Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

Die skooldebat

Mei 24, 2010 in Sonder kategorie

Met die voordeel van terugblik, en uit ervaring van altwee kante van die saak, kan ek nou lekker grinnik oor ‘n klein gebeurtenis lank, lank gelede.

Stel jou die situasie voor: dis ‘n hoërskooldebat. Die tema van die debat is of die matriekeksamen afgestel behoort te word of nie. Die tema is deur die bestuurtjie uitgesoek en geskikte slagordes is aan weerskante opgestel vir die aand se gebeure.

As voorprogram is ‘n voordrag of wat gelewer, ‘n liedjie of wat is gesing, die boereorkessie het gespeel en waarskynlik het ‘n klasgroepie ‘n heroïese groepsvoordrag gelewer uit Die Dieper Reg, of so iets.

Ouboet en ‘n paar ander het die debat ingelei met voor-of teenargumente, soos beplan. Daarna is die vloer oudergewoonte oopgestel en nog ‘n paar gewigtige argumente het vanuit die saal opgeklink.

Skielik, êrens in die tweede ry, steek ‘n seuntjie sy hand op. Geamuseerd kyk die voorsitter hom aan, en bied hom dan sportief ‘n geleentheid om ook sy sê te sê.

Die kêreltjie staan op, kyk ‘n paar keer om hom rond, skwiek iets onsamehangends en gaan dan half verleë sit.

Vir ‘n rukkie is dit stil. Dan begin die formidabele skoolhoof, Villiers Terblanche, met ‘n glimlag op sy gesig stadig sy hande klap. Spoedig dreun die handegeklap deur die hele saal, en daar sit die knapie, so rooi soos ‘n beet en wonder wat de hel het so pas gebeur.

Oukei, nou raait. Hier is ‘n standerd drie-laaitie, mooi gepoeier en afgestof om saam met sy ouboet, ousus en ouers na die hoërskooldebat toe te gaan. Daar aangekom, word Pa as skoolhoof van ‘n voedingskool, met sy gesin na die eregassitplekke voor in die saal gelei.

Van die weelde van hierdie sagte plek betrag die laaitie die vreemde tafereel wat so stadig voor hom afspeel.

Dan uiteindelik, die tyd vir die debat. Ouboet praat, sê die matriekeksamen is ‘n Goeie Ding. Maar, jou wragtag, is dit nie die buurseun, Paul Liebetrau, wat daar opstaan en ‘n lang argument téén die matriekeksamen voer nie? So ‘n bleddie verraaier! Nes jy dink jy ken ‘n man en kan hom vertrou, kom hy en wys homself uit as ‘n vyand van die volk en van die openbare orde.

Dankie tog, iemand anders staan op en ondersteun vir Ouboet. Wys jou, daar is nog regverdiges in Sodom en balsem in Gilead.

Maar. so deur die verdere verloop van die debat begin die knapie besef dat daar oor hierdie saak, die nodigheid al dan nie van die matriekeksamen, groot verwarring onder hierdie skool se leerlinge heers. Die een sê sus en die ander sê so. En dit, terwyl Ouboet tog duidelik die slaggate in ‘n lewe sonder matriekeksamens aan die volk uitgestippel het.

Duidelik moet hier ingegryp word.

Die laaitie steek sy hand op om ‘n spreekbeurt te vra. En sowaar, die voorsitter gee hom die geleentheid.

Toe laaitie opstaan, omdraai en ‘n see van helder, blink oë op hom gerig sien, besef hy dat hy hierdie saak miskien nie behoorlik deurdink het nie. Veral, dag hy, sou dit gehelp het as hy eers gedink het wat hy sou wil sê.

Skor piep hy iets in die lyn van: “As hulle nie eksamens skryf nie, sal hulle mos nie slim word nie!”, of iets banaals in dier voege.

Sy bene gee onder hom in en hy gaan sit. Skielik het hy tonnelvisie en sy ore dreun.

As hy op daardie oomblik gedink het die heelal kon hom heel insluk na ‘n ander dimensie toe, was hy diep verkeerd. Nee, eerder word hierdie laagtepunt in sy jong bestaan onderstreep en in dik letters geskryf toe die hele saal begin hande klap.

Op pad huis toe het niemand darem iets gesê nie. Net Pa het so half gesmaail.

Vandag verstaan ek daardie smaail so goed.

Deja vu

Mei 17, 2010 in Sonder kategorie

Die ou, blou skoolbus kom rokend en knarsend tot stilstand voor die skool.

 

‘n Skoolseun skuifel uit met sy swaar tas, sy trompetkis en met ‘n toksak vol tennistoerusting oor sy skouer.

 

Buite blaas sy asem grys wolkies in die geel winterson. Sy blinkswart skoene knars oor die grou speelgrondgruis.

 

Hy hoor nie die gesprekke om hom nie. Binne hom worstel hy beurtelings met die gewone daaglikse siedende mengelmoes gevoelens van opgewondenheid, kommer,  eensaamheid, verliefdheid, selfbeeld-ellendes, hoop, verwerping, trots en twyfel.

 

Hy voel tog gepantser in sy warm trui, die blinkgestrykte langbroek, die baadjie met die trotse rits balkies en die skewe dasknoop. Saam met die ysige Hoëveldlug ruik hy na seep, Clearasil en Old Spice. In sy sakke is ‘n skoon sakdoek, ‘n vosige klasrooster, ‘n klein plastieksakkie met ‘n fototjie in, ‘n bekoude Schaeffer-vulpen, ‘n halwe pakkie Spearmint Beechies, ‘n Moody Blues-kassetbandjie en ‘n eenrandnoot vir middagete.

 

Hy loop effens krom. Op sy bleek wange is daar ‘n sweem van ‘n skelm poging tot saaidies en sy swartraambril sit skeef.

 

Hy is volkome hier en hy beset sy ruimte as verwarde tiener in die sestigerjare.

 

Hy wens so dat hierdie ellendige tienerjare en skooltyd wil verbygaan sodat hy die wêreld van ‘n redeliker hoogte af, vierkantig en kommervry in die oë kan kyk.

Laatherfs

Mei 10, 2010 in Sonder kategorie

Met tyd verweer

die dun goudlaag 

oor gister geblaas.

Ek sien bedruk die

verweerde reste van

die ek wat ek was.

Gee terug my waan, Heer –

Bedek met pronk en sieraad

die grou murasies van

voortvarenheid en eiebelang

wat sterker troon as trou en bloed,

en spaar my die lui ongerief

van berou en boet.

Vinger van die dood

Mei 9, 2010 in Sonder kategorie

My vriend H was ‘n gesondheidsinspekteur in sommige van ons land se mooiste dorpies. In die proses het hy heelwat interessante ervaringe op die lyf geloop.

Eendag laat hulle hom weet die begraafplaas by Pacaltsdorp het ‘n bedremmelde geur begin ontwikkel. Nou, dit kan toegeskryf word aan die bitter baie reën wat toe daar geval het – soms begin die grond gewoon vrot en swaelwaterstofgas vrystel, soos ek al by uitgrawings in Houtbaai se hawe en rondom die eiland by Sedgefield geruik het.

In hierdie geval was daar egter ‘n meer makabere moontlikheid. As ‘n kis te vlak begrawe word, kan dit in baie nat tye as’t ware begin dryf na die oppervlakte en die ontbindingsgasse ontsnap dan na bo. Vandaar die uitnodiging vir ‘n besoek.

Destyds is gevangenes vir sulke werk gebruik. Met so agt van hierdie ‘bandiete’ kom H toe by die terrein aan.

Ag, maanskyn en rose. Om die geur te verbloem, het iemand in sy wysheid iets soos gellings vol van een of ander roosgeurige middel daar uitgestort, probleem mos opgelos.

Of dalk nie. Eerder maar sekermaak.

Met die bandiete in ‘n tou agter hom aan, stap H na ‘n nuut-toegegooide graf, die waarskynlikste bron van die verdagte geur. Daar gaan staan hy, met hierdie halfmaan van geweldenare voor hom, op ‘n respekvolle afstand van die graf af.

Hier moet jy die prentjie mooi verstaan. Dis geharde manne hierdie. Hulle staan breed met die pik of graaf staangemaak voor hulle – tandelose monde, oorbelle, leë oë, gemarineer in harde tye, beplak met tatoëermerke soos die Huisgenoot se voorblad, maar met ‘n gedeelde ontsag vir hierdie Dinge van die Gees hier in hulle midde.

H kan sien dat harde woorde hier nodig is. “Begin hier grawe!” beveel hy.

Die manne loer vinnig deur skrefiesoë na mekaar, maar niemand verroer ‘n vinger nie. Kyk amper half anderpad, of hulle dalk wolkies van die see se kant af kan sien opkom.

H probeer ‘n meer meelewende aanslag, maar dit help ook nie. Nottendêm – die manne stáán.

Duidelik moet H hier ‘n ander strategie volg. Hy loop na die heining van die begraafplaas waar daar ‘n aantal wattelbome groei, sny ‘n láng loot af en verwyder die sytakkies van die loot met sy knipmes. Toe begin hy die skerp punt van die loot in die sagte grond druk, met die bedoeling om te probeer voel of die punt êrens teen ‘n te vlak kis vasdruk.

Hiervoor sien die manne bra kans, en hulle begin een-een huiwerig en taamlik nuuskierig naderstaan.

Die loot vorder goed en die manne konsentreer diep.

Meteens is daar ‘n luide skreeu hemelwaarts, en dadelik is die hele toneel ontruim. Kaal. Niemand. Nada. Niks. Die van julle wat al beleef het hoe duiwe kan opvlieg van ‘n hondebak af as Wagter hulle bestorm, sal die prentjie kan begryp. Net H staan nog daar, breed en bonkig van stuk, oorbluf met die dik punt van die loot nog in sy hande.

Dit het lank gevat om die bewende, bleek manne weer op te spoor en bymekaar te kry en te hoor wat dan nou gebeur het.

Blykbaar het hierdie slap loot, op sy pad na benede, teen iets vasgedruk, omgedraai en sy koers weer slu na bo begin vind. Daar het die punt bo die grond begin uitwurm en langs iemand se skoen verby, in sy broekspyp opgekruip.

Die eerste wat hierdie arme man gevoel het, was toe hierdie vreemde vinger vanuit die dieptes van die onderwêreld hier in sy onderste gewestes begin wink.

Kan jy ‘n man dan kwalik neem as hy op daardie tydstip eerder elders wil wees?

Hulle sê daardie man het geweier om die tronk te verlaat toe hy uiteindelik vrygelaat is.

Ek laaik

Mei 6, 2010 in Sonder kategorie

Die “Ek hou van”‘s van so ‘n rukkie terug het my baie geleer van heelwat van julle. Ek wil dit graag ‘n bietjie anders verpak.

Luister:

‘n Naguiltjie se roep op ‘n stil, warm aand

‘n Groenvlekduifie se roep op ‘n loomwarm Bosveldmiddag

Veraf boeremusiek uit ‘n plaasskuur vroeg op ‘n Saterdagaand

‘n Mooi lied wat met gevoel gesing word

Tortelduiwe en windgesuis vanuit hoë, rustige bome

Ruik:

Skaapboud Sondagoggend in die oond

Jasmyn op ‘n lente-aand

Seelug op ‘n lou maanligaand

Die klam lushof-fynbosreuk rondom Sedgefield en Wildernis

Die eerste groot lentedruppels op dorre Hoëveldgras

Voel:

‘n Warm Baaise bergwind oor my vel in die koue winter

‘n Klein katjie wat my hand lek

Insnoes onder ‘n warm duvet as ‘n kouekoors my beetpak

‘n Liefdevolle hand wat my rug streel (purr…)

‘n Klein kindjie se stywe, opregte omhelsing

Sien:

Die see en berge vanaf Bloubergstrand

Die helder blou water en rotse van die kranse by Brenton-on-Sea

‘n Vrystaatse sonsondergang

Hitte wat opslaan oor ‘n eindelose karoovlakte

Kranse wat bo mens uittroon soos in die Swartbergpas

Beleef:

Om naby iemand te wees wat ek opreg liefhet

Om met vriende en familie te skerts

Om onvoorwaardelik verwelkom te word deur my honde as ek tuiskom

Om met sononder in ‘n groot dam te dryf en die vlermuise dop te hou

‘n Groot brander wat sy volle energie en mag teen ‘n rots uitwoed

Wat laaik jy?

Ou vrinne

Mei 5, 2010 in Sonder kategorie

Die laaste tyd het ek my vriende hier bra verwaarloos.

Skuus.

En wat het van Modderkoekie geword? Is dit iets wat ek gesê het?

Die Andre Rieu-konsert in Kaapstad

Mei 5, 2010 in Sonder kategorie

‘n Paar indrukke:

Doen moeite om die Kentucky by Dolphin Beach in Bloubergstrand te gaan besoek. Selde het ek ‘n plek gevind wat slaptjips so suksesvol en met toewyding sleg kan laat smaak. Dit was duidelik met sorg verouder, gebrei, uitgedroog, afgekoel en verskeie kere herverhit. Ek kon nie ‘n boemelaar of seemeeu vind wat belangstel nie – duidelik goed bekend met die produk.

Vreemd genoeg is die werkers heel beskeie oor die prestasie en weier selfs om hulle bestuurder te roep om die eer te deel.

Bloubergstrand:

Julle behoort julle te skaam. Julle behoort ekstra belasting te betaal. Stel jou voor – ‘n rooi westerhemel, lui skepe op die rooi water, ‘n Tafelberg, gespikkel met eerste aandliggies wat rooi gloei op links…

Dis wat jy sommer enige aand daar gratis kan kry! Ek het hier in die Baai darem ‘n seelug, maar hoe kan ‘n mens in Gauteng wil bly?

Die bestuurders:

Waar anders in die land kry jy ‘n ou wrak wat die regterbaan volstrek okkupeer teen 60 km/h? En Maserati’s en Ferrari’s en Metropolisie wat geluidloos tussen alles deur koesister?

Die konsert:

Gelukkig is rook verbode in die gebou. Daar is soveel bejaardes by die konsert – as ‘n vuurhoutjie in al daardie metaangas aangesteek sou word, het ons twee Vredefortkoepels in die land.

En stroef! So nou en dan het die kamera oor die gehoor gevee en so ‘n beneukte spul het jy lanklaas gesien.

Maar, ja, die konsert was alles wat ‘n mens wou verwag. Dieselfde ryk, soet melodieë en dieselfde grappies. Kan dit wees dat ek die DVD’s al te veel keer gekyk het?

Het darem hier by die einde rond Sarie Marais met volle oorgawe tussen my Ingelse bure uit ‘n verkouekeel gewurg. Vermoed hulle dink nou nog minder van Die Afrikaner.

Stellenbosch:

Beny julle weereens. ‘n Brekfis op ‘n herfsoggend in ‘n straatkafee langs Dorpstraat, reusagtige groen berge en spierwit wolkies. So bly ek kon my kinders soontoe stuur. So amper spyt ek was op Tuks.

So amper bly om terug te wees by die werk…