Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Oorbluf

April 28, 2010 in Sonder kategorie

Soos die hen wat deur ‘n Volla raakgery is. Sy rig haar toe eina-eina op en sê: “Hy is vinnig, maar hy het niks reggekry nie…”

So is my vraestelle ook so pas uiteindelik opgestel. En nou is ek ‘n vry mens. Die heelal is weer op sy plek en voëltjies sing.

Nog eintlik te syfers-bedonderd om behoorlik te kan blog, maar ek het dit heeltemal te veel gemis.

Die res van die week gaan ek laag lê en my geestelik voorberei om die Koninkryk van Kaapstad binne te val. Sondag gaan ons André Rieu kyk (ja, lag maar, julle snobs). Vrydag vertrek ek vroeg en sal waarskynlik die hele oggend verwaal-verdwaal rondry totdat vroulief ook die namiddag opdaag. Soek nog na ‘n manier om die oggend ‘akademies’ in te klee sodat dit na werk klink. Sal seker oor UWK, Maties of UCT se kampus gaan jaag. Iemand vir koffie?

Ek sal more weer my rondtes begin doen op julle heerlike blogwerwe.

Pa purr

April 22, 2010 in Sonder kategorie

So speel ons dogters met die harte van hulle vaad’re.

Nadat ek g’n maand laas hier op julle sagte skouers geweeklaag het oor die manne wat pieng-pong speel met die harte van my telge nie, skryf die einste voorheen benadeelde nou:

Hy’s ‘n rolls royce boyfriend of daai astin martin goete! so genuine soos ongepaarde sokkies, so dierbaar soos iemand wat spesiaal koekies bak en so opwindend soos op ‘n vliegmat sterre toe en terug!!! Hy bederf my skandelik!

 

So ewe.

BERIG

April 19, 2010 in Sonder kategorie

GRUSAME WEEK VOOR STOP VRAESTELLE EN NASIENWERK STOP GENIET MY TYDELIKE AFWESIGHEID STOP NEEM ASSEBLIEF HIERDIE WEEK SELF VERANTWOORDELIKHEID VIR DIE UITBREIDING VAN WERELDVREDE STOP JAN KLAAS DIE VERSKRIKLIKE STOP

Sundowner

April 16, 2010 in Sonder kategorie

Wanneer jy eendag na my reik

en ek, al vreemder na jou kyk;

Wanneer my brein wanhopig klou

aan dit wat hy onthou van jou –

neem my dan na ‘n hoë plek, met sterre

wat uitkyk op die stil Karoo

en groet my daar, en snuit

my olielampie saggies uit.

Want sonder julle koesterkyk

het wat ek is, al lank gewyk.

Classy army

April 12, 2010 in Sonder kategorie

So pas gelees dat die Departement van Verdediging sowat R50 miljoen Rand aan ‘n vloot Mercedesse en ander luukse voertuie bestee het.

Nou, dit laat my sommer warm om die hart voel. ‘n Mens wil nie sien dat jou weermag, wat ‘n ander land binneval, verslons lyk nie. ‘n Mens sien te dikwels hierdie foto’s van brandmaer soldate met verslete klere wat oor loopgrawe spring, of argeloos lê en bloei  – absoluut geen styl nie.

Ek meen, waar is ‘n nasie se trots? Besef hulle nie dat hierdie foto’s reg oor die wêreld geplaas word nie? Hoe kan ‘n man sy gesig in die hoogste raadsale van die wëreld wys, wetende dat daar beeldmateriaal van sy land uitgesaai word van soldate wat moet veg in ‘n klomp vuil, olierige krygstuig?

Nou kan ‘n mens uitsien na ‘n grasieuse intog van ‘n vloot swart siermotors, met flitsende blou ligte en luidende klankstelsels oor die snelweë van Angola en Mosambiek, gevolg deur jou gewone agteraf kontingent tenks en ander junk.

Viva, sê ek.

My hart se punt

April 10, 2010 in Sonder kategorie

Kyk bietjie of hierdie soet weergawe van Una furtiva lacrima jou oë ook laat traan.

Vrees dan, want dan is jou hart soos myne bedraad.

En dankie, MP3 en Angelor, vir die verduideliking.

Dom vragie

April 10, 2010 in Sonder kategorie

Hoe doen julle slim mense dit om ‘n video te blog?

Die video is tans op Youtube.

Uit die oog…

April 10, 2010 in Sonder kategorie

Te midde van al die mense hier wat regtig swaar kry, voel ek soos ‘n Fariseër om my eie klein private angs hier te kom blootlê. En, ek sal waarskynlik hierdie blog spoedig weer uitvee omdat dit te na aan die hart lê.

Maar dan, dis mos wat bloggers mag doen. Hier kan ek onbevange my sê sê. Aan die een kant kan mens op blogland voorgee asof jy die wonderlikste, mees belese en dierbaarste kêrel in die land is, en aan die ander kant kan jy verblindend eerlik wees. Hier kan jy mos anoniem jou bose swere wys, en nie soos arme ID du Plessis vrees oor die konsekwensies nie van “as ek my vreemde liefde bloot moes lê”…

Boonop voel ek ook asof ek met die witbrood onder die arm kla, as julle sien wat my klagte is.

Ek is eensaam.

Ja, ek is eensaam al het ek ‘n dierbare vrou vir wie ek baie lief is, pragtige kinders en ‘n wonderlike, vervullende werk.

Dis bra my eie toedoen. Ek het myself stelselmatig van my ou vriende en my familie vervreem deur mettertyd vanuit al daardie kringe ver weg te verhuis. ‘n Mens moet seker saamleef met die konsekwensies van jou keuses. Spekbek sê mos dat alleenwees ‘n gekose toestand is soos jy ouer word. I beg to differ.

‘n Man moet ‘n vriend hê. Iemand by wie jy ongenooid kan inval en woordeloos saam na ‘n vuurtjie se vlamme sit en staar.

Ek het verskeie sulke vriende gehad, maar nou is hulle ver en elkeen het mettertyd aangegaan met sy eie lewe. Nou en dan sien ons mekaar nog, dan is ons bly en ons gesels dik stukke. Dan gaan elkeen maar weer terug op sy eie paadjie en ons stuur weer ‘n paar e-posse, vir ‘n ruk.

Kennisse het ek baie. Nuwe pelle het ek heelwat. ‘n Geesgenoot het ek nie meer nie. Met ouer word is vriende maak moeiliker en op die een of ander wyse het ek in ‘n dorp beland met dierbare mense, maar wat ou klieke vorm. Dan het mens ook nog altyd die ding dat die manne wat jy beter wil leer ken, se vroue nie met jou wederhelf akkordeer nie, en andersom.

Dit het my baie lank geneem om ook te besef dat ek nie die familie se nommer een witbroodjie is nie. Die Baai is ver, maar nie oorkant die see nie, maar bitter min van hulle het nog ooit sover gekom om by ons te kom kuier. Dit stam dalk van die dae wat ons finansieel gesukkel het, of omdat ek die jongste in die gesin was, maar ek besef nou dat ek die enigste een is wat ooit kuier!

Met die les nou geleer, sal ek hulle ook nie meer soveel bodder nie.

So, nou is dit ook van my gemoed af. More kan ek weer oor Malema en Jan Klaas skryf en die wêreld se toestand in die algemeen verbeter. Verskoon my tirade.

ETV en AWB

April 8, 2010 in Sonder kategorie

Ek merk op ek is nie die enigste wat vandag oor hierdie tema skryf nie, maar hier is ek nogtans.

Gisteraand het e-TV die onplesierige toneel vertoon van die AWB sekretaris se onderonsie met ‘n nuuskommentator en ‘n omroeper.

Nou. Ek hou nie van die AWB nie en ek het hulle nog altyd ‘n bietjie jammer gekry.

Maar, as iemand nie met ‘n stok kan aanvoel dat dit besonder swak oordeel is om ‘n vurige AWB-man in ‘n ateljee te gaan plaas teenoor ‘n pontifikerende swart vroutjie, wat boonop haar vinger in sy gesig swaai nie, is ek totaal van die wa af.

Om sake te kroon het die omroeper ook nog sy eiertjie tussenin te lê oor wat die AWB-man doen of sê, in wat al hoe meer na ‘n lokvalonderhoud lyk.

Waddehel het Oom André gedink toe hy die uitnodiging aanvaar het? Of, miskien het hy ‘n gebalanseerde onderhoud verwag waar elkeen toegelaat sou word om sy sê nugter te sê. Miskien nie.

In elk geval, geluk e-TV, julle het dit reggekry om die klein vuurtjie van hatigheid nog ‘n bietjie aan te blaas. As julle werklik groot was, sou julle die insig gehad het dat julle hier met vurige mense te doen het en die toneel liewer uitgeknip het, maar julle het verkies om dit ten volle in julle aandnuus uit te saai. Sodoende word die AWB en, by implikasie, die Afrikaner, selfs verder as ooit met die kwas van onverdraagsaamheid en haat gepleister, terwyl die eintlike aanstigter soos ‘n groot martelaar, met groot oë en ‘n soet glimlaggie die noodwendige uitkoms van die situasie geniet.

Foto: Enews via News24.

Erfenis

April 8, 2010 in Sonder kategorie

 

Gisteraand, na die fees

toe ek willoos en vaak

en moeg vir myself

 die garagedeur toemaak

het Ouma se foto’s na onder gedonder

van bo teen die muur

tot op Klasie hier onder.

En het ek so lig by myselwers gewonder:

wat wil ek daarmee

en wat is ek daarsonder