Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Pornoster

November 23, 2010 in Sonder kategorie

Lees nou net in News24 oor die renosterstroper wat hulle in die Krugerwildtuin doodgeskiet het. ‘n Ent verder lees ek dat Lindsay Lohan nie meer die rol van ‘n pornoster gaan speel nie, en ek dink toe dadelik aan ‘n renoster met pajamas aan.

Toe tob ek oor die rol van ‘n simpel klein strepie, en hoe in die war ek eendag was toe hulle in die Beeld die koppelteken weggelaat het uit “Boere staar ramp-oes in die gesig”.

‘Skuus.

Vorderingsverslag

November 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek het gedink dit sou vir die wat dieselfde ambisies as ek koester, interessant wees om te weet hoe dinge gaan. Julle geharde, knoetserige ou skrywers hier – hou verby. Ek praat hier met my mense, wannabe’s soos ekke.

Ek het my ge’commit’, danksy ‘n swiet spokie, om hierdie maand 50 000 woorde te skryf aan my eerste storie. Ek het laasjaar al probeer maar kon nie betyds ‘n ordentlike storie opwroeg nie.

Hierdie jaar het alles sommer net in plek geval, behalwe dat hierdie ‘n nagmerrie-November is. Buiten die gewone eksamengoed en kinders se eksamens is daar skielik van oral oor die land mense wat van my kortkursusse wil doen, seker om oortollige geld weg te werk, en nou moet Klaas Kiepie instaan.

Maar, betreffende die skrywery: dit kom vanself! Ek het gewonder of ek dit sal regkry om my woorde op ‘n ander se tong te lê, maar as ek die karakter ken en verstaan is dit asof hy vir homself praat. Te lekker. Ek vermoed as die karakter te ver buite my eie ervaringsveld sou lê, sou sy woorde seker gefabriseerd uitkom. Les 1, dus.

So lekker het dit gegaan dat ek omtrent by 20 000 woorde besef het my storie is besig om uitvertel te raak. My lewe lank was dit my besigheid om dinge pront en verstaanbaar te maak, maar skielik moet ek nou uitbrei. Nou het my karakters gesprekke met hulleself, en die omgewing en die situasie word beskryf… Les 2!

My storie het nogtans vasgebrand. Dit sou ‘n losserige, pret-roman gewees het met ‘n lekker ontknoping, toe begin dit my verveel. Toe, een nag tref die inspirasie my. Nou is daar skielik ‘n sinistêre invalshoek, en voor ek my kon kry het ek al drie karakters vermoor! Lyk my darem ook daar bly genoeg te vertelle oor om my deur te dra. Maar, nou is die plot meer kompleks en moet ek baie fyner voetwerk doen om die regte ou op die regte tyd, op die regte plek te kry. Dis eintlik ‘n heerlike opgawe, maar dit beproef my kreatiwiteit tot op die droesem. Dis amper of ek nie genoeg tyd kry in hierdie drukkokertydperk om al die moontlikhede en konsekwensies deur te dink nie. Sal maar agterna gaan opvee waar ek gemors het. So, my persoonlike les 3: gun jouself dinktyd. Ek sit hoeka nou weer in ‘n knoop, en soms moet vroulief my kom uithelp!

Ek gaan dit vir seker nie maak teen 30 November nie, maar vir my was dit ‘n gesonde dissipline om op te hou beloftes maak en in te spring. Dis baie bevredigend om die ding so te sien groei!

En, as alles skeefloop, verplig ek net my kinders om dit te lees. Kannie verlorie. Mis julle net.

Verlofvorm

November 5, 2010 in Sonder kategorie

Waardeer die vrede, o volkere. Daar gaan ‘n tyd kom dat Jan Klaas weer u deurlugtige geledere gaan betree en die oorvloed van sy skryfgemors op hierdie edele skryfvlakke gaan kom uitstort.

Jan Klaas is op die oomblik taamlik besig elders. Jan Klaas is naamlik besig om vlaktes en vlaktes rekenaarskerm met woorde te vul in ‘n poging om uiteindelik sy merk te probeer maak as ‘n skrywer. Siende dat sy drome om ‘n hogere digter te wees met elke nuwe poging voor sy eighe oghe in wind verander, het hy nou besluit om sy hande aan ‘n boek te waag. Dit lyk na die enigste oorblywende uitweg om daardie ontwykende aura van skrywerskap te bekom. “Digter” sou wel nog meer digterlik geklink het, maar Jan Klaas sal maar berus by sy klaaglike mislukking om ‘n tweede Breytenbach of Van Wyk Van der Merwe te wees. In elk geval hoef ‘n mens seker nie suksesvol te wees om as ‘n skrywer bekend te staan nie, jy hoef net te skryf…?!

Digters het in elk geval vir Jan Klaas ‘n bietjie van hulle betowering verloor vandat elke Tom, Diek, Harry en MBA-geleentheidsprekers hulleself nou as digters aan die mensdom kom bekendstel. In elk geval vermoed Jan Klaas al die goeie dig-temas is alreeds geneem…

Die moeder in

November 1, 2010 in Sonder kategorie

Medelye is vir my so ‘n mooi woord. Iets soos ‘n samesering, ‘n pyndeling. ‘n Gaan-haal-vir-jouself van die trane van ander.

Ek het so ‘n soort vrou. Ek moes dit gesien kom het toe ek uitvind sy het oorspronklik maatskaplike werk geswot, maar die seer het te veel by die eie agterdeur ingekom.

Op pad na haar eerste kuier by my ouers in Standerton het sy daar deuskant Roodebank skielik stil geraak. Toe ek ‘n hele ent verder kyk wat aangaan, is die ou gesiggie vol trane. Wil nie praat nie.

Ek het so ‘n stadige kykweer gedoen van alles wat ek gesê het, myself onskuldig bevind, maar toe onthou dat daar ‘n ent terug ‘n brak langs die pad by die doodgeryde lyk van sy maat gestaan het. En vandaar die trane. Ek het die ou se hand maar vasgehou tot sy beter begin voel het.

Een keer, op pad Kaap toe, selfde ding. Die kykweer toon toe ‘n skaaplammetjie wat op ‘n manier duskant die heining beland het met sy besorgde ma aan die ander kant. Kos my mooitjies omdraai om die donnerse ongedierte te gaan soek, kilometers terug. Alles vir niks – die klein twak het lankal teruggekruip.

Duidelik het hierdie saak nie by my dierbare kinders verbygegaan nie. Hulle kan staatmaak op ‘n onverdunde stroom simpatie as hulle die regte geluide maak, of bloot die regte stemtoon inklits.

Male sonder tal gebeur dit dat pa die kinders bel, met die bloedjie praat en opgeruimd oortuig word dat alles hunky-dory is, dat die disselbome klop en dat die lug netjies op sy plek is daarbo. Gee ek egter die gehoorstuk aan die moeder, verander die klimaat na bewolk en koud, word daar ingewande uitgeryg, klere geskeur, as oor die hoofde gestrooi en in die algemeen net gekla.

Hier sit pa ewe tevrede aan sy kant van die bed en purr, krap miskien ingedagte sy oor, en hier ontplof moeder met onheilspellende verhale van tweedrag, sektes, nood en muitery in sy linkeroor. Alles uit die selfde selfoon uit.

Eers het ek gedag sy verstaan die taal nie te waffers nie, totdat ek die kinders se agenda leer verstaan het. Onder die item “Pa:” staan daar “Algemene weerberigte en nuus. Onthou, hy is vlak.”. Onder die item “Ma:” staan geskryf: “Begin by die sondeval, beklemtoon die pyn van die erfsonde en die eie geboorte en let veral op die huidige ellende. Onthou, sy is diep.”

En sal julle my glo, ek het dit leer waardeer. Minstens word die ou bloedjies nou nie groot in ‘n woestyn van vergetelheid nie, met ‘n pa wat eintlik maar eers die volgende dag verstaan waaroor al die fuss gaan. Ek vermoed, so tussen my sistemiese onnoselheid en haar klein-klein hartjie, vorm ons ‘n redelik gemiddelde stel ouers wat darem nie te veel skade aan die volgende geslag sal aanbring nie.

 

Nota aan kinders: Dis net ‘n grappie, hoor. Hier is dit in elk geval blykbaar net die bloggers wat my glo. Bel gerus as julle ons nodig het!