Besorg

Maart 20, 2010 in Sonder kategorie

Ek het ja gestem, want dit was reg. Ek wou nie deel wees daaraan om mense regte te ontsê bloot omdat hulle met ‘n ander velkleur gebore is nie.

Ek het ja gestem, want ek het vertrou dat daar genoeg gesonde verstand in die land oor is om minstens ‘n leefbare toekoms in ons land vir almal te verseker.

Ek het my daarme versoen dat ek sekere voorregte sal moet prysgee en dat sommige dinge wat goed was, mettertyd sou vergaan omdat dit merendeels sekere volksgroepe bevoordeel het. Ek kon ook daarmee saamleef dat daar ‘n herskikking in prioriteite sou kom en dat gelde aan politieke projekte toegewys sou moes word, wat meebring dat ander kwessies meer verwaarloos sou word.

Ek het in die proses ‘n soort leefwyse vir my en my gesin uitgewerk wat my vrede gegee het. Omdat ek hoop gehad het in die toekoms, het ek nie die opsie van emigrasie oorweeg nie en het ek vertrou dat daar vir my kinders ook ‘n toekoms sal wees in hierdie land wat ek so hartstogtelik liefhet.

Ek het die wolke van korrupsie sien saampak en ek het gesien hoe die droom van die reënboogland stadigaan van sy glans begin verloor het, maar ek was nog steeds nie danig besorg nie omdat daar min of meer korrigerende stelsels in plek was wat, soos die liggaam se immuunstelsel, sou sorg dat geregtigheid geskied. Daar was voorbeelde waar dinge wel skeefgeloop het, maar dit het nog nie aan die kern van die gesonde liggaam geknou nie.

Vandag is ek besorg.

In die laaste week of wat het daar dinge begin gebeur wat vir my op ‘n ander tipe onderstroming dui wat vir my baie meer sinistêr is.

Ten spyte van die misdaad, die korrupsie en die oneffektiwiteit, was daar vir my steeds ‘n basiese kern van mense wat omgee vir die land en wat wil sien dat daar ‘n mate van toekoms vir ons elkeen is. Mense wat bereid is om die middele van die staat in te span om die ergste vorms van afwyking te herstel.

Daar was nie haat nie. Hier en daar was wel daar pakkies haat, maar dit was gereken as afwykings en is gou in eie geledere reggesien. Daar was haat teenoor ‘vreemdelinge’, ja, maar verder was ons nog almal Suid-Afrikaners wat saam probeer om ‘n oorleefbare toekoms te skep.

Daar is egter nou ‘n klomp willewragtags aan die werk wat die vermoë het om blywende skade aan te rig. Almal weet van Julius Malema, en maak hom die paaiboelie, maar hy is maar ‘n simptoom van die kwaad. Neem hom weg en ‘n ander sal spoedig sy plek inneem. Malema is daar geplaas deur ‘n invloedryke ondersteunersgroep en hy praat hulle gedagtes, hulle ideale na. Ons kan hom afmaak, hom bespot en belaster, maar hy is ‘n werklikheid wat die denke van ‘n menigte verwoord.

Die opruiende kommentare, die haatliedere, die dreigemente aan joernaliste en optoggangers sou, op sy ergste, ‘n hinderlike byvertoning kon wees, maar daar is in die afgelope week meer en meer bewyse dat daar in die stal van die ANC, die meer volwassenes, ook begrip en steun is vir Malema se doen en late. Hulle sal sy reg verdedig om moorddadige vryheidsliedere te bly sing, hulle voorsien selfs dat hy ‘n toekomstige staaspresident sal kan word.

Word hulle in die bek geruk deur billike beskuldigings van organisasies soos Afriforum,  eskaleer die woordestryd onmiddellik. So het ons dinge soos die verskynsel gesien dat ‘n respons-Facebookblad geskep word waarin hulle reken dat daar nog nie genoeg boere dood is nie. Of, dat die lys van vermoorde boere deur die lede van die ANC-jeugliga in die straat vertrap word.

Dit sou dalk nog verdra kon word as ‘n mens verseker was dat die staat sou ingryp en dat sulke opruiende gedrag in die bek geruk sal word. In die plek daarvan het ons ‘n goedige, strompelende ou dwaas van ‘n president wat te bang is om wel standpunt in te neem. Of, ANC-parlementslede wat so bang is vir die invloed van die ANC-jeugliga dat hulle eerder ondersteunende gebare sal maak.

Waar sal ons hulp vandaan kom, het ons altyd gevra. Kan ons hoop op ‘n kentering in die parlement, as die gevolge van hierdie aanblaas van ‘n vuur mettertyd begin duidelik word? Sal dit nie dan te laat wees nie? Is hierdie vuur nie besig om, te vinnig, te vurig, hand-uit te ruk nie?

Ek kyk na foto’s van my drie pragtige kinders en ek is besorg.

23 antwoorde op Besorg

  1. Janklaas het gesê op Maart 20, 2010

    Lyk my nie hulle het veel van ‘n stem nie.

  2. DallaSePa het gesê op Maart 20, 2010

    Ek ook … BAIE.

    ps – ek het ‘ja’ gestem om weer vir Danie Gerber in ‘n Sprinkbok-trui te sien … ek was jonk.

  3. loudavisi het gesê op Maart 20, 2010

    Ek druk my kleinseun teen my bors vas, en ek is angstig.

  4. Janklaas het gesê op Maart 20, 2010

    Goeie argument! 🙂

  5. Janklaas het gesê op Maart 20, 2010

    So glo ek graag, maar hulle klink nou baie lamsakkig.

  6. Janklaas het gesê op Maart 20, 2010

    Ek hoor jou, Flenters. Ek stem saam.

  7. Janklaas het gesê op Maart 20, 2010

    Ai, Lou. Ek hoop iemand skrik wakker.

  8. Jy verwoord die meeste van ons se gedagtes en vrese. Maar dit is inderdaad kommerwekkend. En jy is reg – sou Malema verdwyn sal daar net nòg ‘n Malema in sy plek kom….

  9. HeavyHenry het gesê op Maart 21, 2010

    Jy weet – dis moeilik om nie te begin glo dat daar baie meer sinistere dinge aan die gang is nie – mens kan maklik die gesloer met die vuurwapen lisensies sien as ‘n poging om mense te ontwapen, en so van ‘n burger ‘n onderdaan te maak.

    En poepholle soos Malema help nie.

  10. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Baie dankie, Leprachaun.

  11. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Gister het Zuma darem die afdreiging van joernaliste veroordeel, maar dit was natuurlik voor ‘n gehoor van joernaliste. Hy sê graag wat mense wil hoor.

  12. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Ek sien vandag in Rapport verskeie mense is ook besorg.

  13. Ek vertrou die klomp karnallies niks….

  14. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Janee. Ek wil eers bewyse sien dat hy wel bereid is om op te tree en sy lakeie (of nuwe base!) in die bek te ruk.

  15. lisabeth het gesê op Maart 22, 2010

    Ek het teruggelees verby die JR en die Dogter se kerel en die mooi gedig en ek is tjoepstil…want dit is ons lewe…Jack Russels en lief en leed en om en oor en onder dit alles die politiek…

  16. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Ek verstaan hoe jy voel en jy kan dit waarskynlik ongelukkig met hordes voorbeelde staaf. Dis net – tot nou toe was daar ‘n stem van rede, en daardie stemmetjie word al hoe stiller.

    Man staan – moeilik. Ons baklei dan self onder mekaar, soos altyd!

  17. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Haai Lisa! Dis lekker om weer van jou te hoor.

  18. dinkweer het gesê op Maart 22, 2010

    Jacob Zuma, Shabir Shaik and Julius Malema are flying in the Presidential jet to a gathering in Cape Town when Shaik turns to Zuma and says, chuckling, “You know, I could throw a R1000 note out the window right now and make someone very happy.”

    Zuma shrugs and replies, “Well, I could throw ten R100 notes out the window and make ten people happy.”

    Not to be outdone, Malema says, “Well I could
    throw a hundred R10 notes out the window and make one hundred people happy.”

    The captain rolls his eyes and says to his co-pilot, “Such arrogant jerks back there. Heck, I could throw all three of them out the window and make 52 million people happy.”

  19. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    🙂 !!

  20. Berwick het gesê op Maart 22, 2010

    Ek deel jou besorgdheid, Jan. Goed gestel.

  21. zephur het gesê op Maart 24, 2010

    Ek begin ook paranois raak en wonder watse toekoms op my kinders wag.

  22. Janklaas het gesê op Maart 24, 2010

    Wens mens se stem het meer invloed gehad. Praat van roepende in die woestyn…

  23. Janklaas het gesê op Maart 24, 2010

    Ek sal hulle op die ou einde nie kwalik neem as hulle liewer uitwyk nie. Ek sal vrek van verlange, maar gerus wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.