Die lied in my hart

September 5, 2010 in Sonder kategorie

Ek is baie lief vir sing.

Moenie my vra waar dit vandaan kom nie – dalk het die Klaas-voorouers mekaar aandete toe geroep oor die hol vlaktes van Holland. Dalk was dit deel van die paringsritueel van my hariger oerouers, maar sing, sing ons graag.

Moet nou nie dink dat ek met ‘n wondersoete stem bedeel is nie, like the sound of a great Amen… My stem is by uitstek ‘n koorstem, die garden variety plekhouer – bestendig en ferm van voet, maar nie die soort stem wat pragtige vroue se oë wasig maak nie. Nee, eerder die soort hysbakstem wat dien as agtergrond terwyl die mensdom aangaan met hul dagtaak om wêreldvrede te bewerkstellig.

Wat effens tragies is, want Vader Klaas had ‘n Stem Van Formaat. Kleinjan het menige familietroue bygewoon waar die resonante, sonore klanke van Vader Klaas se sang die volk betower en besiel het.

Daar was, natuurlik, die odd geleentheid waar ambisie en oormoed die oorhand gekry het, waar ek van vroeëre vernedering en pyn vergeet het en myself beskikbaar gestel het om ‘n solo, of duet te sing.

Toneel: Familietroue. Ek het ‘n vrind omgepraat om saam “God sal u veilig lei” vir die mooi paartjie te sing.

Voor die tyd was alles so reg en mooi. Ons stemme het elke holtetjie en hoekie van die kerk gevul. Ons was die helde van Hartbeeshoek, ‘n soet geur en ‘n toonbeeld van hoop. ‘n Tonikum vir die gees.

Toe ons beurt kom en ek opstaan, gryp die hele situasie my aan die hart. Daar staan die pragtige paartjie – hulle kyk op na ons, hulle plaas hulle hoop, hulle drome in hierdie kosbare oomblik op ons.

En net daar trek my keel mos toe. Ons begin sing, maar my bewerige geskwiek ontstig my sangmaat so dat hy verbaas na my toe kyk. Algaande wroeg ons die lied darem deur, en daar is selfs ‘n mate van herstel, maar my oomblik is verby. Aan die einde het die bruidspaartjie vir oulaas so effens oorbluf teruggekyk en die diens het voortgegaan.

Agterna is ons nou nie juis met lof oorval nie. Sorrie, Doempie.

Toneel verskuif na ‘n paar jaar later, in die Baai. My kinders sing in die Oos-Kaapse jeugkoor, ek is daar voorsitter. Hulle oefen vir ‘n Kersdiens by ‘n ouetehuis. Soek ‘n solis vir “Jerusalem”. Kollig val op my wat daar rondstaan. Ek willig in. Blykbaar vergeet vroue ook van die pyn van vorige geboortes, anders sou hulle nooit weer kinders hê nie.

Ennieway. Aand daag op. Ons stel op, ek word met ‘n glimlag nadergewink, ek haal diep asem en wag vir die pragtige inleiding.

En toe. En toe.

Hier voor my sit ‘n klompie verwese oumense, uitgeleef, eensaam, wag die dood af. Beleef Kersmusiek wat moontlik van hulle laaste Kersfees ooit sal wees. Kersmusiek wat hulle dalk voorheen saam met hulle kinders gesing het, kinders wat nou oor die wêreld versprei is.

Al hierdie dinge maak my gemene verstand my wys terwyl my inleiding wegsterf deur die saal. En net daar trek my keel mos toe.

Die res hoef ek nie eers te vertel nie. My arme kinders…

Blykbaar is ek ‘n ou softie. ‘n Willose dryfhout in die emosionele branders van die lewe. ‘n Handpop van die pyn en die lag van die draaiinge van die heelal.

Ek moes dit lankal sien kom het. In die army kon ek nie die laaste taptoe by begrafnisse op die trompet blaas nie – wildvreemde grafte het my so ontstig dat ek net ‘n fwaap-fwaap-klank kon uitkry.

Behalwe nou die keer toe my maag omgekrap was. Dit moes so min of meer die mees pianissimo-weergawe van die laaste taptoe gewees het wat nog in Potch se begraafplaas weerklink het. Familie het met opgetrekte bolippe, hand-agter-die-oor nadergestaan om my te hoor. My oë was groter as die trompet se gat.

Deeskedae ken ek my plek. Ek brom bedees saam met die koor en droom van ‘n keer wat my stem dalk die ruimtes sal vul.

38 antwoorde op Die lied in my hart

  1. Hei Murph. Bly jy is nog op!

  2. Ai Klaas, ek sit en lag nou eintlik so lekker.. die moeg so vir ‘n wyle vergete! (maar ek moet nou in die bed kom!) Ek verstaan jou droom.. moenie ophou droom nie! Sing saam met die koor… bou selfvertroue op.. glo in jouself en volgende keer as die geleentheid hom voordoen vir ‘n solo… maak toe jou oë en laat die musiek jou vat na ‘n veilige, mooi plek en begin sing met jou ogies styf toe en laat die musiek deur jou spoel, jou ‘oorneem’ en dan eers maak jy jou ogies weer oop en kry vir jou een veilige gesiggie vir wie jy sing… dit werk!

    Bly om te sien jy skryf! 😀
    Mooi week!
    xx

  3. Dit klink na ‘n goeie plan. Mooi week vir jou ook!

  4. Jy skryf so mooi, Jan-Klaas.
    Daai keeltoetrek kom my ook gereeld oor (nie dat ek ooit ‘n noot alleen voor ‘n gehoor gesing het nie)

  5. Neander het gesê op September 6, 2010

    Toemaar Jan, ek kry ook steeds stagefright.

  6. Ek is bevrees, wanneer jy sing, sal jy en jou hart vir ‘n wyle moet skei! Lieeeeeflike stuk – vol lekker sinne!

  7. hoekom verstaan ek so goed wat jy sê? 😉

  8. Ek ook… ek dink as jy dit glad nie meer kry nie is daar iets fout… selfs Nianell kry nog vlinders elke keer as sy op ‘n verhoog stap…

  9. Dankie Natasha!

  10. Soos die fraai meisietjie wat op Afrikaanse E-nuus die weerberig lees…

  11. Ek kry motte.

  12. Nie die mense wat my moet aanhoor nie…

  13. Ek gaan Foxy se raad volg – my verbeel ek lê op die strand in Mauritius!

  14. Omdat ek dink ons klomp hier op die blogge het so ‘n bietjie van dieselfde klap weg…

  15. Soos ‘n vrind sê – op laerskool het die juffrou hom opsy geroep. Hy dag dis om ‘n solo te sing, maar toe maar sy hom ‘n toeskouer (en seker ook ‘n kritikus…)!

  16. Ek het so gedag, tot ek hier in die Oos-Kaap beland het. Ek kan nie ‘n klas doodskree nie, nou moet ek hulle maar vermaak!

  17. Selfde effek…

  18. Ek’t ook van daardie groot wingerd-motte gehad die enkele keer wat ek in die kerk die viool uitgepluk het… gelukkig sit ek meeste van die tyd agter die klavier en sing en dit is soos comfort food :D…
    Dit is al vir my baie makliker tydens die aanddienste wanneer ek ‘lead vocal’ maar wanneer ek nog erens moet optree met ‘n track stres ek my amper half simpel!

  19. Ek het nogal die moed. Dis die aandoenlikheid van die situasie wat my keel toezip.

  20. Ek verstaan dit maar alte goed! My ‘ergste’ sing ooit was by die doop van ‘n terminaal sieke ou babaseuntjie toe die ma gevra het of ek nie iets sal sing nie.. ek self was net so oor die 4 maande swanger… dit was die moeilikste sing ooit.. Genadiglik het die dominee onmiddelik na ek gesing het, gebid en kon ek darem die trane wat teen daardie tyd gestroom het so bietjie onder gebed tot bedaring probeer kry…

  21. Ek het vir jou ‘n boodskap gestuur. Ons wil McGregor toe kom.

  22. :¬}
    Jy moet maar soos vele kunstenaars maak, alles vooraf opneem en dan net lippe staan en trek!

  23. Berwick het gesê op September 6, 2010

    😉

  24. ‘n Mens met ‘n hart!

  25. 😉

  26. Nou daar is ‘n plan wat kan werk!

  27. Lyk my ek’s maar basies ‘n smartlap!

  28. He he. Ek verstaan!

  29. Hallo daar, Berwick.

  30. Bane of my existence.

  31. Trakie het gesê op September 7, 2010

    O, ek ken daardie gevoel! As kind moes ek eenkeer ‘n klassieke kitaarstuk voor ‘n oumensiegehoor speel en haak toe mos halfpad vas. Bloedrooi en verleë mompel ek iets en begin maar weer van heel vooraf. Die tweede keer kon ek dit darem deurgeworstel kry einde toe.

  32. As ‘n geleentheid te mooi is trek my keel ook toe en kom die trane sommer vanself!! Hugs!

  33. Uitstekend. Groter as die trompet se gat, seg jy?
    Ek het “Help me make it through the night” op ‘n Kareaokee aand saam my junior kollegas gesing en was eers hoorbaar as iets anders as ‘n brom vir die stukkie “I dont care whats right or wrong”….
    Ek was doodnugter en hulle was gesuip. Ek het na die tyd saam met hulle onder die tagfel gaan sit dat niemand my kan sien nie 🙂

  34. Groot respek, as jy klassieke ghitaar kan speel. Ek het myself probeer leer en soveel verkeerde dinge aangeleer dat dit nou onherstelbaar is. In elk geval verstaan almal by so ‘n moeilike instrument as jy vashaak, maar almal dink hulle kan sing!

  35. Veral vandat ek vyftig jaar oud was.

  36. Toemaar, yesterday is dead and gone…

  37. Ek weet ook van keel toetrek met emosie. Daar’s raad: Gaan in jou kop in na ‘n plek waar jy uit volle bors kan sing. Soos byvoorbeeld onder ‘n waterval met die water wat om jou raas. Dis my gunsteling “trance” as ek stage fright kry.

  38. Sies Gidi. Waar was jy toe ek jou nodig gehad het?!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.