Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Sit die tier in jou tshwane

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek is hier in die noorde min of meer iets tussen ‘n leeu in ‘n kuil vol Daniëls en ‘n porseleinkoppie in ‘n winkel vol blou bulle. Maar, dis ontstellend lekker hier. Die lug is lou, swaar en soet en ek kan sommer onthou hoekom ek hier iets soos dertig keer verlief geraak het. Wens ek kon iets van hierdie nat weelde terugvat Baai toe.

Dis asof selfs die junk mail my hier met meer respek behandel. “Your manhood will withstand any workload”, beweer hulle. So, dinge soos ploeg en skoffel is nou binne my bereik.

Die klasse verloop ook heel prettig. Soos altyd, nadat hulle hierdie fenomeen uit die suide vir sowat ‘n halfuur aangegaap het, besef hulle hy is onskadelik en het waarskynlik goeie bedoelings.

Was vanaand so ‘n bietjie uit om ou familiebande te gaan versool. Ek wil dit nou nie hardop sê nie, maar die arme GPS wat ek saam met my seun se selfoon gekry het, is regtig nie baie intelligent nie. Tog, hier is ek, veilig terug in my marmersale.

Pretoria se opblaaspoppe sal, lyk my, hierdie keer sonder my prettige geselskap moet klaarkom. Ek besef dis ‘n slag vir die hoofstad se sosiale struktuur, maar so leer ‘n mens teenslae hanteer. Ek sal waarskynlik in elk geval my kragte vir ploeg en skoffel moet spaar.

Lyk vir my my MOB loop bra doderig, tensy arme Zeppie bereid is om die onverdunde Jan Klaas te verduur vir ‘n uur. As dit sou werk, kan ons miskien so vyfuur by Brooklyn-sentrum ontmoet. Ek is seker daar is koffieplekkies daar. Laat maar weet, dan kan ons skakel.

So dom in Sodom

Januarie 24, 2010 in Sonder kategorie

In die knus arms van weelde, seg ek julle.

So halftien eers hier aangekom, danksy ‘n nuwe, niksgewoon’ GPS wat ook nie die dorp ken nie, en wat ‘n plek is dit nie! Dis sulke groot, eggo-ende marmergange. My woonstel is amper so groot soos my huis en daar is agt kussings op die bed. Ek voel soos ‘n Biafraan in die Franse Riviera. Sal wragtag moet gaan bad voor ek in daai bed inklim.

Dit is seker wat jy kry as jy vir staatsdepartemente kursusse aanbied…

Ek onthou hierdie half as die grênd deel van Pretoria, maar ek het vergeet hoe grênd.

Nou het iemand genoem dat dit dalk ‘n goeie idee is om ‘n paar bloggers te ontmoet. Seg nou maar mens sou reël om Dinsdagmiddag na klastyd iewers by ‘n koffieplek bymekaar te kom, sou daar mense wees wat belangstel? Dit sou vir my ‘n helse voorreg wees.

Ek sal my lyne oophou so tussen die aanbied deur en kyk of daar ‘n byt of wat is tussen al die duisendes wat my blogs lees (mens mag mos maar droom!).

Saam na die Noorde

Januarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Op ‘n tyd was dit vir my cool en ietwat van ‘n avontuur, maar nou is dit ietwat van ‘n schlepp.

More-aand vertrek ek weer Pretoria toe om ‘n halwe week-lange kursus aan te bied, daar êrens in Brooklyn. Daar gaan ek die volk vertel hoe hulle hulle organisasie beter kan bedryf met ‘lean’-beginsels en knelgangteorie.

So ‘n paar jaar terug het ek ‘n prettige boekie oor die tema geskryf wat vir kleiner besighede en diensorganisasies so ‘n handige inleiding kon gee van hoe hulle ook die beginsels kon toepas, en van daar af het die ding ‘n lewe van sy eie gekry. Buiten die gewone kwota fabrieke was banke en SARS van die eerstes wat gebyt het en dit het nogal regtig ‘n verskil gemaak. Ongelukkig het Home Affairs nog nie die lig gesien nie!

Die nadeel van die ding is dat ‘n mens uiters bedag maak op enige oneffektiewe en morsige prosesse. Ek het Donderdag nege ure saam met my seun tou gestaan om hom ingeskryf te kry, terwyl ek jeuk om vir hulle uit te wys hoe hulle sommer tjop-tjop die sake dramaties kon verander.

Die kursus self is vir my groot pret, maar die ontwrigting ‘tense’ my al hoe meer op. Soos Koos Doep gesê het, “laat my nooit die grond verlaat nie”, so hou ek nie van vlieg nie. Verder weet mens ook nooit wat om te verwag met die kursusgroep nie. Sommiges is prettig, terwyl ander jou die hele dag met dieselfde leë uitdrukking aanstaar. Gelukkig kwyl hulle darem gewoonlik nie.

Maar, nou ja, met drie kinders op universiteit moet ek seker vat wat ek kan kry en bekhou.

So, as ek binnekort weer bietjie pateties klink, weet maar dis weer ek en ‘n vervelige hotelkamer. Tyd dat ek vir my ‘n opblaaspop kry.

Ek stel bekend

Januarie 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil graag ou George aan u bekendstel.

George is al so ses jaar by my in diens as algemene koördineerder van alle sake tuinagtig.

Om George ‘n tuinier te noem, sou ‘n gewelddadige miskenning wees van die man se vermoëns en sy geneigdhede. George is ‘n vrye denker, ‘n filosoof en ‘n pionier.

George is so ongeveer tweehonderd-en-dertig jaar oud. In ‘n koerantberig sal mens lees “…van onbekende ouderdom…”, maar hy moes hier rond gewees het toe my erf nog deel was van Piet Retief se oorspronklike plaas ‘Strandfontein’.

Op hierdie erf beweeg George dus rond met ‘n mistieke outoriteit en ‘n oervertroue, gesetel in ‘n ewige band met die geskiedenis van hierdie sanderige, arm grond wat die holte van sy skurwe voet omvat.

Op hierdie erf laat George hom dus ook nie voorsê wat mag en wat mag nié. George WEET.

As Vroulief dus nuwe, prettige jong plantjies in ‘n gesellige hoekie aanlê en dit misbehaag vir George, sal George dit op sy maer skouers neem om genoemde plante elders te repatrieer of trots in ‘n swart sak op die waentjie te gooi om verwyder te word.

Eweneens, as daar dalk jong opkomelinge van laasjaar se blomme in die vroeglente hul verskyning maak, sal George hierdie vermetelheid gou kortknip en met ‘n paar forse hale die ou, bruin ewewig herstel. Die verskyning van ‘n vreemde gewas is vir hom ‘n gruwel en ‘n aantasting van sy brose eer.

As Vroulief ‘n vreemde soort vetplant op die erf aanbring en eers laat lê om bietjie uit te droog, sal George die besluit vir die nuwe ligging van die plant namens haar neem. As hy dan wel die aardige plant onderstebo sou plant, moet jy jouself eers afvra of die plant dan nie in elk geval beter lyk so nie.

As ‘n gevestigde boom of ‘n struik op ‘n dag met George praat, kan jy seker wees jy sal met jou tuiskoms aan die einde van die dag daardie struik of boom in ‘n netjies verpakte formaat, in klein stukkies op die sleepwa aantref. Op die erf sal daar ‘n gapende nuwe, sonnige ruimte wees waar jou skadukol voorheen was.

U sou miskien tussen die reëls kan aflei dat sy doen en late soms nogal tot wrywing in ‘n christelike huishouding kon lei, en u sou reg wees. Menig is die nag dat Jan Klaas langs die koue skouer van sy liefste en dierbaarste ingeskuif het en menig is die oggend wat hy wakker word en besef dat die kwaad nie saam met sononder ondergegaan het nie.

Om van George ontslae te raak, is buite die kwessie. George is die geskiedenis – om hom af te dank sou wees soos om die Voortrekkermonument pienk te verf. Dit sou ‘n travestie wees van die lotsverloop van die natuur.

Verder is George ook met dun veseltjies en hoendersop aanmekaargehou. Om sy lewensbron af te sny, sou beteken dat hy bloot êrens op die strand sal gaan lê en binne minute vir ewig sal verdamp.

Die laaste argument vir sy behoud is ook taamlik selfsugtig, want ten spyte van sy tenger bou en sy antieke herkoms is daar in George ‘n energie gesetel wat deur geen natuurlike kragte verklaar kan word nie. Dit kom in elk geval gewis nie uit die brood, vrugte en vleis waarmee ek hom voer nie.

Dit is ‘n visie om te aanskou hoe George dit regkry om man-alleen hierdie geweldige groot erf met ‘n grassnyer baas te raak voor middagete. Daar is gerugte dat sy werk op my erf een van die min mensgemaakte aktiwiteite is wat ‘n mens uit die ruimte kan waarneem. Dis omtrent so aardig soos om van ‘n stuk biltong te verwag om ‘n ploeg te trek, maar dit is wat ou George op sy sigselwers regkry. Des te meer noodsaaklik as ‘n mens so ‘n overachiever-buurman soos ek het, met ‘n St Andrews-gholfbaanmentaliteit, wat sy velde liefderik versorg met ‘n twiezer en ‘n oorpluisie.

Viva, ou George. Sterkte, huwelik.

Ouers!

Januarie 14, 2010 in Sonder kategorie

Jarrrre gelede. ‘n Mooi niggie trou op Tzaneen.

Neels en Fransien is eregaste – hulle het wondersoete stemme en sing op al wat familietroue is, al seker die afgelope twintig, dertig jaar.

By die ontvangs in die stadsaal is daar heelwat toesprake want niggie se pa is ‘n gesiene man in die omgewing. Hoe later, hoe kwater en die gekuier raak al geiler.

Mettertyd is dit Neels se beurt om ‘n heildronk in te stel.

Neels is baie sjampanje nie gewoond nie. Neels is ook nie gewoond aan ‘n mikrofoon nie.

By die jonges se tafel vra ‘n knaap: “Wie’s daai ouballie met die mikrofoon?”

Groot stilte. “Geen idee nie,” hoor ek my stem.

Skielik voel dit asof ‘n haan behoort te kraai.

 

Vergewe die fasiele oordeel van ‘n alwyse, verleë tienerseun, Pa.

 

Ai, as ek jou maar net nog een keer kon hoor sing.

Neptunus se maat

Januarie 9, 2010 in Sonder kategorie

So twee. drie jare gelede het vroulief my ‘n besondere verjaarsdaggeskenk gegee, iets wat ek my lewe lank al oor droom. Dit was ‘n eenvoudige blou kaartjie wat my en ‘n metgesel toelaat tot ‘n scuba-duikkursus in die Baai.

In my kleintyd al het ek met ‘n lekkende duikbril en ouboet se een stukkende flipper tussen die hangende, groen-stralende klosse slyk in die plotdam rondgedryf en my verbeel ek is Fritz Deelman. So kon ek op my eie, unieke wyse gedoemde duikbote red en groot grotte vol geheimsinnige, dreigende gedaantes eksploreer.

Nou ja, Vroulief kon nie self die kursus bywoon nie, toe neem ek maar die rooikopdogter saam. Ons het ligdag by die lokaaltjie ingeklok en getrou die interessante stel instruksies beluister. Die wonderbaarlike wisselwerkinge van vloeistof en gas kan blykbaar nogal erge invloede op jou lyf veroorsaak en ek was selfs verplig om weer die verslete ou HP-sakrekenaartjie ter selfverdediging uit te pluk.

Die oefeninge in NMMU se verhitte swembad het nie te onaardig afgeloop nie. Dinge het egter bietjie ontaard toe ons moes aanmeld vir die oopsee-oefeninge by Hobie Beach.

Wanneer die vernuftige vervaardigers van duikpakke opgeruimd gaan plaasneem op ‘n groot rubbervel om die lywe uit te knip, is dit met die vorms van jou gewone, middelslag vlootduikers in hulle gemoed – manne van groot gespiertes en met middeltjies net groot genoeg om die sixpack ferm te omvat. As die gedagte aan ‘n anderse vorm toevallig deur hulle gedagtes sou gaan, sou hulle skuldig glimlag, hul koppe skud om die absurde gedagte te laat verwaai en terugkeer na hul skwiekerige knip- en wewery van die hol Apollo’s.

Jou normale man, ek sou graag glo jou beter ontwikkelde man, se lyf ondergaan so na vyftig jaar ‘n soort vorminversie. Heuwels word dale en nuwe berge wentel uit die dieptes op.Wat staan, begin hang en in die algemeen neig die dinge van die pole om eerder by die meer vertroude ewenaar bymekaar te kom. Dis net jou mees voorbeeldige spiere wat die druk van hierdie migrasie weerstaan.

Vir die doeleindes van die argument, stel jou ‘n maer swanger vroutjie voor wat ‘n tweeling verwag, of onse president in sy luiperd-troupak. Geen normale duikpakwewer kan so ‘n vorm voorsien nie en die kompromis wat jy hier aan die ontvangkant moet tref, is om ‘n pak te kies vir die smal boonste en onderste ekstrema, of dan vir die breër ewenaar.

Synde ‘n bietjie ydel, het ek eers die nouer opsie probeer. Ek moet sê, die gevolg was nie te onaardig nie. Die bulte is taamlik uitgeglad en ek het soos ‘n jong Wes-Indiese atleet gelyk in my swart kondoompak. My nek en wange was egter besonder dik gebult en ek het nie gehou van die pers kleur wat my voete en gesig begin aanneem het nie. Verder het dit die vreemde effek gehad dat my bene en arms weer met ‘n twênggeluid reguitgeskiet het as ek hulle probeer buig. Die afrigter was so ewe besorg dat dit die vlootskepe sou ontstel. Sarkastiese bliksem.

Daar was ook ‘n ander effek wat ek nie sal probeer beskryf nie, maar waarmee Caster Semeya waarskynlik simpatie sou kon hê.

So dan, die groter pak. Dié het min of meer soos ‘n kerkpak gesit en was duidelik bedoel vir manne wat reg van noord na suid ruimer bedeeld was met lyfmateriaal, nie net daar rondom Nairobi nie. As ek stap, het die broekspype met so ‘n sieklike, dooie sjloepgeluid om my bene geflap.

Voordat jy gaan duik, weeg die manne jou en tel die gewigte af wat jy om jou lyf moet bind om jou behoorlik te kan laat sink. My gewigte was omtrent so swaar soos een van die Backstreet Boys, en ek het amper net daar moed opgegee. Ek moes mooitjies hierdie sak lood, my duikgoed en nog die duikbottel deur die sand met my linnelam, rubberomhulde lyf water toe sleep, waar die grommende boot ons ingewag het.

Ek weet nie wat ek daardie oggend geëet het nie. Ooggetuies het later gesê daar was iets geels in. Nietemin, daar het ‘n taamlike wind gewaai en die see was effens bulterig soos die boot die golwe tref. Ek was aanvanklik in ‘n goeie stemming: somer, son en saffier, en het  Gé se seemansliedjies gesing en die gevoel van die wind deur my bles geniet. Effens later was dit egter half of die son so ‘n groenerige skynsel kry, en skielik duik daar iets soos ‘n Alienbaba vanuit my maag in my keel.

Ek het vinnig agteroor probeer duik om my kop oor die kant te kry, maar van die uitkomste het nogtans vir dogter wind-af getref en sy was rondom uitgefreak. Terwyl sy haar swart rubberpak in die plaswatertjies probeer afwas, het ek op my maag oor die rand gehang. Toe ek weer beter voel en terugkyk, merk ek ek sit alleen hoog en droog in die wind en al die ander sit onder, in die ander hoek van die boot my vies en aankyk.

Wel, hulle verlies. Van ons mooiste Afrikaanse musiek het hul ontstaan op die see gehad. Dink maar aan “Hoe sag gly ons bootjie” en “Seeman”. Miskien selfs “Daar kom die Alibama”.

My tribulasies was nog nie verby nie. By die duikplek aangekom, het ons almal fluks uitgespring, maklik genoeg. Die leier is eerste af en het ‘n lyn aan die bodem geheg.

Daar kan ek nottendêm onder die water inkom. Die ander was al ondertoe en terug, toe skop ek nog ‘n skuimwolk op soos wat ek op en af spring, roei, klap en skop. Die gewegery het natuurlik nie rekening gehou met die dryfeffek van hierdie reuse-duikpak nie. Ek kon net sowel weer vlerkies aan my arms gedra het soos my kinders toe hulle wou leer swem.

Die arme afrigter het naderhand omtrent op my skouers kom staan, en met die hulp van dogter en ‘n paar ander vrywilligers is ek toe uiteindelik onder die water ingesleep.

Ek sou graag wou sê dit was “wow”, maar daardie dag het die see ook nie saamgespeel nie en mens kon glad nie ver sien nie. Normaalweg is die sig darem beter en kan mens staatmaak op ‘n paar nuuskierige skeurtandhaaie wat gereël word om die toeriste te kom vermaak. Ek is nogtans langs die lyn af tot onder, het die voorgeskrewe oefeninge gedoen, het bietjie na die seegras gekyk, vir ‘n lui pienk vis ‘n vingerteken gegooi, my rigting verloor toe ek nie meer my duikmaats kon sien nie en uiteindelik ‘n hele ent van die boot af uitgekom.

Die vroue het my die eerste gewaar. ‘n Horde gewillige, gespierde jongelinge (onthou, ek het ‘n mooi dogter) het aan my duikpak getrek om my in die boot  te help. Op ‘n stadium was sowat die hele duikpak al in die boot en my vermoeide lyf  het nog vars en nakend, soos ‘n pienk weekdier met ‘n rubbertanga, aan die buitekant van die boot gehang. Uiteindelik het die rubber se elastisiteit ingeskop en is ek danksy Hooke se wet, soos met ‘n kettie, amper bo-oor die boot geskiet.

Met die terugrit moes ek om een af ander rede blykbaar alleen agter by die enjin sit. Ek vermoed hulle wou net seker maak die skroef byt mooi vas in die water.

Nou kort ek nog een duik van die boot af voordat ek my laaisens kan kry. Maar, ek het intussen uitgevind dis baie lekkerder om net te snorkel.

Wat laat jou lag?

Januarie 7, 2010 in Sonder kategorie

Na aanleiding van my diepsinnige (!) mymeringe oor humor in die vorige blog, het ek gedink ek sou nogal graag wou sien wat julle eie gunstelinggrap (of twee) is.

Stuur dit in, asseblief! Dit kan prettig wees.

Nog een uit die boek:

Vrou: “Hou julle daai Viagra-pil aan?”

Apteker: “Ja, sekerlik.”

Vrou: “Kan mens dit oor die toonbank kry?”

Apteker, huiwerig: “Wel ja, seker as ek twee sou neem…”

‘n Ander een: Wat is geel en staan op ‘n hoek?

‘n Nagwagkaas.

Wat is swart en versprei oor die woestyn?

‘n Trop Marmite.

Om te lag

Januarie 7, 2010 in Sonder kategorie

Ek het die vakansie groot plesier gehad aan die lees van die boek “Quirkology”, van Prof. Richard Wiseman. Hy is ‘n invloedryke, beroemde eksperimentele sielkundige wat die eienaardighede van menslike gedrag navors en op sy webblad is daar heelwat komiese, maar interessante videos te sien.

Die hoofstuk oor humor was vir my besonder interessant. Hy het byvoorbeeld ‘n wêreldwye kompetisie geloods om uit te vind wat mense as die snaaksste grap ooit beskou. Ek sal dit nie vir julle spoil nie, maar vir my was die snaaksste een die grap oor die hond wat by die poskantoor instap om ‘n telegram weg te stuur. Die posmeester kyk so ewe toe hoe die hond in die spasies skryf: “Woef woef woef woef woef woef woef woef woef”.

Behulpsaam vra die posmeester: “Ek sien u het die woord ‘woef’ nege keer geskryf. Ek wil net aan u noem dat dit dieselfde sal kos as u dit tien keer skryf.”

Die hond kyk na die teks en kyk dan gesteurd om: “Maar dit sal mos nou hoegenaamd nie sin maak nie, man,” seg hy.

Ennieway. Een van die navorsingsresulate was vir my ‘n bietjie terneerdrukkend. Dit blyk dat dit wat mense die snaaksste vind, is wanneer ‘n ander dom optree, verkleineer word of op ‘n manier sleg tweede kom. Blykbaar gee dit mens so ‘n effense gevoel van meerderwaardigheid.

So, as mens, hoe subtiel ookal, skryf oor eie verleenthede, val dit in dieselfde kategorie as Schuster se boeliepoetse of die Three Stooges se houe oor die kop, of ‘n kat wat ‘n muur vasloop!

Daar is darem ‘n ander soort humor ook, waar die verwagting verydel word – jy word opgestel vir ‘n verwagte uitslag, maar dan neem dinge die verrassende wending.

Twee koeie sit en bier drink in ‘n kroeg. ‘n Perd kom aangestap en vra of hy by hulle mag aansluit.

Die een koei kyk verbaas na die ander en sê: “Haai, Blommetjie, daardie perd kan praat!”

Uniewinkels

Januarie 5, 2010 in Sonder kategorie

Een van die dinge in die lewe wat vir my die swaarste is, is om tyd in ‘n klerewinkel te moet deurbring.

Ek vermoed dit stam uit my kleintyd, toe ek as jongste en weerloosste saamgesleep is na moeder se gunsteling-klerewinkel in Residensia. Daar het sy met strenge vermanings my brose lyfie vir ure lank staangemaak tussen lappe, knope, materiale, skoene, lappe en materiale, terwyl hulle doenig was met kleresake. Dit, terwyl vrolike krete deur die oop vensters kom soos my ondeunde medejongelinge hulleself buite in een onophoudelike stroom sierlik vanaf boomtakke in die ghwarriegat werp, of verbete agter ‘n gespierde jong Charles Matthews met ‘n leerbal in sy arms aanhardloop.

Tog, onthou ek gister toe ek skielik in my delikate neus weer die ou-ou snuf van lappe kry, was daar ook goeie tye.

Ek onthou die uitstappies na Uniewinkels in Vereeniging om vir die jonge Jan Klaas met skoolklere vir die nuwe jaar toe te rus. Soms kry Pa parkeerplek voor McRobbs se oogkundige/apteek, met sy mikroskope en lensegoed, of ander kere weer voor ou Podlashuc se winkel waar hy knorrig, maar fluks sy rye solus sewe plate of groot langspeelplate smous.

In die heilige, ruim sale van Uniewinkels moet jy deurloop na agter en met die trappe op, waar die skoolklere gehou word, heeltyd vergesel van hierdie swoel, sout klerereuk en verby die fraai tannies met die rosige wange en plastiekbrille agter die glastoonbanke.

Bo word hemp na hemp en broek na broek uit hulle speldeharnas geknip, geskud en oor Ma se arm gehang vir die passlag. En, moenie glo die ding wat pas is die regte een nie – daardie hemp moet bly pas vir ‘n jaar of twee, terwyl jou lyf sy volle ontknopinge en groeie deurgaan. Die uiteindelike hemp waarmee jy dus by die pashokkie uitkom, lyk bra soos ‘n kleed uit ‘n Wagneropera, en die broek is eers reg as beide Ma en die verkoopsdame se hande nog by die rek kan inpas.

Die uitsoek van die baadjie is ‘n vername affêre en verskeie kundiges lewer hier hulle insette, maar uiteindelik is dit ook maar ‘n geurige jas wat daar êrens, buite jou verste dimensies, prekêr aan jou brose raamwerk hang.

Ook die skoene moet ruim speling hê, sodat jy omtrent eers ‘n tree binne hulle moet gee voordat hulle begin saamloop. Jou enigste troos is dat daar ‘n goeie dertigtal kinders saam met jou in die klas gaan wees wat ewe belaglik, versuip in ‘n klerelaag, sal probeer om tydens klas hulle gesigte te laat wys.

Met die betaalslag neem Pa oor. Die rosige verkoopsdame het intussen die klere in sulke groot, plat, wit en blou kartondose gepak en hierdie pakaas is saamgeneem na die betaaltoonbank. Hier word elke kledingstuk se besonderhede tydsaam en sorgvuldig oorgeskryf deur maer, bebrilde bles ooms wat so nou en dan met Pa iets klererig skerts. Dan haal Pa sy tjekboek uit en skryf met breë, trotse hale sy tjek uit.

Op hierdie klimaksfase gebeur daar ‘n ding wat my oneindig verwonder het. Die bles man trek aan ‘n klein kassie teen die muur wat met ‘n “sjloep”-geluid oopgaan. Hy haal daaruit ‘n silindertjie, sit die papiere daarin en plaas dit terug in die kassie. Die silindertjie verdwyn met nog ‘n “sjabadap”-geluid na ‘n silinderhemeltjie êrens en kom dan na ‘n ruk skielik weer te voorskyn vir Oom Bles om uit te haal.

Eers baie jare later, by Universitas-platewinkel in Pretoria, het ek verstaan hoe en hoekom hierdie pneumatiese koekepannetjie werk.

Soms kon ek die skoene aanhou en daarmee by die winkel uitloop tot by die ou swart en wit Hudson. Ek onthou eenkeer toe ek my eie stap so knars-knars beluister het, het Pa my so ‘n soort oorveeg oor die kop gegee: “Loop reg, jou niksgewoon’ vuillis,” het hy gelag.

Snaaks, as ek die proses so opskryf kan ek nie regtig uitwerk wat dan so lekker daaraan was nie.

Hoekom mis ek dit dan so?