Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

His master’s voice

Augustus 30, 2010 in Sonder kategorie

En daar lê hy. My getroue ou harlekyn-handpop. Effens verweer, die opstopsel peul so hier en daar uit, maar daar is ‘n tevrede blik in die half skeel oë.

Jan Klaas was my getroue ou spreekbuis, maar hy was op die ou einde so baie meer as net dit. Hy het my die vlerke gegee om saam met grotes te kan vlieg. Hy het my die geleentheid en die selfvertroue gegee om al die ou opgekropte stories, belewenisse, gevoelens en verse te kan deel.

Hy het my toegelaat om te skryf, skryf, skryf… Ek het soveel geskryf dat ek myself in die geledere van die kreatiewes begin tel het. Op my semi-oudag het ek myself in ‘n nuwe lig begin sien en het die lewe sommer ‘n nuwe dimensie bygekry.

Hy het my die vrymoedigheid gegee om met nuwe mense te skakel. Op sy pront en voorbarige manier kon hy indons waar ek self te lugtig is om te trap. Ek kon gesels en kosbare gedagtes deel met mense wat my normaalweg nie eers sou raaksien nie. Ek kon selfs, danksy hom, dierbare nuwe vriende maak en geesgenote ontdek omdat hy geen flenter omgee vir die beperkende etiket wat ons van vreemdes af weghou nie.

In net ‘n jaar se tyd het die ou karnallie ‘n deel van my geword. Ek betrap myself dat ek in sy terme dink en dinge volgens sy ritme en raamwerk fraseer.

Tog is dit asof ek in die laaste tyd begin swaarkry om hom aan die lewe te hou. Sy lewensbloed, die staaltjies, het haas opgeraak. Ek het my lewenslyn op en af voos gaan trap om te dink wat ek nog daaruit kan wurg wat darem tog vermaaklik genoeg is.

Ek kan nie, soos baie mense, hier ‘n dagboek onderhou nie – daarvoor is my dag-na-dag bestaan te saai. Ek het ook nie sulke sterk opinies oor dinge dat ek hier ‘n houding kan kom gooi nie – ek sal oor ‘n week vergeet wie se kant ek verdedig het!

Dalk het dit oplaas tyd geword om ander wêrelde te gaan ontdek. Dalk is die tyd ryp om ‘n eie storie te gaan skep, ‘n eie boek te skryf.

So, wat maak ek? Ek kan hom mos nie weggooi nie.

Ek dink ek gaan die ou hier langs my bed hou, en hom van tyd tot tyd inroep om weer namens my te praat, maar dan net wanneer ek regtig iets het om te sê. En, ek gaan darem nog getrou my vriende se blaaie bly besoek. Julle het ook deel van my geword.

Sondag

Augustus 22, 2010 in Sonder kategorie

Yl vroeg-jaar oggendson

flous my

tot ‘n troebel liturgie

van doen, dink,

dank,

sing, sing.

‘n Dagbreker knip-knip,

sing huiwerig saam

– ek dink hy dink

ek’s glads te skaam

Aug 2010

In die skadu van OR Tambo (die lughawe)

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Net nog ‘n kortkursus het skielik ontaard in een van die prettigste leersituasies van my loopbaan!

Drie-en-twintig mense, in ‘n te klein lokaaltjie ingewurg, is dalk ‘n broeikas vir onheil.

Dis ‘n skerp groepie wat nie skroom om saam te speel en stywe vrae te vra nie. Soms kan ek amper gaan sit en die spel net dophou.

Wat dit eintlik spesiaal maak, is die groot klomp grapmakers in die groep. Ek het vanaand effens hoofpyn van die lag – dalk het ek êrens ‘n streppie gesnep.

Van die vertellinge:

Pietman was op die grens, maar op pad kroeg toe het hy ‘n taamlike ernstige sny in sy been gekry. Binne is daar nie ‘n tekort aan hulpvaardige kitsartse wat die wond wil help toewerk nie, sommer met naald en gare (bruin army-issue). Die volgende dag word Pietman met ‘n seer been wakker. Die wond is nog oop, maar langs die hele lengte van waar die bloed oor sy been afgeloop het, is daar ‘n kruissteek.

Ander een. Recce val uit die vliegtuig uit, valskerm wil nie oopgaan nie. Recce spartel en spook en kry uiteindelik die valskerm oop. Val egter op ‘n huis se dak. Breek toe sy arm in ‘n poging om van die dak af te klim.

Laaste een: Ratel-troepedraer hou per ongeluk stil op lêende troep se been. Groot paniek. Sersant besluit om die troep uit te slaan vir kitsverdowing, terwyl hulle sy been afsit. Toe Ratel weggesleep word, sien hulle troep se been het in die sagte sand ingetrap en makeer niks. Troep moet egter behandel word vir ‘n gebreekte kakebeen.

Sien skoon uit na more.

Bemoeienis met primaria

Augustus 18, 2010 in Sonder kategorie

Ek het my aanstaande skoonouers onder aardige omstandighede ontmoet.

Hulle Kombi het voor Huis Madelief stilgehou en die twee ongemaklik opgetofte figure het stram-stram uitgeklim. Ons het nadergestap en Vroulief het my voorgestel. Dit was nie ‘n besonder hartlike groet nie.

Maar eers, die agtergrond.

Vroulief was die eerste primaria van Madelief. Van nature is sy ‘n soort van rebel, en sommige van haar onortodokse doenwyses het haar statige huismoedertjie nie beïndruk nie. Miesies Hugo het haar groepie ‘dogters’ met ‘n ysterhand regeer. Serenades na sewe-uur is by daardie koshuis verbied omdat haar krosie dalk mag ontwaak. Dit het ek een aand agtergekom toe kampussekuriteit met skreeuende remme langs ons stilgehou het, net toe ons met ons volgende meesterstuk lostrek om my nuwe beminde se hart te roer.

Om die tweedejaars behoorlik in te lyf, het Vroulief en haar kornuite op die HK ‘n plan saam met kollegas van Onderstepoort gesmee om die groepie op ‘n nagmars te stuur. In die proses het van die manne, soos te wagte, bietjie oorbesiel geraak, die groepie deur ‘n beeskamp laat loop en mag in die proses selfs ‘n bietjie van die grondstof daar in die lug versprei het.

Terug by die koshuis, is ouers terstond gebel en het die voorspel vir ‘n groot tragiese opera begin. Miesies Hugo het geluide gemaak van skorsing en what not, en Vroulief was in die algemeen op dun uys.

Enter ouers from the left (vanaf ‘n plaas op Potties), om die ‘hearing’ by te woon. Dis waar my terloopse ontmoeting ook inpas.

In elk geval, voor die destydse Prof Idi Hamin het die verhoor toe taamlik op die trant verloop dat Me Hugo haar lys waarin sy boekhou van die kwaad sedert haar eerste ontmoeting met Vroulief, met aansienlike passie en groot oortuiging voorgelê het. Ek vermoed daar was ook ‘n moeder wat haar kom uitspreek het op die nadelige effekte van beesmis op ‘n delikate gelaat.

Al hierdie stedelike werkinge moes my arme skoonouers met groot ontsag deurluister.

Tot sy groot krediet het Prof. Hamman na die tyd die twee oumense ingeroep en sag aan hulle verduidelik hoekom hierdie oortreding, wat op die plaas so triviaal klink, vir dorpsmense so ernstig is.

Die uitkoms van die gedoente moes Me Hugo grondig mishaag het. Vroulief kon aanbly in haar rol, maar haar nie beskikbaar stel vir die volgende jaar se verkiesing nie. Dank Vader daarvoor, want in daardie jaar het ons getrou!

Ons het Me Hugo onlangs in die Mall by George raakgeloop. Vreemd genoeg het sy ons nie herken nie.

Op pad

Augustus 17, 2010 in Sonder kategorie

Tussen treine, tussen stasies…

Gewoonlik maak lughawens en stasies die digterlike in my wakker. Gelukkig kry ek die bliksem gewoonlik weer aan die slaap.

Dit het seker iets met die trauma van afskeid en die warmte van welkom te doen. So asof die stasie ‘n vergestalting is van my eie heengaan, my eie tuiskoms.

Ennieway. Hiessik op pad Boksburg toe om nog ‘n groep onskuldige slagoffers te gaan mislei en bedrieg.

En onwillekeurig (ek het hierdie woord laas in matriek gebruik), onwillekeurig… Oeps. Dem. Nou het ek myself onderbreek en het ek nie ‘n hoogdrawend genoeg sin wat by daardie deurlugtige woord pas nie.

Ennieway. Ek dink toe nou sommer terug aan hoe my dag begin het. Ry so min of meer voor ‘n klein motortjie in wat maar self vanuit ‘n dwarsstraatjie ingewals kom. En daar trek die fraaie bestuurderessie op my los met ‘n toeter wat die hare oor my bles kuif vorentoe waai.

PMS, dag ek. Mens kan dit sommer sien in die “ek moer jou” manier waarop sy haar kuifie kam. Gooi toe maar my beste bejaarde kyk en ploeter vrolik voort.

Dit laat my toe ook dink aan my trip Kaap toe, toe ek my wagen so half volgeladen het met oude wijfjen. Oukei, twee wijfjen. En ook nie so oud nie (dit moet ek sê as ek ooit weer kos op my bord wil hê).

So naby Plett hoor ek ‘n venster agter word effens oopgedraai. Ou taktiek van myself om subtiel diffusie-ewewig te kry as ek ‘n loepie gepos het. Glimlag dus maar soetjies en samesweerderig in die spieëltjie vir die perpetreerder, maar sy glimlag net soetjies terug. “Hot flush!” lê sy die tergende raaisel uit.

Toe ry en wonder ek nou – sou ‘n mens nie ‘n soort stadige dieselenjin met so ‘n groepie vroue kan maak as ‘n mens die hot flushes gesinkroniseerd soos gloeiproppe kon aan- en afskakel nie?

Dofgelees maar lus

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek sit in my lazyboy met dowwe oë van leeswerk, maar ek is ‘n Man met ‘n Missie.

Ek het al vantevore geblog oor die jaarlikse sterrereëns wat op die selfde datums terugkom. Dis natuurlik soos die aarde op sy pad om die son deur die stof, chipspapiere en leë blikkies van ‘n ou komeetbaan trek, en daardie stukkies val dan deur ons atmosfeer.

Wel, elke jaar op die regte tyd is dit natuurlik bewolk of volmaan of iets. Op die oomblik is daar egter ‘n sterrereën waarvoor die toestande amper ideaal is. Laat vannag is die beste tyd, maar moreaand behoort daar nog ‘n paar te wees. In die verlede is daar in donker areas tot 60 verskietende sterre per uur raakgesien, maar my ambisies is om darem een te sien. Die huidige Perseïde-sterrereën is, na bewering, een van die jaar se bestes.

Ek het myself natuurlik benadeel – met my moeggeleesde piepie-ogies gaan ek probeer om iets in Port Elizabeth se geel ertjiesop-donker te siene te kry.

Ek kan natuurlik nie sit en niksdoen nie, so ek beloof om in hierdie stille tyd net aan julle te dink.

Netbal-kwotas

Augustus 11, 2010 in Sonder kategorie

(SKAPA-AP) Vanuit Potchefstroom, waar die nasionale netbalkampioenskappe tans afspeel, word berig dat daar groot opgewondenheid heers oor die nuwe reëls wat in die toekoms gevolg gaan word.

 

Na aanleiding van die baie suksesvolle eksperiment betreffende raskwotas, waarin ‘n span reeds aan die aanvang van ‘n wedstryd vyf punte kan verdien as hulle ‘n swart/wit of wit/swart kwota van 5/7 of 7/5 handhaaf, gaan die stelsel in die toekoms uitgebrei word.

 

In die vervolg kan ‘n span pro rata punte verdien deur bloot die samestelling van die span te manipuleer. Vir elke swart lid in die span word daar sewe punte toegeken, met dus ‘n moontlike totaal van 77.

 

Toernooie sal nou voortaan op ‘n trekkingsbasis plaasvind. Die spanleiding sal hulle spankeuses in ‘n koevert plaas, en op die afgesproke tyd sal Me. Mimi Mthethwa, die president van Netball South Africa, in die teenwoordigheid van Dr Mankekesi Stofile die koeverte oopmaak. Die span wat dan die hoogste punt het, wen die toernooi. By die jaarlikse kampioenskappe hoef spanne dus net hulle pakkies koeverte met spankeuses, en hul vyftien sportadministreerders te stuur. Die hotelbesprekings sal sentraal gedoen word omdat daar ontdek is dat sommige streke nie weet waar die beste hotelle en restaurante in die gekose dorp is nie.

 

Daar word voorsien dat daar ook ruimte gebied kan word vir deelnemers aan die sport om ‘n bal vir ‘n wyle rond te gooi, in soete herinnering van die jarelange tradisie van voortreflikheid en mededinging. So ‘n rondgooiery mag egter nie punte tel nie omdat dit as diskriminerend beskou word.

 

Volgens Me Mthethwa behoort daar nie probleme te wees om die internasionale netbalwêreld van die meriete van hierdie moderner, revolusionêre tipe spel te oortuig nie. Daar is blykbaar alreeds sterk tekens van steun vir hierdie patroon vanuit Zimbabwe, Rwanda en Swaziland.

I shall sing, sing my song

Augustus 11, 2010 in Sonder kategorie

Hoekom blog?

Ek weet ek het die saak al so ongeveer in ‘n toentertydse blog aangeroer, so ek is nie besig om heeltemal kjens te word nie. Dis net dat ek nou nuwe insigte oor die saak het.

Hoekom sing? Hoekom skryf? Hoekom dig? Hoekom enigiets kreatief doen as jy nie noodwendig ‘n skitterende sterretjie daarin is nie?

Die vraag kom gereeld by my op as ek iemand sien goed kitaar speel, of as ek ‘n asemrowende vers lees soos die onlangse een van Klarisabet, of as ek ‘n lied hoor met aangrypende lirieke. Dan twyfel ek oor my eie bydrae en is ek sommer ‘n ruk lank stil. Soms sien ek self die leemtes raak, ander kere help ander jou. Soos die baie netjiese, subtiele kommentaar eenkeer by ‘n blog van my waar ek ‘n vers geplaas het waarop ek taamlik trots was. Die kommentaar: “Nice foto!”

Ek moes lag. Die foto was ‘n klein bysaak.

En dan, die insig. Hoe ‘n troostelose wêreldjie sou dit nie gewees het as net die bestes toegelaat was om te skilder, om te dig en om te sing nie. Geen blomme nie – die mooistes staan in ‘n museum in Engeland. Ons hoor dieselfde musiek heeldag lank, gepleeg deur virtuose. Amateurskilders se verf en kwaste word gekonfiskeer – dis Rembrandt se domein. Slegs die meesters durf films maak of boeke skryf. Daar is ‘n stel verloopte Idols-beoordelaars wat sê wie mag sing en wie nie.

Dis soos die plant van monokulture – groot groen landerye van eenselwigheid, terwyl die ware rykdom juis in diversiteit lê, soos die ryke fynbos van die Kaap of die bome aan die Transkeise kus. Dit is die veelheid van invloede en insigte wat musiek, literatuur en gedigte verryk, sonder dat dit ‘n ‘n dwangbuis gedruk word deur eng opinies, modes en voorskrifte.

Dis die een kant van die saak, en dan is ek nog nie eers by my punt nie.

Ek reken ‘n mens leef net hierdie een keer op hierdie blougroen aardbol. En dat die meeste mense kan kies hoe hulle dit doen.

Ek kan kies om soos ‘n dun liggie aan die firmament verby te skuiwe, soos ‘n skaam satelliet, en net my eie dingetjie te doen wat ek glo ek goed kan doen.

Of, ek kan kies om soos ‘n manjifieke vuurbal verby te suis, met al die motore wat brand, met vingers, tone en hare wat suis en krap aan die omgewing soos ek al die moontlikhede ondersoek van wat ek kan en wil doen. Dan sal ek sing, ek sal skryf, ek sal dig, toneelspeel en alles probeer wat ek kan. Ek sal weier om te sit en tob oor al die halfvol talente en verspeelde geleenthede. Ek sal nou begin en probeer wat ek kan, bloot omdat ek kan.

Ek hoef nie om verskoning te vra as die vlam nou nie so danig helder skyn nie – dis my blerrie vlam en niemand anders kan presies op hierdie wyse skyn nie.

Dan sal ek nie eendag op my sterfbed lê en tob oor wat ek nog graag sou wou doen nie.

‘n Ridder

Augustus 10, 2010 in Sonder kategorie

“Onthou jy toe Peet…”

Terwyl sy dit sê is daar ‘n klammerige glans in haar blou oë.

Laetitia is ‘n mooi vrou. Sy was nog altyd mooi.

Op skool was sy so min of meer ons almal se droom, maar met haar markwaarde was haar ambisies eerder by die manne in die ouer standerds. Tot haar opsies in die matriekjaar ’n bietjie uitgedun geraak het en sy en Peet begin uitgaan het.

Dis nou Hoërskool Dr Malan se 50-jaar herdenkingsfunksie. Ons sit ou foto’s en deurkyk en lag soms half verleë.

Haar woorde gaan oor ‘n daad van ridderlikheid wat amper veertig jaar gelede met haar gebeur het, maar wat nog steeds haar oë kan laat traan. Ten spyte van al die trane, lag, droom en bitter wat intussen met haar gebeur het.

Ek moes die woord “ridderlikheid” omtrent in die woordeboek gaan opsoek, so argaïes het dit geword. Selfopoffering, ja wel, dit hoor jy baie van, soos ‘n by wat sy lewetjie opoffer ter wille van die bynes. Mense wat hulle eie lewens op die spel plaas om ander te red, al is dit vreemdelinge. Eienaardige manifestasies van menswees, en tog sien ‘n mens dit dikwels.

Ridderlikheid is iets bra anders. Iets van ‘n ouwêreldse grasie, waar iemand homself minder ag as ‘n ander, waar ‘n man sy baadjie in die modder sal gooi sodat madame uit die koets kan klim. Iets met ‘n element van respek en van agting, veral van ‘n man teenoor ‘n vrou.

Dis die Biologieklas, naby die einde van die dag. Almal is maar moegerig en knorrig.

Meneer Strachan is besig om die huiswerk na te gaan en die nodige lyfstraf uit te deel.

Hy kon goed slaan en het geredelik hierdie gawe met ons gedeel. Die seuns het eerste deurgeloop, die uwe ook, en dit was die dogters se beurt. As hulle werk nie gedoen is nie, het hulle ‘n paar houe op die hande gekry.

Laetitia se beurt. Sy weet sommer hy hoef nie eers in haar boek te kyk nie, en staan op vir die houe. En toe, Peet se woorde: “Ek sal haar pak vat, Meneer!”

Doodse stilte. Dít is woorde wat nie een van ons al ooit gebesig of gehoor het nie. Meneer Strachan se oë knip-knip.

“Wat sê jy?”

“Ek sal haar pak vat, Meneer.”

Sonder enige verdere woorde stap Meneer na Peet toe en gee hom sy tweede stel houe vir die middag.

Ons ander het verstom bly sit.

Hier het iets groots gebeur. Te groot vir ons om te verstaan.

Die ware ekke

Augustus 7, 2010 in Sonder kategorie

Groot verrassing toe vriendin Roosdoring ons Vrydag saamsleep om Therina te gaan ontmoet. Groot voorreg – wonderlike mense!

Soos ek my forse gestalte uit die motor ontknoop, sien ek die verbasing op Therina se gesig. Sy was blykbaar onder die indruk dat ek ‘n klein, bedeesde mannetjie is, in plaas van ‘n berg, ongebuk, breed en bonkig van stuk.

Soos vroulief uitwys, moes Theriens my al die jare gesien het draende aan my ou klein koffiekannetjie, stappende na my werk vir die honderdste maal.

En dit het my laat nadink. Dogter reken dis omdat ek so baie bol skryf. Vrou reken dis omdat ek myself so pateties voorstel.

Hiermee, dus, my voorneme om in die vervolg sterker, meer manlike tone te gebruik. Meer b’s, k’s, a’s en erre. Meer breë klanke en verwysings na rugby en rofstoei. Meer verwysings na ‘n vrou se plek voor die stoof.

In kort, verwag dus tekste gelaai met testosteroon. Me Tarzan, you Jane.