Hoe kaler jonker

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Houdende toesig oor ‘n skare bedrukte studente verlaat die gees soms die liggaam, gaan dwaal hy in ou murasies en gaan soek in die algemeen moeilikheid.

En daar kom hy toe te staan by Jan Klaas se eie jeugtyd op kampus, duiselig van hoë skoenhakke en hoë roksome. ‘n Tyd toe Jan Klaas studente-assistent was by die Fisikadepartement van die grootste Afrikaanse universiteit in die hele wêreld.

Studente-assistente, of demi’s, het die meeste van hulle tyd in die lug deurgebring, springende van bank tot bank om borrelende gate van onbegrip toe te stop soos wat die studente probleme ontwikkel met die probleme wat Prof Strauss hulle daardie besondere middag opgelê het. Vir ‘n bedwelmde buitestaander sou dit seker lyk na ‘n toneel uit “A midsummer night’s dream” soos wat ons met ons wit jasse tussen die AE du Toit se peinsende skares rondgefladder het.

Ons was ‘n lekker klompie, gebind deur ‘n soort kameraderie, al het ons wyd uiteenlopende geaardhede gehad. Nou nie juis vriende nie, maar ‘n aangename groepie.

Hans, die harige Hollander, het op ‘n ritme van sy eie geloop. Dan was daar die siniese twee ‘bejaardes’, wat daardie werk begin doen het toe Noag se ark se skuifdeur agter hulle toegemaak het. En dan was daar ons, die drie jonges.

Broer J is ‘n vae herinnering, maar die ander kêrel is werd om te noem, na die storie wat Jan Klaas met hom op die lyf geloop het. Noem hom maar Apollo, want hy was bra aantreklik. Nou nie die skerpste potlood in die pakkie nie, maar Jan Klaas kan ook nie vingers wys nie want het maar self sy kursus op ‘n veilige afstand gevolg.

Ennieway. Apollo se droopy swart snor en ‘n swart maanhaar, in mulletstyl opgemaak, het menige jong, fraai mediese student of Fisio se bene lam gemaak. Hy het vroeg getrou, waarskynlik tot sy spyt.

Jan Klaas het in ‘n woonstel gebly digby die kunsmuseum waar hy homself opgehou het met beuselagtighede en in die algemeen die mensdom se lot verbeter het.

Een nag word Jan Klaas gewek deur ‘n dringende geklop aan die deur. Met ‘n bersie om sy lyf gedraai en wankelende bene maak Jan Klaas die deur oop. Buite het Apollo gestaan, met deurmekaar hare en groot oë.

“Luister, as my vrou hier aankom, së vir haar ek was die hele aand hier by jou gewees. Oukei?”

“Uhm, êêê…uhm….,” dra Jan Klaas hoopvol by.

“Onthou net, ek was die hele aand hier by jou,” en met dié is hy daar vort.

Diep gesteurd het Jan Klaas teruggekeer kooi toe, wetende dat hier net nagmerries uit kan voortkom. Sure enough, g’n halfuur later nie is daar weer ‘n harde klop aan die deur.

Buite staan Mevrou Apollo met ‘n kêrel met ‘n dik bril en ‘n snor.

“Was Apollo vanaand hier by jou?” vra die jafel, sonder veel formaliteite.

“Uh, ja, hy was.”

Mevrou: “Is jy seker?”

Jan Klaas, kordaat: “Hoe sal mens nou nie seker wees oor so iets nie?”

Dan speel Jafel die troefkaart: “Nou, sal jy bereid wees om dit in ‘n hof te gaan getuig?”

Jan Klaas se hele lewe speel voor hom af. Hy sien visioene van bedonnerde advokate met hulle vingers onder sy neus en ‘n regter met ‘n lang pruik wat meewarig sy kop skud. Sy bravade verlep en amper biggel daar ‘n traan in sy oog (ek weet nie mooi wat biggel beteken nie, maar dit klink net reg om hier te gebruik).

“Uh…nee.,” hoor hy homself sê, met ore gespits of hy dalk ‘n haan hoor kraai.

“Goed so,” reken Jafel. Mevrou ontferm haar en nooi Jan Klaas om eendag, wanneer dit hom pas, ‘n gratis steak by hulle restaurant te gaan eet.

Die volgende dag was die atmosfeer dik in die departement. Mense het anderpad gekyk as Jan Klaas inkom en gesprekke het opgedroog. Tot die kernversneller wou nie werk nie.

“Some kind of friend you are,” het Klaas-Brutus op ‘n stadium gehoor vanuit die algemene rigting van Apollo en sy kornuite.

Diep verontreg het Jan Klaas toe daardie aand by haar restaurant in Sterland gaan eet.

Somehow was die steak in elk geval nie eers nie lekker nie.

29 antwoorde op Hoe kaler jonker

  1. loudavisi het gesĂȘ op November 13, 2009

    ‘n geliegery sou net erger probleme veroorsaak het.

    🙂

  2. Neander het gesĂȘ op November 13, 2009

    Jan hy was mos by jou.
    Ja die demi’s het by ou Straussie gespook. Hy neem nou nog vooraf goed op band en speel dan op radio.
    Lanklaas die woorde kornuite en biggel gehoor.

  3. lisabeth het gesĂȘ op November 13, 2009

    Lot Strauss? Ingenieur-manlief het by Strauss op die trappies begin…na maand plek gehad in die gangetjie…na die eerste semester op die banke en op die ou einde is dit maar ‘n handjie vol wat klaarmaak. Baie lekker gelees!!

  4. Ek hou van die “sy kursus van ‘n veilige afstand gevolg”, baie, baie skerp. Baie goeie vertelling. Ek het lekker gelag. Miskien moes hy die steak toegegooi het onder ‘n three cheeses, mushroom, double cream sousie …

  5. Janklaas het gesĂȘ op November 13, 2009

    Is so. Nie fair nie.

  6. Janklaas het gesĂȘ op November 13, 2009

    So troos ek myself maar…

  7. Janklaas het gesĂȘ op November 13, 2009

    O, is die ou nog steeds aan die gang? Ek het later saam met hom gewerk. Groot respek.

  8. Janklaas het gesĂȘ op November 13, 2009

    Ja, Lötz. Formidabele karakter. Hy kon daai skare van 850 studente in die holte van sy hand hou.

  9. Janklaas het gesĂȘ op November 13, 2009

    En kyk nou. Nou’t jy my honger gemaak!

  10. Janklaas het gesĂȘ op November 13, 2009

    Ek moes dit op my woonsteldeur geskryf het.

  11. Zeelia het gesĂȘ op November 13, 2009

    Ek stem saam Flenters – bly weg uit ander se huismoles, ongeag…

  12. Janklaas natuurlik goed geskryf, bly maar weg van die ander jong.

  13. DS2409 het gesĂȘ op November 13, 2009

    Ai Janklaas ek verstaan nie so mooi nie, jy sou mos nie gelieg het nie die man was dan by jou alwas dit net vir n paar sekondes.

  14. Sanseveria het gesĂȘ op November 13, 2009

    baie dankie vir die inloer daar by my. Ek was eintlik baie skaam want die aand was toe ‘n let-down vir my – veral omdat ek so gewag daarvan gemaak het. Maar as jy dit geniet het, doen jouself asb die guns om Dinsdagaande om 8uur te kyk (kanaal 110). Dis dan wanneer die werklike dans plaasvind en so na die einde van die kompetisie toe is dit gewoonlik baie spesiaal.

  15. Berwick het gesĂȘ op November 13, 2009

    Heerlik geskryf!

  16. Jy skryf uitstekend, Janklaas…en ek dinknie ‘n mens moet namens iemand anders jok nie, vriend of nie vriend nie! Lekker naweek!

  17. wolfiem het gesĂȘ op November 13, 2009

    Ek het ook nie vriende met mullet haarstyle nie

  18. DallaSePa het gesĂȘ op November 14, 2009

    Puik!

  19. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Dis baie waar, daardie.

  20. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ek het daai les geleer, maar dit het nog steeds mislik gevoel.

  21. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ja, daai was taai tye. Ek het dit ook tot daar gebring.

  22. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    So het ek geleer wie om liewer te vermy.

  23. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ja, maar ek dink ek sou nes ou Agliotti gesweet het in die getuiebank.

  24. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ek het vanaand ‘n Britse dansprogram gekyk, gedag dit is wat jy bedoel. Dit is baie soos die SABC-een, met slimmer kommentare.

  25. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Baie dankie, Berwick.

  26. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ek het genoeg probleme om my eie liegstories in stand te hou! :-). Lekker naweek.

  27. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ha ha. Skerp.

  28. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Ja, soos die keer in Valhalla wat ek by ‘n gesinsfaait wou ingryp, toe wil altwee my foeter!

  29. Janklaas het gesĂȘ op November 14, 2009

    Dankie, DsP!

    Jy’s laat wakker!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.