Verskietende sterre

November 14, 2009 in Sonder kategorie

Dié van julle wat bevoorreg is om op donkerder plekke te woon, soos in die afgeleë platteland, sien dalk Dinsdagnag ‘n besondere skouspel.

Elke jaar is daar ‘n baie voorspelbare reeks sterrereëns, soos wat die aarde se baan om die son op ‘n bepaalde tyd deur die pad van ‘n ou komeet beweeg. Op so ‘n aand is daar dan heelwat meer as gewoonlik ‘verskietende sterre’ te sien, wat maar eintlik klein deeltjies is (meteoriete) wat uitbrand soos wat hulle deur die aarde se atmosfeer val.

Elkeen van hierdie sterrereëns het die naam van ‘n sterrebeeld, omdat dit lyk asof die ‘reën’ by hierdie punt in die ruimte ontspring.

Dinsdagaand se reën heet die “Leoniede” omdat hulle uit die sterrebeeld van die Leeu kom. Dit is een van die twee groter sterrereëns van die jaar. Nou, dit is maar ‘n wispelturige affêre, en is dikwels ietwat van ‘n teleurstelling met so 10 meteoriete per uur, maar daar was gevalle waar mens tot 100 per uur kon sien. In 2006 was die Leoniede besonder aktief en hulle voorspel dat daar ‘n kans is dat dit hierdie jaar weer besonder kan wees. Die maan is ook donker, so toestande is nogal voordelig. Ongelukkig geskied die hoofpiek wanneer dit nog lig is in Suid-Afrika, maar ons behoort nog iets van die nadraai te kan sien, so van tienuur se koers af.

Soms sien ‘n mens selfs ‘n skaars vuurbal – ‘n breë, helder ligstreep wanneer ‘n groter voorwerp uitbrand. Ons stedelinge is bevoorreg as ons een so ‘n ligbal in ons lewe sien, maar vir die mense van die karoo is dit bra allerdaags.

Maak jouself buite tuis in ‘n lekker sagte tuinstoel. Die piektyd is 11:45 en die rigting om te kyk is noord-oos. ‘n Mens kan hulle ook in die stad sien, maar dit is net die helderes. Die aktiwiteit duur gewoonlik totdat die ooste begin ligter word, so jy mag dalk selfs iets sien as jy een van daai is wat eerder bitter vroeg opstaan. Vat maar ‘n bottel OB’s saam om op te maak vir die teleurstelling as dinge sou flop. Ek het my in elk geval al versoen met die murphywet wat voorskryf dat alle besondere astronomiese gebeurtenisse in PE verskuil sal wees agter ‘n digte reeks wolke.

Daar is heelwat van hierdie lyste van gereelde sterrereëns beskikbaar op die internet. Soek onder meteor showers.

15 antwoorde op Verskietende sterre

  1. louisna het gesê op November 14, 2009

    Mooi stuk JanKlaas. Ek glo mens moet nie alleen na die skouspel kyk nie.

  2. Baie interessant – dankie Janklaas!

  3. Baie dankie. Teken dit aan.

  4. Sjoe Maankind, ek vergeet soms my vrou se naam!

    Maar ek sal probeer.

  5. Dis groot pret.

  6. Ons sal beslis ‘n klompie sien, maar die meeste is dan verby. Die maan is hopelik weg, as hy hom goed gedra.

  7. Goed, Pienkie.

  8. Uitstekend. Dink net hoe lekker sal dit wees as mens weet ‘n klomp bloggers oor die land is daai tyd saam met jou buite!

  9. Ja, die lug daar by julle kan soms lekker swart wees, sodat mens mooi kan sien.

  10. Reg so, Ghaap.

  11. Ja, dis ‘n heerlike gesinsaktiwiteit.

  12. Neander het gesê op November 15, 2009

    Die leonides is regtig aanskoulik as mens dit reg vang.

  13. louisna het gesê op November 15, 2009

    En vir die jonges meevoerend

  14. Jy sal darem iets sien, as die straatligte nie te helder is nie.

  15. Lekker om ‘n ou kampvuurtjie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.