Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

“Ek weet”-siekte

Desember 27, 2010 in Sonder kategorie

Ek moes seker op skool maar ‘n redelike klein pyn-in-die-gat gewees het. Dit het my net heeltemal te lank geneem om dit te besef.

En nou praat ek nie eers van my hormone wat so-te-sê my lewensgang bepaal het nie, en waarvoor ek nie genoeg mense genoeg kere om verskoning kon vra nie.

Nee, ek praat van die begeerte om op elke denkbare plek te probeer indruk maak het. Oral wou ek demonstreer dat ek weet, meer nog, dat ek beter weet. Ek was een van daai laaities wat wou voor in die klas sit en sy hand opsteek: “Juffrou, juffrou…”

Lank het ek hierdie bagasie saam met my gedra. Praat iemand ‘n ander taal, wou ek graag wys dat ek dit ook verstaan. Praat iemand van ‘n oorsese reis, wou ek saampraat om te wys ek was ook daar.

Eno’s, het ons in die leër ‘n medetroep genoem. Eno’s everything. Dit was ook ek.

Hoekom het ek, soos baie ander, miskien almal, so ‘n behoefte om te beïndruk? Is dit maar ‘n oerou selfgeldingsdrang, of ‘n behoefte om betekenis te hê?

Want, al het ek hier hoofsaaklik in die verlede tyd geskryf, is dit nog maar steeds ek. As ek terugdink oor my blogs is baie daarvan ook maar ‘n manier om te sê “Ek weet” of “Ek kan”, en so is daar waarskynlik maar daagliks manifestasies daarvan in my doen en sê.

Ek het darem op ‘n stadium besef wat aangaan en myself probeer leer inhou, met wonderlike resultate. Ek probeer nou baie hard om te onderadverteer en eerder te oorpresteer. In die verlede het daar byvoorbeeld dikwels met my dinge gebeur soos dat ek in ‘n huis die klavier of ‘n kitaar byloop en begin speel, net om uit te vind die inwoner is so min of meer ‘n virtuoos. Nou hou ek my bek. As hulle regtig wil weet, sal hulle mos vra.

Dit gaan dikwels maar swaar, soos wanneer jy agterkom iemand praat deur sy nek, maar ek laat hom gewoonlik begaan, tensy dit later skadelike gevolge kan hê. Dis sy geleentheid om sy betekenis te vind.

Maar, daarvoor moes ek ook eers ‘n leeftyd groei…

Naskrif: Ek het so hard probeer om die woord “ofskoon” in hierdie stuk in te werk, maar ek kon nie. Dit klink vir my so ‘n grênd woord. Daarna wil ek “desnietemin” probeer.

Klaas vakie

Desember 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek is terug.

My storie is klaar geskryf. Wat ‘n heerlike ervaring was dit nie! Ek gaan dit sommer weer doen!

Al donker wolkie is dat die storie ietwat te kort is, veertigduisend woorde in plaas van vyftigduisend. Ek kan seker gaan bygorrel, maar ai, alles vloei nou so lekker. Sal maar sien.

Sit nou in Glentana en verveel die gesin. Hoe lui die ou volkspeleliedjie – Almal het maats, net ekke nie. Hier is ‘n ontstellende tekort aan mans.

Ek het daarop gereken om sterre te kyk, maar dis saans maar meesal bewolk of mistig, of volmaan! Ek het al die boeke wat ek gebring het deurgelees, nou knor ek maar vir ons nuwe worshond.

Ek sal nou nie sê ek wil al teruggaan huis toe nie, maar dinge sal moet verander of dieselfde bly – so kan dit nie aangaan nie. Ek beplan om so min of meer almal se blogs te besoek en in te haal oor die volgende paar dae, so pas op – ek gaan by jou agterplaas kom inloer! Ek het julle nogal regtig gemis.