Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

Ontlading

Desember 31, 2009 in Sonder kategorie

Lui, langsame dae vol van lekker kos, son en seesproei. In hierdie helder maanligaand ruik ek die koel, sout seelug wat inwaai deur die venster agter my. Dit voel goed om mens te wees.

 

Elke middag, met sonsondergang, is daar ligflitse al langs die strand van Glentana af soos jong fotograwe probeer om die mooi oranje liggloed op die sand vas te vang.

“……..het ons saam GEVAL OP DIE WATERSKOETER toe hy die draai te vi….” loop rooikopdogter voor die oop deur verby. Sy kan nie stilstaan as sy iemand bel nie.

Worshondtefie het verlief geraak op matriekdogter se teddiebeer, pomp die ding voos, al om die slaapkamermat. Beer nou herbenoem na Rafeltjie de Beer.

Absoluut omring deur vroumense – weduwees, grasweduwees en eggenotes. Begin al in sinkronisasie PMS ontwikkel. Op ‘n manier is dit eintlik vrek eensaam. Mis laasjaar se gegorrel in kringe met trosse Gauteng/ Vrystaatfamilie. Vandag amper ‘n arme gawe Tuks-geskiedenisprof se ore van sy kop afgepraat, bloot omdat hy eerste soliede mansgeselskap in baie dae was. Vermoed dit was vir hom nuut om die luisterende party te wees.

“……sal my more met ‘n MOTORFIETS KOM OPLAAI by die Dekke, dan ry ons saam Stellen….”. Dogter.

Tob oor die noodsaaklikheid van harmonie tussen gesinslede. Dalk, soos die NG Kerk, moet onversoendes mekaar maar liewer taktvol en in liefde vermy.

Tob oor die oujaar. Bly ek het blog ontdek. Bly ek het nog mense wat vir mekaar omgee.

Nie perdekoop nie

Desember 27, 2009 in Sonder kategorie

Met gal in sy gemoed knip-knip Ferdinand sy oë in die flitsende vroe-moretonele deur die trein se venster. Dit kon alles so anders afgeloop het, dink hy.

Dit het eintlik gisteroggend op die stasie al sleg begin. Ellie het hom opgewonde ingewag, hom teer omhels en buite in die parkeerterrein aan haar pa gaan voorstel – ‘n bebliksemde, fris omie met ‘n bles en ‘n blonde besemsnor, bietjie soos Chewbacca met ‘n valhelm. Temmer van die Bosveld.

Ferdinand is delikaat aanmekaargesit: ‘n lang, sensitiewe rooikoptokkelok wat sy inspirasie eerder by Proust en Plato sal soek as in die Car Magazine of Landbouweekblad. Hy het Ellie in die kerkkoor leer ken en die liefde tussen hierdie twee verwaarloosde geeste het geil gebloei.

Buite, langs die bakkie, het die onheil begin toe daar uit die bloute ‘n bol tou oor die bakkie se bak na Ferdinand aangevlieg kom. Knap het hy die tou gevang en gewag op die volgende instruksie. Uiteindelik kom Oom Bêrend om die bakkie gestorm, gryp die tou by hom en knor: “Gaan klim liewer  in. Ek sal self die blerrie tou vasmaak.”

Die rit plaas toe was nors, stil en stamperig. Ellen het gelukkig sy hand koer-koer styf vasgehou en hom met die aankoms deur al die voorstel- en afpakformaliteite gelei. Ma Sanna was darem vriendeliker. Miskien het sy die potensiaal van hierdie ongeslypte diamant raakgesien, want sy het moeite gedoen om Ferdinand minder na ‘n bose sweer te laat voel.

Deur die dag het Ellie hom die verskeidenheid plaasaktiwiteite gaan wys en in die algemeen groot sorg gedra om Ferdinand uit haar pa se pad te hou.

Met groot geleerdheid kom ook diepe insigte, en Ferdinand het sy beperkinge geken. Toe Ellie dus voorstel dat hulle gaan perdry, het Ferdinand verwoed en vlot geprotesteer. Niks kom egter tussen ‘n boeredogter en haar grootwordgenietinge nie, en met haar groot hart wou sy haar geliefde graag in die dieptes van hierdie plesier laat deel.

Vreemd genoeg was die ryery nie te onaardig nie, want die motgevrete ou Rosinante was lui en sy rug was hol. Op haar sierlike wit perd, Fleur, was Ellie ‘n toonbeeld van energie en vreugde en sy het kringe om Ferdinand gery.

Op pad huis toe was dit skielik asof ‘n lig in Rosinante se oë begin skyn. Soos wat hy die naderende rusplek met sy groot neusgate snuif, het die ou-ou legendes van wilde, romantiese vlakteperde seker deur sy harige gemoed geflits en het hy oorgeslaan na die vinnigste draffie wat sy moeë ou ledemate hom wou toelaat. Dit het groot konsternasie by arme Ferdinand veroorsaak. Ellie se raad om aan die teuels te trek, was nutteloos – die perd was naderhand so ingetrek dat dit gelyk het of dit ‘n seeperdjie is, maar wat hol, is hy. Gelukkig kon Ferdinand op ‘n manier bo bly, min of meer soos wat ‘n krieketbal bo ‘n kolf in die lug geklop-klop kan word.

Eers met die tuiskoms het die volle implikasies van Rosinante se sluwe wraak aan die lig gekom. Dit het begin met ‘n effense gejeuk aan Ferdinand se agterkwarte, maar spoedig het dit soos die digter se wolkie, gegroei tot ‘n bliksem wat brul en beef. Ferdinand was erg allergies vir Rosinante se sweet en die rooi uitslag het gestrek van sy linkerenkel, binneboudlangs noordwaarts via die noordelike behangsels en dan weer suidwaarts tot by die regterenkel.

Dit was ‘n hartseer spektakel om Ferdinand met net sy onderbroek en ‘n blokkieshemp, op sy maag op die tafel te sien kreun terwyl Oom Bêrend met ‘n knorrige frons, met‘n stywe, geëelte vinger Horse Embrocation aan F se tere, rooigeswelde onderdele en laer ekstrema smeer. Ellie en Ma Sanna se skuldige gekloek het darem gehelp om Ferdinand se geduikte eer vaagweg te herstel.

Na aandete het die gesin saam nuus gekyk. In hierdie geweste is die nuus ‘n vername gebeurtenis en ‘n erkende, deursigtige vyandige aanslag. Oom Bêrend het sterk opinies oor elke nuusitem en teen die einde van die bulletin was sy welige snor oudergewoonte bewend van verontwaardiging. Selfs die weerberig het deurgeloop onder sy bitter kommentaar.

Na Noot vir Noot het die twee ouers uiteindelik nag gesê en gaan slaap.Teen hierdie tyd was Ferdinand in die bui vir ‘n stewige vry, maar toe hy naderskuif was dit asof ‘n vreemde koeligheid by Ellie posgevat het.

Ferdinand het geneul, gevlei en gedreig, maar Ellie wou nie sê wat dit was wat haar pla nie. Dit was ‘n lastigheid, want so ‘n gulde kans vir ‘n toesigvrye vry kry mens maar min, en die beskikbare tyd het al minder geraak.

Uiteindelik kon hy haar sover kry om te fluister: “Jy het dan gesê jy gaan vanaand ouers vra…”

Ferdinand het koud geword tot in sy fondamente. Natuurlik, sy was reg! Dit was tog eintlik die groot doel van die kuier, en hier laat hy die geleentheid voor haar oë by die sitkamer uitloop!

Met een sprong was hy op sy voete. Ellie wou nog protesteer, maar met ferme tred was Ferdinand op pad na die hoofslaapkamer, Ellie agterna.

Ferdinand het hard geklop.

Wat hy gesien het toe hy die deur oopstoot, sal hom sy lewe lank bybly. Ma Sanna het regop gesit in die kooi. Reg voor hom was Oom Bêrend: van bo af bles, dan diep frons wat oor die welige, trillende snor loer, dan naghemp sonder broek, dan sy groot, harige kaalvoete. In sy regterhand is ‘n beskuldigende koos, met blommetjies op geverf.

Soos ‘n Italiaanse generaal kon Ferdinand onderskei wanneer die stryd gewonne is. Hy het swyend agteruit getree en weer die deur toegestoot.

In die donker gang het Ellie hom net een kyk gegee, omgedraai en haar in haar kamer gaan toesluit.

                                                                    ***

Vir Ferdinand lyk die bosveldtonele buite die treinvenster somber en mistroostig. Sy digtershart is broos en seer.

Sy kon darem minstens kom koebaai sê het.

‘n Bekvelder in die Rand

Desember 9, 2009 in Sonder kategorie

Snaaks hoe kwesbaar alleen wegkom ‘n mens soms maak.

Hier sit ek alweer in ‘n gastehuis in die berugte Gomorra van Gauteng, wat ons Baaienaars so vrees, ‘n klipgooi van die lughawe af. Ek bied ‘n kursus aan hier in die omgewing.

En, dis wonderlik!

Die gastehuis staan langs ‘n gholfbaan op ‘n erf met reusagtige bome, waarin die tortelduiwe en lysters se klanke vanaand met sonsondergang swaar geëggo het  in die sononderlug. En skielik was ek weer klein en tusen die ou groot boomreuse in Vosloopark langs die groot rivier, by my grootwordwêreld. Wat is dit aan die wind se suis deur hoë boomtoppe wat ‘n mens se gemoed so kan losmaak en jou hart so laat sing?

Om die lied te voltooi bars hier toe netnou ‘n lekker hoëveld-donderstorm los, daardie soort wat so lui-lui oor die vlaktes aangerol kom en dan sy volle woede in ‘n ekstase van helder blitse en donder uitspeel.

Nou val daar swaar na-druppels uit die groot bome op die dofverligte, nat pad, in hierdie bevredigde, koue stilte.

Dis ‘n mooi wêreld.

Doom Raymond en die lepel

Desember 8, 2009 in Sonder kategorie

Een dag, toe Jan Klaas nog ‘n prettige jongeling was wat kaalvoet en onskuldig die plotte in sy klein dorpie platgeloop het, is die saad gesaai vir ‘n belewenis waarvan die impak op sy lewe vandag nog onderskat word.

Sjoe. Lang sin. ‘Skuus.

Ennieway.

In Jan Klaas se dorpie is ‘n nuwe kerk gebou om die kerk in die buurdorp te vervang, siende dat die arme ryk en arm witmense gedwonge uit die buurdorp verskuif is.

Aangesien daar in Jan Klaas se dorp nog geen rusplek was vir die holte van die voet van die nuwe predikant nie, is voorgestel dat die leraar en sy gade hulle intrek by Jan Klaas-hulle sou neem. Daar het juis plek ontstaan toe Ouma Klaas, gatvol vir al die jonger Klase, baie konsidererend na ‘n ouetehuis in Sunnyside verhuis het.

Die nuwe predikant was van die ou skool en al taamlik bejaard. Hy het ‘n soort Eugene-Terreblanche Afrikaans gepraat, soos in: “Wêê die VOLK wat sy rug kêêr op die GOD van sy voorvaad’re”. Sy sonore stem kon galmend elke hoekie in ‘n kerk volmaak.

Die eintlike hoofspeler van ons klein drama was egter sy vrou. Ruim bedeeld was sy in verskeie opsigte, ook in Raad met Eetgewoontes (“You must SIP your milk”) en fisiese dimensies. Duidelik was sy die eintlike krag agter die troon. Sy kon die inspirasie langs die kleine dominee gewees het, van die ou volksliedjie: “Met jou aan my sy/ o liefling van my/ dan vrees ek geen gevaar”.

En dan die lepel. Daardie lepel.

Een middag het die Klase en hul geleerde gaste getrou en gemoedelik om die tafel vergader vir middagete. Alles het voorspoedig gegaan, tot Jan Klaas se lepel per ongeluk van die tafel af geval het.

Die lepel het (doelbewus?) ‘n entjie ver geskuif as wat sy gewoonte was en Jan Klaas was verplig om homself so te sê huid en haar onder die tafel in te wend.

Toe Jan Klaas onder die tafel sy oë opslaan, kyk hy senter in die dieptes van die verdoemenis in, g’n meter van hom af nie. Mevrou Dominee het blykbaar gereken dat die fyner dinge, soos eetgewoontes, vir die bokant van die tafel bestem is en dat ‘n mens onder die tafel as’t ware maar kan laat gaan. Wydsbeen het sy gesit en trots haar aansienlike bates aan die niet blootgestel, dieselfde niet wat Jan Klaas se waterige ogies nou met afgryse sou gadeslaan.

Onafhanklike ontleders het later oor die moontlikheid bespiegel dat Mevrou Dominee dit dalk doelbewus so laat ontplooi het om die Jonge JK sy eerste blootstelling aan die beduiwelinge van die toekoms te gee.

Ander, weer, het die denklyn gevolg dat daardie beeld, daardie benoude visie, enkel en alleen verantwoordelik daarvoor was dat Jan Klaas se puberteit ses maande later plaasgevind het as wat ‘n mens uit sy latere skandeliker gedragspatrone sou kon voorspel.

Dit was waarskynlik ook die oorsaak van Jan Klaas se oordrewe beheptheid met gru-flieks en boeremusiek.

Naskrif

Desember 4, 2009 in Sonder kategorie

Met  skerwe en wyn op die mat

het die kuier in stukke gespat

en die suis van die swaard wat jy sê

laat die stilte oorkruis deur my lê

Daarna het ek spore van jou

uit die kussing se na-geur geklou

met ‘n weemoed wat knus soos ‘n jas

om die kou van my ribbekas pas

Vir masochiste

Desember 1, 2009 in Sonder kategorie

Vir die soveelste keer in sy lewe smoor Jan Klaas ‘n skeldwoord wat sidderend oor ons ver verlate vlaktes sou weergalm. En, vir die soveelste keer suig hy die bloed teer uit ‘n swaar verwonde linkerduim.

Agter Janklaas se gepynigde uitdrukking skuil die sware besef van sy aandeel aan ‘n skat van gebroke werklikhede, van koddige skeppinge wat krom en skeef, soos ‘n tapisserie oor die landskap van Suid-Afrika gepleister is.

Skewe mure, portrette, rakke, geute en gordynrelings; lekkende dakke en pype; gesmeerde verf- en plakwerk; teleurgestelde supermodelle – alles getuienis van ‘n sekere onderbedeeldheid in die gebied van handvaardighede. ‘n Leemte met groot noukeurigheid en sorg uitgewys deur ‘n geslag kunsvlyt- en houtwerkonderwysers; deur ‘n skoonma, ‘n vrou en deur drie kinders en ‘n bediende.

Van die onderwysers was dapper onder die indruk dat hulle daardie vaardighede met geweld en ‘n kweperlat via Jan Klaas se sitvlak sou kon indwing. Andere was meer subtiel en het hulle beperk tot smalende kommentare of ‘n kopskuddende, meewarige tonggeklik.

En so verskyn daar ‘n wyle terug ‘n boek “Doen dit jouself”, geskryf deur die immergewillige mnr. Garforth-Nureyev, of so iets. Nou, behalwe vir die klaarblyklike seksuele konnotasies aan so ‘n boeknaam, het ek ook ‘n paar voorstelle vir die skrywer wat hy aan homself kan gaan doen.

Dis die einste man wat eens trots oor die televisieskerms van die nasie gedans het met ‘n wavrag van klaargesnyde planke wat hy dan nonchalant, borrelend en soetjies aanmekaar geheg het om ‘n katedraal te vorm, asof enigeen dit kan doen. Vir my was daar amper ‘n element van honendheid in die siniese genot waarmee hy ‘n spyker reguit sou inslaan – duidelik ‘n pas-ontwikkelde soort spyker wat nie buig nie.

Die boek is gevul met die gewone propaganda wat die leser sal oortuig dat hy ook wonderwerke kan pleeg, gewapen met ‘n spyker tussen die tande en ‘n hamer in die gordel. Min of meer soos daai seepsepies soggens op tv, wat jou ‘n Schabir Shaik herrysenis belowe as jy net twee keer ‘n dag slakekstrak oor jou wange sou streel.

Wel, ba. En bollie. Wat my betref is dit een lang en duur bemarkingsbrosjure vir Build-it (jor partna ien ol bieldieng) wat verbied behoort te word. Dit skep verwagtinge. En wek pynvolle herinneringe. En is waarskynlik rassisties.

Jan Klaas het agtergekom dat daardie boek ‘n goeie vuuraansteker maak as ‘n mens dit vir ‘n paar uur marineer in paraffien. Moenie nalaat om die effens oorblufte uitdrukking op die skrywer se gesig te geniet in die laaste oomblikke voordat die voorblad in swart koolstof verander nie.