Houdende toesig oor ‘n skare bedrukte studente verlaat die gees soms die liggaam, gaan dwaal hy in ou murasies en gaan soek in die algemeen moeilikheid.
En daar kom hy toe te staan by Jan Klaas se eie jeugtyd op kampus, duiselig van hoë skoenhakke en hoë roksome. ‘n Tyd toe Jan Klaas studente-assistent was by die Fisikadepartement van die grootste Afrikaanse universiteit in die hele wêreld.
Studente-assistente, of demi’s, het die meeste van hulle tyd in die lug deurgebring, springende van bank tot bank om borrelende gate van onbegrip toe te stop soos wat die studente probleme ontwikkel met die probleme wat Prof Strauss hulle daardie besondere middag opgelê het. Vir ‘n bedwelmde buitestaander sou dit seker lyk na ‘n toneel uit “A midsummer night’s dream” soos wat ons met ons wit jasse tussen die AE du Toit se peinsende skares rondgefladder het.
Ons was ‘n lekker klompie, gebind deur ‘n soort kameraderie, al het ons wyd uiteenlopende geaardhede gehad. Nou nie juis vriende nie, maar ‘n aangename groepie.
Hans, die harige Hollander, het op ‘n ritme van sy eie geloop. Dan was daar die siniese twee ‘bejaardes’, wat daardie werk begin doen het toe Noag se ark se skuifdeur agter hulle toegemaak het. En dan was daar ons, die drie jonges.
Broer J is ‘n vae herinnering, maar die ander kêrel is werd om te noem, na die storie wat Jan Klaas met hom op die lyf geloop het. Noem hom maar Apollo, want hy was bra aantreklik. Nou nie die skerpste potlood in die pakkie nie, maar Jan Klaas kan ook nie vingers wys nie want het maar self sy kursus op ‘n veilige afstand gevolg.
Ennieway. Apollo se droopy swart snor en ‘n swart maanhaar, in mulletstyl opgemaak, het menige jong, fraai mediese student of Fisio se bene lam gemaak. Hy het vroeg getrou, waarskynlik tot sy spyt.
Jan Klaas het in ‘n woonstel gebly digby die kunsmuseum waar hy homself opgehou het met beuselagtighede en in die algemeen die mensdom se lot verbeter het.
Een nag word Jan Klaas gewek deur ‘n dringende geklop aan die deur. Met ‘n bersie om sy lyf gedraai en wankelende bene maak Jan Klaas die deur oop. Buite het Apollo gestaan, met deurmekaar hare en groot oë.
“Luister, as my vrou hier aankom, së vir haar ek was die hele aand hier by jou gewees. Oukei?”
“Uhm, êêê…uhm….,” dra Jan Klaas hoopvol by.
“Onthou net, ek was die hele aand hier by jou,” en met dié is hy daar vort.
Diep gesteurd het Jan Klaas teruggekeer kooi toe, wetende dat hier net nagmerries uit kan voortkom. Sure enough, g’n halfuur later nie is daar weer ‘n harde klop aan die deur.
Buite staan Mevrou Apollo met ‘n kêrel met ‘n dik bril en ‘n snor.
“Was Apollo vanaand hier by jou?” vra die jafel, sonder veel formaliteite.
“Uh, ja, hy was.”
Mevrou: “Is jy seker?”
Jan Klaas, kordaat: “Hoe sal mens nou nie seker wees oor so iets nie?”
Dan speel Jafel die troefkaart: “Nou, sal jy bereid wees om dit in ‘n hof te gaan getuig?”
Jan Klaas se hele lewe speel voor hom af. Hy sien visioene van bedonnerde advokate met hulle vingers onder sy neus en ‘n regter met ‘n lang pruik wat meewarig sy kop skud. Sy bravade verlep en amper biggel daar ‘n traan in sy oog (ek weet nie mooi wat biggel beteken nie, maar dit klink net reg om hier te gebruik).
“Uh…nee.,” hoor hy homself sê, met ore gespits of hy dalk ‘n haan hoor kraai.
“Goed so,” reken Jafel. Mevrou ontferm haar en nooi Jan Klaas om eendag, wanneer dit hom pas, ‘n gratis steak by hulle restaurant te gaan eet.
Die volgende dag was die atmosfeer dik in die departement. Mense het anderpad gekyk as Jan Klaas inkom en gesprekke het opgedroog. Tot die kernversneller wou nie werk nie.
“Some kind of friend you are,” het Klaas-Brutus op ‘n stadium gehoor vanuit die algemene rigting van Apollo en sy kornuite.
Diep verontreg het Jan Klaas toe daardie aand by haar restaurant in Sterland gaan eet.
Somehow was die steak in elk geval nie eers nie lekker nie.
Onlangse kommentare