Nie perdekoop nie

Desember 27, 2009 in Sonder kategorie

Met gal in sy gemoed knip-knip Ferdinand sy oë in die flitsende vroe-moretonele deur die trein se venster. Dit kon alles so anders afgeloop het, dink hy.

Dit het eintlik gisteroggend op die stasie al sleg begin. Ellie het hom opgewonde ingewag, hom teer omhels en buite in die parkeerterrein aan haar pa gaan voorstel – ‘n bebliksemde, fris omie met ‘n bles en ‘n blonde besemsnor, bietjie soos Chewbacca met ‘n valhelm. Temmer van die Bosveld.

Ferdinand is delikaat aanmekaargesit: ‘n lang, sensitiewe rooikoptokkelok wat sy inspirasie eerder by Proust en Plato sal soek as in die Car Magazine of Landbouweekblad. Hy het Ellie in die kerkkoor leer ken en die liefde tussen hierdie twee verwaarloosde geeste het geil gebloei.

Buite, langs die bakkie, het die onheil begin toe daar uit die bloute ‘n bol tou oor die bakkie se bak na Ferdinand aangevlieg kom. Knap het hy die tou gevang en gewag op die volgende instruksie. Uiteindelik kom Oom Bêrend om die bakkie gestorm, gryp die tou by hom en knor: “Gaan klim liewer  in. Ek sal self die blerrie tou vasmaak.”

Die rit plaas toe was nors, stil en stamperig. Ellen het gelukkig sy hand koer-koer styf vasgehou en hom met die aankoms deur al die voorstel- en afpakformaliteite gelei. Ma Sanna was darem vriendeliker. Miskien het sy die potensiaal van hierdie ongeslypte diamant raakgesien, want sy het moeite gedoen om Ferdinand minder na ‘n bose sweer te laat voel.

Deur die dag het Ellie hom die verskeidenheid plaasaktiwiteite gaan wys en in die algemeen groot sorg gedra om Ferdinand uit haar pa se pad te hou.

Met groot geleerdheid kom ook diepe insigte, en Ferdinand het sy beperkinge geken. Toe Ellie dus voorstel dat hulle gaan perdry, het Ferdinand verwoed en vlot geprotesteer. Niks kom egter tussen ‘n boeredogter en haar grootwordgenietinge nie, en met haar groot hart wou sy haar geliefde graag in die dieptes van hierdie plesier laat deel.

Vreemd genoeg was die ryery nie te onaardig nie, want die motgevrete ou Rosinante was lui en sy rug was hol. Op haar sierlike wit perd, Fleur, was Ellie ‘n toonbeeld van energie en vreugde en sy het kringe om Ferdinand gery.

Op pad huis toe was dit skielik asof ‘n lig in Rosinante se oë begin skyn. Soos wat hy die naderende rusplek met sy groot neusgate snuif, het die ou-ou legendes van wilde, romantiese vlakteperde seker deur sy harige gemoed geflits en het hy oorgeslaan na die vinnigste draffie wat sy moeë ou ledemate hom wou toelaat. Dit het groot konsternasie by arme Ferdinand veroorsaak. Ellie se raad om aan die teuels te trek, was nutteloos – die perd was naderhand so ingetrek dat dit gelyk het of dit ‘n seeperdjie is, maar wat hol, is hy. Gelukkig kon Ferdinand op ‘n manier bo bly, min of meer soos wat ‘n krieketbal bo ‘n kolf in die lug geklop-klop kan word.

Eers met die tuiskoms het die volle implikasies van Rosinante se sluwe wraak aan die lig gekom. Dit het begin met ‘n effense gejeuk aan Ferdinand se agterkwarte, maar spoedig het dit soos die digter se wolkie, gegroei tot ‘n bliksem wat brul en beef. Ferdinand was erg allergies vir Rosinante se sweet en die rooi uitslag het gestrek van sy linkerenkel, binneboudlangs noordwaarts via die noordelike behangsels en dan weer suidwaarts tot by die regterenkel.

Dit was ‘n hartseer spektakel om Ferdinand met net sy onderbroek en ‘n blokkieshemp, op sy maag op die tafel te sien kreun terwyl Oom Bêrend met ‘n knorrige frons, met‘n stywe, geëelte vinger Horse Embrocation aan F se tere, rooigeswelde onderdele en laer ekstrema smeer. Ellie en Ma Sanna se skuldige gekloek het darem gehelp om Ferdinand se geduikte eer vaagweg te herstel.

Na aandete het die gesin saam nuus gekyk. In hierdie geweste is die nuus ‘n vername gebeurtenis en ‘n erkende, deursigtige vyandige aanslag. Oom Bêrend het sterk opinies oor elke nuusitem en teen die einde van die bulletin was sy welige snor oudergewoonte bewend van verontwaardiging. Selfs die weerberig het deurgeloop onder sy bitter kommentaar.

Na Noot vir Noot het die twee ouers uiteindelik nag gesê en gaan slaap.Teen hierdie tyd was Ferdinand in die bui vir ‘n stewige vry, maar toe hy naderskuif was dit asof ‘n vreemde koeligheid by Ellie posgevat het.

Ferdinand het geneul, gevlei en gedreig, maar Ellie wou nie sê wat dit was wat haar pla nie. Dit was ‘n lastigheid, want so ‘n gulde kans vir ‘n toesigvrye vry kry mens maar min, en die beskikbare tyd het al minder geraak.

Uiteindelik kon hy haar sover kry om te fluister: “Jy het dan gesê jy gaan vanaand ouers vra…”

Ferdinand het koud geword tot in sy fondamente. Natuurlik, sy was reg! Dit was tog eintlik die groot doel van die kuier, en hier laat hy die geleentheid voor haar oë by die sitkamer uitloop!

Met een sprong was hy op sy voete. Ellie wou nog protesteer, maar met ferme tred was Ferdinand op pad na die hoofslaapkamer, Ellie agterna.

Ferdinand het hard geklop.

Wat hy gesien het toe hy die deur oopstoot, sal hom sy lewe lank bybly. Ma Sanna het regop gesit in die kooi. Reg voor hom was Oom Bêrend: van bo af bles, dan diep frons wat oor die welige, trillende snor loer, dan naghemp sonder broek, dan sy groot, harige kaalvoete. In sy regterhand is ‘n beskuldigende koos, met blommetjies op geverf.

Soos ‘n Italiaanse generaal kon Ferdinand onderskei wanneer die stryd gewonne is. Hy het swyend agteruit getree en weer die deur toegestoot.

In die donker gang het Ellie hom net een kyk gegee, omgedraai en haar in haar kamer gaan toesluit.

                                                                    ***

Vir Ferdinand lyk die bosveldtonele buite die treinvenster somber en mistroostig. Sy digtershart is broos en seer.

Sy kon darem minstens kom koebaai sê het.

15 antwoorde op Nie perdekoop nie

  1. Baie geniet. Dankie!

  2. ysprins het gesê op Desember 27, 2009

    lekker gelees. die “koer-koer styf vashou’ is so mooi gestel!

  3. Trakie het gesê op Desember 27, 2009

    Lekker gelees hieraan! 🙂

  4. pasella het gesê op Desember 27, 2009

    baie lekker storie! Arme Ferdinand!

  5. Maak glo fraai blompotte.

  6. Lekker dag, Therina!

  7. Baie dankie, Plankloper!

  8. Dankie, Ysprins! Geniet die dag.

  9. Ek kan hiervan getuig. Die verhaal is so effens outobiografies…

  10. Baie dankie, Kelkiewyn!

  11. Dankie, LM. Ek is self jammer vir die jafel. Ek dink ek moet sy storie later opvolg. Dis wreed om hom so te los!

  12. Ek hoop dat dit goed gaan? Voorspoed vir ‘n wonderlike en gelukkige 2010!!

  13. Dit gaan baie goed, dankie Rosiemaryn. Ek hoop jy het ook ‘n wonderlike nuwe jaar.

  14. Goeie storie!! Voorspoed vir 2010 – mag dit ‘n wonderlike jaar vir jou wees!!

  15. Baie dankie, Pienkie, vir jou ook! Ek loer dikwels daar by jou in, maar kan niks intelligent oor die wonderlike resepte kwytraak nie.

Los ’n antwoord vir Trakie. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.