkige, hardwerkende sakeman en die ander een ‘n boemelaar. Elke sê die rede hoekom hulle so uitgedraai het was oor hoe hulle grootgeword het.

  5. bgv het gesê op Januarie 11, 2011

    Dit hang van jouself af hoe jy ‘n saak sien.

  6. Is so. En wat die pad makliker sal maak.

  7. Hallo Berwick!

  8. En altwee was seker reg op hulle manier! Hang af wat jy met die bagasie doen…

  9. Baie waar! En hoe jy dit gebruik…

  10. Dis nie meer so lank nie, dan sal ek by hulle moet uitvind wat aangaan!

  11. klink sooooo bekend, maar nou gaan iemand weer opmerk sy sê mos altyd dit is omdat

  12. …dit is omdat ons was wat ons was dat ons is wat ons is?

  13. zephur het gesê op Januarie 12, 2011

    Hiers ek weer…hiers ek weer met my avatar voor jou blogdeur…

    Voorspoedige 2011

  14. Hallo daar! Dis lekker om weer van jou te hoor.

  15. Sal nooit vergeet hoe dit gevoel het (so hier op 30 rond) toe ek die eerste keer onder die sterre staan en agterkom ek voel NIE net weerloos nie. Sterflik, ja, maar met so stillerige krag iewers diep binnekant wat ek nie weet waarvandaan dit kom nie, maar wat nie daar was op agtien (toe ek laas gekyk het) nie. “Awesome” {-; and humbling.

  16. UNPOCO het gesê op Januarie 12, 2011

    Ai, die fases waardeur ons gaan en die lesse wat ons leer. En die lesse wat daar van diep binne af kom is gewoonlik die waaraan ons ekstra aandag moet gee.

  17. die duikplank-hoogte is van geen waarde

  18. Jy was gelukkig om dit so vroeg te beleef het. Myne het so stadig gegroei. Te stadig.

  19. En sommiges is bra moeiliker om te leer!

  20. Ek hoor wat jy sê. Op ‘n kosmiese skaal is ‘n duikplankie nie hoog genoeg nie.

  21. Dink jy nie dat ons geslag ouers dalk bietjie meer gedoen het om ons kinders te leer dat hul OK is as wat on souers gedoen het nie? Soms voel dit vir my dat mens dalk inderdaad te veel gedoen het – ons moet hulle ruimte gee om uit hulle eie foute te leer.

  22. Trakie het gesê op Januarie 13, 2011

    Elkeen moet self sy eie ondervinding opdoen.

  23. Ek stem saam met alles wat jy hier sê! Ek hoop nie ek was te oorbeskermend nie.

  24. Ja, maar mens wil hulle so graag toedraai teen skade, is dit nie?

  25. Dis baie waar, Flenters.

  26. Weet jy, ek dink mens wil jou kinders beskerm en weghou van die seer in die lewe, maar op die ou-einde van die dag is dit deel van die dinge wat karakter bou.. Ek dink ons moet hulle die regte waardes leer en ‘n ogie oor hulle hou, maar ons moet hulle toelaat om self hulle keuses te maak, te waarsku as dit nodig is, maar ultimately is hulle die individue wat eendag aan ‘n Hoër Gesag gaan moet verduidelik oor keuses wat hulle gemaak het. Daar gaan dae kom wat verkeerde keuses gemaak word en ek bly maar net altyd bid dat wanneer daardie dag aanbreek Hy weer vir my die insig en wysheid sal gee om dit reg te hanteer sodat ek nie die oorsaak gaan wees dat my kinders in ‘n rigting in voortploeter en dan juis nog meer verkeerde keuses maak nie…

    Ek dink soms het mens ‘n begeerte om net in tyd terug te gaan en ‘n klein iets te gaan verander.. maar sou ons dan vandag die mens wees wat ons is?
    x

  27. Ek dink dinge is net soos dit moet wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.