Jan Klaas en die roer.

Maart 8, 2010 in Sonder kategorie

Verneem maar onder my vyande, Jan Klaas was nog nooit vaardig met ‘n roer nie.

Kleintyd het ek met ouboet se windbuks probeer om die plaag van muisvoëls wat onse perskes vreet, uit te dun.

Dit het nie gewerk nie. Die muisvoëls was miskien effens verbaas omdat die perskes rondom hulle vanself ontplof, maar in gevaar was hulle nooit. Ek kan vandag verklaar dat ek in my lewe nog nie ‘n muisvoël raakgeskiet het nie. Ek het wel die Sjinees se winkel leeg gedra van koeëltjies en boomstamme met lood bepleister, maar die effek was meer kosmeties as aggressief.

Ek dink die donnerse goed koes as jy skiet. Muisvoëls. nie Sjinese nie. Hoewel hulle dalk ook sal koes. Sjinese, bedoel ek.

My plaserige familie, veral, glo blykbaar dat dit vir my pret behoort te wees om dinge te skiet.

Op Swaer Corrie se mooi plaas naby Lindley het ons gaan tarentale jag. Die goed (tarentale, nie familie nie) sit in een swart massa bymekaar, maar ek kan nie eers een in die bondel kwes nie. Hulle sit net daar honend en tjirrr-tjirrr, selfs na verskeie skote. Vriend Jan Lappies vertel die familie later dat die goed letterlik na my toe aangestap gekom het en met hulle pote gewys het waar hulle harte sit, voordat hulle weer minagtend weggestap het.

Op die Simkins se plaas by Dewetsdorp begelei vriend Whellan my na die plaasdam waarop daar ‘n kolonie windgat wilde-eende staan en sonbad, g’n dertig tree anderkant die wal nie. Ek skiet, maar skiet mis. Vriend Whellan kyk my nadenkend aan. Ek skiet weer, skiet weer mis. Vriend Whellan vat die geweer by my en stap terug huis toe. Ek maar agterna.

So kom die dag dat Pa Klaas my die opdrag gee om een van ons hoenders vir die pot te skiet. A, dag ek. In my bruis die pioniersbloed en die jaggees. Sekerlik kan ek darem  ‘n groot, mak Leghornhoender raakskiet.

Tot by die rietbos geloop, aangelê, geskiet. So wragtig, daar vat die hoender die pad en hardloop sulke sirkels oor die erf. G’n kans vir skiet nie – ek en ous Anna is oop en toe agter die dwarrelende kiepstorm aan. Sy einde breek toe aan toe Anna bo-op hom val – sy was van die sogenaamde ruimer proporsies en die hoender was sommer in een beweging gedood en gespatchcock.

Dit blyk toe dat ek die hoender wel in die kop geskiet het, maar blykbaar het hoenders, soos sommige politici, nie hulle brein nodig om sirkels oor ‘n plot se erf te hol nie.

In die weermag gekom was ek een-twee-drie geklassifiseer as ‘n stompskutter en het ek maar die meeste van die tyd voor by die teiken, in die gat, vir andere gewys waar hulle raakgeskiet het. Die korporaal het te vertelle gehad dat die vyand op hulle veiligste sou wees as hulle voor my staan, nie agter nie. Ou grapgat.

Mettertyd het ek myself verklaar as ‘n liefhebber van voëls en dat ek beginselbesware het teen jag. Maar, niemand het my nog ooit weer gevra om ‘n skoot te skiet nie.

13 antwoorde op Jan Klaas en die roer.

  1. daancoetzee het gesê op Maart 8, 2010

    Het in my SA dae so 15 km suid van die Simkins gewoon. Was ook maar ´n swak skut.

  2. loudavisi het gesê op Maart 8, 2010

    Ek skiet nie voeltjies nie, maar ‘n slang netjies deur sy nek.

  3. Neffertiti het gesê op Maart 8, 2010

    Daai plaasdam het ‘n storie te vertelle.

  4. Trakie het gesê op Maart 8, 2010

    Die ideale storie om ‘n Maandagmore mee op te kikker! Dankie :-))

  5. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Ek het dierbare herinneringe aan hulle. So ‘n paar jaar ouer as ek, maar baie gaaf.

  6. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Ek skat ek kan ook so sê, behalwe vir die slang-deel.

  7. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Daai koeël trek nou nog.

  8. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Dit was actually nogal snaaks om te sien. En dit het regtig gebeur (nie die spatchcock-deel nie).

  9. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Ek het regtig lief geword vir die goed toe ons in Knysna gewoon het. Hier in PE het ‘n vark omtent veertig van hulle vergiftig omdat hulle naby sy huis geraas het.

  10. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Dankie, Kelly!

  11. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Voel net vanoggend die gevolge van laasnag se laat-tikkery…

  12. Janklaas het gesê op Maart 8, 2010

    Wat, so in die hardloop? Ek sal Anna se knieë amputeer.

  13. Berwick het gesê op Maart 11, 2010

    Hehe!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.