Portret van die kunstenar as n jong man

September 13, 2009 in Sonder kategorie

Dit mag vreemd aandoen, maar Janklaas se…uhm…glorieryke wetenskaplike loopbaan het eintlik ‘n beskeie oorsprong gehad.

Hier sal jou siniese leser dadelik opspring en wys op die beskeie einde wat die loopbaan wel ook gehad het, maar die meer lojale leser sal hom natuurlik sorgvuldig ignoreer.

Dit het begin toe Janklaas, toe nog beskikbaar as slapband-sakuitgawe, een Kersfees ‘n chemiestelletjie by sy liefdevolle ouers persent gekry het. Rye, rye gekleurde chemikalieë en die fraaiste flessies en houertjies (die stelletjie, nie die ouers nie).

Met hande sorgvuldig bewend soos die cliché voorskryf, het Janklaas die wonderwêreld van die Wetenskap betree. Poeiertjies is afgemeet en opgeskud, en toe die eerste borrels in ‘n proefbuis wys dat ‘n spyker besig was om op te los, was Klasie gehaak.

Vir die volgende hemelse paar dae was Klasie in sy kamer toegemaak en aan sy tafel gekluister. Geurige gasse, kleurige mengsels en bont vlamme het sy verwondere gemoedjie na vreemde tye en wêrelde gevoer. Klaas was baas oor die domein van die molekule, die elektron en die atoom.

Gou was die stelletjie se wondere uitgeput en het Klasie meer ambisieuse projekte aangepak. Die apteker op die klein dorpie was verbasend gewillig om te verskaf wat gevra word, seker onder die indruk dat Janklaas weet wat hy doen.

Een helder dag het Ousus Klaas blykbaar na een of ander boek in Jan se boekrak kom soek. Wat dit was, weet ons nie (historici verskil). Al interessante boek wat hy gehad het, was AP Treurnicht se “Wat elke seun behoort te weet”. O ja, en sy stash Scopes, onderin sy kas. Maar dit terloops.

In elk geval, in die proses stamp sy toe ‘n flessie om.

Nou, as susters in jou kamer kom en in een onophoudelike stroom flessies van jou tafels afstamp, is daar vir seker die een of ander tyd moeilikheid te wagte. So was dit dan ook, want die flessie was vol soutsuur.

Toe Ousus ontdek dat haar pantoffel net bo-op haar voet flap, sonder ‘n sool onder, was die tafel gedek vir onheil. Kort voor lank het ‘n grimmige Klaas Vader, met Ousus in sy sleurstroom, op ‘n oorblufte Janklaas afgestorm gekom waar hy afgetrokke op die grasperk aan sy neus gelê en trek het. ‘n Bewende vinger is in Klasie se rigting geswaai, met ‘n stroom woorde wat in inhoud vaagweg herinner aan die Ou-Testamentiese “Is dit jy, jou beroerder van Israel?”.

Swaar woorde is gewissel en meubels is verskuif, maar hierdie episode het darem ‘n gelukkige uitkoms gehad. Jan Klaas Laboratoriums is na die leë bediendekamer verban, aan die buitenste uithoek van die erf. Van toe af kon jong Jan na hartelus vuurpyle saamflans; met fosfor, waterstofballonne en natriumontploffings eksperimenteer en in die algemeen die menslike kondisie en wêreldvrede bevorder.

En, toe Janklaas se matriekklas een goeie dag, jare later die Puk besoek, en die Chemiedosent ‘n pers gas uit twee onskuldige poeiers voorttower, was die koeël deur die kerk. Vergeet roem en rykdom, Janklaas is net daar ferm op die pad geplaas wat hy dan ook uiteindelik sou studeer.

Eers later het Janklaas die groot lewensles geleer – moenie dat ‘n funky advertensie jou tot ‘n duur keuse mislei nie.

13 antwoorde op Portret van die kunstenar as n jong man

  1. Lol! Baie goeie lewensles daai!
    En gelukkig lees hierdié kunstenaar se skrywe makliker as Joyce 🙂

  2. Dis waar. Ek het ook probeer. Minderwaardig gevoel en opgehou.

  3. Lekker gelees!

  4. Dankie, Maankind!

  5. Dankie, Joanna.

  6. ‘A kindred soul’!

    Daai newel is ook in my brein, hoor.

  7. He,he goed gestel Janklaas!

  8. “Nobelprys”… hehehe!

  9. Wat? Wat?

  10. Nee, amper nooit nie!

  11. Dankie, Tweeling!

  12. Uitstekend geskryf, Janklaas…ek het dit nou bai egeniet! Lekker week vir jou!!

  13. Dankie Pienkie! Mag dit vir jou ook ‘n lekker week wees.

    Ek wil nog steeds hê ons moet praat oor ‘n resepteboekie vir skoolverlaters.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.