Daar’sie foutie op Amanzimtoti

Maart 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek was van kleins af see-bedonnerd.

Ons het elke Juliemaand uit die bitter koue Vaaldriehoek afgetrek na Amanzimtoti en daar vir so drie weke lank die soel warmte ingeadem.

Letterlik weke voor die tyd het ek en ousus in die koerante al die advertensies van vakansiewoonstelle in die koerant opgesoek om al so iets van die smaak te kry. Afsaal, Montrose, Lyndhurst, Happy Days was woorde wat ons in die laaste eksamendae in Junie opgebeur het. Pa het biltong gemaak en saans het ons dit op sy kerwertjie dun gesny sodat dit nie in sy valstande sal vassteek nie. Ma het kleinkoekies gebak en al hierdie kosbaarhede is in groot Tupperbakke ryp gemaak.

Almal ken hul pa se swetsende inpakkery, die lang ry soontoe, die waai vir ander volgelaaide karre as jy toebies en frikadelle eet langs die pad, die loer oor die bulte om die eerste blik van die blou water te kry, die apies-en-piesangreuk in die lug as ‘n mens daar in die sweterige warmte uitklim met jou lang onderbroek, trui en ferweelbroek en die eerste proe van die soutwater as jy oor die koel aandsand golwe toe gehardloop het.

Die volgende oggend is die vensters en stoepdeure oop en ‘n koel luggie bring daardie eerste geurige seelug die woonstel in. Jy hoor die branders in die helder oggendson suis en kan nie wag dat die gesin hulle stuff saam met jou grafie en emmertjie kan inpak sodat jy op die sand, by jou maats en in die water kan kom nie.

As ‘n mens so gereeld gaan, bou jy mettertyd ‘n hele bende daar op. Daar was die Duvenages, Jan en Dirk Nagtegaal (die einste!), ‘n swerm bikinimeisies en ‘n menigte lustige jongens. Soos ek.

Daar was ek sowat agt keer verlief en het ek my eerste ‘groot’ liefde ontmoet. Daar is ek ‘n paar keer amper gemoer (hallo Dirk). Daar het ek die musiek van die sixties leer luister en liefkry. Daar het ek Alibama in die Goodwill Hotel gaan kyk met ‘n jong Johan van Rensburg voor die klavier. Daar het ek heerlik op die duine gevry. Daar het ek in ‘n sagte, warm aandmotreën die swaar atmosfeer vertroetel toe “Listen to the falling rain” gespeel het. Daar het ek my verbeel Julius Hypnotist het my ook aan die slaap gesit, maar hy het gelukkig van my verskil.

Dis nou platgeslaan, maar die kafee op die strand het heerlike groen roomys ‘cones’ verkoop en jy kon dit so met die een hand lek terwyl jy woes voesbol teen die ander tieners speel. Soggens het die fotograwe van Toti Happy Snaps hoopvol tussen die strandlopers rongedwaal op soek na aas om te kiek.

Daar het ek gedroom ek sal eendag ‘n groot breinsjirurg of ‘n beroemde advokaat wees. Nooit ‘n onnie nie.

Jy kon destyds kilometers op die lagoon gaan roei tot by ‘n oulike klein dieretuintjie. Daar het ons milkshake gedrink en ek het op die vals honky-tonkklavier getokkel. Op pad terug moes ons mekaar natuurlik natspat. Dis waar die uitdrukking “bloei, jou riksem” sy beslag gekry het.

Terug by die skool was ek die enigste met ‘n ‘tan’ en ‘n houding wat my vir ‘n ruk laat scheme het ek is cool.

27 antwoorde op Daar’sie foutie op Amanzimtoti

  1. pasella het gesê op Maart 26, 2010

    Ja, ek onthou dit goed. En Durbs en Margate, Abrie Spies se katalogus van vakansie-huise, daai klam, muwwe see-reuk in die huise. Lekker dae gewees!

  2. Lekker herinneringe! Ons het altyd by Leisure Baai net anderkant Margate en so drie kilometers van Port Edward gaan vakansie hou.

  3. katrina het gesê op Maart 26, 2010

    Mooi herinneringe!

  4. loudavisi het gesê op Maart 26, 2010

    Ja, om elke vakansie na dieselfde plek te gaan waar weersiens van vriende, opgebou deur die jare, die toppunt was. So was Mosselbaai se Santos strand my tweede huis vir 6 weke elke jaar. As die tent net eers aan die karavaan vasgehak is, het ons die see bestorm, al was dit al donker.

  5. Neander het gesê op Maart 26, 2010

    Inderdaad geen fouti op Toti. Afsaal was ons hoofkwartier met al die maats en bendes oor jare opgebou. Lardus en Buks hulle.
    Die tafeltennis, flieks en ander grappe is verewig in my brein. Net langsaan was Potluck karavaanpark met die oulikste katjies (tweebeen).
    Ons het elke jaar ‘n hele skaap en bediende saam gevat. Afsaal het sy eie kwartier vir bediendes gehad, so ons het net gaan aansit vir etes. Een oujaarsaand het die Polisie ‘n klopjag gehou en al die bediendes van die binneland gearresteer, terwyl die Zoeloe dansers perform. Groot moles om ons getroue bediende van 40 jaar op te spoor. :-)Daar in ’65 het ek gesien dat Sothos meer hou van Afrikaners as Indiërs en Zoeloes.
    Net voor die Brigadoon was ‘n oop stuk grond waar ons sokker met die Zoeloe werkers gespeel het, tot groot vermaak van die binnelanders.
    Weet nie of die plek nog bestaan nie.

    En dan Warner Beach met sy kanos en roomyse. Een slag het ‘n groot fight onder CSV gangers uitgebreek oor ‘n meisie, die manne was naderhand so moeg, hulle kon nie meer ‘n hand optel nie. Ek sal die gillende en jillende menigtes nooit vergeet nie.
    My pa het ook elke jaar vir my ‘n vliegtuigie met draaivlerke gekoop, te oulik.

  6. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    En die reuk van toast in die oggende.

  7. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Imagine hoe leeg sou jou herinneringe daarsonder gewees het!

  8. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Is so. En soet.

  9. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Mmm, ek ken daai strand goed! Mooi wêreld ook.

  10. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Ai, ja. Op die veld voor Brigadoon is nou stalletjies. Die plek is darem nog lekker, nie te veel verwaarloos nie.

    Ek onthou daai rooi vliegtuigies. En, soos Charlie Brown kon ek nooi ‘n kaait in die lug kry nie.

  11. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Ja, die Kaap was nou iets ekstra-super-spesiaal en ons was seker so een keer elke sewe jaar daar om by my oom te kuier. Daar was die berg, die kasteel, die wynplase…

  12. wynvdm het gesê op Maart 26, 2010

    Jy laat my nou net so lekker onthou. ek dink my Oupa-hulle het tyddeel by Afsaal gehad nog lank voor daar iets soos tyddeel was.

  13. Ek het sulke herinneringe van Plettenbergbaai, ek vermy nou daai plek helemal want dit voel of ek die soetigheid sal verloor, want niks is blykbaar meer oor van dit wat so spesiaal was vir my nie.

  14. Sanseveria het gesê op Maart 26, 2010

    Ek onthou die heel eerste keer wat ek die see gesien het. Waar kan ek nie meer onthou nie maar ek onthou hoe ek met die duin opgehardloop het agter die vreemde geruis aan. En toe ek bo kom gee my bene onder my pad. Dit was net te oorweldigend. Ek kon amper nie asem kry nie.

  15. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Die mooiste meisies het in Afsaal gebly. Ek vermoed meeste van hulle was van die Vrystaat.

  16. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Nee, dis nou bra ‘n eksklusiewe kliek wat meeding om die beste spasie. En, die strande is erg weggespoel.

  17. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Mm, ek ruik skoon na kokosneut-sonbrandolie vanoggend.

  18. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Mooi gesê. Ek kan dit sien.

  19. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Ja, ek skat daar is baie van daardie ou plek-herinneringe vandag skoon uitgewis en oorgebou!

  20. bloukaap het gesê op Maart 26, 2010

    cool na die hitte

  21. Baie nice inskrywing … Ek like die laaste sin … lekker …

  22. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    Storm na die stilte

  23. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    As hy drie susters gehad het, sou ons hom vir seker leer ken het. Was dit die laat sestigs?

  24. Janklaas het gesê op Maart 26, 2010

    🙂 Dankie Ludwig!

  25. Janklaas het gesê op Maart 27, 2010

    Amper was ons familie!

  26. Janklaas het gesê op Maart 27, 2010

    En snaaks hoe helder die blogpoging weer die herinneringe by my oproep!

  27. Janklaas het gesê op Maart 29, 2010

    Is so. Ons is dit bra aan hulle verskuldig.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.