Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Ai, mans is almal dieselfde

Januarie 31, 2011 in Sonder kategorie

En so voorspelbaar.

Seker omdat ek van kleins af gestraf is met ‘n allesverterende nuuskierigheid, is daar vir my min dinge so lekker as om iemand anders iets te sien begryp. Dis wat die onderrig van Skeinat en Biologie so lekker gemaak het – jy het die voorreg om te deel in daardie aha-oomblik, daardie moment waarop die person skielik die werking van nog ‘n klein deeltjie van die wonderbaarlike heelal sy eie kon maak. Hoekom is die lug blou, hoekom breek ‘n brander, wat hou ‘n vliegtuig in die lug, hoe werk fotosintese…

As ‘n gevolg van my passie oor sterrekyk kry ek elke nou en dan die byvoorreg om ‘n jongeling (hoekom nooit ‘n meisie nie?) te help om sy nuwe teleskoop op te stel en te leer sterrekyk. Vrydagaand was hoeka weer so ‘n geleentheid.

Ons het die ding aanmekaargesit onder die kloekende aandag van moeder en vader, en uiteindelik het die groot oomblik aangebreek. Ek het die teleskoop op Jupiter ingestel en jongeling nadergenooi.

Hy het versigtig nadergestaan, ingeloer en toe een van die mooiste woorde in enige taal gesê: “Wow!”

Ek kon purr van geluk.

Moeder en vader het my amper onderstebogehardloop om te sien wat daar te siene was, en wat hulle duur belegging kon oplewer. Hulle kon die mane sien, die streep oor die planeet en hoe vinnig die aarde draai.

Net daar kry seun bokkoors. Hy wil sy teleskoop summier na elke ster in die lug draai. Honou, keer ek en gee eers vir hom die nodige nederigheidsprekie.

Intussen het dit lekker donker geword. Dit was tyd vir ‘n nuwe hoogtepunt, my piéce de resistance. Stilletjies het ek my groen pointer-laser uit sy kissie gehaal en op die Drie Susters gekorrel. Seun maak ‘n geluid iewers tussen ‘n snork en ‘n tjank. Hy staar die straal aan met oë so groot soos ‘n koshuisbrommer. In die dik groen straal wat lyk of dit tot aan die hemel reik, vonkel daar duisende smaraggroen stofkolletjies wat weerkaats in seun se blink oghe.

Nadat hy die prys en die gevare van die ding moes aanhoor, het vader sy tjoepie bietjie afgeblaas. Nietemin, ek het geweet hy sal daardie aand rondrol in sy bed met schemes van hoe hy so gou moontlik een van daai kan kry. Vergete is die teleskoop en die heelal.

Wat is dit tog met mans en “gadgets”?

Naskrif.

Vir ouers wat weet, wil ek wil nog ‘n naam byvoeg tot laas se pleknaamwoordeboek:

Kommetjie: die rillinkie wat deur ‘n jong seun se lyf skud wanneer hy piepie.

Pleknaamwoordeboek II

Januarie 27, 2011 in Sonder kategorie

Na oorweldigende publieke aanvraag (oukei, een), plaas ek hier weer my beroemde pleknaamwoordeboek. Dit was ‘n voorlegging van Afroforum om pleknaamwysigings te steun.

Addo: vorm van skuldbekentenis.

Alma: Skrapse opkoms by skoolkonsert

Amanzimtoti: gekrimpte private dele in kontak met koue water.

Amatikulu: buitengewoon groot Stellenbosche student

Aughrabies: wat ‘n mens vertel as jy taamlik besope is

Babanango: residu in doek na inname van oormaat moedersmelk.

Belabela: aandrang om moeder te skakel

Benekeskop: knorrige voetbeweging

Bethal: klousule 2 van die Wet van Transvaal.

Bisho: nat nies tydens inname van joghurt.

Brackenfell: soort pels, bekend in Despatch, Manenberg en Danville.

Braemar: spraakterapeut gee moed op

Breyten: staalwol

Cachet: ’n kis ghwano

Dimbaza: bestuurders aangestel deur politieke verbintenisse

Dunottar: bulimiese waterroofdier

Dwaalboom: skuiwergat

Elgin: Spaanse jenewer

Endicott: subtiele teregwysing om al die meubels in te pak

Eshowe: instrument wat in Zoeloekultuur gebruik word om vigs af te weer.

Gobabeb: Uitspraak van “Hoe gaan dit?” na besoek aan tandarts

Gompies: hoë viskositeit urine

Gouritsmond: Verteller wat vinnig bontspring van een onderwerp na ‘n ander.

Gravelotte: gruisvark

Hanover: versoek wat tipies deur motorkapers uitgespreek word

Hantam: moeg geskryf

Harding: wat tienerseuns van ‘n verhouding verlang

Hennenman: verfynde persoon.

Hermanus: hardlywigheid a.g.v. verstopping van dikderm

Ifafa: ’n land ver, ver weg

Indwe: toestand van in-die-moeilikheid-wees

Kakamas: ablusiepaal vir honde aan die kant van ‘n tuin

Kenhardt: kardioloog

Klapmuts: geskikte straf vir poedel wat aandring om vername gaste se bene te pomp.

Kuruman: skroefagtige falliese simbool

Libode: luigat

Loerie: oë dig toe

Lusikisiki: dubbele longontsteking.

Mabopane: aanduiding dat moeder nie bereid is om herstelwerkies te verrig nie

Marble Hall: hardegat

Marquard: klagte van jong seun oor porsiegrootte van koek

Matatiele: subtiele teregwysing aan tuinier wat verbrou het

Merriman: ontmaagdde tienerseun.

Miga: sieklike selfverwyt

Modimolle: swierige knaagdiere

Morebeng: beleefde versoek om liefkosing uit te stel na die volgende dag

Mpumalanga: toestemming om meer tyd in die toilet deur te bring

Mtubatuba: iemand wat die vermoë het om baie diep buikwinde voort te bring

Musina: bespiegelings oor rede vir troue

Namies: hoflikheidshalwe na die huisvrou by deur inloop

Nigel: verneem na vordering van ‘n verhouding

Okiep: hoendervleis wat verby die vervaldatum is

Parow: vader is spyt

Petit: pynlike toestand in die borste van jong tienerseuns (‘stonies’)

Philippolis: makelaar se versoek

Phokeng: neerhalende byvoeglike naamwoord

Prieska: Japanner se versoek om motor te huur

Rehoboth: verkeerslig in pad met slaggate.

Tosca: Motor wat nie aan verwagtinge voldoen nie

Tshipise: laatnag-aartappelskyfies

Tshwane: term vir ‘n tipe wraaksugtige, of kleingeestige aksie

Verneukpan: ninja-kombuisgereedskap met lang steel

 

 

Kopiereg voorbehou

Games that lovers play

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

In die TV-program “Binnelanders” is daar ‘n getroude paartjie wat my grenseloos frustreer. Op papier (of op die skerm) is hulle lief vir mekaar, maar dan bly hulle mekaar aanhoudend seermaak. Dis die heeltyd beskuldigings wat herwaarts en derwaarts geslinger word.

Dit het my aan my liefdesverhoudings op laerskool laat dink: jy maak ‘n beskuldiging in jou liefdesbriefie en dan leef jy in’n manjifieke kokon van pyn tot die volgende pouse waarin die nuutste grief hopelik opgelos sal word.

Eddie Fischer sing:

There are games that many foolish lovers play –

Blindly chasing happy endings come what may

Never caring who gets hurt along the way

Let’s not play those games that lovers play

En die Carpenters:

Can’t we stop hurting each other?

Gotta stop hurting each other

Making each other cry breaking each other’s heart

Tearing each other apart.

Genadiglik ontgroei ‘n mens blykbaar hierdie kinderagtigheid in ‘n groot mate, en dit is hoekom ek soms voel om by my TV-kassie in te klouter en daardie twee siele aan hulle skouers te gaan skud.

Ek is nie heilig of perfek nie, en ek maak waarskynlik baie meer foute as enigeen van die bloglesers hier rond. Maar, ek dink ek kan sien hoe skadelik hierdie verpesting is. Ek sien dit nog te dikwels gebeur met geliefdes rondom my, man en vrou, verliefdes, en dan voel ek soms om hulle by te loop en te skud.

 

Daar is genoeg situasies en slegte mense wat dit aan ons doen – hoekom doen ons dit aan die min mense wat vir ons lief is?

 

Besetenes braak en brul…

Januarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Jan Klaas is diep beïndruk met ‘n berig in vandag se Rapport, waarin daar berig word oor ‘n dominee wat duiwels uitdryf.

Een van die goed waaroor Jan Klaas byvoorbeeld persoonlik kan getuig, is die laat van winde tydens uitdrywing. Ou Trevor, wat saam met Jan Klaas in die kaserne in die weermag was, se bed was naamlik voortdurend met sulke duiwelse gasse omring. Hy het die vermoë gehad om kos direk in metaan om te skakel – ek verstaan SASOL gebruik min of meer dieselfde tegnologie. Hy het die rekord gehou van twee-en-vyftig opeenvolgende winde (hoewel ek vermoed hy asem in tussenin) en hy sou die Voortrekkermonument se Vlam van Vryheid man-alleen aan die gang kon hou. Nietemin, daar was nooit by ons ander enige twyfel oor die onderaardse oorsprong van hierdie abominasie nie.

Enigiemand wat al die swaelagtige aanloopwinde van die diarree-windekultivar geruik het, sal begrip hê vir die lyding van Trevor se bure. Dit was nie vreemd vir hulle om in die oggend oortrek van ‘n groen muflaag wakker te word soos wat hierdie diaboliese oergasse in die nag rondom die beddens tot volle wasdom verryp het nie.

Maar, ek dwaal af.

Braak en brul is blykbaar nog ander simptome. Klink maar bra lawaaierig en morsig, soos ‘n AC/DC-konsert. Maar, as Jan Klaas die fotos om die berig so bekyk, lyk dit of van die mense, soos Jan Klaas, bra sou kon baat by ‘n paar uitdrywings. En ‘n donkerbrul.

Jan Klaas het dadelik Google bygedam en kon, tot sy spyt, geen meer inligting oor die ding kry dat olyfolie die “vyand sal weghou” nie. Jan Klaas wou naamlik weet of sonneblomolie ook sou werk, want dis heelwat goedkoper. Of dan, sonroom, dan is ‘n mens sommer bedags sonbeskerm ook. Of Tabard! Dan kan jy muskietvry en vyandvry buite sit. Of dan, ratkasolie of Dubbin, met elk sy eie voordele – die lys is lank, man.

En stel jou voor, jy smeer die seun voor ‘n skoolpaartie in met olyfolie, dat hy so sjloep-sjloep daar inloop. Dit sal die vyand weghou, ja, maar ook vriende, vermoed ek. Soort van ‘n natuurlike geboortebeperkingsmiddel. So ‘n glibberige affêre wat verseker jy word in die glippe uitgevang.

Jan Klaas het ook probeer Google om meer uit te vind oor die gevare van Afrikamaskers en eksotiese matte, want sy Bybel sê niks daarvan nie. In sy huis het Jan Klaas ‘n Hawaiise kitaar, Engelse sout, Spaanse vlieg, Noorweegse rotte en Chinese checkers. Gaan al hierdie goed dalk dien as antennas wat die diaboliese invloede sy voorhuis inlok? Of, word Afrikamaskers en tapyte dalk met ‘n besondere bloeddorstige verbetenheid aanmekaargesit?

Sien, baie vrae. En arme Jan Klaas weet nie.

Lae hou

Januarie 19, 2011 in Sonder kategorie

Die gesin is opgewonde, want Fransien bring vir die eerste keer ‘n kêrel huis toe.

Kleinsus word ingeroep. Die kêrel, Gertjan, wat Fransien huis toe bring, is, uhm… vertikaal onderbedeeld. Hy is ‘n dwerg.

Kleinsus word gemaan om haar in die algemeen te gedra, om nie te staar nie en nie opmerkings te maak wat as neerbuigend vertolk kan word nie.

Die tyd vir aandete breek aan. Die gesprek vlot mooi en Kleinsus kyk oral in die kamer behalwe na Gertjan.

Aan die einde van die gereg werk dit so uit dat Kleinsus en Gertjan skielik alleen in die kamer agterbly, terwyl die ander die een en ander in die kombuis gaan bymekaarsit.

Die oomblikke stap aan en die spanning raak vir Kleinsus ondraaglik.

Uiteindelik voel sy sy moet ‘n plan maak. Sy kyk Gertjan vas in die oë en vra: “So, hoe gaan dit met Sneeuwitjie?”

Ek glo…

Januarie 18, 2011 in Sonder kategorie

Hoe meer ek my verwonder oor die wondere van die natuur, hoe meer raak ek verstom oor al die dinge waarin  mense bereid is om te glo.

Hier in die Baai het ek laasjaar ‘n klein persoonlike kruistoggie in ‘n koerant gevoer teen sommige alternatiewe medisynes wat op GEEN bewyse berus nie. Dit grief my dat mense geld maak uit ander se pyn en lyding.

Sjie, het ek vir jou teenspoed gekry! Ek het nie voorsien dat ek, byvoorbeeld, in die proses van my eie vrinne verkeerd sou opvryf nie. Ook is daar ‘n reuse prosessie van volgelinge met gevestigde belange wat ‘n bedreiging vir hulle mark gesien het en hulle het hul eie vegters van buite gemonster om my gegorrel stil te maak. Dit was net ‘n genade dat die koerant aan my kant was en my die laaste sê gegun het!

Ek kan aanvaar dat sommige metodes en praktyke stam uit ‘n vroeëre tyd, toe ons nog in feetjies en hekse en allerande mistieke kragte en energieë geglo het. As daar mense is wat dan eerder nog sulke praktyke aanhang, is dit seker hulle goeie reg om te kies om nie “verlig” te word in die koue lig van bewys en ondersoeking nie. Ook het baie van hierdie dinge minstens hul oorsprong in ‘n opregte vertroue wat op een of ander vaste oortuiging, of oergeloof gebaseer was.

Wat my egter so ‘n bietjie dwars in die krop steek, is wanneer mense hierdie liggelowigheid sinies uitbuit. Gisteraand was daar ‘n program oor Scientologie op TV, waar daar juis lank terug so ‘n briljante manipuleerder aan die werk was. ‘n Skrywer van wetenskapfiksie maak te min geld, maar sien dan ‘n geleentheid en begin ‘n splinternuwe geloof. Vir die mense van daardie tyd was dinge soos vlieënde pierings en geeste wat in vulkane losgelaat is, nog ‘n praktiese moontlikheid en sowaar, hulle volg die man. So sterk is die mag van liggelowigheid dat daar vandag nog mense is wat dit sowaar as ‘n opsie oorweeg.

‘n Puik voorbeeld is die “power bands” wat nou so in die nuus is. Mens moet eintlik die skeppers daarvan respekteer – hulle het ‘n uitstekende gaping gesien. Daar is nog genoeg kanonvoer wat deur ‘n pseudotegniese gebrabbel oortuig kan word dat daar diep, mistieke kragte aan die werk is en dat die makers van die bandjies op die een of ander manier dit reggekry het om hierdie kragte in te span tot die mens se voordeel. Dit, sonder ‘n greintjie bewys dat daar wel sulke studies plaasgevind het.

So is daar pille, koperbandjies, homeopatie, magnete, loodonderbroeke en doringdraadbra’s…

Met al die kundigheid oor die mens se natuur wat hier om die blogtafel versamel is, kan ons nie ook so iets uitdink om mee geld te maak nie?

Ek glo ‘n mens het ‘n soort van verpligting om ‘n dwaas van sy geld te skei.

Pa en kind

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Gister beland ek in ‘n ou lêer waarin daar ‘n reeks ou foto’s is: geskandeerde kleurskuifies uit my universiteitsjare.

Ek kyk daai foto’s van myself so en ‘n groot deernis oorval my skielik. In daardie oë sien ek ‘n kyk wat ek destyds so seer van binne gevoel het, maar wat ek nou van buite kan herken.

Ek dink toe so by myselwers: wat sou ek, hier van hierdie blinde hoogtes van die grysheid af, graag vir jong Klasie sou wou gaan vertel? Wat sou ek vir Klasie wou sê daar waar hy vol bravade op ‘n bankie voor ‘n klomp Ienks in Kollegehuis staan en beduie; daar waar hy ongemaklik maar cool met ‘n drankie en ‘n sigaret tussen ‘n groep landboustudente teen ‘n bakkie aanleun by Sodwanabaai; daar waar hy hand-om-die-lyf met ‘n skewe smaail tussen die besoekende joolprinsesse staan?

Want in Klasie se oë sien ek die twyfel. Ek sien die geveg om net in te pas, aanvaar te word, cool te wees. ‘n Buitestaander in ‘n wêreld van ingeligtes, ‘n eensame in ‘n menigte.

Wat is die groot wysheid wat ek vir Klasie sou kon sê? Want is dit nie dalk die groot woorde wat my kinders ook sou wou hoor nie, wat hulle eie paaie vir hulle makliker sou maak, sodat hulle nie dieselfde wankelrige brûe hoef oor te steek nie? In my kleindae het jy nie met jou pa gepraat oor jou eie twyfel en seer nie. Dit was ‘n skande om te erken dat jy min, uit en klein voel. ‘n Mens sou seker hoogstens ‘n veeg oor die kop kry – “Ruk jou reg, jafel…”

Deesdae is dit mos anders. ‘n Mens kan met hulle praat, deel, want daardie verlede is glad nie meer so ver weg nie. Aarde, partykeer het ons en die kinders nog dieselfde onderwysers gehad!

Ek sou graag vir Klasie iets wou vertel in die trant van die ou destydse Desiderata (Google dit!): Jy is oukei, poepol. Jy mag maar daar wees. Jy is net so ‘n kind van die heelal soos enige ander mens. Jy is gemaak van dieselfde oerou sterremateriaal, niemand mag jou verkleineer nie. Jy is die beste en enigste jy wat jy in hierdie lewe kan wees. Die wêreld lê voor jou oop, en jy kan wees net wat jy wil. Niemand mag in jou pad staan nie.

Ek dink ek sou nogal moed gekry het as ek weet dis wat my ou ekke uit die toekoms vir my wou kom sê. Wie weet, dalk sou dit selfs my lewe verander het! Dit sou dinge beslis makliker gemaak het…

Maar, vanoggend in die stort dink ek weer die teendeel – is ek nie juis veronderstel om hierdie lesse vir myself te leer nie? Was dit nie juis nodig vir my karakter om eers deur verwerping, deur nyd, deur afguns, deur kompetisie my weg te baan nie? Wat sou ek vandag gewees het as ek daardie lesse te gemaklik bekom het? Of, sou dit my juis ‘n hoër duikplank gee om van weg te spring?

Dalk moet ek ou Klasie maar net so in sy ellende los. Maar, vir my kinders gaan ek die Desiderata vertel.

Sonder die poepol.