Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

Lepregonnas

Maart 30, 2010 in Sonder kategorie

Ek staan gister tou in Spar, besig met my eie dinge om die lot van die mensdom te verbeter. Meteens is dit asof die lug so ‘n groenerige skynsel kry en ‘n vreemde geroggel en ‘n tabakreuk die ruimte vul. Ek kon sweer ek het verskeie kere die woord “begorra” en ‘n paar vloekwoorde gehoor van agter my.

Toe ek wou omkyk, het die kasregister my “Fook off!” toegesnou.

Nou, almal wat hier lees weet dat ek ‘n vredeliewende siel is wat nie ‘n vlieg kan skade doen nie (ek korrel te vrot), so toe fook ek maar off.

Buite gekom, het ek ‘n ent van die deur bly staan om te probeer uitwerk wat de joos hier gebeur het.

Hier is die bedonnerde prosessie wat toe uitgekom het.

Eno’s voor aandete

Maart 28, 2010 in Sonder kategorie

In die army het ons ‘n kêrel “Eno’s” genoem – “‘E knows everything”, omdat hy van alles beter geweet het.

Seker maar ydelheid, maar ek moet ook veg om die drang by myself te onderdruk. Waar ons ookal op ‘n wildrit gaan, sal ek vir die gids probeer sê watse voëltjie dit is wat ons so pas gehoor het. Gewoonlik sit hy daar met witgeklemde kake. Hy wou dit gesê het.

Gelukkig het ek ‘n werk waar ek mense heeldag moet vertel, anders sou my gesin my lankal in my slaap versmoor het.

Hierdie keer wil ek darem vertel omdat daar so min of meer ‘n vraag was (is mos so, Lisa?).

Dit handel oor die sterre.

Wat ek wil sê, is dit: Op die tydskrif “Sky and Telescope” se webblad kan ‘n mens gratis ‘n ougat 10-bladsy inleiding tot sterrekyk aflaai. Daar is sommer sterrekaarte ook in sodat ‘n mens op ‘n gegewe tyd van die jaar darem minstens die bekendste sterrebeelde sal vind. Die adres is http://media.skyandtelescope.com/documents/GettingStartedSouth.pdf.

Daar’sie foutie op Amanzimtoti

Maart 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek was van kleins af see-bedonnerd.

Ons het elke Juliemaand uit die bitter koue Vaaldriehoek afgetrek na Amanzimtoti en daar vir so drie weke lank die soel warmte ingeadem.

Letterlik weke voor die tyd het ek en ousus in die koerante al die advertensies van vakansiewoonstelle in die koerant opgesoek om al so iets van die smaak te kry. Afsaal, Montrose, Lyndhurst, Happy Days was woorde wat ons in die laaste eksamendae in Junie opgebeur het. Pa het biltong gemaak en saans het ons dit op sy kerwertjie dun gesny sodat dit nie in sy valstande sal vassteek nie. Ma het kleinkoekies gebak en al hierdie kosbaarhede is in groot Tupperbakke ryp gemaak.

Almal ken hul pa se swetsende inpakkery, die lang ry soontoe, die waai vir ander volgelaaide karre as jy toebies en frikadelle eet langs die pad, die loer oor die bulte om die eerste blik van die blou water te kry, die apies-en-piesangreuk in die lug as ‘n mens daar in die sweterige warmte uitklim met jou lang onderbroek, trui en ferweelbroek en die eerste proe van die soutwater as jy oor die koel aandsand golwe toe gehardloop het.

Die volgende oggend is die vensters en stoepdeure oop en ‘n koel luggie bring daardie eerste geurige seelug die woonstel in. Jy hoor die branders in die helder oggendson suis en kan nie wag dat die gesin hulle stuff saam met jou grafie en emmertjie kan inpak sodat jy op die sand, by jou maats en in die water kan kom nie.

As ‘n mens so gereeld gaan, bou jy mettertyd ‘n hele bende daar op. Daar was die Duvenages, Jan en Dirk Nagtegaal (die einste!), ‘n swerm bikinimeisies en ‘n menigte lustige jongens. Soos ek.

Daar was ek sowat agt keer verlief en het ek my eerste ‘groot’ liefde ontmoet. Daar is ek ‘n paar keer amper gemoer (hallo Dirk). Daar het ek die musiek van die sixties leer luister en liefkry. Daar het ek Alibama in die Goodwill Hotel gaan kyk met ‘n jong Johan van Rensburg voor die klavier. Daar het ek heerlik op die duine gevry. Daar het ek in ‘n sagte, warm aandmotreën die swaar atmosfeer vertroetel toe “Listen to the falling rain” gespeel het. Daar het ek my verbeel Julius Hypnotist het my ook aan die slaap gesit, maar hy het gelukkig van my verskil.

Dis nou platgeslaan, maar die kafee op die strand het heerlike groen roomys ‘cones’ verkoop en jy kon dit so met die een hand lek terwyl jy woes voesbol teen die ander tieners speel. Soggens het die fotograwe van Toti Happy Snaps hoopvol tussen die strandlopers rongedwaal op soek na aas om te kiek.

Daar het ek gedroom ek sal eendag ‘n groot breinsjirurg of ‘n beroemde advokaat wees. Nooit ‘n onnie nie.

Jy kon destyds kilometers op die lagoon gaan roei tot by ‘n oulike klein dieretuintjie. Daar het ons milkshake gedrink en ek het op die vals honky-tonkklavier getokkel. Op pad terug moes ons mekaar natuurlik natspat. Dis waar die uitdrukking “bloei, jou riksem” sy beslag gekry het.

Terug by die skool was ek die enigste met ‘n ‘tan’ en ‘n houding wat my vir ‘n ruk laat scheme het ek is cool.

Klitsgras in blogveld

Maart 24, 2010 in Sonder kategorie

Sommige blogs behoort deur wit en pienk lint afgesper te word.

Gisteraand, toe ek so op die ‘interweb’ ronddwaal, struikel ek toe oor ‘n blog wat my erg seer krap. Bietjie te na aan die been.

Almal met oë kan sien dat daar so baie mense met erg gebrande vlerke is wat hier rond blog. Hier kry hulle die geleentheid om darem te kan kommunikeer en uit te reik. Aan die ander kant is dit vir my wonderlik hoe die bloggemeenskap hulle harte oopmaak vir sulke mense en aan hulle ‘n sagte kussing van troos en omgee verskaf. Lewe op hierdie blou planeet is so dikwels wreed en eensaam, en blog is ‘n verrassende nuwe soort uitweg om jou leed anoniem aan die wêreld te kan uitsing, en te weet iemand luister en gee om.

Sulke tye wens ek altyd ek het die regte woorde gehad, die regte oplossing, die regte raad om so iemand weer te kon laat opkyk en hoop te gee. In Vereeniging was daar ‘n dominee Scott wat so ‘n gawe het. Hy kon sy growwe hande so deur die doringtakke druk en sagte, koel vingers op die rou kwesplek in jou hart neersit. Hy is iemand wat regtig kon omgee en troos, ‘n baie rare gawe.

Wat erger is as seer, is daardie lang weë, daardie seer wat bly en nie weggaan nie. Dan help vandag se troos nie, want more word jy weer met die seer wakker, en elke hier en daar in die gang van dae val jy oor goedjies wat jou daaraan herinner. Dan word gewone gebeurtenisse geleenthede wat gemis is, beelde van wat-kon-gewees-het wat jou wrede brein ongenooid voor jou laat afspeel.

Ek het beleef dat mense op verskillende wyses uit verhoudings kom. Vir party was dit net nog ‘n ervaring, vir ander ietwat seerder. Dan kry jy die soort wat ‘n lewe neem om van weg te kom, asof jy ‘n onsigbare, erg afwesige lewensmaat saam met jou bly dra. Ek vermoed dit gebeur veral as ‘n mens in die verhouding besonder intieme oomblikke gedeel het, wanneer jy jouself gegee het in die vertroue dat die ander een jou kosbaarste sal bly koester en oppas. Dit sal ook makliker gebeur in ‘n meer behoudende gemeenskap, waar daar nie so los en vas met verhoudinge gespeel word nie.

Wat kan ek sê? Ek wens ek was wys, ek wens ek kon ander se laste saam met my eie hoop selfsugte en kwellinge inpas. Ek wens ek was twaalf dominee Scotte.

Ek wens almal se seer voel vandag ‘n bietjie beter. Buite sing die arme voëltjies hulle gatte af.

Besorg

Maart 20, 2010 in Sonder kategorie

Ek het ja gestem, want dit was reg. Ek wou nie deel wees daaraan om mense regte te ontsê bloot omdat hulle met ‘n ander velkleur gebore is nie.

Ek het ja gestem, want ek het vertrou dat daar genoeg gesonde verstand in die land oor is om minstens ‘n leefbare toekoms in ons land vir almal te verseker.

Ek het my daarme versoen dat ek sekere voorregte sal moet prysgee en dat sommige dinge wat goed was, mettertyd sou vergaan omdat dit merendeels sekere volksgroepe bevoordeel het. Ek kon ook daarmee saamleef dat daar ‘n herskikking in prioriteite sou kom en dat gelde aan politieke projekte toegewys sou moes word, wat meebring dat ander kwessies meer verwaarloos sou word.

Ek het in die proses ‘n soort leefwyse vir my en my gesin uitgewerk wat my vrede gegee het. Omdat ek hoop gehad het in die toekoms, het ek nie die opsie van emigrasie oorweeg nie en het ek vertrou dat daar vir my kinders ook ‘n toekoms sal wees in hierdie land wat ek so hartstogtelik liefhet.

Ek het die wolke van korrupsie sien saampak en ek het gesien hoe die droom van die reënboogland stadigaan van sy glans begin verloor het, maar ek was nog steeds nie danig besorg nie omdat daar min of meer korrigerende stelsels in plek was wat, soos die liggaam se immuunstelsel, sou sorg dat geregtigheid geskied. Daar was voorbeelde waar dinge wel skeefgeloop het, maar dit het nog nie aan die kern van die gesonde liggaam geknou nie.

Vandag is ek besorg.

In die laaste week of wat het daar dinge begin gebeur wat vir my op ‘n ander tipe onderstroming dui wat vir my baie meer sinistêr is.

Ten spyte van die misdaad, die korrupsie en die oneffektiwiteit, was daar vir my steeds ‘n basiese kern van mense wat omgee vir die land en wat wil sien dat daar ‘n mate van toekoms vir ons elkeen is. Mense wat bereid is om die middele van die staat in te span om die ergste vorms van afwyking te herstel.

Daar was nie haat nie. Hier en daar was wel daar pakkies haat, maar dit was gereken as afwykings en is gou in eie geledere reggesien. Daar was haat teenoor ‘vreemdelinge’, ja, maar verder was ons nog almal Suid-Afrikaners wat saam probeer om ‘n oorleefbare toekoms te skep.

Daar is egter nou ‘n klomp willewragtags aan die werk wat die vermoë het om blywende skade aan te rig. Almal weet van Julius Malema, en maak hom die paaiboelie, maar hy is maar ‘n simptoom van die kwaad. Neem hom weg en ‘n ander sal spoedig sy plek inneem. Malema is daar geplaas deur ‘n invloedryke ondersteunersgroep en hy praat hulle gedagtes, hulle ideale na. Ons kan hom afmaak, hom bespot en belaster, maar hy is ‘n werklikheid wat die denke van ‘n menigte verwoord.

Die opruiende kommentare, die haatliedere, die dreigemente aan joernaliste en optoggangers sou, op sy ergste, ‘n hinderlike byvertoning kon wees, maar daar is in die afgelope week meer en meer bewyse dat daar in die stal van die ANC, die meer volwassenes, ook begrip en steun is vir Malema se doen en late. Hulle sal sy reg verdedig om moorddadige vryheidsliedere te bly sing, hulle voorsien selfs dat hy ‘n toekomstige staaspresident sal kan word.

Word hulle in die bek geruk deur billike beskuldigings van organisasies soos Afriforum,  eskaleer die woordestryd onmiddellik. So het ons dinge soos die verskynsel gesien dat ‘n respons-Facebookblad geskep word waarin hulle reken dat daar nog nie genoeg boere dood is nie. Of, dat die lys van vermoorde boere deur die lede van die ANC-jeugliga in die straat vertrap word.

Dit sou dalk nog verdra kon word as ‘n mens verseker was dat die staat sou ingryp en dat sulke opruiende gedrag in die bek geruk sal word. In die plek daarvan het ons ‘n goedige, strompelende ou dwaas van ‘n president wat te bang is om wel standpunt in te neem. Of, ANC-parlementslede wat so bang is vir die invloed van die ANC-jeugliga dat hulle eerder ondersteunende gebare sal maak.

Waar sal ons hulp vandaan kom, het ons altyd gevra. Kan ons hoop op ‘n kentering in die parlement, as die gevolge van hierdie aanblaas van ‘n vuur mettertyd begin duidelik word? Sal dit nie dan te laat wees nie? Is hierdie vuur nie besig om, te vinnig, te vurig, hand-uit te ruk nie?

Ek kyk na foto’s van my drie pragtige kinders en ek is besorg.

I beg to differ

Maart 19, 2010 in Sonder kategorie

I beg to differ.

Dis woorde wat ek deesdae al hoe meer gedwing word om te sê. Slaan ek die koerant oop, of as die nuus begin, vorm my droë lippe hierdie woorde.

Meestal weet ek dat niemand ‘n hel omgee wat ek dink nie. Malema sal malema en Zuma sal zoem, en Jan Klaas sal, handewringend, sy futiele frustrasie hemelwaarts bly uitprewel.

Tot nou toe. Nou het hulle te ver gegaan.

Dit was op die program Pasella dat die perke eindelik oorskry is. Iemand het daar, swart op wit (of so iets), verklaar dat die Jack Russell-hond intelligent is. Ja, lees dit weer. Intelligent.

En dis net hier waar ek beg om te differ.

So veertien jaar gelede het ons gedag dis ‘n goeie idee om ‘n Jack Russell-brakkie te koop. Dit was tog te cute hoe intens so ‘n gedierte ‘n frisbee kon jaag, en die toewyding waarmee hulle dit keer en keer weer kon doen.

Ry toe Pretoria toe. Eerste skok – hierdie brak het lang bene. Blykbaar kry jy die kort- sowel as die lang-wielafstandweergawe. Nie lus om met leë hande terug te gaan nie, koop ons toe maar die ding.

Sommer op pad terug begin die moeilikheid. Hierdie brak byt. Intens en aanhoudend. Selfs die hand wat hom voed.

En so begin die besef geleidelik by ons posvat dat hierdie nie die tipe hond is wat Business Times sal lees nie. Soek hom daar tussen die rakke by die Son, Huisgenoot, of tussen die pakke tjips.

En nou weet ons met groot sekerheid: hierdie hond is onnosel. Met ‘n groot O. So onnosel dat ons verbaas is hy weet waar om te krap as dit jeuk.

Dit skep natuurlik heelwat probleme op ons voorstedelike erf. Ons ander hond is ‘n border collie, wat gereken word as van die slimste honde wat daar is. In Amerika is daar een wat sowat 80 woorde kan verstaan. So, die spanninge in hierdie erf is omtrent dieselfde as wat daar in ‘n klas met mediese studente moet wees wat op beide meriete as politieke noodsaak gekeur is. Moordend. So erg dat elk ‘n domein het waarby hulle noukeurig hou en net nou en dan oor die grense knor.

So, wat maak JR’s dan so gesog?

Ons vermoede is dat mense deur presies hierdie selfde slap riem gevang word as ons. Hierdie honde het ‘n manier om ‘n obsessie oor ‘n saak te kry en sal daardie obsessie met ‘n taakgerigte passie navolg, Kom. Wat. Wil.

Hetsy of dit nou die geluid van Anton Goosen se piepiestraal is, of die geluid van ‘n muis in die drein of ‘n frisbee, daardie brak sal op daardie taak fikseer totdat hy uiteindelik sy kosbakkie by die hekke van die hemel ingee. Ek vermoed die brak ontwikkel ‘n skakel tussen die sintuig wat pla en die enigste funksionele breinsel wat evolusie hom toegelaat het om te behou.

Dit het ons ‘n rukkie geneem om uit te vind wat Jonty se passie is, maar as jy na die verskeidenheid brakke in Somerstrand kyk wat Jonty se gelaatstrekke het, is dit meer duidelik. En, ‘n mens moet dit respekteer. Hy kon seker minder prettige obsessies gekies het. As die wind in ‘n sekere rigting waai, bring die aandlug vir Jonty nuwe nuus van ou begeertes, en is hy tipies weg tot die volgende middag.

Blykbaar is hierdie honde bestem om tot 15 jaar oud te word, so ons het nog so ‘n jaar of twee voordat ons weer ‘n ordentlike brak kan aanskaf. Intussen sit Jonty met sy kraaklitte op die mat en slaap. So nou en dan word hy wakker met ‘n vraende blik op sy skeefgeslaapte gevreet en probeer onthou wat hierdie obsessie is wat hy aanvoel, maar nie bra kan opvolg nie.

Dan voel ek vir ‘n rukkie saam met hom.

Storm en drang

Maart 18, 2010 in Sonder kategorie

  

 As jy my los, net soos ek is

dwaal ek verstomp in oggendmis

in donker drogwoud, eie waan

langs skewe borde, leunend aan

geroeste hekke. kronkelpad,

en ou murasies; drome wat

my voort laat sloof, met immers al

die kneusplekke van bots en val,

tot waar ek, afgeleefd en week

teen windmeulens ‘n lansie breek.

 

Maar jy, my lief, kom haal my weer

uit donker kerkers; troos my teer –

met koele hande wat my sus

vergader jy weer wat ek is.

Jan Klaas en die roer.

Maart 8, 2010 in Sonder kategorie

Verneem maar onder my vyande, Jan Klaas was nog nooit vaardig met ‘n roer nie.

Kleintyd het ek met ouboet se windbuks probeer om die plaag van muisvoëls wat onse perskes vreet, uit te dun.

Dit het nie gewerk nie. Die muisvoëls was miskien effens verbaas omdat die perskes rondom hulle vanself ontplof, maar in gevaar was hulle nooit. Ek kan vandag verklaar dat ek in my lewe nog nie ‘n muisvoël raakgeskiet het nie. Ek het wel die Sjinees se winkel leeg gedra van koeëltjies en boomstamme met lood bepleister, maar die effek was meer kosmeties as aggressief.

Ek dink die donnerse goed koes as jy skiet. Muisvoëls. nie Sjinese nie. Hoewel hulle dalk ook sal koes. Sjinese, bedoel ek.

My plaserige familie, veral, glo blykbaar dat dit vir my pret behoort te wees om dinge te skiet.

Op Swaer Corrie se mooi plaas naby Lindley het ons gaan tarentale jag. Die goed (tarentale, nie familie nie) sit in een swart massa bymekaar, maar ek kan nie eers een in die bondel kwes nie. Hulle sit net daar honend en tjirrr-tjirrr, selfs na verskeie skote. Vriend Jan Lappies vertel die familie later dat die goed letterlik na my toe aangestap gekom het en met hulle pote gewys het waar hulle harte sit, voordat hulle weer minagtend weggestap het.

Op die Simkins se plaas by Dewetsdorp begelei vriend Whellan my na die plaasdam waarop daar ‘n kolonie windgat wilde-eende staan en sonbad, g’n dertig tree anderkant die wal nie. Ek skiet, maar skiet mis. Vriend Whellan kyk my nadenkend aan. Ek skiet weer, skiet weer mis. Vriend Whellan vat die geweer by my en stap terug huis toe. Ek maar agterna.

So kom die dag dat Pa Klaas my die opdrag gee om een van ons hoenders vir die pot te skiet. A, dag ek. In my bruis die pioniersbloed en die jaggees. Sekerlik kan ek darem  ‘n groot, mak Leghornhoender raakskiet.

Tot by die rietbos geloop, aangelê, geskiet. So wragtig, daar vat die hoender die pad en hardloop sulke sirkels oor die erf. G’n kans vir skiet nie – ek en ous Anna is oop en toe agter die dwarrelende kiepstorm aan. Sy einde breek toe aan toe Anna bo-op hom val – sy was van die sogenaamde ruimer proporsies en die hoender was sommer in een beweging gedood en gespatchcock.

Dit blyk toe dat ek die hoender wel in die kop geskiet het, maar blykbaar het hoenders, soos sommige politici, nie hulle brein nodig om sirkels oor ‘n plot se erf te hol nie.

In die weermag gekom was ek een-twee-drie geklassifiseer as ‘n stompskutter en het ek maar die meeste van die tyd voor by die teiken, in die gat, vir andere gewys waar hulle raakgeskiet het. Die korporaal het te vertelle gehad dat die vyand op hulle veiligste sou wees as hulle voor my staan, nie agter nie. Ou grapgat.

Mettertyd het ek myself verklaar as ‘n liefhebber van voëls en dat ek beginselbesware het teen jag. Maar, niemand het my nog ooit weer gevra om ‘n skoot te skiet nie.