Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Prikkelende prentjie!

Oktober 23, 2009 in Sonder kategorie

As ‘n man hierdie foto bekyk kan mens hom nie kwalik neem as sy oë begin blink nie. Lyk soos iets van Britney, met tattoëermerke.

Die snaakse ding is, dis eintlik ‘n foto van Mars! Dwarrelwindjies het die ligbruin bo-stoffies plek-plek van die donkergrys ondergrond afgewaai en in strepe met die duine langs af gewaai.

Lekker naweek.

Om ‘n Janklaas te wees

Oktober 19, 2009 in Sonder kategorie

Synde nie natuurlik bedeeld met roem, mag, aantreklikheid of geld nie, moes die jonge Janklaas harder as jou gemiddelde man werk om sy mark van vroumense te beïndruk, te bekom of dan te behou. So gegee, so aanvaar.

Hierdie plig het ook gestrek tot potensiële skoonfamilie. Klein voornemende swaertjies het ‘n onmiddellike en intense afkeer in die jonge Janklaas vertroetel, terwyl die moontlike skoonsusters hom mettertyd met ‘n mengsel van bejammering en afgryse aanvaar het.

Die swaarste taak was egter (mal oor daai woord) om die skoonouers om te haal tot die Saak.

Ek vermoed skoonvaders het ‘n sekere lig in Janklaas se oë herken, wat kan verklaar hoekom hulle soos een man hulle jonge dogters se gesigte bedek het, sigaret-as oor hulle eie hoofde uitgestrooi het en hulle klere geskeur het toe Janklaas hulle edele drumpels wou betree. Die verwerping deur skoonmoeders is ook minstens deels geneties te verklaar, deurdat hulle waarskynlik nie besoedelde waat’re in hulle dogters se genetiese poele wou toelaat nie.

Ennieway. Dit ter sketsing van die agtergrond, die décor en die milieu.

Die vrou wat die laaste, sowat dertig jaar met Janklaas opgesaal is (nee sies man!), se vader was ‘n kort, fris, bebliksemde bosvelder, daar uit Potties se wêreld. Die moeder, weer, kon gholf speel, was ‘n vlieënier, het koeie geïnsemineer (moenie vra nie) en was op haar dae ‘n Noord-Transvaal duikkampioen. In kort, ‘n tere egpaartjie so intimiderend soos Aaron se twee-meter Enakiete toe hy die beloofde land met sy knopkierie wou intjaarts.

So ‘n ruk voor die troue, woon Janklaas toe ‘n begrafnis in Messina by saam met die liefietjie, haar pa en haar ma. Die reis geskied per kombi, en oudergewoonte sit Janklaas sy beste voetjie voor waar hy in die agterste gestoeltes plaasneem.

Op pad terug gaan laai skoonpa eers ‘n bokram op, en dié word agter Janklaas en ou liefietjie in die kombi se bagasieruimte lêgemaak. Die voordeel was dat Janklaas nie meer die slegste in die voertuig geruik het nie. O, nee, hel, by verre nie. Daai bok was gemarineer in ‘n ewigheid van bose, aromatiese heidense teelkonkoksies, wat seker ook die weemoedige blik in sy oë verklaar het, as mens byreken dat sy toekoms tog dan eintlik bestem is om te gaan fornikeer en te vermenigvuldig en die aarde te vul.

Eers naby Pietersburg het Janklaas so vaagweg aan die geur begin gewoond raak en nuwe afleiding begin soek. Nou het ek voorheen gemeld dat Janklaas ‘n paar vreemde gewoontes had. Wat ek nie genoem het nie, was sy voortdurende neiging om woorde om te keer, te “spooner”, soos om “sons of toil” in “tons of soil” te verander.

Met die dorpsname het dit dus heel prettig gegaan, en nou en dan is selfs hier of daar ‘n geamuseerde wenkbrou gelig.

Wel, daardie woord het vir Janklaas gelê en wag, en seker skelmpies in sy eie mou gegrinnik. En so het dit dan ook gekom dat die kombi om ‘n draai kom, en daar staan die naambord.

”Rietpol” lees die bord.

“Rotp**l”, lees Janklaas hardop. En, net om seker te maak niemand mis dit nie, weer: “Rotp**l”.

Dit was selfs vir die bok te erbarmlik. Hy het maar swyend, meewarig weggekyk.

Janklaas se waaromtrente!

Oktober 13, 2009 in Sonder kategorie

Janklaas lê laag agter die miershope en skuil.

Ek sou so graag wou blog, maar ‘n moordende eksamentempo (vraestelle, laaste nasiene, desperate studente) suig al die musiek uit my uit. Ek kan darem nog blogs lees, so watchit.

Julle hoop verniet, ek kom terug!

Elfie

Oktober 9, 2009 in Sonder kategorie

“Elfie” was sy,

ogies blou

veel verander

grootmens nou

 

Pa-wees

Oktober 7, 2009 in Sonder kategorie

Pa-wees

Ek het vanoggend nie besef

hoe erg dit jou gemoed sou tref

toe ek die een was wat nou juis

die storie van die tandemuis

en Vader Krismis en wat nog

vir altyd moes verraai as bog.

Dis eers toe ek in nánagvaag

my eie spoke moes verjaag

dat ek die oorsaak kon verstaan

van jou blou oë se skame traan.

 

1999 

As jy gaan

Oktober 4, 2009 in Sonder kategorie

As jy gaan

moet jy dit tog reg doen.

Los die sleutel, die terg,

en die dou-dou môresoen.

Vat gerus die harde koud,

die lang-lang vingers van die vrees

en die té stil by-jou-wees.

Los die plooitjies om jou lag,

die tere tyd se sout nasmaak;

die sagte uur van warm wag

vir volmaan oor die see.

Stuur my dan, per kerende pos

die naskrif, wat ek wel sal mis:

die koel-koel trane op jou wang;

die leë glas wat myne is.

Dankie Olaf Andresen

Oktober 2, 2009 in Sonder kategorie

Dis ook maar seker nog ‘n herinnering wat sou vergaan, my stukkie geskiedenis saam met die komponis Olaf Andresen. Maar dis vir my te spesiaal.

As jy nie onthou nie, Andresen het die Heidelied geskryf, en “My hart verlang na die Boland”. Hy kon besondere lirieke en mooi melodieë voorttower en het ook ‘n paar Afrikaanse operettes geskryf. Kyk hoe mooi:

In die bloute sweef ‘n leeurik

sing sy liedjie wonderbaar

bring sy hulde aan die heide

groete aan die wandelaar…

In die vroeë sestigerjare het my ouboet en ousus opgetree in ‘Die Heidenooientjie’ wat deur hulle hoërskool in Meyerton opgevoer is. Toe, later, het my pa se laerskool Andresen se ‘Die Mieliefeetjie’ opgevoer. Ek het self ‘n rolletjie daarin vertolk, gelukkig nie as feetjie nie.

Die operette het Andresen in ons huis gebring. En, wat ‘n besondere, entoesiastiese mens was hy nie. Seker deur hulle gedeelde liefde vir musiek en sang, en miskien selfs duistere ou Afrikanerassosiasies (Andresen was oorspronklik ‘n Duitser, maar het hom in die oorlogsjare met die Afrikanersaak vereenselwig), het die twee dadelik goed oor die weg gekom. Hy het ‘n paar keer by ons kom kuier en dit het dikwels ontaard in ‘n gesingery.

Dit het ons plattelanders ook ‘n smakie gegee van die ryk Johannesburg-voorstadslewe, toe ons ‘n slag uitgenooi is na Andresen se verjaarsdagviering. Ons laaities het ons vergaap aan die ruim tuin, die liggies, die dik rooi tapyte en die statige trappe. Hy het self sy musiek in die huis gedruk en gepubliseer. Eenkant in ‘n skemerige filmateljee het die Three Stooges knetterend vertoon om ons portiergroep te vermaak.

Daardie aand het Andresen ‘n musiekstuk in my hand gestop, dit geteken en kastig aan my opgedra. Ek vermoed dis maar omdat die grootmense so lekker gekuier geraak het, maar ek koester daai stuk vandag nog.

Dit is seker ook permanent verlore, maar hy het ook vir my pa die pragtige melodie van die laerskool se skoollied geskryf. Tensy dit in Sotho vertaal is, is ek seker die Laerskool De Deur sing nie meer die lied nie. Dit bly nog net sing in die harte van ‘n era se kinders wat ook ‘n smakie van grootsheid kon deel.