Prulle en die Puk
Februarie 28, 2010 in Sonder kategorie
Sommiges noem dit die wet op onbeplande uitkomste – jy bedoel een ding en dan gebeur iets totaal onverwags.
In my prille studentedae (nie dat ek weet wat ‘n pril is nie. My ma het gesê ek is ‘n prulskrywer, maar ek dink dis iets anders. As daar ‘n prille jeug is was my studentedae seker ook prillerig. Of grillerig. Dalk is dit dieselfde ding).
Ennieway.
In my prille studentedae, toe Tuks nog ‘n grasafdak gehad het, is ek naamlik verkies as klasleier van die nagraadse HOD-studente. Reeds taamlik ervare en sinies na ‘n enigsins kwetsende interaksie met Chemie III en Fisika III, was ek seker iets soos ‘n vars briesie vir die ernstige, skoongesigjongelinge uit die ander fakulteite. Ek glo graag dis my natuurlike leierseienskappe en my gravitas wat die ander so geïnspireer het, maar bittergat ‘vrinne’ het gereken dis net omdat niemand anders die job wou doen nie.
En nee, dis nie die storie nie. Dit kom nou eers.
So kom dit dat ons, die leiersgroepie (ek en my onderdane en die vroulike weergawes daarvan) uitgenooi word na ‘n studentekongres by die Puk.
Die vooruitsig was oukei, maar op ‘n manier het dit ‘n opgewonde gefladder in die geledere van die dosente veroorsaak. Ons groepie is ingeroep en onder die hande geneem van die fakulteit se Magte van Bo. Hulle was, om die een of ander rede, uiters sterk gesteld daarop dat ons diep onder die indruk kom en gemarineer word in die onderrigfilosofie wat hulle volg by Tuks, naamlik die fenomenologiese.
Nou vra my vandag, ek het nog steeds nie ‘n donnerse idee wat dit beteken nie. Nogtans was hulle koorsagtig bang ons beland dalk onder die korrupterende invloed van die Christelik-Nasionale onderrigfilosofie wat hulle blykbaar by die Puk volg, en wat Ernstig Verkeerd is.
Vandag verstaan ek hierdie soort navorsingsnyd tussen instellings baie beter, maar dit was ‘n taamlik verstomde groepie wat toe die stamperige paadjie Potch toe aangevat het. Ons het so min of meer verwag dat ‘n groepie struikrowers met maroen baadjies ons in die omstreke van Potchdam sou voorlê om ons vroegtydig sag te maak, maar die aankoms was tog sonder insident. Ons het toe maar effens wantrouig rondgestaan by die skemerkelkie en probeer om so fenomenologies as moontlik te lyk.
Maar wat ‘n verrassing. Daar is die Puk-studente toe die gaafste en fraaiste ou goedjies wat jy jou kom indink. Selfs die dames was aanvaarbaar.
Nogtans was ons toepaslik wantrouig, en het elke groet en gesprek versigtig dopgehou vir Christelik-Nasionale invloede. As daar was, was dit uiters vernuftig versteek en het ons onsself betrap dat ons die aand se verrigtinge tot op die droesem geniet het. Teen alle verwagtinge in het ons toe selfs by ‘n dans beland, hoewel ek vermoed dat dit gereël was deur die Pote (Gepukte Pote was die wolwe in skaapsklere wat op die Puk swot met ‘n onderwyskollegebeurs).
In elk geval, ek moes êrens verskriklik meegevoer geraak het met die pret. Vandag, so dertig jaar later, kan ek geen snars onthou van waar ons oornag het nie. In fact, ek onthou boggerol van die hele kongres! Dis asof die hele episode ‘n grys blur is.
Ek weet nie wat daai Pukke ons gevoer het nie en wat ons alles op die kongres kwytgeraak het nie. Ek het wel later gehoor dat niemand soos die Pukke kan drink nie. En ek glo dit.
Ek vermoed my kollegas het so min of meer dieselfde ervaring gehad, want by die terugrapportering tuis voor ‘n halfmaan besorgde dosente het hulle dieselfde skaapagtige uitdrukking as ek op hulle gesigte gehad. Ons het egter in ons onderskeie verslae soos een man saamgestem dat ons die kongres sorgvuldig en fier omgehaal het na ons eie, superieure, fenomenologiese benadering.
Gelukkig het niemand gevra wat dit beteken nie.
En, soms wonder ek in my stilligheid of daar nie ‘n fenomenologiese prulskrywer in ‘n klas sit by Gimmies wat wonder wie sy pa is nie.
Onlangse kommentare