Neptunus se maat

Januarie 9, 2010 in Sonder kategorie

So twee. drie jare gelede het vroulief my ‘n besondere verjaarsdaggeskenk gegee, iets wat ek my lewe lank al oor droom. Dit was ‘n eenvoudige blou kaartjie wat my en ‘n metgesel toelaat tot ‘n scuba-duikkursus in die Baai.

In my kleintyd al het ek met ‘n lekkende duikbril en ouboet se een stukkende flipper tussen die hangende, groen-stralende klosse slyk in die plotdam rondgedryf en my verbeel ek is Fritz Deelman. So kon ek op my eie, unieke wyse gedoemde duikbote red en groot grotte vol geheimsinnige, dreigende gedaantes eksploreer.

Nou ja, Vroulief kon nie self die kursus bywoon nie, toe neem ek maar die rooikopdogter saam. Ons het ligdag by die lokaaltjie ingeklok en getrou die interessante stel instruksies beluister. Die wonderbaarlike wisselwerkinge van vloeistof en gas kan blykbaar nogal erge invloede op jou lyf veroorsaak en ek was selfs verplig om weer die verslete ou HP-sakrekenaartjie ter selfverdediging uit te pluk.

Die oefeninge in NMMU se verhitte swembad het nie te onaardig afgeloop nie. Dinge het egter bietjie ontaard toe ons moes aanmeld vir die oopsee-oefeninge by Hobie Beach.

Wanneer die vernuftige vervaardigers van duikpakke opgeruimd gaan plaasneem op ‘n groot rubbervel om die lywe uit te knip, is dit met die vorms van jou gewone, middelslag vlootduikers in hulle gemoed – manne van groot gespiertes en met middeltjies net groot genoeg om die sixpack ferm te omvat. As die gedagte aan ‘n anderse vorm toevallig deur hulle gedagtes sou gaan, sou hulle skuldig glimlag, hul koppe skud om die absurde gedagte te laat verwaai en terugkeer na hul skwiekerige knip- en wewery van die hol Apollo’s.

Jou normale man, ek sou graag glo jou beter ontwikkelde man, se lyf ondergaan so na vyftig jaar ‘n soort vorminversie. Heuwels word dale en nuwe berge wentel uit die dieptes op.Wat staan, begin hang en in die algemeen neig die dinge van die pole om eerder by die meer vertroude ewenaar bymekaar te kom. Dis net jou mees voorbeeldige spiere wat die druk van hierdie migrasie weerstaan.

Vir die doeleindes van die argument, stel jou ‘n maer swanger vroutjie voor wat ‘n tweeling verwag, of onse president in sy luiperd-troupak. Geen normale duikpakwewer kan so ‘n vorm voorsien nie en die kompromis wat jy hier aan die ontvangkant moet tref, is om ‘n pak te kies vir die smal boonste en onderste ekstrema, of dan vir die breër ewenaar.

Synde ‘n bietjie ydel, het ek eers die nouer opsie probeer. Ek moet sê, die gevolg was nie te onaardig nie. Die bulte is taamlik uitgeglad en ek het soos ‘n jong Wes-Indiese atleet gelyk in my swart kondoompak. My nek en wange was egter besonder dik gebult en ek het nie gehou van die pers kleur wat my voete en gesig begin aanneem het nie. Verder het dit die vreemde effek gehad dat my bene en arms weer met ‘n twênggeluid reguitgeskiet het as ek hulle probeer buig. Die afrigter was so ewe besorg dat dit die vlootskepe sou ontstel. Sarkastiese bliksem.

Daar was ook ‘n ander effek wat ek nie sal probeer beskryf nie, maar waarmee Caster Semeya waarskynlik simpatie sou kon hê.

So dan, die groter pak. Dié het min of meer soos ‘n kerkpak gesit en was duidelik bedoel vir manne wat reg van noord na suid ruimer bedeeld was met lyfmateriaal, nie net daar rondom Nairobi nie. As ek stap, het die broekspype met so ‘n sieklike, dooie sjloepgeluid om my bene geflap.

Voordat jy gaan duik, weeg die manne jou en tel die gewigte af wat jy om jou lyf moet bind om jou behoorlik te kan laat sink. My gewigte was omtrent so swaar soos een van die Backstreet Boys, en ek het amper net daar moed opgegee. Ek moes mooitjies hierdie sak lood, my duikgoed en nog die duikbottel deur die sand met my linnelam, rubberomhulde lyf water toe sleep, waar die grommende boot ons ingewag het.

Ek weet nie wat ek daardie oggend geëet het nie. Ooggetuies het later gesê daar was iets geels in. Nietemin, daar het ‘n taamlike wind gewaai en die see was effens bulterig soos die boot die golwe tref. Ek was aanvanklik in ‘n goeie stemming: somer, son en saffier, en het  Gé se seemansliedjies gesing en die gevoel van die wind deur my bles geniet. Effens later was dit egter half of die son so ‘n groenerige skynsel kry, en skielik duik daar iets soos ‘n Alienbaba vanuit my maag in my keel.

Ek het vinnig agteroor probeer duik om my kop oor die kant te kry, maar van die uitkomste het nogtans vir dogter wind-af getref en sy was rondom uitgefreak. Terwyl sy haar swart rubberpak in die plaswatertjies probeer afwas, het ek op my maag oor die rand gehang. Toe ek weer beter voel en terugkyk, merk ek ek sit alleen hoog en droog in die wind en al die ander sit onder, in die ander hoek van die boot my vies en aankyk.

Wel, hulle verlies. Van ons mooiste Afrikaanse musiek het hul ontstaan op die see gehad. Dink maar aan “Hoe sag gly ons bootjie” en “Seeman”. Miskien selfs “Daar kom die Alibama”.

My tribulasies was nog nie verby nie. By die duikplek aangekom, het ons almal fluks uitgespring, maklik genoeg. Die leier is eerste af en het ‘n lyn aan die bodem geheg.

Daar kan ek nottendêm onder die water inkom. Die ander was al ondertoe en terug, toe skop ek nog ‘n skuimwolk op soos wat ek op en af spring, roei, klap en skop. Die gewegery het natuurlik nie rekening gehou met die dryfeffek van hierdie reuse-duikpak nie. Ek kon net sowel weer vlerkies aan my arms gedra het soos my kinders toe hulle wou leer swem.

Die arme afrigter het naderhand omtrent op my skouers kom staan, en met die hulp van dogter en ‘n paar ander vrywilligers is ek toe uiteindelik onder die water ingesleep.

Ek sou graag wou sê dit was “wow”, maar daardie dag het die see ook nie saamgespeel nie en mens kon glad nie ver sien nie. Normaalweg is die sig darem beter en kan mens staatmaak op ‘n paar nuuskierige skeurtandhaaie wat gereël word om die toeriste te kom vermaak. Ek is nogtans langs die lyn af tot onder, het die voorgeskrewe oefeninge gedoen, het bietjie na die seegras gekyk, vir ‘n lui pienk vis ‘n vingerteken gegooi, my rigting verloor toe ek nie meer my duikmaats kon sien nie en uiteindelik ‘n hele ent van die boot af uitgekom.

Die vroue het my die eerste gewaar. ‘n Horde gewillige, gespierde jongelinge (onthou, ek het ‘n mooi dogter) het aan my duikpak getrek om my in die boot  te help. Op ‘n stadium was sowat die hele duikpak al in die boot en my vermoeide lyf  het nog vars en nakend, soos ‘n pienk weekdier met ‘n rubbertanga, aan die buitekant van die boot gehang. Uiteindelik het die rubber se elastisiteit ingeskop en is ek danksy Hooke se wet, soos met ‘n kettie, amper bo-oor die boot geskiet.

Met die terugrit moes ek om een af ander rede blykbaar alleen agter by die enjin sit. Ek vermoed hulle wou net seker maak die skroef byt mooi vas in die water.

Nou kort ek nog een duik van die boot af voordat ek my laaisens kan kry. Maar, ek het intussen uitgevind dis baie lekkerder om net te snorkel.

28 antwoorde op Neptunus se maat

  1. Moddermannetjie is ‘n PADI dive master.
    Jy moet die dry suits sien waarmee hulle hier duik,Janklaas,dit is amazing.
    Ek is nie koulik nie maar wil dooi as ek dink hulle duik hier in die winter,maar daardie suits verrig wondere.(en kos twee en ‘n halwe plase se prys!)

  2. Janklaas het gesê op Januarie 9, 2010

    Is lekker.

  3. Janklaas het gesê op Januarie 9, 2010

    Die geit het my half verlaat.

  4. Janklaas het gesê op Januarie 9, 2010

    Dankie, Theriens.

  5. Berwick het gesê op Januarie 10, 2010

    Baie snaaks, Jan Klaas!

  6. Ek het eenkeer vir ons Ier buurman by die see genoem dat ek nog eendag wil duik. Hy duik gereeld. Met ons volgende see-naweek het hy reeds vir ons ‘n instrukteur, en al die toerusting gereel…hy en sy veteraan duikmaters wag glo gretig om ons in te lei in die ondersese wonderwereld…maar nou weet ek nie meer so mooi nie. (En hy het verseker nog nooit oor die keuse van ontbyt gepraat nie!)

  7. Baie dankie, Berwick. Ek dink die bekertjie begin leeg raak, want dit raak vir my al moeiliker!

  8. Hei dankie, DsP!

  9. Dit bly darem regtig ‘n wonderwêreld, veral as die water mooi helder is.

  10. dagsê

  11. Hallo, Pt. Mooi nuwe jaar vir jou.

  12. Wou nog kom sê … “Fritz Deelman” … laat jy my smile … ek het daai opgeslurp!

  13. …ek het hierdie pos nou vreeslik geniet, …te lekker gelag…ek was lanklaas hier – jammer, man…besig met al die kinders se dinge!!

    Geluk met jou kind! BG gaan BsC Biodiversiteit en Ekologie swot.

  14. Ek ook. Die prente op die voorblaaie was absoluut magic. Ek kon kyk en kyk daarna.

  15. Lyk my ons paaie gaan tog kruis. Minstens tot jy my ‘n behoorlike afvalresep gee. Ek het self probeer terwyl my vrou in Stellenbosch is en myself omtrent permanent afgesit.

  16. Dis so oulik gestel!

    Dankie, OC, en mag jy self ‘n wonderlike jaar hê.

  17. …wow, sy moes baie goed gedoen het!!! Ek ken die onder prim van Huis ten Bosch – Grethe Lourens…. klink na ‘n lekker koshuis!! hoop sy geniet dit baie…BG het nie koshuistoelating gekry nie!!?? …sad…maar een van die lesse in die lewe!?

  18. Jy gaan jou nie uit die resep uitpraat nie… 🙂

    Ek brand om te hoor wat hulle van die kursus dink. My vrou woon more die departement se verwelkoming, ens. by. Ek hou die pot aan die kook (met grillerige goed).

  19. Trakie het gesê op Januarie 14, 2010

    :-))

  20. Klop Klop Klop …

  21. Haai Kelks!

  22. Hoop jy kon darem sink! Ek kan seker sê ek laat my nie onderkry nie…

  23. Wie’s daar?

  24. cto het gesê op Januarie 22, 2010

    Myself half simpel gelag!!!! Baie goed vertel… ek sien jou so half-lyf hang oor die boot voordat die pak se elastisiteit inkop!!!!

  25. Dankie, cto!

  26. Vetjan het gesê op Januarie 23, 2010

    skreeusnaaks!

    ek het op my blog ‘n foto van die nuutste ding in duikpakke.

  27. Duidelik moet mens nie sousboontjies eet voor jy gan duik nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.