Soet-suur sage

November 9, 2009 in Sonder kategorie

Die telling is dertig elk.

Dit is Tant Breggie se beurt om af te slaan. Die laatmiddagson deur die bloekoms langs die pad gooi oranje vlekke op die miershoop-kleibaan en ‘n koelerige windjie begin al klaar loei deur die tennisbaan se hoë omheinings.

Tant Breggie is nou nie juis die De Deurse tennisklub se helderste ster op hierdie 1968 somersdag nie, maar sy maak op met haar entoesiasme waarmee sy elke Saterdagmiddag kom speel. Sy is ‘n getroue lid tussen hierdie klompie vriende wat al soveel jare lank hulle gemeenskaplike liefde vir die spel hier kom uitleef.

So ‘n myl van die baan af trek Oom Arnaud Malherbe sy Tiger Moth-vliegtuigie mooi gelyk voordat hy sy laaste aanloop neem vir die duik oor die tennisklub. Dis al eintlik ‘n soort tradisie hierdie, Oom Arnaud wat sy vliegtuig laatmiddag in ‘n demonstrasie van louter lewensvreugde en samehorigheid oor die bane laat duik, waar die spelers goediglik sal waai, en hy dan die vlerke laat kantel as ‘n groet.

Soos wat Tant Breggie haar gereedmaak vir die afslaan, sien sy nie die vliegtuig van agter haar aankom nie, en met groot konsternasie slaan sy die bal min of meer reguit die lug in toe die kragtige motore van die vliegtuig skielik hier bo agter haar begin dreun.

Die duik verloop vlot, maar net toe Oom Arnaud reg bokant die baan is, is daar skielik ‘n vreemde plofgeluid wat van sy vliegtuig se skroef kom. Besorg loer oom Arnaud om die kajuit, maar dit lyk nie vir hom asof daar iets drasties verkeerd is nie. Hy kantel sy vlerke in ‘n groet en met ’n swierige laaste draai kies hy sy koers huis toe.

Tant Breggie skud haar kop effe verbaas, maar gaan staan dan reg om die tweede bal af te stuur.

Die tennisbal, wat die vliegtuig se draaiende skroef mooi soet naby sy punt getref het, seil suisend oor die horison, bestem om vir die volgende paar dae ‘n lae elliptiese wentelbaan om die aarde te volg. So kom dit dat menige gesprek in verskeie lande onderbreek word as daar skielik ‘n onsigbare voorwerp met ‘n misterieuse suisgeluid deur die lug bokant skeur. In Japan het die bal die berg Fuji net-net gemis en in Rangoen het ‘n verdwaasde duif nadenkend uit die lug getuimel toe sy stertvere uit die bloute geamputeer is.

                                            ***

Naby die planeet Uranus konsulteer kaptein Azma besorg die res van sy vloot. Die reis was lank en hulle is maar onlangs eers ontvries om met die finale afrondingstake te begin.

Hierdie is ‘n baie belangrike missie. Die oorlewing van hulle spesie hang so min of meer van hierdie sending af. Oor ‘n tydperk van verskeie jare het hulle planeet algaande meer en meer onleefbaar begin raak soos wat dit daar al kouer en kouer geword het. Dit het in so ‘n mate versleg dat daar besluit is om ‘n saadgroep van oorlewendes met ‘n reeks ruimteskepe weg te stuur na ‘n planeet wat oor ‘n lang tydperk uitgesoek is, wat lyk asof dit die beste kans op oorlewing sal bied.

Die afskeid was hartverskeurend. Nooit weer sou hulle hulle vriende sien nie, nooit weer sou hulle hierdie dierbare planeet onder hulle voete voel nie. Maar, hier is hulle nou, by ‘n vreemde begin, ‘n nuwe soort toekoms.

‘n Ent bokant Afrika begin die klein armada tuie stadiger grond toe sweef, om te akklimatiseer en die nodige aanpassings te maak. Vir die eerste keer kan Kaptein Azma ontspan en homself ‘n glimlag gun namate die missie se sukses seker begin lyk.

                                          ***

Vanuit die ooste kom ‘n muwwerige, verbleikte tennisbal aangesuis. Die bal tref die beteuterde groepie ruimtetuie mooi senter en beëindig so hul vlug wat hul van veertig ligjare ver af na hierdie aarde gebring het.

                                        ***

Langs die strand by Tietiesbaai stap Gert Human met Terreblanche, sy labrador. Hy gaan stap graag so vroeg in die oggend, want dis dan wanneer mens die interessantste uitgespoelde goed op die hoogwatermerk sien lê. Goed wat dikwels van skepe af kom, maar soms selfs vreemde skulpe, of interessante verslete takkies, wat sy vrou dan bietjie verwerk, vernis en dan in hul winkeltjie as natuurlike beeldhouwerkies verkoop.

Langs ‘n stukkende ou vaalblou kreef-plastiekfuik sien Gert ‘n verweerde tennisbal lê. Hy tel die bal op, maar iets taais aan die bal bly kleef aan sy hand. Vieserig vee hy dit aan sy broek af.

“Sa!” sê hy en gooi die bal vir Terreblanche.

25 antwoorde op Soet-suur sage

  1. Berwick het gesê op November 9, 2009

    Fantasties gedoen, Janklaas.

    ;-)))

  2. Janklaas het gesê op November 9, 2009

    Hei dankie, Berwick!

  3. Move over, Isaac Asimov…

    Lekker gelees! {-;

  4. Janklaas het gesê op November 9, 2009

    He he. Dankie, Shlwanjan.

  5. veralda het gesê op November 10, 2009

    soos ‘n fliek…

  6. Wat ‘n verbeelding!!!
    Dis great.

  7. Neander het gesê op November 10, 2009

    Jan daai taai goed is die Alien DNS, pasop dis hoogs aansteeklik, want dit tas alle soogdiere aan.
    Nou gaan julle almal 5 oë kry soos Opabinia met sonar sensors en ‘n groot affiniteit vir NaCl en modder.
    Die spleetnuuskierigheid sal bly voortbestaan weens oerdrange.
    O wee! ons gaan hulle slawe word, wat het tant Breggie gedoen.

    Is dit die lot van Suid Afrika? Is die Eskom krisis nie al genoeg nie?

  8. Bravo! En dit eindig op ‘n hoogtepunt met ‘ “Sa!” sê hy en gooi die bal vir Terreblanche.’

  9. hiert! ‘n tennisbal op ‘n wêreldtoer ;D

  10. ‘n Kort fliekie…

  11. Dankie, liewe Lou!

  12. Hier plaaslik loop daar hoeka ‘n paar sulkes rond…

    Wat word van my volk.

  13. As’t ware “Kom dans, Terreblanche”

  14. Dalk was ek op een!

  15. Ek hoop die skoonma’s op hulle besems kyk uit vir sulke dinge.

  16. Waa’ dink jy kom die Sjinese vandaan?

  17. Haai daar, Vaktap!

  18. sterre en sterre en sterre. ek is absoluut mal hieroor.

  19. Baie dankie, jong.

  20. Komplekse ou diertjie, ekke…:-)

  21. Ag dankie, Murphs.

  22. Uitstekend, JanKlaas!!

  23. Beter as PUIK!
    :)))

  24. Dankie, Pienkie!

  25. He he. Dankie, DsP!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.