Ek stel bekend

Januarie 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil graag ou George aan u bekendstel.

George is al so ses jaar by my in diens as algemene koördineerder van alle sake tuinagtig.

Om George ‘n tuinier te noem, sou ‘n gewelddadige miskenning wees van die man se vermoëns en sy geneigdhede. George is ‘n vrye denker, ‘n filosoof en ‘n pionier.

George is so ongeveer tweehonderd-en-dertig jaar oud. In ‘n koerantberig sal mens lees “…van onbekende ouderdom…”, maar hy moes hier rond gewees het toe my erf nog deel was van Piet Retief se oorspronklike plaas ‘Strandfontein’.

Op hierdie erf beweeg George dus rond met ‘n mistieke outoriteit en ‘n oervertroue, gesetel in ‘n ewige band met die geskiedenis van hierdie sanderige, arm grond wat die holte van sy skurwe voet omvat.

Op hierdie erf laat George hom dus ook nie voorsê wat mag en wat mag nié. George WEET.

As Vroulief dus nuwe, prettige jong plantjies in ‘n gesellige hoekie aanlê en dit misbehaag vir George, sal George dit op sy maer skouers neem om genoemde plante elders te repatrieer of trots in ‘n swart sak op die waentjie te gooi om verwyder te word.

Eweneens, as daar dalk jong opkomelinge van laasjaar se blomme in die vroeglente hul verskyning maak, sal George hierdie vermetelheid gou kortknip en met ‘n paar forse hale die ou, bruin ewewig herstel. Die verskyning van ‘n vreemde gewas is vir hom ‘n gruwel en ‘n aantasting van sy brose eer.

As Vroulief ‘n vreemde soort vetplant op die erf aanbring en eers laat lê om bietjie uit te droog, sal George die besluit vir die nuwe ligging van die plant namens haar neem. As hy dan wel die aardige plant onderstebo sou plant, moet jy jouself eers afvra of die plant dan nie in elk geval beter lyk so nie.

As ‘n gevestigde boom of ‘n struik op ‘n dag met George praat, kan jy seker wees jy sal met jou tuiskoms aan die einde van die dag daardie struik of boom in ‘n netjies verpakte formaat, in klein stukkies op die sleepwa aantref. Op die erf sal daar ‘n gapende nuwe, sonnige ruimte wees waar jou skadukol voorheen was.

U sou miskien tussen die reëls kan aflei dat sy doen en late soms nogal tot wrywing in ‘n christelike huishouding kon lei, en u sou reg wees. Menig is die nag dat Jan Klaas langs die koue skouer van sy liefste en dierbaarste ingeskuif het en menig is die oggend wat hy wakker word en besef dat die kwaad nie saam met sononder ondergegaan het nie.

Om van George ontslae te raak, is buite die kwessie. George is die geskiedenis – om hom af te dank sou wees soos om die Voortrekkermonument pienk te verf. Dit sou ‘n travestie wees van die lotsverloop van die natuur.

Verder is George ook met dun veseltjies en hoendersop aanmekaargehou. Om sy lewensbron af te sny, sou beteken dat hy bloot êrens op die strand sal gaan lê en binne minute vir ewig sal verdamp.

Die laaste argument vir sy behoud is ook taamlik selfsugtig, want ten spyte van sy tenger bou en sy antieke herkoms is daar in George ‘n energie gesetel wat deur geen natuurlike kragte verklaar kan word nie. Dit kom in elk geval gewis nie uit die brood, vrugte en vleis waarmee ek hom voer nie.

Dit is ‘n visie om te aanskou hoe George dit regkry om man-alleen hierdie geweldige groot erf met ‘n grassnyer baas te raak voor middagete. Daar is gerugte dat sy werk op my erf een van die min mensgemaakte aktiwiteite is wat ‘n mens uit die ruimte kan waarneem. Dis omtrent so aardig soos om van ‘n stuk biltong te verwag om ‘n ploeg te trek, maar dit is wat ou George op sy sigselwers regkry. Des te meer noodsaaklik as ‘n mens so ‘n overachiever-buurman soos ek het, met ‘n St Andrews-gholfbaanmentaliteit, wat sy velde liefderik versorg met ‘n twiezer en ‘n oorpluisie.

Viva, ou George. Sterkte, huwelik.

15 antwoorde op Ek stel bekend

  1. natter het gesê op Januarie 22, 2010

    Briljant! Mag ou George en jou huwelik dit nog lank maak!

  2. Zeelia het gesê op Januarie 22, 2010

    Ek het ook so ou George by die naam van Samuel gehad, wat ‘n karakter. Ongelukkig het Vigs hom nou na meer as 10jr lam gele en baklei hy nog steeds na TB en beroerte – Hy was so sterk soos ‘n bees…

  3. louisna het gesê op Januarie 22, 2010

    Pragtig Jan. Ons het Kleinbooi gehad wat soortgelyke deugde gehad het.

  4. Trakie het gesê op Januarie 22, 2010

    Ja-nee, moet liefs nie die voortrekkermonument pienk verf nie.

  5. Berwick het gesê op Januarie 22, 2010

    PUIK! Ek hou van jou sin vir humor.

  6. Baie dankie, Natter en Ghaap! Oor drie maande is ons dertig jaar getroud.

  7. …uhm, nie ek en George nie…

  8. Sening, deur en deur.

  9. Demolition man.

  10. Sal lyk soos ‘n groot Trotters-jellie advertensie…

  11. Ek vermoed so ‘n drietal van sy soort het die Sahara veroorsaak.

  12. Baie dankie, Berwick! Dis lekker om dinge nog snaaks te vind.

  13. louisna het gesê op Januarie 23, 2010

    Yes. Lekker naweek.

  14. Weereens P U I K ! ! !

  15. Baie dankie, DsP!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.