Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Skrale troos

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

Omdat ek kan lag en oor môredou sing

sal my oë soms slu en verraderlik traan.

 

Omdat ek kan mymer oor mooi en oor wees

kneus ek lig en verdwaal om my hart te genees;

en omdat ek maklik sal jubel en sing

krenk bittere woorde my knoetsige gees.

 

Sonder ‘n pantser van eie leeg

mis ek die groot, sonnige blou

en knies ek beskaamd oor ‘n bultige wolk

se donker belofte en sobere grou;

verloën die rykdom binne my

en word die mankolieke marionet –

wat jy graag glo ek is en bly.

 

Ek word die prooi van my eie, kosbare, voel en tob.

My malse vreugde vreet my op.

 

 

(Vir jou omdat jy ly). K.

My lewe onder eende

Junie 24, 2010 in Sonder kategorie

As jy kleintyd met my oor eende sou wou gesels, sou jy waarskynlik ‘n vraende uitdrukking oor Jan Klaas se jong, dierbare gelaatjie sien flits.

Met eende het ek min te doen gehad. Donald Duck was daar, ja, maar hy was bietjie meer van ‘n Amerikaner as ‘n eend.

My volgende ontmoeting met eende was oor die bewende loop van ‘n weerspannige geweer, oor ‘n dam op die plaas Riga naby Dewetsdorp. Daar het ‘n snaterende trop geelbekeende afgetrokke gesit en giggel oor my herhaalde pogings om die helder daglig uit hulle te blaas.

Seker om die balans te herstel, is daar toe vir my in my jong, getroude lewe ‘n fraai blonde dogter gebore. Oulik was sy, maar met een vername defek – sy is dol oor eende.

Besorgde en lieftallige moeder het baie gou gesorg dat sy met ‘n egpaar kwakereendjies toegerus is. ‘n Dammetjie is gebou en informele huisvesting is verskaf.

Jou meer onderskeidende leser sal gou wees om jou daarop te wys dar die “kwaak” deel in die naam “kwaker” nie ironies bedoel is nie. Dis letterlik so – die fokken goed KWAAK. Dit kwaak so dat die hele Somerstrand sidder. Bome buig weg van die klank. Moeders bedek hulle kinders se ore in buurdorpe. Verstarde dolfyne ontruim Algoabaai.

En, soos verorden is, het die goed heengegaan en vermeerder en die werf gevul. Klein, wollerige eendjies het ‘n wriemelende geel tapyt om die huis gevorm.

Kleine Blondie en haar moeder het hierdie dinge aanskou en in hulle harte gebêre, want dit was vir hulle goed.

Ons het troeteldierwinkels betaal om van die kuikens te vat, sodat ons erf ten minste minder ghwano kon opbou. Dis ‘n skuins erf en as mens laat inkom, kan jy maklik weer by die erf uitgly as jy die voordeur wil oopsluit.

Langs die pad het die eendjies ook die swembad ontdek, en spoedig was die swembad ‘n sieklike groen kleur, met ‘n klewerige swart korsie om. En, moenie glo jy kry hulle uit die water nie. Daai fraai, wollerige donsie verander in ‘n verbete geel torpedo, en jy kan nou maar met die swembadnet roei en klits dat die skuim staan – hulle kom weg.

Een nag het daar egter ‘n storm gekom en, toe ons die volgende dag opstaan, was die egpaar weg. Skoonveld. Ek verneem een is later in Asdod gevind.

Snot en trane, en dreigende egskeidings. So betree ons dus fase twee.

Geen lawaaierige eende meer nie, was die wet. Ma en dogter betree die internet en kom na vore met mandaryneende. Pragtige goed. Stillerig. Maar duur.

Hierdie keer moet ‘n behoorlike opstal gebou word, half in ‘n boom op. Visdam is gebagger en die honde is vooraf touwys gemaak met foto’s.

Ek moet sê, die goedjies was nogal mooi. Pa en Ma eend het ook guns gevind in mekaar se oë en spoedig was daar drie eerstelinge. In my oë het liggies van hoop en naderende rykdom geflikker.

Rondom elke spierwit lelie is daar ‘n plaat pikswart modder. Een van die eendjies was gebore met ‘n gebreklike poot, min of meer soos ‘n soort agtertoe-Nazisaluut. Tog kon hy heel hups saam met sy jong susters (of broers?) oor die werf hop. Veral as jy Duitse marsmusiek speel.

Een oggend toe ons opstaan, het ons ontdek moeder eend het een van haar kinders doodgepik. Nie klein Hitler nie, ‘n ander een. Wat boekdele spreek vir die handhawing van dissipline in Madarinië, of waar mandaryne ook al vandaan kom. Ek lees êrens ‘n hele topbestuur van ‘n wasmasjienfabriek is in Sjina doodgeskiet omdat daar probleme was met die gehalte van hulle produkte. So, nou verstaan jy.

Wel, welsyn het moeder eend terstond van die patetiese res van haar kroos ontneem en hulle het daardie nag saam met dogter Blondie in haar snoesige bed gekruip.

Volgende oggend, weer snot en trane, en dreigende egskeidings. Fraai klein Blondie het in die nag op die oorblywende heel eendjie gaan lê, en dié het uit die aard van die saak sag en droomloos in sy slaap heengegaan. Al wat oor was, is klein Hitler.

Om die vrede te probeer herstel, is klein Hitler dokter toe geneem om sy poot te probeer breek, spalk en te herstel. Verskeie operasies en honderde Rande later het sy gesondheid ingegee en het hy verhuis na die groot eendehemel in die lug.

Die sage het nie daar opgehou nie – Pa en Ma eend is een ander stormagtige nag deur die honde doodgebyt toe die weerlig hulle verskrik het. Wat is dit in elk geval met blerrie honde en die weerlig?

So het die Era van die Eende tot ‘n einde gekom.

Ons het vir Blondie ‘n elektriese eend gekoop wat kwaak en aanhaal uit Proust. En ‘n plastiekeend wat op die water dryf. En ‘n rooi Valentynseend. En ‘n Daffy Duck rekenaarspeletjie.

Sy kon soet glimlag, maar tog was sy nooit weer heeltemal gelukkig nie.