Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Hy was ook daar

September 7, 2009 in Sonder kategorie

Ek is hier, Erik.

Ek wag saam vir die klop-klop van die Alouette

wat jou na Vrede sal vlieg.

Jy’s ewe bleek as laasjaar toe jy

Karien na die matriekafskeid wou vra.

Jou blou oë ewe tevrede, asof sy weer

jou erebaadjie langs die sportveld dra.

Dis nou aardig stil, net die na-suis dof

van vuur, stof, donder en doodsug

wat skielik uit die sluwe bos

langs die sandpad ontplof –

AK, RPG, ‘n alfabetsop van haat en vrees

het skeurspore van bloed gelos.

Dis soos ‘n lewe later. Nou sit ons met tam oë

in verwese kringe om lyke en gebreektes en wag

in die rooiberookte laatmiddagson

wat wil klaar wees met hierdie bitter dag.

Om ons swiep die aandwind ‘n skerp geur

van rubber, Ratel, diesel, Savlon en vlees.

Jou oë vra, was dit Sy wil?

Miskien ja, maar die radio is stil.

Jou hand voel koud.

Miskien hoef ek nou nooit te verraai

hoe teer het my lewe om joune gedraai.

Zim se weermag

September 4, 2009 in Sonder kategorie

So pas gesien hulle gaan aanbeveel dat die soldate in Zim se leër hulle laat besny, om vigs te voorkom.

Ek kan my voorstel dat, as sake tot ‘n punt kom, die ringkoppe moeilik ‘n kontak gaan inisieer, en warm om die kraag kan word as die voorhoede neergevel word. Hulle kan selfs die loef afgesteek word. 

Slytasie

September 4, 2009 in Sonder kategorie

In die hartseer liedjie oor bejaardes, Bookends, sing Simon & Garfunkel “Preserve your memories – they’re all that’s left you”.

Ek is deesdae in die besigheid van herinneringe te boekstaaf. Ek sit al my ou LP’s, seven singles en kassetbande op cd. Dis ‘n wonderlike ou roete en maak baie gedagtepaaie weer oop.

Dis ‘n massiewe klomp werk. maar ek skandeer ook al my foto’s en skuifies. My rekenaar staan nou bedags en herspeel al die ou vergete beelde. Ek sit selfs ou videobande en super-8 filmpies oor op dvd. Ek moes in die proses ‘n klompie tegnologie baasraak, maar dis deur en deur die moeite werd.

‘n Paar kosbare goed het ongelukkig deur die jare verlore gegaan. Ek het byvoorbeeld ‘n paar van daardie ou rooi en swart bloemlesingboeke gehad waarin ek op skool, in die army en op varsity my jong versies en ‘n paar gedagtes neergepen het. Mettertyd het dit blykbaar êrens vir my ‘n verleentheid geraak en ek het dit weggegooi.

As ek nou daaraan terugdink, onthou ek tog ‘n paar ou versies wat kinderlik opreg was, of wat tog ‘n ding raak gesê het. Maar, hulle is gone. Weg.

Ek onthou darem een wat ek in standerd nege geskryf het, wat ek net sowel gister kon geskryf het. Dit lê my baie na aan die hart. Ek het hierdie versie al onder ‘n ander skuilnaam op ‘n blog geplaas, maar hier is hy nogtans:

Slytasie

Jy het jou

nuwe ou

Dit maak my

redelik vry.

Liefde gee en

liefde neem –

“-de” is hier ‘n

postmorfeem.

So al om die blog

September 3, 2009 in Sonder kategorie

So lê ek en my blog mekaar nou al ‘n wyle agterdogtig en aankyk.

Blogs het nie met ‘n kliptafel vol reëls in die wêreld gekom nie. Blogs is dus so min of meer die bloggerop wat jy self besluit om daarvan te maak.

‘n Mens sien dit in die wonderlike verskeidenheid tipes blogs hier op Litnet se blogspasie. Hier is blogs vir emosionele steun, vir kreatiewe uitdrukking, vir sosiale skakeling, vir die deel van komiese, hartseer, vreugde, herinneringe, kennis of opinies. Dis waarom dit so lekker is hier rond te dwaal, want hier’s ‘n blog van elke smaak en kleur.

Ek self het om ‘n taamlik selfsugtige rede begin blog. Ek wou ‘n soort ek-dagboek skep nadat ek op so-iets van my pa afgekom het. Ek het vrede daarmee gemaak dat ek nooit ‘n groot skrywer, digter of musikant kan word nie, maar bloggery gee mens darem geleentheid om dit wat jy het, uit te leef.

As dit jou doel is, raak jy gou in ‘n hoek vasgeverf. Ek wil julle byvoorbeeld nie verveel met die klein besonderhede van my saai bestaan nie; ek preek nie graag nie net soos ek ook nie meer veel erg het aan ander se opinies nie en al wat vir my oorbly is om skeppend te probeer wees. En, sodra mens dit doen, loop jy gevaar om van tyd tot tyd iets te wil fabriseer wat nie regtig bestaansreg het nie, bloot om op die lesers se radarskerm te bly.

Die druk om te skryf kan darem soms ook heilsaam wees. As die druk nie daar was nie, sou daar waarskynlik niks gebeur nie. Op skool was ‘n mens minstens verplig om opstelle te skryf, maar in die werklikheid raak ‘n mens maklik verlore in die sleur van die daaglikse roetine, sonder om bietjie terug te staan en na te dink.

Ek het my dus so min of meer voorgeneem om in die vervolg net ‘n blog te plaas as ek regtig iets te sê het, en nie bloot om spasie vol te maak nie. Ek gaan nog net soveel van julle blogs lees as voorheen. Maar, as die laer frekwensie (hopelik beter!) dan gaan meebring dat ek mettertyd in die vergetelheid gaan verdwyn, is dit ook seker maar my verdiende loon.

‘n Wonderlike, onbeplande gevolg was dat ek hier ‘n klompie dierbare vriende gemaak het. Ek sal julle getrou besoek. Maar, maar dan weer – dieselfde anonimiteit wat jou beskerm veroorsaak dat niemand eers sal weet as ek, sê nou maar, sou expire nie. Die blogs sou net ophou! Regtig ‘n eienaardige soort vriendskap.

Dis seker ook maar nog ‘n simptoom van die kunsmatige, maar fassinerende kuberwêreld wat ons betree het…

Die lekeprediker

September 1, 2009 in Sonder kategorie

Eng gekerker in haar boeke-sel

skuif sy haar loep deur oerou geskrifte

om ‘n dwalende wêreld te kan vertel

van vervloekings, okkulte, die bose.

Die suur demone van elke praktyk

word sorgvuldig alfabeties geskik

met oorsaak, gevolg, opruimresep

vir die mark op traktate getik.

‘n Skaam sonstraal skyn in van buite

waar lui wolke oor ‘n blou lug vaar,

waar voëltjies vlieg, waar kore sing,

waar liefde gedy sonder haar.