I beg to differ

Maart 19, 2010 in Sonder kategorie

I beg to differ.

Dis woorde wat ek deesdae al hoe meer gedwing word om te sê. Slaan ek die koerant oop, of as die nuus begin, vorm my droë lippe hierdie woorde.

Meestal weet ek dat niemand ‘n hel omgee wat ek dink nie. Malema sal malema en Zuma sal zoem, en Jan Klaas sal, handewringend, sy futiele frustrasie hemelwaarts bly uitprewel.

Tot nou toe. Nou het hulle te ver gegaan.

Dit was op die program Pasella dat die perke eindelik oorskry is. Iemand het daar, swart op wit (of so iets), verklaar dat die Jack Russell-hond intelligent is. Ja, lees dit weer. Intelligent.

En dis net hier waar ek beg om te differ.

So veertien jaar gelede het ons gedag dis ‘n goeie idee om ‘n Jack Russell-brakkie te koop. Dit was tog te cute hoe intens so ‘n gedierte ‘n frisbee kon jaag, en die toewyding waarmee hulle dit keer en keer weer kon doen.

Ry toe Pretoria toe. Eerste skok – hierdie brak het lang bene. Blykbaar kry jy die kort- sowel as die lang-wielafstandweergawe. Nie lus om met leë hande terug te gaan nie, koop ons toe maar die ding.

Sommer op pad terug begin die moeilikheid. Hierdie brak byt. Intens en aanhoudend. Selfs die hand wat hom voed.

En so begin die besef geleidelik by ons posvat dat hierdie nie die tipe hond is wat Business Times sal lees nie. Soek hom daar tussen die rakke by die Son, Huisgenoot, of tussen die pakke tjips.

En nou weet ons met groot sekerheid: hierdie hond is onnosel. Met ‘n groot O. So onnosel dat ons verbaas is hy weet waar om te krap as dit jeuk.

Dit skep natuurlik heelwat probleme op ons voorstedelike erf. Ons ander hond is ‘n border collie, wat gereken word as van die slimste honde wat daar is. In Amerika is daar een wat sowat 80 woorde kan verstaan. So, die spanninge in hierdie erf is omtrent dieselfde as wat daar in ‘n klas met mediese studente moet wees wat op beide meriete as politieke noodsaak gekeur is. Moordend. So erg dat elk ‘n domein het waarby hulle noukeurig hou en net nou en dan oor die grense knor.

So, wat maak JR’s dan so gesog?

Ons vermoede is dat mense deur presies hierdie selfde slap riem gevang word as ons. Hierdie honde het ‘n manier om ‘n obsessie oor ‘n saak te kry en sal daardie obsessie met ‘n taakgerigte passie navolg, Kom. Wat. Wil.

Hetsy of dit nou die geluid van Anton Goosen se piepiestraal is, of die geluid van ‘n muis in die drein of ‘n frisbee, daardie brak sal op daardie taak fikseer totdat hy uiteindelik sy kosbakkie by die hekke van die hemel ingee. Ek vermoed die brak ontwikkel ‘n skakel tussen die sintuig wat pla en die enigste funksionele breinsel wat evolusie hom toegelaat het om te behou.

Dit het ons ‘n rukkie geneem om uit te vind wat Jonty se passie is, maar as jy na die verskeidenheid brakke in Somerstrand kyk wat Jonty se gelaatstrekke het, is dit meer duidelik. En, ‘n mens moet dit respekteer. Hy kon seker minder prettige obsessies gekies het. As die wind in ‘n sekere rigting waai, bring die aandlug vir Jonty nuwe nuus van ou begeertes, en is hy tipies weg tot die volgende middag.

Blykbaar is hierdie honde bestem om tot 15 jaar oud te word, so ons het nog so ‘n jaar of twee voordat ons weer ‘n ordentlike brak kan aanskaf. Intussen sit Jonty met sy kraaklitte op die mat en slaap. So nou en dan word hy wakker met ‘n vraende blik op sy skeefgeslaapte gevreet en probeer onthou wat hierdie obsessie is wat hy aanvoel, maar nie bra kan opvolg nie.

Dan voel ek vir ‘n rukkie saam met hom.

13 antwoorde op I beg to differ

  1. Jou beeldspraak is uitsonderlik in hierdie geval en ek stem 100% saam. Goed geskryf Jan Klaas.

  2. Janklaas het gesê op Maart 19, 2010

    Sulke lae honde!

  3. Janklaas het gesê op Maart 19, 2010

    Dankie, liewe Tweeling!

  4. Janklaas het gesê op Maart 19, 2010

    Die bokker sit en slaap. Veronderstel om Direkteur: Fisiese Sekerheid te wees!

  5. En garde!
    🙂

  6. Berwick het gesê op Maart 19, 2010

    My pa het destyds soms vir ons hond gesê: “Fokof uit my lewe uit.” Die hond het nie verstaan nie.
    🙂

  7. vuurklip het gesê op Maart 19, 2010

    Ons het gelukkig nie ‘n Jackie gekry nie:
    http://blogs.litnet.co.za/vuurklip/n-fan-van-n-fan

  8. Janklaas het gesê op Maart 19, 2010

    Pourquoi? 🙂

  9. Janklaas het gesê op Maart 19, 2010

    Seker Duits…

  10. Janklaas het gesê op Maart 19, 2010

    My suur kommentaar daar by jou is net uit jaloesie…

  11. Janklaas het gesê op Maart 20, 2010

    En so sit ek vanmiddag hier met ‘n verband om ‘n baie pynlike duim omdat ek gisteraand so vermetel was om na sy kooi toe te wou dra.

    Nog net so ‘n jaar of twee…

  12. Trakie het gesê op Maart 21, 2010

    Wanneer ons met ons hond (ons het by Staffies vasgesteek) om die blok stap, is dit JR’s wat twee-twee van agter elke derde tuinhekkie vir ons blaf.

  13. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Dis ‘n skreiende skande.

    Maaind joe, ek dink Staffies sou saam met Jack Russells in die spesiale klas op skool moes sit… (skuus)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.