Die boheemse Boer

Februarie 22, 2010 in Sonder kategorie

In die bloeitye van die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse oorlogstuig dwaal daar ‘n senuweeagtige kêrel met sy ligbruin Grasshoppers oor die klipsypaadjies van Passau. Hy is op soek na ‘n adres wat hy op ‘n velletjie uit ‘n telefoonboek neergekrap het.

Uiteindelik spoor hy die plek op, ‘n donker deur in ‘n vervalle wit muur in ‘n ou deel van die stad. Die klokkie lui nie hoorbaar nie, maar tog hoor hy iemand oor ‘n binnehof aangestap kom.

Die groot deur kraak oop, en daar staan sy. Uiteindelik – hy ken haar al van sy skooldae af, hulle was penvriende. Nie ‘n fyn vrou nie, maar aantreklik, en in haar oë is daardie tydlose, bedrieglike Duitse kalmte.

Sy omhels hom gul en nooi hom in. Van oral in die binnehof kom daar mense te voorskyn, jongmense, en soos hy later sou uitvind, nagraadse studente van alle kleure en geure wat die kommune soos rysmiere beset. Tussen hierdie boheemse versameling steek die jong man, met sy Woolworths-broek en broederbondhemp, uit soos ‘n seer vinger.

Hulle gaan sit en hy word ‘n drankie aangebied. In die kring wat op stoele om die tafel versamel, vloei die tema van die gesprek kort voor lank na die politieke situasie in Suid-Afrika. In sy geradbraakte Duits veg die jong man ‘n wanhopige stryd om die onverdedigbare minstens ‘n fasade van redelikheid en oorlewingswerklikhede te probeer gee. Die gehoor is nie vyandig nie, en luister noukeurig na elke versigtige woord.

Versigtig, want die jong man is in die land onder die vaandel van sy ou pos as‘n dosent in Chemie en hy is nie werklik opgelei vir ‘n soort cloak-and-dagger lewenswyse nie. ‘n Skaap in wolfsklere.

Uiteindelik droog die gesprek op en word die jong man uitgenooi om saam te gaan swem. Dit is baie welkom, maar pleks van in sy klein, gehuurde motortjie ry hy saam met omtrent agt ander in ‘n lendelam, sweterige ou wrak van onseker herkoms. Gou kom hy agter dat sommige Duitse meisies nie reukweerder gebruik nie.

Die optog stop langs ‘n groot, oop dam in ‘n denneboombos. Daar is heelwat swemmers en mense met roeibootjies.

Net hier kry sy sobere, Calvinistiese gemoed ‘n dwarsklap toe hy sien dat almal net daar, op die gras, van hulle klere ontslae raak. Toe hulle in die water is, stroop hy ook maar half beskroomd sy Pretoriaklere af en stap die modderige dam in. Hoe spyt is hy skielik dat hy nie met sy bril aan kan swem nie.

Terug by die kommune gaan stap hy en sy vriendin in die stad. Die ou geboue van Passau is pragtig en dramaties in die laatmiddagson. In ‘n kroeg gaan eet hulle iets en voer die middag se gesprek verder saam met ‘n paar ander. Die jong man leer op die harde manier dat jong Duitsers nie hou van die voorstel dat hulle die instroming van Turke in hulle land moet beheer nie.

Hulle bring die res van die aand deur in ‘n groot, ou gebou wat pols van musiek. In die kelder is die musiek die hardste en die geure die sterkste. Hy herken een van die middag se swemsters waar sy teen ‘n muur aan twee mans vasgekoek staan.

Op die middelvloer is daar dansmusiek en ‘n jolige stemming, aangehelp deur die bekers bier wat ‘n mens noodgedwonge moet verswelg om in die gebou te kan bly. Sy vriendin begelei hom nog na die boonste vloer en hier, wonder bo wonder, is ‘n kamerorkes so wragtig besig om Mozart te speel. Die drag is ook meer formeel. Hier voel hy homself geroepe om in ‘n waas vir ‘n beeldskone blondine te sê hoe mooi sy is, voordat sy vriendin hom aan sy arm terug kommune toe sleep.

Sy slaapplek is ‘n krakende klein bedjie in ‘n gang, maar hy slaap die paar ure hom gegun soos ‘n lui klip.

Ligdag kom maak sy vriendin hom wakker sodat hy sy vlug nog kan haal. “Du bist ein super Typ”, groet sy hom.

Hy ry met ‘n glimlag die dorp uit en voel soos ‘n held.

30 antwoorde op Die boheemse Boer

  1. Jy is steeds ‘n naguil, sien ekke. Hallo, my vriend.

  2. Jan, du bist ein Woollie Mann!

  3. Lekker gelees hieraan – goed geskryf.

  4. Kort avontuur, laaang onthou….

  5. Baie goeie storie Janklaas!

  6. mooi mooi mooi mooi mooi

    maar help gou die duits-ongeletterde een: wat is ‘n Typ?

  7. Ek bely ek het net hierna gaan doedies.

  8. Nog altyd. Behalwe, Woollies is deesdae te grênd vir my.

  9. Dankie, Therina. Mooi week vir jou ook.

  10. Sy het in die niet verdwyn. Seker getroud, met ‘n ander van.

  11. Baie dankie, Katrina.

  12. Baie dankie, Annemarie. Lekker week.

  13. Kultuurskok. Nou se dae se kinders is sulke dinge meer gewoond.

  14. Hei, baie dankie, Spokie. En sterkte.

  15. Ek kou vandag nog aan al die indrukke.

  16. Baie dankie, Tweeling. Lekker om weer van jou te hoor.

  17. Ich sprecht night Deutch.
    Typ?

  18. Tipe, of soort. Ek moes dit gou eers selfs gaan optjek, net ingeval sy my eintlik geskel het!

  19. Tipe, of soort.

    Net die regte woorde in die vroeë more om ‘n hangover gesond te maak.

  20. Blykbaar darem ook “fellow” of “guy”.

  21. Lekker gelees

  22. Dankie vir jou besoekie, SK!

  23. uhmmmm, interessant

  24. Uhmmmm, jy het die subteks raakgesien…

  25. Dankie, Kelly.

  26. Gewen JK? … eks bly!
    :-))

  27. Jong, al wat ek gewen het, is ervaring (gelukkig nie ‘n rash nie). Die swemgala, die debat en die danskompetisie was gelykop.

  28. Interessant oor die universaliteit van Die Uile, Jan Klaas: Toe ek as kind daardie boeke gelees het, was die leefwêreld van Philip en sy maats reeds iets van die verlede in vergelyking met my leefwêreld, dink ek. Maar dit het my glad nie gepla nie.

  29. Dan is dit ‘n begaafde storieskepper.

  30. Kan ek jou woorde in my cv sit? Of sommer in ‘n koerantadvertensie! 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.