Jy blaai in die argief vir 2010 September.

Die main mac van McGregor

September 28, 2010 in Sonder kategorie

Die kuier, laasnaweek in McGregor, was ‘n reusesukses.

Die hemele het oopgemaak en dit vir Jan Klaas moontlik gemaak om na brêg-mode toe oor te skakel met sy grênd nuwe teleskoop. My hartlike dank aan al die dierbare familie en vrinne wat geduldig daar rondgestaan het en die nodige “oe” en “aa” geluidjies op die regte tye gemaak het.

Arme Monica en haar mooi dogter moes dit ook deurmaak. Dogter het haar wraak gekry deur vir Jan Klaas presies al die sterrevrae te vra wat hy nie kon antwoord nie. Maar, gesoute dosent wat hy is, is sy daar weg met die indruk dat sy wel die antwoorde gekry het.

Dis ‘n fraai plekkie, een van die interessantes onder die boetiekdorpies soos Hogsback, Nieu Bethesda, Prince Albert en Knysna. ‘n Stap deur die dorpie is soos om deur ‘n ensiklopedie te blaai – elke huisie het iets unieks en kykbaars in plante, boustyl of inwoners. ‘n Kenmerk van so ‘n ou dorpie is ook dat dit seker elke soort blomboom bevat wat nog uitgedink is, so jou spesifieke bron van hooikoors sal sekerlik een of ander tyd daar feature.

Lekker gekuier ook. Kon nie ophou nie!

Wenk: verbied familie om van die omgewing se heerlike droëperskes te beknibbel voordat jy die lang pad huis toe aanpak.

I will return one day.

My nuwe liefde

September 21, 2010 in Sonder kategorie

Sowat veertig jaar nadat die eerste verlangens begin roer het, het ek uiteindelik die stoute crocs aangetrek en vir my ‘n stewige teleskoop gekoop. Waar ek voorheen net die onderste sterretjies se boudjies kon kielie, kan ek nou met mening inklim en die groot boelies daar agter se tande gaan bevoel.

 

‘n Toonbeeld van tevredenheid.

Soos blykbaar tradisioneel met sulke dinge, het ons nou al die afgelope week bewolkte nagte. Sluwe beplanner wat ek is, wil ek onder die wolke en die Baai se rookmis uitsluip en ons hierdie naweek by die pragtige dorpie, McGregor, gaan inboek. Daar kan ek en Rosie-met-dorings sommer ook arme Monica se verjaarsdagpret gaan bederf met ‘n mini-MOB, net ingeval die weerman my sien kom en die Kaap met mis besprinkel.

Met die volmaan is dit ook nou nie juis die ideale tyd vir sterrekyk nie, maar beggars can’t be choosers. Die voordeel van McGregor is die baie ander dinge wat jy kan gaan bekyk, nes in Nieu-Bethesda.

Ek vermoed ek sal na die naweek baie te vertelle hê!

Die lied in my hart

September 5, 2010 in Sonder kategorie

Ek is baie lief vir sing.

Moenie my vra waar dit vandaan kom nie – dalk het die Klaas-voorouers mekaar aandete toe geroep oor die hol vlaktes van Holland. Dalk was dit deel van die paringsritueel van my hariger oerouers, maar sing, sing ons graag.

Moet nou nie dink dat ek met ‘n wondersoete stem bedeel is nie, like the sound of a great Amen… My stem is by uitstek ‘n koorstem, die garden variety plekhouer – bestendig en ferm van voet, maar nie die soort stem wat pragtige vroue se oë wasig maak nie. Nee, eerder die soort hysbakstem wat dien as agtergrond terwyl die mensdom aangaan met hul dagtaak om wêreldvrede te bewerkstellig.

Wat effens tragies is, want Vader Klaas had ‘n Stem Van Formaat. Kleinjan het menige familietroue bygewoon waar die resonante, sonore klanke van Vader Klaas se sang die volk betower en besiel het.

Daar was, natuurlik, die odd geleentheid waar ambisie en oormoed die oorhand gekry het, waar ek van vroeëre vernedering en pyn vergeet het en myself beskikbaar gestel het om ‘n solo, of duet te sing.

Toneel: Familietroue. Ek het ‘n vrind omgepraat om saam “God sal u veilig lei” vir die mooi paartjie te sing.

Voor die tyd was alles so reg en mooi. Ons stemme het elke holtetjie en hoekie van die kerk gevul. Ons was die helde van Hartbeeshoek, ‘n soet geur en ‘n toonbeeld van hoop. ‘n Tonikum vir die gees.

Toe ons beurt kom en ek opstaan, gryp die hele situasie my aan die hart. Daar staan die pragtige paartjie – hulle kyk op na ons, hulle plaas hulle hoop, hulle drome in hierdie kosbare oomblik op ons.

En net daar trek my keel mos toe. Ons begin sing, maar my bewerige geskwiek ontstig my sangmaat so dat hy verbaas na my toe kyk. Algaande wroeg ons die lied darem deur, en daar is selfs ‘n mate van herstel, maar my oomblik is verby. Aan die einde het die bruidspaartjie vir oulaas so effens oorbluf teruggekyk en die diens het voortgegaan.

Agterna is ons nou nie juis met lof oorval nie. Sorrie, Doempie.

Toneel verskuif na ‘n paar jaar later, in die Baai. My kinders sing in die Oos-Kaapse jeugkoor, ek is daar voorsitter. Hulle oefen vir ‘n Kersdiens by ‘n ouetehuis. Soek ‘n solis vir “Jerusalem”. Kollig val op my wat daar rondstaan. Ek willig in. Blykbaar vergeet vroue ook van die pyn van vorige geboortes, anders sou hulle nooit weer kinders hê nie.

Ennieway. Aand daag op. Ons stel op, ek word met ‘n glimlag nadergewink, ek haal diep asem en wag vir die pragtige inleiding.

En toe. En toe.

Hier voor my sit ‘n klompie verwese oumense, uitgeleef, eensaam, wag die dood af. Beleef Kersmusiek wat moontlik van hulle laaste Kersfees ooit sal wees. Kersmusiek wat hulle dalk voorheen saam met hulle kinders gesing het, kinders wat nou oor die wêreld versprei is.

Al hierdie dinge maak my gemene verstand my wys terwyl my inleiding wegsterf deur die saal. En net daar trek my keel mos toe.

Die res hoef ek nie eers te vertel nie. My arme kinders…

Blykbaar is ek ‘n ou softie. ‘n Willose dryfhout in die emosionele branders van die lewe. ‘n Handpop van die pyn en die lag van die draaiinge van die heelal.

Ek moes dit lankal sien kom het. In die army kon ek nie die laaste taptoe by begrafnisse op die trompet blaas nie – wildvreemde grafte het my so ontstig dat ek net ‘n fwaap-fwaap-klank kon uitkry.

Behalwe nou die keer toe my maag omgekrap was. Dit moes so min of meer die mees pianissimo-weergawe van die laaste taptoe gewees het wat nog in Potch se begraafplaas weerklink het. Familie het met opgetrekte bolippe, hand-agter-die-oor nadergestaan om my te hoor. My oë was groter as die trompet se gat.

Deeskedae ken ek my plek. Ek brom bedees saam met die koor en droom van ‘n keer wat my stem dalk die ruimtes sal vul.