Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

Paspolisie

Julie 26, 2010 in Sonder kategorie

Sta’ ek my nou hier en opwerk terwyl my studente ywerig aan die berekenings sit en zoem.

Het so pas ‘n rondgaande e-pos gekry waar Nataniël sy voorskrifte en afkeure uitspreek oor wat mans en dames behoort aan te trek.

Asof.

Hoe gebeur dit dat ‘n man, wat sy lewe lank self moes veg om sy eie andersheid en uniekheid te regverdig, hier voorskrifte uitdeel van wat ander moet doen om by sy ideale wêreld in te pas en te konformeer?

In daardie wêreld dra ons almal elegante goedjies, met duur etikette, wat presies pas, wat nuut en kleurgekoördineer is. In daardie wêreld staan ons ure voor ‘n spieël en druk hier en trek daar, om tog nie iets te vertoon wat die res van hierdie wêreld aanstoot kan gee nie. O, en sommer bad luck ook vir dié van ons wat nie by die standaardnorme van vorm en inhoud inpas nie – vir ons is die reëls sommer nog strenger. Ons moet verkieslik so bland as moontlik aantrek, anders sien die ideale mense van die ideale wêreld ons raak en skaam hulle dalk vir ons.

Wat is dit met ons dat ons so hard werk om in te pas, om deel van die heersende norm te wees, om in die stroom te swem en net nie uit te steek en opgemerk te word nie? Hoekom aanvaar ons konformeer-reëls van interessante, maar eienaardige mense wat hulleself die reg toeëien om te sê dat die res van ons soos hulle moet aantrek?

Stel jou die lushof voor, as elkeen kon besluit om sy eie reëls binne fatsoenlike norme (oeps) te kon volg. Stel jou die vreugde van verskeidenheid en diversiteit voor, die vrystelling van ‘n blomtuin van skeppende krag. Dis soos die verskil tussen ‘n mielieland en ‘n fynbosveld.

Maar nee, hier loop ons almal met ons denims, ons tekkies, ons designer-sweetpaktops en ons beperktheid in ons kunsmatige hokke. In ander lande dwing hulle selfs streng klerereëls af om by hulle eng visie in te pas. Nou wil ons dit aan onsself doen!

Groot respek vir die rebelle, sy wat aan haar laat hang wat sy wil, hy wat sy langbroek met ‘n tou vasmaak, wat verskillende kleure sokkies dra. Ek salueer julle.

Om te knierts

Julie 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek het geknierts.

En, nou voor jy jou bril en die HAT gaan soek – daar is nie so ‘n woord nie. Nog nie.

Ek voel net daar moet een wees, vir die Ingelse woord om te ‘cringe’. Dis net nie dieselfde om te sê ek het ‘ineengekrimp’ nie – dis te teatraal en dan weer nie kras genoeg nie.

Voor ek by my punt kom, eers ‘n bietjie agtergrond. En, as jy die haastige soort is, kan jy dalk solank vir jou ‘n bier gaan haal terwyl ek hier afgaan.

Vir my kry woorde ‘n al hoe dieper betekenis namate ‘n mens vorder van gewone teks, via gedigte tot by lirieke. As ek ‘n stuk teks lees, is dit soos ‘n gewone gesprek, ongefiltreerd, iets wat ‘n mens maar so terloops kan optel terwyl jy die blaarslaai uit jou hamburger uit vis.

As ek ‘n vers lees, is dit die essensie van die betekenis, of bedoeling wat vir my oorbly. Dan raak elke woord goud en kosbaar. Met verse moet ek oplet, want hier word iets groter en dieper waarskynlik bedoel. Dan is hier ook heeltyd ‘n gevaar dat ‘n ou met louter twak kan wegkom, onder die dekmantel van obskuriteit, omdat hy/sy dalk bloot sukkel om rym te maak.

Sover niks snaaks nie, en ek sien hier jou gereelde Litnetlesers se bolip meerderwaardig krul terwyl hy/sy ‘n lui rookwolkie uitblaas.

Wanneer ek egter lirieke hoor, is dit asof die woorde summier in marmer uitgekap is. Dan aanvaar ek sommer blindelings dat daar groot skeppende kragte betrokke was en dat die bedoeling van die woorde noodwendig Diep en Waar sal wees. So shoot me, dis hoe ek aanmekaargesit is.

In die verlede het dit my keer op keer gepootjie. Ek het betekenis probeer sien in ‘Mamy Blue’, ‘The third of May’ en selfs ‘Jennifer Juniper’, terwyl daar blykbaar nie betekenis was nie. Maar so is dit vir my – ‘n liefdeswoord wat gesing is, sny regdeur my verdediging en gaan lê direk op my hart, bloot omdat dit gedra is op die sluwe vlerke van ‘n melodie. ‘n Wysie kan ‘n pretensieuse pedanterie* soos die destydse desiderata* na wyse spreuke laat klink. ‘n Musiekvideo kan my gees in ‘n drillende hoop slobberende jellie verander, of dit jubelend, soos ‘n afkophonder oor die vlaktes laat huppel. ‘n Wysie is die skede wat die teks reguit in jou gevoel in stuur.

Ja, lag maar. Jou beurt sal kom.

Ennieway, dis die inleiding. Nou my punt.

Ek ry in my kar in Marine Drive en kyk verveeld na die klein, plassende, spierwit brandertjies op die donkerblou moresee. Ek skakel die radio aan – RSG.

Dis Lianie May. Nou kyk, ek het ‘n sagte plekkie vir die girl. Toe sy laas daardie stadige “Ek sal by jou staan” begin sing het, het ek geweet ek wil haar kind hê. Ek was voor in die tou om haar CD te koop, wetende sy sal by my staan.

Wel, sy het nie. Hier trek sy los met “Ek het gedroom van ‘n plek waar die son nooit gaan set”. Net so. Gaan set, sodat sy hom (nie die son nie, die held) blykbaar kan gaan red.

Die knierts was hier nog net halfpad. Wie weet, dalk het hulle gesette sonne in die Vrystaat. Maar, toe noem sy die held haar by-hybie. ‘n Moerse groot man met ‘n baard is haar by-hybie, petieterige klein dingetjie wat sy is. Knierts hier volkome. Waar praat mense so?

Ek weet zef is nou ‘n genre, maar kommen val nog êrens tussenin.

Dit het ook nie gehelp om die musiekvideo te sien nie – dis ‘n man met ‘n perd, baie ander perde, fraaie Lianie en ‘n dam. G’n enkele by-hybie in sig nie. Net perde. En ‘n dam.

Daar is troos – in Oom Bles se jare was elke liedjie kniertskapabel, nou is daar darem weer hier en daar marmerwoorde, so tussen al die stamp, rugby en bokkies.

*Let hier op die outeur se subtiele aanwending van alliterasie…

Spytig…

Julie 18, 2010 in Sonder kategorie

Edith Piaf sê sy het geen regrets nie. Frank Sinatra sê hy het wel ‘n paar, maar eintlik te min om op te noem (hy sê ook doebiedoebiedoe, so sy oordeel is seker nie bo verdenking nie).

Hoe sal mens dit in Afrikaans sê: spyte? Spytighede?

Wat is jou groot spyte? Ek dink die dinge waaroor mens spyt is, sê meer van jou as dit waaroor jy bly is!

As ek my lewe kon oorleef, sou ek dit sekerlik weer presies so wou leef. Kyk wat het ek – vrou, kinders, familie, vriende, ‘n lekker huis, ‘n lekker werk en vrede. Die dom besluite wat ek gemaak het, het toe tog op die ou einde ten beste uitgewerk, en baie daarvan het mense hopelik al vergewe of vergeet.

Tog is ek oor ‘n paar dinge spyt. Met die bravade wat anoniem blog ‘n mens gee, gaan ek hier vir myself probeer om my eie vernaamste spyte op te noem. Miskien voel ek more anders oor die keuse, maar hier is hulle.

Ek is spyt oor die mense wat ook vir my lief was, wat ek seergemaak het. Baie seer.

Ek is spyt ek het ver weggetrek van mense vir wie ek baie omgee.

Ek is spyt ek het nooit genoeg op ‘n enkele ding gefokus om uitnemendheid daarin te kon bereik nie.

Ek is spyt ek het Henning verwaarloos. Ek was sy vriend. Ek kon nie weet hy sou homself skiet nie.

Ek is spyt ek het Ouboet verwaarloos. Ek het nie geweet jou leefwyse kan jou doodmaak nie.

Ek is spyt ek het nie my kinders meer aangemoedig om musiek te oefen nie. Hulle het die talent, maar kon sover nog nie die vreugde van musiekmaak behoorlik smaak nie.

Ek is spyt ek het my fisiese ontspanning verwaarloos. Tennis was ‘n groot en lekker deel van my jonkwees.

Ek is spyt ek kon nie ook ‘n loopbaan kies wat my sou toelaat om meer met die natuur te doen te hê nie. Ek was bevoorreg om wel ‘n klomp interessante goed te doen, maar ek beny die mense wat in die veld mag bly en betaal word daarvoor!

Ek is spyt ek het een aand, twintig jaar gelede, so lekker gekuier dat ek my mooi ghitaar, waarvoor ek so lank gespaar het, blykbaar vir ‘n ander een omgeruil het.

Ek vermoed spyte werk hulleself op die een of ander manier uit, behalwe spyt oor die skades wat soort van onherroeplik was. En, as ek my lysie so kyk, lyk dit asof daar ‘n paar is waarvoor daar nog hoop is!

Hier kiep-kiep

Julie 13, 2010 in Sonder kategorie

Die sensuele geur van die sappige geskenkte koejawel wat deur my kantoor vloei, herinner my so taks aan hoe ek Sondag kwylend voor die oond in die kombuis gestaan en wag het. Die uitdrukking op my gesig wat vanuit die donker oondglas teruggestaar het was so min of meer dieselfde as die een waarmee ek Baywatch kyk.

 

Dit was soos om Pinkpolkadot se blogblad te besoek – die heerlikste geregte word sommerso daar uitgestal, in so ‘n mate dat ek net soontoe gaan as ek lekker versadig geëet is, anders is daar kortsluitings op my sleutelbord.

 

In die oond was ons herontdekte gesinsgereg, naamlik bomskokhoender. Jy dons sommer die hoenderonderdele in ‘n pot, gesmeer met ‘n bietjie sout, en dan gesnyde aartappelstukke, gesmeer met ‘n bietjie olie en sout. Bo-op dit gooi jy so ‘n klompie naeltjies en dan laat jy die goed bak. Sommer lank.

 

Maklik.

 

Die reuk wat daar uitkom is om van te jubel. Hierdie bederfde dorpshoender vergeet sommer sy wilde geite en ruik pure plaas. Net soos die trotse Leghornhoender wat Ma destyds regop in die Sondagpot staangemaak het met sy stywe nekkie soos ‘n baken na bo. Daar het hy uitgekom sout en geurig, sodat jy die beentjies agterna kon loop en lek soos suigstokkies.

 

Ek het eers baie later besef dat hulle my met ‘n slap riem gevang het deur my, jongstetjie, te laat verstaan dat die nek en magie eintlik die lekkernye is, terwyl hulle weglê aan die geurige lewertjie en bo-boudjies. Hulle het al met die perskes en jellie begin dan suig ek nog nekwerwels uit.

 

Wat het van die lewertjie geword? Het hulle dit ook nou skoon uit die arme goed uitgeteel? Ek het eenkeer die fout gemaak om by so ‘n hoender-broeisaal in te stap. Vir my, turftoon, plotseling, semi-plaaskind was dit ‘n arige skok om die geveerde gediertes te sien wat hulle lewens daar omtrap. Leë oë, ambisieloos, nie soos die windgat Leghorns van De Deur wat gereken het die erf behoort aan hulle nie. En, met sulke regte gul Bisho-boude, spesiaal geteel vir die pot.

 

Ennieway. Ons ander hoenderresep is om die stukke te bak in ‘n mengsel van blatjang, mayonnaise en uiesop. Heerlik.

 

En nou het ek agtergekom hoe stjoepid dit is om oor kos te tik twee-uur in die middag as jou maag rommel.

Bloody agent…

Julie 11, 2010 in Sonder kategorie

Betreffende my vorige blog.

Dit het my presies die tyd geneem om te stort en om na die Spar op die hoek toe te stap om te besef dat dit presies hierdie sienswyse en kwaliteite is wat kan maak dat oumense so ‘opinionated’ en inmengerig kan wees.

Behoede my arme kinders.

Ongenooide disseksie

Julie 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek is seker besonder stadig van begrip.

Dit het my ‘n leeftyd geneem om tot op hierdie punt te kom. Terwyl dit vir my lyk asof ander mense hierdie punt soveel vroeër in hulle lewens bereik het.

Daar is ‘n ou Moody Blues liedjie, ek kan nie die strekking meer mooi onthou nie, maar op ‘n stadium kulmineer die verhaal in “..and he understood. He understood himself.”

Dis asof ek net een môre, so vier, vyf jaar gelede wakker geword het en die groot patroon raakgesien het, die raamwerk waarom dinge gebou is.

Vir die eerste keer kon ek myself helder sien, met al my futiele ambisies, vrese, ydele selfsug en tekortkominge. Die prentjie was darem ook nie heeltemal negatief nie – ek kon darem die dinge wat ek wel kan doen, in beter perspektief sien.

Dit het my visie van die werklikheid ook verander. Dis asof ek deur die illusies kon dring, verby die waandenkbeelde waarmee ons onsself omring. Om my het net die harde werklikheid oorgebly, met sy eie dryfvere maar tog met sy eie mooi.

Al die patrone het skielik by mekaar ingepas en sin gemaak. Ek het hierdie nuwe wêreld ontgin en opgelees met ‘n gierige aptyt, soos een wat al die jare in ‘n donker kerker vasgekluister was. Heeltyd het dit vir my gevoel asof die lig al helderder skyn, asof ek skielik die ou, antieke storielyne by mekaar kon inpas, en asof ek al beter kon verstaan hoekom mense dit wat hulle doen, aan mekaar doen.

Dit voel vir my asof hierdie wêreld alreeds lankal hier was, asof die res vir my gewag het om by te kom.

Ek wil dit nie laat klink asof ek skielik alles weet nie, en asof ek die antwoord op alles het nie. Dis net asof hierdie vrede met wat ek is, my skielik bevry het om op ‘n hoër spits te kan staan en verder te sien as ooit voorheen. Om daar te kon kom, het dit sekerlik gehelp dat ek die meeste van my ambisies kon bereik, dat ek ‘n vol lewe gehad het, dat ek met mense omring is wat ek hartstogtelik liefhet en dat ek bevoorreg is om nog te kan lees en luister.

Noudat ek kan terugdink daaroor, moet ek ook erken dat die proses ernstige gevolge op myself gehad het. Dis wel asof ek nou meer empatie met mense kan hê, omdat ek beter verstaan waar hul seer en ambisies vandaan kom, maar dis asof ek minder geduld het met dwaasheid en met die spoke waarmee mense hulleself kan omring. Ek word banger oor dinge waarvan ek die gevolge kan voorsien, soos finansiële ruïnering, vernietiging van die natuur, aanblaas van haat en vrese, verwydering tussen geliefdes, die wegslyting van beskaafdheid…

Ek vermoed dit het ook my persoonlikheid verander. Wat is ‘n mens meer as jou dryfvere, jou knorrighede, jou geite en voorkeure? Al daardie dinge het nou vir my relatief geword. Dit voel of ek soos glas geword het wat al die kleure deurlaat, sonder om ‘n eie kleur te gee. As ek dink met hoeveel passie ek my lewe lank sinlose argumente kon ondersteun en lei, kan ek net lag daaroor en hoop dat die betrokkenes my vergewe, of vergeet het. En, ek is nie seker of daar genoeg van my willigheid oorgebly het om my herkenbaar te maak nie!

Sondagoggende is ‘n bogger. Die spieël waarin dit jou laat kyk, is te helder.

Martie van die Mooirivier

Julie 9, 2010 in Sonder kategorie

Soms wonder ek wat het van Martie geword.

Soms onthou ek hoe dit was om die anderse Jan Klaas te wees wat sy my gemaak het. En soms mis ek die klein waansin en die dolle denke van daardie dierbare tye.

Ek kon haar drie jaar lank ken. Tog was sy voor dit altyd deel van my, en daarna nog steeds.

Sy was nooit myne nie, net soos mens nooit die vrye diere en voëls op jou grond kan besit nie. Wat ek gehad het, het ek net by haar geleen en by al die ander waarmee sy haar wêreld volgemaak het.

Vir ‘n jong, eensame, deurmekaar, soekende tiener was sy soos ‘n onverwagte tonikum. Sy’t my wêreld binnegedwarrel, my gees gelug, om my benoude bestaan gedartel en my laat droom en lag. Sy was ‘n lied, ‘n raaisel en ‘n vriend.

Sy was my jasmyn-lenteaand in Potchefstroom. Sy was ook die kort brief wat ek na drie maande in die army ontvang het wat ons band en my hart gebreek het.

Ek het weer van haar gehoor toe ek eerstejaartjie in Kollegetehuis was. Ek kon met my fiets vir haar by die Denmarkliniek gaan kuier.

Haar oë was dof. Sy was nou een van ons, ‘n mens op die aarde met hope se seer.

Sy het my versoek om haar uit te los. Ek het.

Nou wonder ek soms waar sy is. Is sy weer sy, wat dromerig op die sand na die wolke sit en kyk, wat sommer sal opspring, ‘n blom pluk en deur die vlak water loop en plas, of is sy nog steeds een van ons?

Sit sy ook verveeld en Binnelanders kyk en wag vir die maalvleis om gaar te word?

Of wonder sy ook soms?

Tjiep blog

Julie 2, 2010 in Sonder kategorie

Ek weet dis tjiep om met ander se kallers te ploeg, maar hierdie is darem ‘n ou staatmaker se gatskop, prettige liedjie.

Draai die luidsprekers oop en geniet!