‘n Blaas op die gras

November 14, 2009 in Sonder kategorie

Daar is ‘n vreemde, mistieke adellikheid in die daad wanneer ‘n man in die donker op sy eie grasperk piepie.

Dit is ‘n betuiging, ‘n verseëling van sy heerskappy oor die grond, oor die plante in sy tuin en van sy minagting van die munisipaliteit. Wat is daar manliker as ‘n groep wat by ‘n partytjie, bier in die een hand, langs mekaar in ‘n ry staan en kalm, tevrede hul blase op die gras ledig.

In vroeër tye het ‘n man waarskynlik met ‘n knuppel of selfs met ‘n vrou wat hy aan die haardos aangesleep het, in die een hand gestaan terwyl hy die beesvel met die ander hand weghou wanneer hy fier en trots die lappie veld agter sy hut besprinkel.

So het dit dan ontwikkel tot waar die man met ‘n sabel, ‘n voorlaaier of later ‘n graaf of weedeater gestaan het. In die jongste tye sou jy dalk ‘n sigaar in die ander hand vind, of iets soos ‘n Blackberry, maar die beginsel bly dieselfde. Ek is man, ek is onaantasbaar en ek piepie.

Dis iets eie aan manwees. Dis iets wat taamlik vreemd sou aandoen as vroue dit wil doen. Stel jou die chaos voor en die geskarrel om ‘n hurkplek te vind. En, wat doen hulle met die handsakke?

In elk geval, so bevind Jan Klaas homself een stille, soel someraand in Knysna. Die lug ruik soutvars en die sterre is helder. Ideale toestande vir ‘n piepie der piepies, waar jy nie soos in die Baai eers die windrigting moet bepaal om nie halfpad verras word nie.

Onder sy voete, by sy gunstelingkolletjie, is die gras sag en koel. Jan Klaas maak sy oë toe en ontspan behaaglik. Hy vergun homself die klein rillinkie wat so kenmerkend is van sy geslag, van kleuters tot bejaardes.

Skielik is dit asof daar ‘n waenhuisdeur agter Jan Klaas oopmaak waardeur daar ‘n magtige stormwind fluit. ‘n Onaardse blaasgeluid kom vanuit Jan Klaas se donker tuin, op ongeveer ooghoogte, g’n drie meter  nie van waar ons held pas nog gestaan het soos ‘n fiere Cortez wat oor Mexiko staar.

Jan se nekhare rys van agter sy hakskene tot op sy kroontjie. Sy water droog  op van onder en van bo om tesame ‘n groot druppel êrens naby sy middelrif te vorm.

Soos ‘n blinkgesmeerde wind is Jan Klaas by sy agterdeur, hygend en onstigd.

Met ‘n bewerige hand skakel hy die buitelig aan.

Daar, in sy tuin, staan ‘n swart koei met ‘n bek vol lang gras, met haar groot, besorgde swart oë ietwat verbaas oor die kommosie wat hier voor haar aangaan. Waarskynlik afgedwaal vanaf die plakkerskamp, dwaal hulle nou soos verlore geeste hier in die suburbs rond om blasend, mense van goeie inbors se siele te kom versondig.

G’n respekte vir tradisionele manlike rites nie. G’n.

40 antwoorde op ‘n Blaas op die gras

  1. Ons manne wat pad bou weet al … pee wind af … ALTYD!
    :))

  2. Hy dwarrel hier in die Baai.

  3. ‘n Oomblik in die wind…

  4. Neander het gesê op November 15, 2009

    Daai mistieke adellike daad is maar net ‘n bewys van gebiedsafbakening. Doodnormaal. Gaan voort!
    In elk geval is die stikstof en urea verbindings goed vir die gras.

  5. louisna het gesê op November 15, 2009

    Ek en my twee seuns is verbied om op my gras of enige plek in my tamaai tuin hand met die ouman te skud. Ware verhaal

  6. Ouboet, sien Neander se repliek. Dis goed vir die gras! Verduidelik vir haar…

  7. Lekker storie!

  8. louisna het gesê op November 15, 2009

    Mammie se sy ruik glo urine. Ek dink dis seker maar omdat sy nie kan nie dat sy ons so genadeloos veroordeel.

  9. Ou-Top het gesê op November 15, 2009

    Dis so lekker om hier wildvreemde mense se stories te luister. My dag is gemaak; lekker gelag. Maar ek stem saam met Kammi,goedkoopste mediese toets of daar fout is met die prostaat, as jy nie die derde “slab” van die konkreet omheining kan tref nie.
    Daai sug van n dikgevrete onsigbare koei kan vir n man na die geblaas van die moeder van alle pofadders klink!

  10. Soms… Net soms, is dit nie maklik om ‘n man te wees nie..

  11. louisna het gesê op November 15, 2009

    Ja, veral a mens soos ek op ‘n plot grootgeword het en die longdrop uitsluitlik vir nommer 2 gebruik het.

  12. moes lag met traan

  13. vreemd….ja……mistiek…..soortvan…..adellik????

  14. Presies! Dis ‘n plig.

  15. Ja. Ek doen dit vir mediese redes.

  16. Party het twee nodig.

  17. Ai broer. Ek voel vir jou.

  18. Dankie, Plankloper!

  19. So ‘n nuuskierige koei het ek nog nie ontmoet nie. En ek het gesoek…

  20. Dit is net gemeen. Dit vernietig die hele atmosfeer.

  21. Dit het op daardie stadium geklink soos ‘n trompet van Armageddon.

  22. Prostaat ook seer? 😉

  23. Dis reg. En groots. 🙂

  24. O. Dit verklaar die besorgde frons op haar gesig…

  25. Dêm yeah!

  26. LOL…nou het ek soooooo lekker gelag…jy WOU mos!!

  27. En, o ja, ek sien myself nie a ‘n wildvreemde mens nie. Wild, ja; vreemd, ja wel.

  28. Bespeur ek ‘n tikkie afkeur daar? Kwaai vrou!

  29. ‘n Man na my eie hart.

  30. Ja ons kan so maak as die nood druk.

  31. JWinAus het gesê op November 16, 2009

    Jan, ek moet bieg dat ek self ook hierdie ritueel gereeld beoefen. Dis darem snaaks dat mens nêrens so lekker piepie soos buite op die gras in die donder nie. Dit moet die vars lug wees …

  32. Lekker lag ek nou!…As dit universeel is kan ek maar netsowel moed opgee! Met drie manne in die huis sien ek gereeld hoe behaaglikheid in nie-te- opregte-skuld versmelt! Like father like sons!

  33. Soos by party garage’e se vuil toilette, skat ek.

  34. Dit was buite winkelure.

  35. Ja, ‘the wind underneath my wings’…

  36. As goeie ma, behoort jy teer te glimlag.

  37. ai julle mans tog. as dit dan regtig so lekker is, gaan voort, maar nou ja, jy sal my nie buite op ‘n donker grasperk met my mees vital dele in die oopte vang nie. (oppas net vir koeie… en in die kgalagadi, leeus. true story!)

  38. Of vlermuise!

  39. Ek moes gou eers in die woordeboek gaan kyk of ek gevlei moet voel.. 🙂

    Baie dankie, Beatri!

  40. Ja, my vrou en dogters spel daai ellendes gewoonlik vir my grafies uit.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.