Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Johnny Cash

Oktober 31, 2010 in Sonder kategorie

My dowe vingers volg

die kwastekrul handerus

van die ou rystoel.

My blinde ore spoor

die soet gekraak

van ou-ou hout op hout.

My skille-oë sien

jou krom kyk leeg,

jou glimlag skeef

en uitgeleef.

Sprekers en newels

Oktober 27, 2010 in Sonder kategorie

Konferensies is my muse. Lyk my die eentonige gedreun vanaf die podium werk as ‘n soort kunsmis vir die aanmekaargroei van vreemde, ongekoppelde gedagtes in my benewelde brein. Die feit dat ek nou en dan moet opstaan om die volgende spreker voor te stel, verskaf net genoeg suurstof om hierdie gedagtes te laat blom.

In Texas is daar ‘n museum (genuine, die keer) wat ‘n punt daarvan maak om te probeer illustreer dat mense tegelykertyd saam met die dinosourusse op die aarde gedwaal het. Dit het my toe aan die wonder gesit hoe dit moes gevoel het vir die gewone man op, um, straat.

Ek sien ‘n reuse pterodaktiel oorvlieg met Herman in sy kake. Ek kan sien dat Herman hiermee nie baie beïndruk is nie. Hou seker nie van hoogtes nie. Toemaar Herman, hadedas ook nie. Dis hoekom hulle so skree.

Ek sien tirannosourusse. Jou tipiese boelies, die soort wat nie by rooi ligte stop nie. Soos blou bulle. En ek sien Gerda waar sy vies ‘n assegaai in tirannosourus se boud steek-steek terwyl die gedierte afgetrokke aan haar maat se wensbeentjie sit en knibbel.

Ek sien jong juppies oor die vlaktes huppel op die nuutste evolusieweergawe van getemde dikinodonte. Die skurwe vel knaag-knaag aan hulle binneboude en maak hulle nog meer veglustig.

Ennieway. Volgende spreker. Verskoon my, asseblief.

Skuldig, Edelagbare

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek het gedag ek sal teen hierdie tyd al raas kry, maar nou begin ek darem regtig skuldig voel.

Gisteraand het ek hier, met ‘n boek oor soogdiere en voëls, groot binnepret gehad met die konkoksie van nuwe kombinasies van name vir eienaardige, denkbeeldige gediertes en ongediertes. Stel jou voor, ‘n bergkrokodil!

Die storie het tydens ‘n wild-besigtigingsrit begin in ‘n natuurpark hier naby. Ek het die arme gids heeltemal in die war gehad met die onmoontlike voëls en diere wat ek gekomponeer het. Hy het eers gedag ek is ernstig, toe stupid en later het hy my net geïgnoreer.

So begin ek toe met die saamstel van ‘n semi-geloofwaardige storie oor die herkoms van juis sulke diere. Ek het dit in ‘n blog geplaas met, hopelik, ‘n paar leidrade dat ek eintlik besig is om strand te praat.

Met die grootste hoflikheid het julle kom kyk, miskien kopgeskud, dalk eerder verbygehou oor die vermoede van ‘n wanklank of ‘n geurtjie, en sommiges het selfs ‘n versigtige kommentaar geplaas.

Ek het julle lankal gewaarsku om my nie van fatsoenlikheid te verdink nie. Diep onder hierdie waardige uiterlike (!) is daar ‘n fieta wat op die vlaktes van die platlandplotte en in die agtelikste koshuise van ons tersiêre onderwysstelsel geslyp is tot ‘n instrument van misleiding, wangedrag en ondermyning.

Ek sal nie kan science fiction skryf nie – mense gaan my glo!

Dus, hiermee, my innige apologie vir die mense wat in goedertrou my opregtheid aanvaar het en hulle goeie tyd gemors het met die lees van die kronieke van die Suurberge in my vorige blog. Ek verklaar dit hiermee tot onsin, bedrog en leuens.

Maar, vir oulaas, geniet tog ‘n bietjie saam met my die moontlikhede van sulke onwaarskynlike kombinasiediere. En pasop vir die skeurtandmossies.

NUUS!

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Daar is ‘n paar juweel-natuuroorde in die Oos-Kaap wat nie genoeg publisiteit kry nie.

Een so ’n onlangs ontdekte plek was eintlik doelbewus stilgehou om die wonderlike erfenis te beskerm. Onlangs is hierdie plek egter deur die Addo-reservaat oorgeneem en besoekers kan nou daarheen gaan.

Die plek is in die Suurberge, noord van Port Elizabeth. Dis eintlik ’n fratsomgewing wat op ’n unieke manier bewaar gebly het.

Dit werk so: na die tyd waarin die dinosourusse uitgewis is, was Suid-Afrika min of meer nog steeds bedek met ’n laag lawa, wat algaande wegverweer het totdat sowat net die Lesotho-hooglande en die basalt van die Drakensberge oorgebly het.

In daardie tyd het gas-en lawauitbarstings op hierdie plek in die Oos-Kaap van onder ’n tregtervormige gat deur die lawalaag gestamp. Mettertyd het daar in hierdie gat sedimente gevorm van die moerasse bo-op die laag, en so het hierdie unieke fossielrekords gevorm en behoue gebly. Ek moet noem dat daar regoor Suid-Afrika bitter min fossielrekords van hierdie era oorgebly het – daar is nog een in die Noordkaap, dink ek, wat toevallig ook op dieselfde wyse gevorm het.

Die plaaslike oord op die oomblik ’n klein lushof, waar argeologiese uitgrawings baie versigtig gedoen moet word om nie die omgewing te versteur nie. Maar tog is daar reeds ongelooflike vondse gemaak! Heelwat daarvan is al in die joernaal Nature beskryf, maar vreemd min van hierdie opspraakwekkende nuus het die plaaslike pers bereik.

So ’n lusmakertjie: Hier is gevind die bergkrokodil met sy vreemd lang bene, die skaars langnekrenoster, die kuifkopolifant, die wit grotkoedoe met sy kort kurktrekkerhorings, die satoe-bobbejaan, die moordpoedel en die langbeendassie.

Eienaardige voëls wat gevind is, is die brultarentaal, die breëkopkanarie, die sabeltandooievaar, die slanghalsuil en die skeurtandmossie. En, uit die moeraswater was daar die singende paling, die boomseekat en die bakoorhaai.

In stukkies verharde boomgom is daar ook bewyse gevind van die witliesmot, die kommetjiesgatmuskiet en die taai gomwurm.

In kort, ’n skatkis wat die plaaslike universiteite nog jarrre gaan besig hou.

‘n Ouer ouer

Oktober 23, 2010 in Sonder kategorie

Dis iets wat ‘n pa en ma vinnig grys laat word – daardie oproep twee-uur in die nag van ‘n huilende kind met groot moeilikheid.

Van ‘n dogter wat bel uit ‘n hospitaal uit die verre Stellenbosch. Van ‘n jong grootmens wat skielik met ‘n stukkie onaangename wêreldwerklikheid kennisgemaak het.

Haar klere is vol bloed. Haar metgesel is met ‘n stukkende bottel in die nek en in die gesig gesteek.

Met die terugkeer vanaf ‘n funksie het hulle vinnig langs die pad stilgehou, om seker te maak of sy wel haar selfoon by haar het. Die bestuurder se deur word van buite oopgeruk. Sy spring uit om haar gaspistool in haar handsak te soek. Die beseerde bestuurder kry dit reg om weg te trek, sy kon terugspring in die voertuig.

Bloeiend jaag hy deur kliniek toe, en daar sy help hom tot by die ontvangslokaal. Hy word weggeneem en sy sit alleen. Vandaar die oproep.

Wawyd wakker. Wat kan jy doen?

Baie, as it turns out. Bel ousus, ook in Stellenbosch, wakker en sy en haar metgesel kon gaan troos. Vriend se ouers in Bellville het ook spoedig opgedaag.

Sy kon darem die res van die nag by ousus bly.

Vandag nugterheid: polisieverklarings, begin om verlore dokumente te laat vervang (dit het seker langs die pad uitgeval). En dit alles met die eksamen op die drumpel.

Wat moet ons daaruit maak? Kopskuddend kla oor die vlak van misdaad, bitter wraak sweer?

Dit kon enige plek gebeur het. Dit was bloot die verkeerde mense op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek. Ek dink mens moet dankbaar wees dat dit so goed afgeloop het, as ‘n mens die alternatiewe oorweeg.

En vrede maak. Anders gaan ‘n mens jouself vergiftig en slegte mense toelaat om ‘n groter rol in jou lewe en jou gemoed te speel as wat hulle durf doen.

Dit het ons ook die les geleer om mekaar meer te waardeer. Ons kon mekaar bystaan en het sommer in die proses nuwe, kosbare mense leer ken.

Betreffende brakke

Oktober 21, 2010 in Sonder kategorie

Met honde weet jy nooit.

 

Sommiges is maklik, soos ons goeie Jack Russell, Jonty, wat so ‘n maand terug, oudergewoonte sonder ’n enkele funksionerende breinsel die tydelike met die ewige verwissel het. Hy sit nou daar met ‘n eienaardige klein harpie, waarskynlik baie verwonderd in die een of ander hondehemel en probeer sin maak uit dit alles.

 

Andere is meer kompleks. Ek het al in ’n vorige blog vermeld van die National Geographic se Border Collie wat ’n woordeskat van digby die honderd woorde het. Dis die soort brak wat navorsing doen oor die impak van die Pruisiese Neo-Klassistiese beweging van die 18e eeu op die uitdrukkings van Post-modernisme en intertekstualiteit in die Afrikaanse konseptuele dierepoësie in die era 1995 tot 2002. En, wat saans die Blou Donau blaf oor die straatgrense.

 

’n Mens kry ook die soort straatbrakke met humorsin, wat in een onophoudelike stroom gaste se onderklere in gange rondsleep of die dominee se vrou se hakskeen probeer pomp.

 

Ons eie Border Collie, Jessie, is van die meer digterlike aard. Jy kan dit sien uit die manier waarop sy ons nadenkend lê en betrag, vol eksistensiële angst, terwyl donker metafore, sonnette en haikoes in haar kop ronddans. Ek vermoed sy sien ’n bietjie neer op ons, en sy dra waarskynlik nog ’n wrok dat ons haar verplig het om so baie tyd saam met ’n intellektuele ploert soos Jonty deur te moes bring.

 

Die punt is, behalwe vir Jack Russells, glo ek vas ek honde verstaan baie meer as wat ons dink. En, as jy dit nie wil erken nie, vra jouself af of jy bereid sal wees om voor jou hond te vry. Sal jy?

 

Hierdie werklikheid is weer ’n bietjie by my tuisgebring deur ’n storie wat ’n gas by ons gisteraand vertel het.

 

Die outannie het haar been gebreek, en sy was so min of meer van die kleintoontjie tot by die duisterder noordpool in gips.

 

Toe sy by die gaste kuier en ’n draai wou loop, kom sy agter die toilet se deur wil nie toemaak om haar uitgestrekte, gegipste been nie.

 

Kan ’n mens haar dan kwalik neem daar waar sy sit, as sy vir die gesinsbrak, wat haar verwonderd sit en dophou het, “Fokof, fokof!” toegesnou het?

Oor mans

Oktober 20, 2010 in Sonder kategorie

 Ou Gert was bra geneig om in die kerkdiens aan die slaap te raak.

Toe hy tuiskom, vra sy moedswillige neef: “En toe, waaroor het die preek gegaan?”

Sê Gert: “Oor sonde.”

Neef: “Nou wat van sonde?”

Gert: “Klink my dominee is daarteen.”

Ligweg so is hierdie video – een van my ou gunstelinge uit die tagtigs. Gianni Nannini sing oor mans, I Maschi, en hoe hulle verhoudings benader. En klink my sy’s daarteen.

Ek is mal oor die passie waarmee sy sing. Kyk hier by so twee-derdes rond, as sy klaar snaakse dinge met haar ghitaar gedoen het, hoe skakel sy oor na ‘n ander rat en gooi haar lyfie daarin. 

 

Liefde met gevoel

Oktober 14, 2010 in Sonder kategorie

Soms wonder ek.

Is daar ‘n korrekte balans tussen die liefde wat ‘n mens bloot teenoor ‘n ander mens het, en die geskenke wat ‘n mens op so ‘n persoon uitstort?

‘n Mens lees dikwels van afwesige vaders, met kinders wat in fênsie BMW’s rondry en alles kry wat hulle hartjies begeer. Dan kry ‘n mens weer die suinige dr*lle, wat nie ‘n oomblik sonder hulle geliefdes kan klaarkom nie, maar wat sal vrek voordat hulle vir daardie persoon selfs ‘n blommetjie of ‘n kaartjie sal koop.

Dalk kompliseer ek die argument deur suinigheid of ruimhartigheid by te sleep – dis seker maar ‘n persoonseienskap en nie ‘n maatstaf van hoe lief ‘n persoon ‘n ander het nie. Of is dit?

Punt is – jy kry ook mense wat hulle geliefdes met geskenke wil oorlaai, uit blote dankbaarheid vir die warmte wat hulle in hulle harte voel. Dan kry jy weer ander wat miskien fisiese geskenke beskou as aardse, leë manifestasies van hulle diepste gevoelens en wat dit liewer op ander wyses sal wil uitdruk.

Dan hang dit ook nog af hoe die ontvanger dit sien. As hy my nooit blomme gee nie – hoe kan hy nog sê hy is lief vir my? Of, sou ek eerder ware uitdrukkings, selfs woorde, van hom of haar se liefde verkies bo die stomme geskenke op die tafel?

Lyk my die balans sal op verskillende plekke lê vir verkillende mense. Twee mense sal in liefde oud word sonder om juis veel behoefte aan geskenke vir mekaar te hê – dalk lê hulle passie eerder elders, in ‘n soort gedeelde geskenk, soos ‘n liefde vir die natuur of in diens vir hulle kerk. ‘n Ander paartjie kan mekaar dalk weer gereeld verras met ‘n klein of groot geskenkie, as uitdrukking van hulle toegeneëntheid teenoor mekaar.

Die b*ggerop kom as daar ‘n mismatch kom – die een is by voorkeur ‘n gewer, of ‘n ontvanger, en die ander nie.

Wat my aan hierdie vraag laat dink het, was iets wat as jong dosent by die PUK met my gebeur het.

‘n Ietwat jonger kollega nader my met die versoek om ‘n kunsuitstalling in die dorp te gaan bywoon, en om daar ‘n skildery van ‘n sekere persoon te koop. Daarvoor stop hy my toe ‘n aansienlike bedrag in die hand.

Daar gekom, sien ek die prente is deur sy vrou geskilder. Toe verstaan ek.

Ek het een gekoop en dit het lank ‘n ereplek in die huis gehad. Hier was ‘n man wat sy pragtige vrou so liefgehad het dat hy nie kon verdra dat nie een van haar prente sou verkoop nie.

Ek het lank met hierdie mooi herinnering rondgeloop, totdat ek eendag gehoor het hulle huwelik het verbrokkel. Dit was vir my baie tragies.

Vandag koop ek vir my vrou ‘n bos blomme. Sommer net.

Die myners in Chili

Oktober 13, 2010 in Sonder kategorie

Laasnag het ek vergeefs televisie sit en kyk totdat die eerste mossie sy beentjie gerek het en lui-lui ‘n windjie gelos het, hopende om te sien hoe hulle die myners een vir een uit die Chileense grond pluk. En, die oomblik toe ek my moeë en gefrustreerde hoof gaan neerlê, ruk hulle die spul natuurlik uit soos slap ertappels.

Vanoggend kon ek darem die kykweers sien, en selfs toekyk hoe nommer vyf sy gesig wys. Dis ongelooflike kykstof, menslike drama op sy beste. Ek wens ek kon die maanlanding so sien gebeur!

Ek hoor toe by ‘n kollega dat hulle die storie op RSG bespreek het een middag. Een liewe tannetjie sê dat hulle vir die klomp musiek moes speel om hulle gemoedere te sus – seker Vivaldi e.a.d.k. (en al daai …).

Toe kom ‘n jafel en reken iemand behoort vir die myners Kurt Darren se musiek te speel.

“Kurt Darren?” sê die omroeper.

“Ja. Dan sal jy sien hoe begin hulle hulleself uit daai gat uitgrawe…”

Weer eie

Oktober 12, 2010 in Sonder kategorie

Soos ek dinge ervaar, gaan mens met verskillende mense om in verskillende grade van familiariteit. Ek besluit self, soms heel onwillekeurig, hoeveel van myself ek bereid is om aan verskillende mense bloot te stel.

Die heel binneste, SNLR, 18 beperk weergawe, sal ek miskien aan my heel naastes wys. Dis eintlik bra ironies, want hulle is juis die mense wat die meeste deur my aard gekwes kan word!

So is ek seker soos ’n ui in verskillende lae van beskaafdheid toegepak. Afhangende saam met wie ek is, is ek verskillende personae met verskillende karaktertrekke en gewoontes.

Soms is ek die stil luisteraar, kuis toegebind met fyn maniertjies, soos met my bejaarde medekoorlede of verfynde familie. Hier sal ek geskok saamlag oor die gewaagde grappie of hoflik hul lang relase deurluister.

Soms is ek die siel van die partytjie, die luidrugtige, singende nar met skuinse verwysings en dubbele betekenisse. En dan is ek soms die bedonnerde, haastige ekke wat teësinnig op pad is in ’n statiese middagverkeer, wat vurig ’n swenkende taxi agterna kan swets en weeklaag oor die onregverdigheid van dit alles.

Soms weer, is ek Jan Klaas die Rustige wat leiding uitdeel aan bekommerde studente – ’n toonbeeld van waardigheid. I am the very model of a modern major general.

Dit irriteer die teer uit my uit. I want to break free, ek wil ek wees, ek wil Klaas wys (!), ek wil wees wat ek is en waaraan ek glo, maar dit sal ’n verwoesting van vriende en verhoudinge agter my laat, soos ’n Boeing wat in ’n mielieland neerstryk.

En dit alles was inleiding! Ek kom nou eers by my punt.

By wie is ek wat? Hierdie vraag het onlangs vir my interessanter geword.

Dit smaak my ’n mens is natuurlik bereid om meer van jouself te wys by die mense wat jou die langste ken. Eerstens dus jou nabyfamilie – daar is wragtag niks wat hulle nog nie van jou gesien het nie. Dis hoekom dit so maklik is om by hulle uit te span, uit te praat, want hulle ken jou ingang en jou uitgang, jou lag en jou seer. Dis ook hoekom dit kosbaar is om hulle te koester en naby jou te hou.

Volgende op my lys is jou skoolvrinne. Saam met hulle het jy ook ’n verskeidenheid dinge deurgemaak – hulle weet waar jy kanse gevat het en waar jy presteer het. Kyk net hoe maklik dit is om weer ’n gesprek met hulle aan te knoop, want daar was genoeg gedeelde hartseer en bly in die gedeelde tye. Verder lyk dit my, ’n mens bly nog min of meer jouself, dieselfde ou dude wat jy op skool was, maar nou net met ‘n paar nuwe medaljes en gelapte skeurplekke.

Die vrinne op varsitie is al ’n bietjie verder van die lyf, tensy jy jou kuiers diep, innig en deeglik gedoen het. So ook die ou kollegas en vriende in die nuwer dorpe of betrekkings – hulle kan ek nog bluf, want hulle ken nie die dieper Klaas daar binne nie.

Wat my eintlik aan die dink gesit het, was my ervaring van die vreemde ‘eienheid’ waarmee ’n mens blogvriende hier kan benader as ’n mens hulle in lewende lywe of op Facebook ontmoet. Dit is asof ’n mens kopstukke kan gesels, soos ou skoolvriende – geheime kan deel, skinder en gerus voel om jouself te wees.

Ek vermoed dit is omdat die ontmoeting op so ’n eienaardige, verkeerd-om manier gebeur. Hier laat jy mense eers agter jou skanse toe, wys hulle al jou verdedigingswapens, lei hulle na jou familie, eetsale en plekke van aanbidding, terwyl hulle nog eintlik gewapend in linies buite jou kasteel staan!

As hulle dan uiteindelik binnekom, kan hulle glimlag oor al die bekende gesigte, en kan hulle die bekende paadjies loop asof hulle dit al jare ken.

Dankie vir almal wat my agter hulle skanse toegelaat het.