Jy blaai in die argief vir 2009 November.

In search of the lost chord

November 8, 2009 in Sonder kategorie

Ek leef al baie jare met die droom om eendag iets onvergankliks te skep. Iets groots, iets dieps, iets wat soos ‘n glansende kristal sal uitstaan in die ewige vertoonsaal van skeppinge. Iets waarby mense sal verbyloop, hulle kindertjies se koppies sal draai en met ontsag sal sê: “Daardie is die skepping van Jan  Klaas, Seun van Grootjan Klaas.”

In die ou-ou lied The Lost Chord, praat hulle van “But I struck one chord of music like the sound of a great Amen.” Nou ja. Daardie akkoord.

Ek het nie illusies daaroor nie – dis seker maar die gevolg van ydelheid, van die begeerte om onthou te word na my eie kortstondige en bleek “oomblik in die wind”.

Gelukkig staan ek hierin nie alleen nie. In die geskiedenis was daar politici, tiranne, beeldhouers, bouers, skrywers, wat almal probeer het om iets blywends staan  te maak. Soms neem dit net iets soos ‘n eenvoudige dorpsnaamverandering om in elk geval al daardie goeie werk tot niet te maak.

Al hierdie goeie gedagtes het gisteraand by my opgekom toe ek die skitterende Skouspel-program op MNet sit en kyk.

Want, op ‘n manier het ek ‘n troos gekry uit die meesterskap wat daar straal uit so baie van die liedjies wat voorgespeel is.

Ek was amper bewoë, en ‘n groot dankbaarheid het my oorval dat ons in Afrikaans sulke uitnemende skeppers en vertolkers het. ‘n Troos, omdat daar ‘n soliede buiteraamwerk bestaan vir die hoopvolheid van my eie skeppinkies. Daar is uitstekende liriekskrywers. Daar is wonderlike komponiste. Daar is topgehalte sangers, digters, skrywers en musikante, en hulle is deel van MY mense.

Dank vader ek hoef nie die ligdraer van voortreflikheid te wees nie. Daar is begaafde, sterker mense wat voor loop, wat die pad aandui en vir my die geleentheid skep om deur die “shades of mediocrity” van my brose eiegoed te timmer en te slyp, om darem vir liefste tannie my rosies te kan bring.

Wat natuurlik nie beteken ek gaan ophou probeer nie…

Here comes the man, he’s looking strangely at me

November 6, 2009 in Sonder kategorie

There, but for the grace of God, goes I.

Nie te seker oor die grammatika nie, maar taamlik seker en bekommerd oor die betekenis, as ek die Joost-opskrifte so langs die pad lees.

Soos voorheen gesê, is ek nie besonderlik bedeel met rykdom, roem of aantreklikheid nie en was ek dus nooit juis verbaas dat pragtige, nommer 3-skoen skoonhede hulself nie in een aaneenlopende stroom by my kom aanbied het nie.

Dit is dus dus half ‘n holle oorwinning as ek verklaar dat ek ‘n getroue ou pakdier is, skoon van inborste en sonder blaam of smet. ‘n Mens wil dus amper half sê: not for lack of trying!

In vroeër dae, toe Jan Klaas by meer opwindende wapenverwante dinge betrokke was, was ons as groepie voor ‘n trip gewaarsku dat die sluwe vyand ons om elke hoek of draai sal probeer verlei en dat ons sal moet oppas vir mooi dames wat met ons gesprekke sal wil aanknoop.

As if. Ek sou dêm gou agtergekom het as hulle dit wou doen, want ons tipe is verwerping gewoond. Die koue skouer, die omdop van ‘n paar mooi blou oë. Not for me the fireside, the well-filled plate/ but shut door, and sharp stone, and cuff, and kick, and hate…

 

Dit is dus met gemengde gevoelens dat mens van Joost se dinge lees. Sou ek anders opgetree het as Angelina Jolie haarself sugtend voor my voete kom neerwerp het (verskoon my eers ‘n rukkie, ek koester net gou daardie beeld)? Hoe sterk is ek werklik? Hoe sou ek kon hou as slimmer, beter, heiliger manne as ek al deur daardie soete wip gevang is?

Dalk behoort ‘n mens dankbaar te wees oor jou lae markwaarde!

Wat ek wel sou kon hoop, is dat ek slimmer sou reageer as oom Joost, en weet dat kierang sou uitbraai. Maar, miskien sou ek dit dan ook maar probeer melk het vir wat dit werd is, en wag tot my biografie verskyn sodat ek kan geld maak.

As if…

Moedersmelk

November 1, 2009 in Sonder kategorie

Soms is Jan Klaas bra skaam om ‘n man te wees.

Die afgelope week  was Jan Klaas by ‘n konferensie in Tshwane. Toepaslik akademies ingestel. Stel julleself voor, ‘n stralende Jan Klaas wat huppelend reik van die een na die ander goue draad van kennis wat van die hemele strek.

Daar was opsies van aanbiedinge om uit te kies, en op die laaste dag het een van hierdie Jan Klaas in besonder opgeval. Dit sou, naamlik, handel oor die meer effektiewe logistieke verspreiding van moedersmelk na klinieke deur Suid-Afrika. Vreemd, dag Jan Klaas, en op die geleë tyd bevind JK homself in daardie lokaal, groot-oog, asemloos en vol afwagting.

Dit was strategiese fout nommer een. Die tweede fout was om heel voor in die lokaal te gaan sit.

Laat ek verduidelik.

In plaas van die voorgeskrewe standaard droë drol van ‘n aanbieder, soos tradisioneel en getrou verskaf deur ons vername en deurlugtige lokale akademiese instellings, kom daar toe ‘n soet-geparfumeerde feëkoningin op ‘n wolk ingesweef en gaan maak haarself g’n twee meter van Jan Klaas af nie, voor in die lokaal staan.

Vergun my ‘n kort beskrywing, want dit kan darem Jan Klaas se skandalige gedrag in ‘n mate verklaar.

Groot, groot Bambi-oë; lang, swart hare nonchalant in die nek opgeklomp; nousluitende, goedgevulde langbroek en, om af te rond, ‘n losserige rooi toppie wat bo-langs besonder laag om die dale en heuwels van Josafat krul. En, net om duidelik te maak, dis die vrou wat hier beskryf word, nie Jan Klaas nie.

Nou, dis mos nie reg nie. As aanbieder van so ‘n tema het jy ‘n sobere, grys gedaante met ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm nodig, nie so ‘n besonder pneumatiese, vroulike eksemplaar nie. Vanaf die eerste oomblik dat sy haar mond oopgemaak het was Jan Klaas dus deurentyd terdeë bewus van twee welgevormde bronne van die temaproduk daar êrens onder haar gesig, wat hul trotse deel uitmaak van die logistieke verskaffingsketting van moedersmelk aan die Suid-Afrikaanse republiek.

Neem Jan Klaas dus nie kwalik dat sy oë tydens die aanbieding telkens soos magnete aan-(af)getrek is na hierdie twee bronne nie. Die vrou het dit blykbaar as ‘n teken van deelnemende luister beskou, want sy het soos klokslag, elke keer, Jan Klaas se sagte bruin oë betrap op hulle onafwendbare afwaartse tog hier reg voor haar aangesig.

Dit het beslis ook nie gehelp dat die vrou verskeie kere, as sy oor die borsvoedproses praat, so min of meer in die algemene rigting van haar eie, uhm, bronne beduie het nie. Ek meen, sou jy nou verwag dat ‘n spreker oor die bedryf van ‘n spermbank in die rigting van sy lies sal beduie of, minstens, ‘n paar mate met die hand lugkitaar speel?

Miskien moes hulle herstel van so ‘n stywe dosis inligting, maar dit was vir Jan half of die mans aan die einde van die aanbieding bra traag was om op te staan. Jan Klaas moes in elk geval self bly sit om gou op te lees wat de hel die aanbieding eintlik oor gehandel het.