“Ek weet”-siekte

Desember 27, 2010 in Sonder kategorie

Ek moes seker op skool maar ‘n redelike klein pyn-in-die-gat gewees het. Dit het my net heeltemal te lank geneem om dit te besef.

En nou praat ek nie eers van my hormone wat so-te-sê my lewensgang bepaal het nie, en waarvoor ek nie genoeg mense genoeg kere om verskoning kon vra nie.

Nee, ek praat van die begeerte om op elke denkbare plek te probeer indruk maak het. Oral wou ek demonstreer dat ek weet, meer nog, dat ek beter weet. Ek was een van daai laaities wat wou voor in die klas sit en sy hand opsteek: “Juffrou, juffrou…”

Lank het ek hierdie bagasie saam met my gedra. Praat iemand ‘n ander taal, wou ek graag wys dat ek dit ook verstaan. Praat iemand van ‘n oorsese reis, wou ek saampraat om te wys ek was ook daar.

Eno’s, het ons in die leër ‘n medetroep genoem. Eno’s everything. Dit was ook ek.

Hoekom het ek, soos baie ander, miskien almal, so ‘n behoefte om te beïndruk? Is dit maar ‘n oerou selfgeldingsdrang, of ‘n behoefte om betekenis te hê?

Want, al het ek hier hoofsaaklik in die verlede tyd geskryf, is dit nog maar steeds ek. As ek terugdink oor my blogs is baie daarvan ook maar ‘n manier om te sê “Ek weet” of “Ek kan”, en so is daar waarskynlik maar daagliks manifestasies daarvan in my doen en sê.

Ek het darem op ‘n stadium besef wat aangaan en myself probeer leer inhou, met wonderlike resultate. Ek probeer nou baie hard om te onderadverteer en eerder te oorpresteer. In die verlede het daar byvoorbeeld dikwels met my dinge gebeur soos dat ek in ‘n huis die klavier of ‘n kitaar byloop en begin speel, net om uit te vind die inwoner is so min of meer ‘n virtuoos. Nou hou ek my bek. As hulle regtig wil weet, sal hulle mos vra.

Dit gaan dikwels maar swaar, soos wanneer jy agterkom iemand praat deur sy nek, maar ek laat hom gewoonlik begaan, tensy dit later skadelike gevolge kan hê. Dis sy geleentheid om sy betekenis te vind.

Maar, daarvoor moes ek ook eers ‘n leeftyd groei…

Naskrif: Ek het so hard probeer om die woord “ofskoon” in hierdie stuk in te werk, maar ek kon nie. Dit klink vir my so ‘n grênd woord. Daarna wil ek “desnietemin” probeer.

46 antwoorde op “Ek weet”-siekte

  1. pbroere het gesê op Desember 27, 2010

    Desnieteenstaande lyk dit of jy gegroei het as mens, ofskoon daar nog baie ruimte is vir verbetering?

  2. Skaam kry ek nou!
    Ek kan ook alles doen, beter as ander…sal daaraan moet werk.
    😀
    (Kan net nie skryf soos jy nie)

  3. louisna het gesê op Desember 27, 2010

    Wat ‘n pragtige lewensleuse: Ek probeer nou baie hard om te onderadverteer en eerder te oorpresteer

  4. TS het gesê op Desember 27, 2010

    moet erg vermoeiend wees die onderadverteer en oorpresteer. Ek sukkel weer om die lae IK te onderadverteer

  5. Neander het gesê op Desember 27, 2010

    Onmiddellik, egter, weereens het jy ‘n goeie stuk geskryf, ofskoon jy steeds litterêr moet groei.

    Nou waarteen wil jy nie staan nie?

  6. Neander het gesê op Desember 27, 2010

    sjoe!

  7. Ofskoon jy virtuese klavierspelers laat bloos, en geinteresseerde lesers laat lag, is jou bek nog heel en dis ten spyte van alles desnietemin tog ‘n bewys van iets.

  8. brug het gesê op Desember 27, 2010

    Dis my soort humor , Tina

  9. brug het gesê op Desember 27, 2010

    “Boere staar ramp-oes in gesig”

  10. TS het gesê op Desember 27, 2010

    hoekom verbaas? Is dit maar nie wat elke blonde poppie met groot vrug doen nie en soms met met die allerheerlikste resultate. Hoë Ik’s is erg ‘overrated’

  11. Neander het gesê op Desember 27, 2010

    🙂

  12. Mens roep dit die voortvarendheid van die jeug en as dit vervel word dit gelatenheid 😉

  13. Soos – Is die grappie skurf, ofskoon?

  14. Jy’s heeltemal te nice, so vroeg in die oggend! 🙂

  15. 🙂 Dit werk!

  16. Sies. Ek wou ook so ‘n sin skryf… :+

  17. Maar dan moet mens ‘n lae IK eintlik ooradverteer. Mans laaik dit!

  18. Ek het gister teen Pierre Spies gestaan vir ‘n foto! (Eintlik in sy skaduwee)

  19. louisna het gesê op Desember 27, 2010

    Ek het dit ook al probeer en, ja, dit werk.

  20. Is so. Lyk my die beleid werk!

  21. Hallo Bruggie!

  22. Janee… Oh lord, it’s hard to be humble…

  23. …en hulle bloos nie eers nie!

  24. True. Ek het te lank voortgevaar. Maak dit van my voorvaad’re?

  25. Ofskoon jy gefaal het in jou strewe, moet jy desnietemin aanhou om te probeer…

    🙂

  26. Sjoe, hierdie pos het my aan die dink! Hoe gaan dit Janklaas? Ek was lanklaas hier by jou!

  27. Ofskoon ek erg probeer het, sukkel ek om die stuk moi te verstaan.

  28. Berwick het gesê op Desember 28, 2010

    Eno’s? Hehe!
    Groetnis.

  29. Overalhetgesynde

  30. My man sê altyd ek maak alewig of ek van beter weet as ander, feit is, meeste van die tyd doen ek. Oningeligte gebrabbel gee my hoofpyn…..

  31. 🙂 Dankie, Juno. Ding is net, op hierdie ouderdom vergeet ek gou die lesse wat ek geleer het!

  32. Dit gaan baie goed! Ek loaf lekker.

  33. Ja, daai’s ook waar. Ek moet myself so baie terughou en herinner dat ek self op ‘n tyd daardie lesse moes leer.

  34. Desnietemin hoop ek jy’t dit geniet! 🙂

  35. Groete Berwick!

  36. Joe. Dit klink na ‘n woord wat ek moet probeer. Weet net nie waar nie!

  37. Ja, dis presies hoekom dit my so lank geneem het om dit reg te kry!:-)

  38. Ek wil graag vir jou en jou familie ‘n wonderlike voorspedige nuwe jaar toewens!

  39. Heerlike nuwe jaar vir jou so tussen die sterre!

  40. Baie dankie, Pienkie! ‘n Mooi nuwe jaar vir julle ook.

  41. Dankie Nika! Met die snaakse weer het ek nog maar min sterre gesien…:-)

  42. Eno’s is darem nie so erg soos Derrick nie…

  43. Tot jy aan die luisterkant is…

  44. Hierdie drama queen het jou blog geniet en wil voorstel dat jy overgesetsynde ook oorweeg as ‘n aansitterige woord met ‘n Kaaps-Hollandse geskiedenis.

  45. Janee, dis voorwaar ‘n woord wat ek nog nooit gebruik het nie.

    Ek hoop nie ek moet ooit nie! Dit klink al te voel na “te-vet-wees”!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.