Uniewinkels

Januarie 5, 2010 in Sonder kategorie

Een van die dinge in die lewe wat vir my die swaarste is, is om tyd in ‘n klerewinkel te moet deurbring.

Ek vermoed dit stam uit my kleintyd, toe ek as jongste en weerloosste saamgesleep is na moeder se gunsteling-klerewinkel in Residensia. Daar het sy met strenge vermanings my brose lyfie vir ure lank staangemaak tussen lappe, knope, materiale, skoene, lappe en materiale, terwyl hulle doenig was met kleresake. Dit, terwyl vrolike krete deur die oop vensters kom soos my ondeunde medejongelinge hulleself buite in een onophoudelike stroom sierlik vanaf boomtakke in die ghwarriegat werp, of verbete agter ‘n gespierde jong Charles Matthews met ‘n leerbal in sy arms aanhardloop.

Tog, onthou ek gister toe ek skielik in my delikate neus weer die ou-ou snuf van lappe kry, was daar ook goeie tye.

Ek onthou die uitstappies na Uniewinkels in Vereeniging om vir die jonge Jan Klaas met skoolklere vir die nuwe jaar toe te rus. Soms kry Pa parkeerplek voor McRobbs se oogkundige/apteek, met sy mikroskope en lensegoed, of ander kere weer voor ou Podlashuc se winkel waar hy knorrig, maar fluks sy rye solus sewe plate of groot langspeelplate smous.

In die heilige, ruim sale van Uniewinkels moet jy deurloop na agter en met die trappe op, waar die skoolklere gehou word, heeltyd vergesel van hierdie swoel, sout klerereuk en verby die fraai tannies met die rosige wange en plastiekbrille agter die glastoonbanke.

Bo word hemp na hemp en broek na broek uit hulle speldeharnas geknip, geskud en oor Ma se arm gehang vir die passlag. En, moenie glo die ding wat pas is die regte een nie – daardie hemp moet bly pas vir ‘n jaar of twee, terwyl jou lyf sy volle ontknopinge en groeie deurgaan. Die uiteindelike hemp waarmee jy dus by die pashokkie uitkom, lyk bra soos ‘n kleed uit ‘n Wagneropera, en die broek is eers reg as beide Ma en die verkoopsdame se hande nog by die rek kan inpas.

Die uitsoek van die baadjie is ‘n vername affêre en verskeie kundiges lewer hier hulle insette, maar uiteindelik is dit ook maar ‘n geurige jas wat daar êrens, buite jou verste dimensies, prekêr aan jou brose raamwerk hang.

Ook die skoene moet ruim speling hê, sodat jy omtrent eers ‘n tree binne hulle moet gee voordat hulle begin saamloop. Jou enigste troos is dat daar ‘n goeie dertigtal kinders saam met jou in die klas gaan wees wat ewe belaglik, versuip in ‘n klerelaag, sal probeer om tydens klas hulle gesigte te laat wys.

Met die betaalslag neem Pa oor. Die rosige verkoopsdame het intussen die klere in sulke groot, plat, wit en blou kartondose gepak en hierdie pakaas is saamgeneem na die betaaltoonbank. Hier word elke kledingstuk se besonderhede tydsaam en sorgvuldig oorgeskryf deur maer, bebrilde bles ooms wat so nou en dan met Pa iets klererig skerts. Dan haal Pa sy tjekboek uit en skryf met breë, trotse hale sy tjek uit.

Op hierdie klimaksfase gebeur daar ‘n ding wat my oneindig verwonder het. Die bles man trek aan ‘n klein kassie teen die muur wat met ‘n “sjloep”-geluid oopgaan. Hy haal daaruit ‘n silindertjie, sit die papiere daarin en plaas dit terug in die kassie. Die silindertjie verdwyn met nog ‘n “sjabadap”-geluid na ‘n silinderhemeltjie êrens en kom dan na ‘n ruk skielik weer te voorskyn vir Oom Bles om uit te haal.

Eers baie jare later, by Universitas-platewinkel in Pretoria, het ek verstaan hoe en hoekom hierdie pneumatiese koekepannetjie werk.

Soms kon ek die skoene aanhou en daarmee by die winkel uitloop tot by die ou swart en wit Hudson. Ek onthou eenkeer toe ek my eie stap so knars-knars beluister het, het Pa my so ‘n soort oorveeg oor die kop gegee: “Loop reg, jou niksgewoon’ vuillis,” het hy gelag.

Snaaks, as ek die proses so opskryf kan ek nie regtig uitwerk wat dan so lekker daaraan was nie.

Hoekom mis ek dit dan so?

28 antwoorde op Uniewinkels

  1. Jodo het gesê op Januarie 5, 2010

    Lekker gelees by jou blog, moet wees omdat jy so lekker skryf…

  2. Jy skryf te min!
    Ek onthou ons jaarlikse uitstappies na die Uniwinkel in Bellville (dink ek)

  3. Ek dink mens mis ‘hoe dit was’ … seker was ma of pa of iemand spesiaal wat vir ons lief was by toe dit gebeur het …

    Ek dink sommer hardop …

    Baie lieflike skrywe die!

  4. Ek hou van die pneumatiese koekepannetjie.
    Jy mis dit want jy was geborge.

  5. louisna het gesê op Januarie 5, 2010

    Uniewinkels. My suit vir aanneme is daar gekoop. 1970. Prys: R 48.99. Pragtige stuk Jan.

  6. Trakie het gesê op Januarie 5, 2010

    Puik!

    As jongste van drie meisiekinders het ek meeste van my skoolklere geërf, dus was ek een van daai ondeunde jongelinge wie se vrolike krete jy deur die oop vensters moes aanhoor 🙂

  7. Berwick het gesê op Januarie 5, 2010

    Uitstekend, Jan Klaas.

  8. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Cute!

  9. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Baie dankie, Jodo!

  10. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Uniwinkel klink te volksvreemd! My stoere AB-Pa sou nooit by so iets koop nie…

  11. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Ek dink jy’s presies reg.

    Sjoe, dan het ek nog baie sulke goed om oor te skryf!

  12. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Geborge – dis net die regte woord daai. Iemand het vir jou omgegee.

  13. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Ja, ek sit en wonder of die soet van die onthou opmaak vir die seer van die weemoed.

  14. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Sjie, dan is ek en jy omtrent presies karperde.

  15. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Lekker doedies, Elsie!

  16. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Maar dan was julle dorpie mos ‘oppit’! (My kinders se woord vir with-it)

  17. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Dan het jou baadjies seker ook sulke patche op die moue gehad, en jou hempkrae was so flufferig. Ek het dit ook gehad. Was ook jongste, maar met vier kinders raak sommige goed deurgeslyt.

  18. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Die papier, ja. Ek het van daai papier vergeet.

  19. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Ek wens ek kan eendag by jou voete kom sit en stories luister.

  20. Janklaas het gesê op Januarie 5, 2010

    Baie dankie, Berwick.

  21. Ek het toe ek agt was die mooiste paar blinkleer kerkskoene gekry. Die probleem was dat hulle eintlik te klein was, maar daar was nie nog ‘n paar in my grootte nie, toe jok ek vir my ma en sê hulle is perfek. Die hele jaar was hel op twee bene elke Sondag. Maar hulle was beautiful. Die hele jaar lank. Ek het nou nog ‘n ding oor ‘n mooi skoen.

  22. louisna het gesê op Januarie 6, 2010

    Mooi, kom ons trek mooi saam hier op die blog.

  23. Janklaas het gesê op Januarie 7, 2010

    Dit verdien respek, om te ly vir jou ideale!

  24. Janklaas het gesê op Januarie 7, 2010

    En skielik klink dit asof dit lekker was! Is dit dan nou so sleg?

  25. Onthou ek nie Uniewinkels nie. In Pretoria het dit nog ‘n spoggerige koffiewinkel binn-in ook gehad. My ma het vir Uniewinkels gewerk en als wat ons ooit besit het was omtrent daargekoop. Ek onthou hoe ek as ‘n jong skoolmeisie altyd na die pragtige breekgoed gaan kyk het. Kon ure na die fynste porselein ontwerpe staar. Ek dink dis waar ek my eerste liefde vir porselein gekry het. Dan het ek nog steeds ‘n strandhoed en ‘n strandsak wat ma vir my daar gekoop het vir ‘n skooltoer na Mozambiek. Dis nou nog so goed soos nuut – het nooit verbleik nie. Dit was uitstekende kwaliteit wat in daai winkels verkoop was.

    Ma was ook betrokke by die groot jaarlikse tuinparty van die presidentsvrou wat deur Uniewinkels ‘gedoen’ was. Al die BBP-vroue het hulle ontwerpersrokke by Uniewinkels gekoop en ma was elke jaar ‘n eregas. Op die manier was ek ook ingesmokkel by die grootste sosiale geleentheid in die stad. Ai, hoe lekker onthou ek nou saam met jou!

  26. Janklaas het gesê op Januarie 7, 2010

    Sjoe, baie dankie vir hierdie oulike bydrae. Ek onthou, Pretoria se winkel was besonder spoggerig.

  27. Lisa het gesê op Augustus 21, 2018

    Watter nostalgie! Daardie pneumatiese stelsel het ma sorgvuldig aan die 7 jarige ekke verduidelik. Wonderbaar!
    En as pa besluit Ons het nuwe klere nodig, dán sê hy: “Gaan sien more Vir Mev. Harms” want pa het klere geken en was puntenerig oor afwerking en korrekte pylnate en behoorlike sy (ma ook, Maar sy’t hom laat begaan). En Mev Harms het pa (en ma) se smaak geken. Dán Stuur sy Alles saam huistoe Òp ‘appro’ dat Ons kan mode parade hou, want selde is enige uitrusting teruggestuur. Dìe klerk Sou nét dìe volgende dag Mèt ‘n tjek Opdaag… Vir àlles.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.